‘n Poskaart aan die verlede…

My poskaartmuur, soos hy van September af tot vanoggend gelyk het

My poskaartmuur, soos hy van September af tot vanoggend gelyk het

Vanoggend het ek nog ‘n muur vol poskaarte in my kantoor gehad: Vriendelike boodskappe wat vir my gestuur is vanuit Frankryk, Rusland, Japan, Portugal, die VSA, Indië en oraloor. Weet jy waar in die wêreld Moldova is? Ek het eers geweet toe ek ‘n poskaart van daar af kry. Ek het ‘n Duitse poskaart met die val van die Berlynse muur op, en volksdanse in die Ukraine en tulpe uit Holland… Ek het die poskaarte vandag afgehaal. Poskaarte uitruil het, liewe leser,soos verskeie ander dinge in my lewe, die laaste tyd my meer verdriet as plesier gegee. Eens op ‘n tyd was dit wonderlik: Ek kry vriendelike boodskappe van oral oor, en weet nooit waar die volgende een vandaan gaan kom nie. “Hi Retha. I am from cold and friendly Siberia...” op ‘n poskaart, “thank you for your beautiful card. It is my first one from South Africa” in ‘n e-pos… Maar toe moet ek al meer gereeld lank wag tussen kaarte deur. Ek stuur meer, en kry minder terug. Dit was nie my fout nie, die poskantoor het kort-kort gestaak. Toe kom ‘n tyd wat niks meer deurkom nie. Ek stuur en stuur, maar dit bereik niemand nie, en ek kry niks terug nie. (En ongelukkig is dit nie die enigste ding in my lewe wat opgehou het om waarde te hê vir my of iemand anders nie.)

Op ‘n stadium – en vanoggend was nog deel van daardie stadium – het die muur in my kantoor dit gedurig ingevryf dat ek September laas pos gekry het, dat ek op hierdie stadium onder meer vir een kaart elk uit Vietnam, Liechtenstein, China, Brazilië, Macao, Nieu Zeeland, Indonesië, Maleisië en Kanada (alles lande waarvandaan ek nog nooit ‘n kaart gehad het nie) wag. Omdat ek niks self kan doen om die probleem op te los nie, het ek 3 of 4 keer ‘n dag na die Poskantoor se Facebook blad gekyk: Is daar nuus dat die staking verby is? Maar of die nuus goed of sleg is, my posbus het leeg gebly. Ek het gedurig op Postcrossing se forum en my e-pos gekyk vir boodskappe of een van my “private swap” of “official swap” kaarte hulle oorsese bestemmings bereik het. Hulle het nie.

Eintlik het die poskaart-ding vir my so vreeslik belangrik geword oor my groter vreugdes ook nie meer gewerk het nie, toe probeer ek maar in klein goetertjies soos Postcrossing plesier vind. En vanoggend haal ek toe die poskaarte af. Dit help nie om vas te hou aan wat in die verlede lekker was nie. Dit help nie om vriendelike boodskappe te soek op plekke waar hulle nie materialiseer nie. Dit help nie om kort-kort te dink aan wat iemand jou skuld, maar wat nie betaal word nie. Dit was lekker, maar dis verby. Dis tyd om ook sommer ‘n poskaart te stuur aan ander goed in my verlede:.

Liewe verlede

Baie dankie vir die goeie tye wat ons gehad het. Dankie vir wat jy vir my gedoen het, en wat ek kon doen deur jou te ken. Maar soos jy sien, werk dit nie meer tussen ons nie. Dis tyd om aan te beweeg.

Totsiens

Retha

Noudat ek weer daaroor dink, stuur ek liewer nie ‘n poskaart aan my verlede nie. Poskaarte kom tog nie daar uit nie. Ek maak dit ‘n WhatsApp boodskap.

————————–

Naskrif: Ure nadat ek hierdie inskrywing klaar gemaak het, kry ek dit in my posbus: IMG_20141126_170402 Dit – 4 poskaarte – is my eerste pos in 2-en-‘n-1/2 maande. Ek waardeer dit, maar dit beteken nie dat ek weer poskaarte gaan ruil vir ‘n stokperdjie nie. Soos baie dinge in die verlede waardeer ek die Poskantoor as dit iets goed bring, maar ek kan nie daarop staatmaak, of gegrief voel as dit nie lewer nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s