Wie die hardste skree – ‘n Kerkstorie (Deel 1)

Inleiding

Daar is ‘n storie waaroor ek skaam was. Ek was so skaam vir wie ek is dat ek my gesig van Facebook afgehaal en ‘n foto van my hande opgesit het. Ek was verwerp vir wie ek is. Ek het uit die kas gekom met die waarheid oor myself, toe vertel my gemeente – die predikant voor wie ak jare terug voorgestel en aangeneem is – dat al het ek niks verkeerd gedoen nie, jaag hulle my weg vir wie ek is. (Ek is nie ‘n engeltjie nie, ek doen soms verkeerd. Maar ek is in soveel woorde vertel: “Jy het niks verkeerd gedoen nie. Dis oor jou [dit wat ek later in die storie gaan vertel]”.)

Ek is weggejaag uit die taak waar ek die meeste beteken en waarvoor ek ‘n gawe het, oor hoe ek gebore is. Vir iets omtrent myself wat ek nie kan of wil verander nie, wat deel is van my gawes en van my kruis.

‘n Deel van my wil nie die storie hier vertel nie – Dis lank en soms onsamehangend en nie so boeiend soos fiksie nie. Dis ook eensydig. (Vanselfsprekend, want die mense aan die ander kant wil nie met my praat nie.) Dalk kan ‘n toekomstige kerk my verwerp oor hulle reken ek was vuil kerk-wasgoed in die openbaar.

Aan die ander kant, dalk kan ‘n kerk iewers ‘n boodskap kry oor hoe om nie mense wat anders is te behandel nie. Dalk is die skryf self terapeuties. En dalk kry dit mense by die kerk waar ek verwerp is om te met mekaar te praat en probleme op te los, want daar is nogal ‘n kommunikasie-probleem. En waarheid is op sigself ‘n goeie ding – mense se dade moet aan die lig kom.

Dus begin ek maar: Ek is al vir meer as 2 dekades lank ‘n entoesiastiese Sondagskooljuffrou. Met tye het ek kleuterkerk gegee op Sondagoggende in plaas van Sondagskool, met tye het ek iewers in die week kinderkrans of ‘n Bybelklub – waar kinders gekom het oor hulle wil, nie oor hulle moet nie – vir laerskoolkinders gegee, benewens Sondag se les. Die hoogtepunt van my eensame lewe was om kinders op te bou en liefde te gee via kinderbediening.

In 2013 se 2de kwartaal kom ek by ‘n gemeente aan waar daar partykeer niemand voorbereid was nie en almal van Gr. 1-6 die uur en 15 minute van Sondagskool om gesing het. Die eerste dag wat ek daar Sondagskool gegee het al was die les wat volgens die program in die groot groep aangebied sou word, en waaroor mens dan in die klein groepe praat, nie die een wat aangebied is nie. Dikwels was dieselfde les 2 keer voorberei en ander lesse glad nie. Daar was selde klein groepe, waar kinders geken kan word en die boodskap toegepas kan word.

Kinder-bywoning was besig om te val. Die voorsitter van die Jeugkommissie, Netta*, het voorgestel dat ons die kinders omkoop, lekkers en klein persentjies moet koop om aan die einde van elke kwartaal volgens bywoning uit te deel. Ek het gedink dat mens eerder moet werk om ‘n hier-gebeur-iets-sinvol atmosfeer by die kategese te skep – dit sal kinders motiveer. Persente koop kan die ma’s en pa’s en oupas en oumas beter doen as ons.

Op 2 geleenthede in 2013 was niemand voorbereid of teenwoordig vir die saalbyeenkoms met al die kinders Gr. 1-6 nie, en het die kinders doelloos daar rondgedwaal al het Sondagskooltyd al begin. Die eerste van daardie kere het ek hulle impromtu laat lofsang, en ‘n spanne-vasvra oor die Bybel en veral die lesse daardie jaar laat doen. Dit was letterlik beter as niks. (Dit was oornemerig van my, maar een van die kategete het my in soveel woorde gevra om iets te doen.) Die 2de keer was ek voorbereid net vir ingeval dit weer gebeur, en het ‘n les aangebied.

Ek begin voorstelle maak

Dus, in plaas van soos gewoonlik net klasgee, het ek begin organiseer, voorstelle (bv. kleingroeptyd soos vir die handboek se lesse, iemand wat die verantwoordelike grootgroep-aanbieder vooraf vertel dis sy beurt) begin maak vir beter kommunikasie. Die kinders se bywoning het begin toeneem, maar die mentors (Sondagskool-aanbieders se naam in daardie gemeente) het agter my rug begin kla.

Let wel, ek het niks radikaal voorgestel, of probeer om myself die middelpunt van alles te maak nie. Die idee was dat Netta wat sang lei dit bly doen, dieselfde mense wat Bybelstorie aanbied in die groot groep dit bly doen en net beter weet wanneer dit hulle beurt is waarvoor, en dat elke mentor kans kry vir klein groepe soos in die handboek.

Die lesse is veronderstel om só te werk: 1) Sang en gebed, 2) Grootgroep-Bybelstorie vir kinders Gr, 1-6, 3) Verdeel in klein groepe vir bespreking en Bybelstudie en saam bid. Ek stel toe in die vergadering voor dat ons minder sing om tyd te maak vir gereelde klein groepe. Van die mentors vertel toe dat klein groepe onnodig is – die handboek, plus my kennis van kinderbediening, vertel dit is nodig.

Die mees uitgesproke teenstander van klein groepe daardie dag was Millie.* Netta, wat sang aanbied, vra of ek iets teen sang het. (Nee, ek het nie. Maar op daardie stadium het ons op die tipiese Sondagskoolsondag omtrent 4 keer soveel gesing as wat aan die Bybelstorie spandeer is, met enkele minute vir afkondigings/ gebed. Dit beteken dat sang moet minder gemaak word om plek te hê vir klein groepies.) My voorstel van minder sang en gereelde klein groepe het geen ondersteuners gehad nie, buiten dat dominee Flip* vertel het dat die boeke so geskryf is, en toe namens ons besluit het die idee moet deurgaan. Hy het ook besluit hoe laat die groot groep moet verdaag vir klein groepe.

Probeer Netta met my kompeteer?

Die eerste week daarna het Netta al die vergadering-besluit (tyd vir klein groepe) geignoreer en ons so lank laat sing dat daar bitter min tyd oor was. Oor dit my beurt vir groot groep was, het ek toe die groot groep Bybelstorie in minute afgerammel (ek dink dit was die week met die kruisiging-les) om tyd te maak vir klein groepe. Want klein groepe is belangrik, al word ‘n belangrike bybelverhaal met min impak afgerammel.

Toe vra Netta die kinders om te skree: Wil hulle klasse toe gaan, of nog sing? Dit lyk (ek wil nie vir mense motiewe toeskryf wat hulle dalk nie het nie) of sy doelbewus met my wou kompeteer met hierdie vraag. Maar die “kompetisie” is

1) gedokter, want:

a) ekstroverse kinders is meer geneig om nog te wil sing en “perform” en aandag te trek met hulle beweging, en hulle is ook die kinders wat die hardste skree, (die skaam kinders wat nie raas nie se menings het nie vir haar getel nie)

en b) Omdat hulle nie gewoond is aan klas toe gaan met hulle juffrouens nie, weet hulle nie wat hulle mis nie en kan nie daarvoor vra nie.

Die “kompetisie” is ook

2) belaglik (kinders het nodig om te leer al sou hulle nie wou nie, nes hulle groente en vrugte nodig het selfs as hulle lekkergoed kies) ;

3) nie tussen my en haar nie ( dis nie tussen “moet tannie Retha vir julle storie vertel, of moet ek verder julle laat sing?” nie); en

4) onchristelik – kerkmense het nodig om saam te werk en almal se gawes te gebruik – sy het haar beurt met sang, ander kan hulle beurt hê met lesse.

>>> Kliek hier vir Deel 2

———————

* Skuilname deurgaans gebruik.

 

2 responses to “Wie die hardste skree – ‘n Kerkstorie (Deel 1)

  1. Jyhet my simpatie. Want wragtag, daar is soveel juffrouens wat nog kinders is in die kinderbediening dis nie snaaks nie. Ek het ook deeglik deurgeloop. Kinderkerk weer doen?? Aikona. Ek het lus en vra jou adres dat ek duct-tape kan stuur vir Netta se mond.

  2. Baie dankie, Griet. (Ek sal enige dag weer kinderbediening doen. Net saam met ander mense. (Of selfs dieselfdes, as hulle harte eers deur Jesus nuut gemaak word.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s