Minder kergangers, ja, maar is ons minder gelowig?

Kerke het deesdae dikwels ‘n opdraende stryd om nie lidmate te verloor nie. ‘n Dag nadat ek in iemand anders se ou Huisgenoot gelees het van predikante wat baie doen – die preekstoel afbreek, die houtbanke vervang, die musiekstyl verander.. – om hopelik lidmate terug te lok, lees ek hoe iemand reageer toe hy weer ‘n ou Leon Schuster fliek kyk.

Hy vertel hoe hy groot geword het in’n era van luister na gesagsfigure, sonder bevraagtekening. Daarom sou die leerling-verkeerskonstabels lawwe goed doen soos om ‘n blou lig te na-aap as ‘n gesagsfiguur so sê. Mense sou selfs glo dat hulle na ‘n hoendertjie moet luister oor waar die hoender wil heengaan, oor hulle oningelig gehou is.

800px-Interieur,_detail_van_dominee_op_kansel_-_Kloetinge_-_20429413_-_RCEIs dit nie dalk waarom die kerke lidmate verloor nie? Die meeste predikante is opgelei in ‘n era van bek hou en na gesagsfigure luister. In daardie era het hulle geleer om die gesagsfiguur te wees. Hulle het geleer om in te skuif agter kansels met “So spreek die Here” in goue letters op pers fluweel geborduur voorop. Die implikasie was dat hulle woorde God s’n was.

En meeste van vandag se lidmate dink en vra vrae. Die meeste eks-lidmate en nie-lidmate ook. Om teologiese perspektiewe (swak én goed) te kry is so maklik soos Google.

Maar was ware liefde vir God werklik meer in ‘n era waarin “almal” kerkgangers was? Kon dit nie dalk gebeur dat mense in daardie era maar kerk toe was oor dit die verwagting was nie? Ek is deel van ‘n paar elektroniese media gemeenskappe waar mense graag oor geloof praat – en waar baie of selfs die oorgrote meerderheid positief oor Jesus en geloof is. Maar baie van hulle gaan nie meer “kerk toe” nie.

In baie gevalle kan hulle vir jou verhale vertel oor wat hulle gemotiveer het om die kerk te los. Die meeste van hulle kla nie oor die Bybel en die boodskap daarvan, soos hulle dit verstaan nie. Omtrent niemand van hulle het probleme met Jesus nie, selfs die van hulle wat wel met iets in die Bybel fout vind. Hulle vertel verhale van hoe die kerk nie doen wat Jesus preek nie, of hoe hulle iewers anders beter kan geestelik groei, of meer sinvol kan betrokke wees. In party gevalle vertel hulle verhale van gruwelike magsmisbruik, en werklik slegte raad wat hulle geglo het “God se boodskap” was.

Hulle weet mens kan nie regtig “kerk toe gaan” deur ‘n gebou te besoek op ‘n Sondagmôre nie. “Kerk” is die saamwees van gelowiges. “Kerk” is nie een gelowige wat Dominee genoem word en alleen praat nie, maar talle gelowiges wat mekaar bemoedig en leer. En hulle doen kerk en is kerk vir mekaar, en ander gelowiges om hulle.

Miskien moet predikante nie die vraag vra hoe hulle die kerkgebou kan vol kry elke Sondagmôre nie. Dalk moet hulle liewer vra hoe mens elke lidmaat kan bemoedig om kerk te wees, sodat elke lidmaat die kerk kan opbou (mense wat klaar gelowiges is versterk) en uitbou (ongelowiges lus maak om ook gelowiges te word). Dalk moet hulle vra of mense liewer vir God en hul naaste word, nie of hulle eredienste bywoon nie.

Vanselfsprekend moet hulle ook vra wat die moderne mens nodig het – nie oor die evangelie verander het nie, maar oor omstandighede verander. Dalk kom daar deesdae min vroue na die vroue-bybelstudie bloot oor meeste vroue werk op Dinsdagoggende, anders as 40 jaar gelede, en die kerk nog steeds dit Dinsdagoggende hou. Of dalk vind mense ‘n Bybelstudie spesifiek vir vroue al minder relevant terwyl vroue en mans tog een geloof deel. Dalk trek die Sondagskool minder kinders grootliks oor talle lidmate deesdae net een of twee kinders het. Of dalk oor jou kerk Afrikaans bly, en meer as helfte van die inwoners van die buurt rondom die kerk nie meer Afrikaans is nie.

Wat dink jy? Dink jy regtig mense was liewer vir God in die era waarin kerk toe gaan ‘n verwagting was?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s