Wie die hardste skree – ‘n Kerkstorie (Deel 3)

Met al die klagtes en moontlike-sabotasie-moontlike-per-ongeluk verkeerd loop, wat nou?

Bly ek as mense so oor my voel? Aan die een kant, hoe werk ek saam met mense wat so oor my voel, en wat ‘n kla-vergadering hou in kategesetyd oor die kinders laag op hulle prioriteitslys is? Aan die ander kant, niemand buiten ek wil groot groep aanbied nie, en as ek nou wegraak, gaan hulle ook ophou klein groepe – regte Sondagskoollesse – te doen.

Ek is dus vir ‘n paar weke min of meer in beheer, en meeste van daardie weke kon lesse gebeur soos op die program. Dis in daardie tyd wat die kerksaal 2 keer nie beskikbaar is nie.

Die laaste dag

Eendag was ek besig met sang lei in die groot groep toe Millie my kom vertel sy het gereël dat al die kinders saam kerk toe gaan daardie dag. Die program het gesê gewone lesse. (Millie het kort voor dit gekla oor ek glo nie by die program bly nie.) Hierdie ding sê sy sag, sodat net ek dit hoor, terwyl ek voor die kinders staan.

Aangesien ek nie weet of die predikant oor die kerk-toe-gaan ding besluit het nie (swak kommunikasie) en daar nie tyd was om hom te vra nie, was daar ‘n besluit om te maak tussen Millie gehoorsaam en Millie teegaan. Ek kies toe die papbroek-opsie. My gedagtes was nie, soos gewoonlik “wat is in die beste belang van die kinders? Wat het hulle die nodigste om te hoor?” nie. My gedagtes was hierdie keer: “Ek wil nie nog konflik hê nie. En aangesien Millie al klaar iets teen my het, kom ek wys haar dat haar prioriteite (dat die kinders kerk toe gaan) vir my ook belangrik is. Dalk kan ek haar gesindheid help verbeter deur te wys ek neem haar in ag.”

Ek vra haar om dit af te kondig en voor te stap kerk toe, sy vertel dis my verantwoordelikheid. Toe (hoewel ek stoom van binne) kondig ek so entoesiasties moontlik vir die kinders af dat die grootmense wil hê ons moet vandag kerk toe kom, want ons kinders is ook deel van die kerk.

Miskien het God daardie my laaste dag by die Sondagskool gemaak oor dit die eerste dag in 23 jaar van Sondagskool was wat ek glad nie eers in my gedagtes gevra het wat die Sondagskoolkinders nodig het nie. Maar ek hardloop die storie vooruit – ek het daardie dag uit die kerk gestap met die voorneme om Millie te vra om asseblief nie weer op die laaste nippertjie planne te verander nie.

Gaan weg!

Enkele dae later kom dominee Flip by my werk aan. (Dis ‘n slegte plek-keuse vir sulke nuus, want dit lyk onprofessioneel om daar te huil.) Hy vertel my toe dat nog iemand by die kategese weg is oor my. Ek mag nie meer kategese gee nie, hulle sal iemand anders vir groot groep kry.

Nog iemand weg, oor my? (Ek het later uitgewerk, maar nie daardie dag gehoor nie, dat Millie die “nog iemand” moes wees.) Niemand by enige kategese het my al in 23 jaar ooit vertel hulle is oor my weg nie. Twee mense, Millie en iemand wat 15 jaar terug teologies van my verskil het (oor kinders en bekering), het my al vertel wat doen ek waarvan hulle nie hou nie. Minstens helfte van Millie se kritiek was haar perspektief en nie dinge wat ek kon anders doen nie, maar ek het verbeter waar ek kon, en die res minstens dit uit ‘n ander oogpunt vir haar verduidelik.

Sedertdien het ek vir albei predikante, vir die hoofouderling op die vergadering waar die besluit geneem is, en vir die ander junior kategete gevra wat gebeur het, en om sake met my uit te praat – dis die Bybelse manier. Niemand wou nie, selfs na verskeie pogings. Dominee Flip het vertel die kategete kan nie met my kommunikeer nie. “Jy het niks verkeerd gedoen nie. Dis oor jou Aspergers…” het hy in soveel woorde gesê. (Dis maklik om met ‘n Aspie te kommunikeer. Ons antwoord eerlik en verstaan letterlike taal goed. Ek het boonop ‘n IK wat maklik dinge snap.)

Die enigste persoon wat effens met my gepraat het oor die saak, dominee Flip, het dinge vertel wat alles later onwaar bewys is: Hy het geweet wie gekla het, en my vertel het hy weet nie. Hy het vertel dat klein groepies van nou af gereeld sal gebeur – daar was glo in die halfjaar vandat ek die middel van die jaar weg is tot die einde van die jaar net een keer klein groepies. Hy het my verseker hy sal gou weer reël dat ek ‘n klein groepie het – toe hy weke later nog verskonings maak daaroor, vra ek hom of hy sou verkies om my eerder eers die volgende jaar weer ‘n klein groepie te gee. (Op daai stadium het ek nog sy storie oor gereelde klein groepies geglo.) Hy het vertel hy verkies dat ek die volgende jaar eers weer ‘n groupie het, maar ek was nie die volgende jaar weer ingedeel as groepie-leier nie. Ek raai ook dat hulle vanjaar ook nie eintlik by groepies uitkom nie.

Watter vreeslike ding het ek aan Millie gedoen sodat sy gevoel het sy kan dit nie met my uithou nie? Ek het Millie haar sin gegee. Ons was kerk toe oor sy dit wou hê. As jy verstaan hoe haar kop kon gewerk het hier, verduidelik asseblief vir my ook.

Netta, aan die ander kant, was weer terug ‘n week na ek weg is. “Bedank om werksredes” se voet.

Daardie vreeslike “A” woord

Ek is bang dat as jy van my Aspergers hoor, dan glo jy outomaties ek is die rede vir alles wat fout gegaan het. Die kommunikasie-probleem was al daar voor ek daar aangekom het. Die heel eerste dag wat ek daar kom, was die verkeerde grootgroeples al aangebied. En daar was nog steeds kommunikasieprobleme na ek weg was.

As ek ooit geraai het ek sal uit Sondagskool gee weggejaag word deur uit die kas te kom met my Aspergers, sou ek dit nooit erken het nie. Om kinders lief te hê en te leer via Sondagskool was altyd die hoogtepunt in my lewe. Maar ek het ‘n stink vermoede my Aspergers was net ‘n verskoning.

‘n Poging om dinge van die ander kant af te sien

As die kerk met my sou kommunikeer, sou hulle hoor dat hulle onder ‘n wanindruk is:

Hulle het waarskynlik gedink “hier is nou al 3 mense wat sorg dat kategese plaasvind weg, oor Retha.”

Dit klink ongelooflik, maar dis eerder “hier is nou al minstens 2 mense wat kategese verhoed en in die wiele gery het (wat selfs ‘n vergadering sal reël om Retha te beskuldig sal hou in klastyd eerder as klas gee) weg, oor Retha wat wil sorg dat kategese plaasvind.”

(Of Jacques oor my weg was of nie, ek huiwer om hom in die klas te plaas van mense wat kategese verhoed. Hy het nie klein groepies bevorder nie, maar hy het wel meeste van die kere gesorg dat grootgroep-lesse gebeur. Hy het minstens een keer my les in die wiele gery, maar ek weet nie of dit met opset was nie.)

Ek wat nie moed opgegee het nie, ongeag hoe hulle my behandel het, getuig van getrouheid. Maar die predikant weet hierdie dinge nie, want hy hoor die klaers “skree”, en vra nie die introvert vir haar insigte nie.

Ek erken dat ek nie die oplossing is vir die gemeente se kategese-probleme nie – die nodige persoon is ‘n organiseerder met ‘n sterk genoeg persoonlikheid om Netta te beteuel, nie ‘n juffrou wie se sterk punt gesels met klein kindertjies is nie. Ek weet wel dat in ‘n situasie waar normaal kategese aangebied word, daar geen rede is waarom ander gewillige onderwysers my hoef te haat nie. Ek was nie die oplossing nie, maar ek was ook nie die probleem nie, dus is niks opgelos deur van my ontslae te raak nie.

Huh?

Die einde van die jaar was die kategese se prysuitdeling in die erediens. Ek hoor by iemand wat in die kerk was dominee Daan vra toe waar ek is (om ‘n sertifikaat te kry). Hoe kan hy dit vra? Ek is weggejaag. Nie hy of die ander predikant wou my vertel waarom nie. Ek het nie eers geweet die prysuitdeling was daardie dag nie.

Hierdie was so onlogies soos ‘n ou wat skei, en weke later wonder hoekom sy vrou nie by die huis is nie. Tensy hy ook soos ek by ds. Flip gehoor het dat ek ‘n week later weer by klein groepe betrokke sou wees? Dalk het dominee Flip bedoel om my terug te bring en geglo daar sal klein groepe wees (dus nie gejok nie, was net onder ‘n wanindruk), Netta het hom onder ‘n wanindruk gebring, en dominee Daan het geglo sy kollega het my teruggebring? Hierdie soort kommunikasieprobleem is dalk dieselfde as die een wat in die eerste plek gemaak het dat daar soms niemand voorberei was nie.

Goeie nuus oor my persoonlikheid, slegte nuus vir die gemeente: Dit wys dat die kommunikasie-probleem nie aan my Aspergers te wyte is nie. As ds. Daan dog ek sou terug wees, kommunikeer ander mense ook sleg met mekaar.

Nadraai

10302633_10205259727589803_6901702899180107238_nEk gaan nie terug soontoe nie. Soos ek dit sien, is daar basies 2 groepe redes om aan ‘n kerk te behoort – wat jy kan gee, en wat jy kan kry. In hierdie geval soek hulle nie die werk wat ek gee nie, en ek soek nie die behandeling wat ek daar kry nie.

As mense my vra waarom ek nie meer daar eredienste bywoon nie/ kategese gee nie, vertel ek die twee-sinne-weergawe: Die gemeente het nie meer Sondagskoollesse vir juniors nie, hulle sing die tyd om en iemand wat nie ek is nie gee ‘n kort bybelstorie in die groot groep. Ek het die begin vanjaar al by meer as een ander gemeente gevra vanjaar of hulle ‘n ekstra Sondagskooljuffrou vir kinders soek, maar hulle het nie.

Soms as ek in ‘n kerk kom sedertdien, wil ek in trane uitbars en gaan ek liewer uit, maar ek voel nie heeltemal so ontuis elders as in die gemeente waar ek weg is nie. My gunsteling-gemeente tot dusvêr was ‘n Metodiste gemeente wat baie inklusief voel – swart en wit lidmate, ‘n vroulike en ‘n manlike predikant, ‘n kontemporêre en ‘n tradisionele diens soggens. Dalk kan hulle plek maak vir ‘n Aspie? Op ‘n stadium het ek selfs daar ‘n bladsytjie ingevul: “Kom praat met my, ek stel belang om dalk hier ‘n lidmaat te word.” Toe reageer hulle nie, en ek voer nie die saak verder nie.

My lewe voel meestal betekenisloos sonder kinderbediening. Nou en dan is daar iets wat ek wil skryf, wat ek betekenisvol vind en my lewe sin gee tot ek dit geblog het (hierdie stel inskrywings oor die kerk tel nie daaronder nie). Verder dryf ek deur die dae en sukkel om te konsentreer of huis skoon te maak. Iewers moet daar ‘n plek wees waar ek die liefde in my hart kan gee.

Buiten dat die vernaamste plek waar ek altyd liefde gegee het van my weggeneem is, die groot doel in my lewe, is daar ‘n suur smakie in ‘n klomp van my mooiste herinneringe bygegooi:

Dominee Flip het my gekatkiseer, aangeneem en voorgestel. Hy het my al beraad. Onder die mooiste ervarings in my lewe was toe ek Jesus se graf gesien het en doop in die Jordaan gevier het. Hy het daardie toer gereël. Hierdie is die eerste gemeente waar ek Sondagskool gegee het as ‘n 17-jarige. My pa se as is in die herinneringsmuur hier. Ek het tot bekering gekom as tiener by ‘n kamp waar een van hierdie gemeente se destydse predikante gepreek het. My vriende by die kerk woon ‘n Bybelskool by wat hy aanbied, wat ek ophou bywoon het oor hom.

Toe hy my vertel dat my menswees (Aspergers is deel van wie ek is, hoe my kop en my hart werk) op sigself ‘n probleem is, dat die beste wat ek kan gee vir die kerk ‘n probleem is en nie ‘n hulp nie, was dit nie ‘n vreemdeling wat my seergemaak het nie. Dit was seer. Dis nog steeds seer.

((Die einde))

5 responses to “Wie die hardste skree – ‘n Kerkstorie (Deel 3)

  1. Baie hartseer om te lees.

    My mening is dat die kerk ten diepste ‘n klub van die deftiges en vooraanstaandes is wat bo-aan die sosiale hierargie sit. Hulle maak groot gewag van die aalmoese wat hulle gee aan die armes en gestremdes maar hul voorwaarde is dat hierdie minderes hul plek moet ken.

    Enigeen wat nie oor genoeg blinkgeit en voorsped beskik nie, sal eindelik agterkom dat hy nie gereken word deur hulle nie.

    Sterkte vir jou!

  2. Retha. My dogter het Aspergers. Een ding weet ek. Mense met Aspergers weet wat is reg en wat is verkeerd, en hulle sal met plesier terugstaan totdat hulle blou in die gesig is. Nee wat. Ek bid dat die HERE jou gebruik volgende keer, en nie mense nie.

  3. Alleman, ek dink ‘n kerk wat net plek het vir die vernaamstes, sal in die eerste plek dit wys deur nie kinders ‘n hoë prioriteit te gee nie…

    Baie dankie vir albei van julle se kommentare.

  4. Hoe, dink jy, kon die kerk hierdie probleem eerder hanteer het?

  5. Dankie vir die vraag!
    Kommunikasie.
    Waar mense my gedrag of planne misverstaan het, of ‘n geskinder gehoor het, kon hulle my in soveel woorde gevra het wat aangaan, wat ek wil doen/ waarom.

    Mense kon objektief gebly het. Beskuldigings soos Millie s’n is nie dinge wat ‘n objektiewe mens sou dink nie. As jy bid oor ‘n saak, en praat met betrokkenes, behoort die Here jou in staat te stel om onredelike haat te herken. Ek moes nie weggejaag gewees het nadat ‘n hater (Millie) my in ‘n onmoontlike posisie geplaas het nie.

    Toe die voorstel op die vergadering gemaak is om my te laat gaan, moes die kerk gekies het om die probleem met my te bespreek, nie om bloot vir my te vertel ek moet nie terugkom nie. Mens smee komplotte agter die rug van vyande, mens praat met diegene wat jy as bondgenote met dieselfde doel sien. Die predikante wou hê dit moet goed gaan by die kategese, ek wou dit ook hê, ek moes dus as ‘n bondgenoot gesien gewees het.
    —————
    Selfs op hierdie oomblik kan die gemeenteleiers nog ‘n verskil maak. (Weens ‘n snaakse sameloop van omstandighede is ek weer – baie versigtig – daar betrokke. Soms dink ek dis dwaas van my, soos ‘n vrou wat teruggaan na ‘n vroueslaner.)
    Hulle kan opreg erken dat ek geboelie was by die kategese, dat hulle dit nie besef het nie, en dat kerkmense nie so behoort te maak nie. Dat Christus se manier is om die onderdrukte te help, nie haar weg te jaag nie. Op hierdie oomblik het ek geen vertroue dat iemand in die kerk my sal help as ek geboelie word nie.
    Hulle kan eerlik wees met my. “Ons het jou nie weggejaag nie.” Hulle het my nie nader geroep of op dieselfde afstand gehou nie, so eerlike taal sal oor wegjaag of wegstuur gaan. “Ons het nie gedink die probleem is jy nie.” Waarom het hulle dan my gevra om te gaan, en Netta om terug te kom?
    Hulle kan my wys/ vertel dat hulle in die toekoms nie iemand weer summier sal wegjaag nie, maar die ander kant van die saak sal vra. Hulle kan my vertel dat my perspektief, wat ek op my blog gedeel het, hulle iets geleer het en dat hulle graag wil sorg daar in die vervolg geleenthede sal wees om te praat lank voor sake so verkeerd gaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s