Outisme: Om te luister na ‘n gemeenskap wat min praat

Terapeute vir outistiese mense behoort verheug te wees, maar hulle is nie: Daar is uiteindelik deurbrake wat regtig baie beteken vir outiste.1. Die probleem (uit die terapeute se oogpunt gesien) is dat hulle wat terapie doen nie besig is om die deurbrake te maak nie. Nog erger, die deurbraak-makers (deurbrekers?) vertel dat die terapeute nog al die jare verkeerd was.

Die deurbrake kom oor daar deesdae meer outiste (waarvan dit bekend is dat hulle outisties is) kommunikeer. Dit gebeur eerstens oor doktors selde in die verlede iemand wat relatief “normaal” kon kommunikeer gediagnoseer het as op die outisme spektrum, en deesdae gebeur dit dikwels.

Daarom kan mens nou met meer outiste praat, intelligente mense wat self jou kan vertel wat hulle dink van die terapieë wat hulle gekry het. Nog ‘n rede waarom outiste deesdae beter kommunikeer is tegnologie: Talle persone met outisme* is bloggers, Internet forum gebruikers, of andersins in staat om ‘n sinvolle tegnologiese bydrae te lewer op onderwerpe wat hulle interesseer. Party outiste wat tegnologies kommunikeer is nie-verbaal, wat beteken dat hulle nie praat nie. (Ek, die artikelskrywer, het Aspergers en is ‘n voorbeeld van ‘n outis wat praat, maar soms per rekenaar beter kommunikeer, en waarby outisme eers die afgelope dekade gediagnoseer is.)

Hier is ‘n paar dinge wat diegene op die outisme spektrum vertel:
> Outisme is nie ‘n siekte nie. Moet ons nie probeer genees nie. Ons praat onder onsself oor “optimization” – ons wil ons lewenskwaliteit verhoog en waar moontlik probleme uitskakel, ons wil nie ons unieke perspektief op die lewe verruil vir joune nie.
> Moenie outisme as ‘n gestremdheid sien nie, maar as ‘n andersheid. Die hele wêreld is ingestel om te reageer op die neurotipiese (nie-outistiese) manier van dink en doen, en daarom glo mens maklik dat daardie die regte manier en outiste se manier verkeerd is. ‘n Vergelyking is dalk hoe mense vroeër linkse kinders gedwing het om met die regterhand te skryf.

Los dus die taal van gestremdheid. Die taal van gestremdheid beteken dat as jy my wat Retha is “hoog funksionerend” noem oor ek nie so vreeslik anders as neurotipiese mense is nie, en jy noem iemand anders “laag funksionerend”, reken jy dat mense soos jy hoër en outiste laer is. Aanvaar ons almal as mense.

> Jy gaan heelwat negatiewe dinge oor outisme gelees kry, want meeste daarvan is geskryf deur mense wat nie outisme verstaan of al met outiste kon kommunikeer nie. Om outiste dom te noem oor jy nie met hulle kan praat nie, is soos om Japanese dom te noem oor jy nie Japanees verstaan nie, en dus nog nooit ‘n intelligente stelling in Japanees gehoor het nie.

Wat my die kwaadste maak in skrywes oor die outisme spektrum (en almal van ons sal nie saamstem nie ) is byvoorbeeld die aanname dat ons self-gesentreerd is en nie empatie het nie. Ons wys ons omgee op ander maniere, en wil meestal minder sosialiseer as meeste, maar ons gee om.

> Outisme word ook met sekere vaardighede geassosieer, sodat mense met outisme baie goed in sekere soorte werke inpas. (Meer inligting hier, hier, hier, en hier.)

> As jy ‘n outistiese kind wil help, vat leidrade by haar en wat sy geniet en kan doen, en bied die kind waar moontlik die gereedskap aan wat sy dalk kan gebruik.
> Die regte dieet maak ‘n groot verskil aan hoe baie outistiese kinders en volwassenes die lewe se uitdagings hanteer. Maar as jy dink dit gaan outisme wegvat, verwys na die eerste punt.
> Moenie outistiese kinders terapie gee wat daarop gegrond is om hulle sogenaamde “normale” gedrag te leer, terwyl dit glad nie omgee vir die kind se gevoelens en vrese nie.2

Dalk is jy die ma of pa van ‘n outistiese kind, en vra jy nou: “Waar kan ek hoor wat outistiese volwassenes vir my sou wou leer oor outisme, oor hoe om my kind se geluk en potensiaal te optimiseer?” Daardie vraag is ‘n vreeslik goeie begin, veels geluk! Want jy respekteer met daai vraag dat ons mense is wat iets oor onsself en mense soos ons weet. Jy besef dat neurotipiese terapeute nie eerstehands die kennis het wat jy soek nie.

Wel, moenie by my begin nie. Ek ken net een Aspie. Die mens wat in die spieël vir my terugkyk, die mens wie se gedagtes ek ken, is die enigste outistiese mens met wie ek te doen kry. En oor ek eers onlangs gehoor het van my outisme, weet ek (dankie tog, as ek so luister) niks van die terapie wat hulle gewoonlik vir outistiese kinders gee nie. Begin by die Facebook blad “Ask me, I’m autistic.”

Miskien is die belangrikste ding wat neurotipiese mense oor outisme kan weet, dat ons ook mense met opinies, ervarings en bydraes om te lewer is. Die belangrikste deurbrake is dat ons gehelp word om ons probleme te hanteer en ons plek vol te staan. Nie soos jy nie, maar langs jou.

——————

1*outistiese mense/ outiste/ persone met outisme: Nie almal in die outistiese gemeenskap stem saam oor wat hulle genoem moet word nie. Party reken dat “persone met outisme” ‘n deel van wie hulle is van hulself verwyder, asof die mens wat hulle so noem outisme as ‘n veranderbare probleem sien. Ander reken weer dat “outiste” (Engels autistics) hulle minder mens en meer soos ‘n aparte groep laat klink.

2 Tania Melnyczuk skryf byvoorbeeld: “Certain ABA methods practiced in South Africa and elsewhere DELIBERATELY do not teach a child any way of indicating NO, STOP or I HAVE HAD ENOUGH, thereby robbing the child of his basic human right to object to abuse.

Only those who use actual speech will be listened to. If you cannot speak, you are strategically ignored, on purpose, by teachers. And teachers coach parents to do the same thing.”

 

One response to “Outisme: Om te luister na ‘n gemeenskap wat min praat

  1. Dankie. Baie dankie. Ek stuur hierdie dadelik aan vir ‘n mamma van ‘n outistiese kind.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s