Goeie vroue is nie Lolitas nie, Dedré!

Dedré Delport, wat haar naam aan die Shalom Aanbiddingsentrum koppel en nou ‘n pastorale diploma doen, reken dat ‘n vrou liefgehê sal word solank sy net “onvoorwaardelike respek” vir haar man bewys.

Het jy geweet dat indien jy kies om jou man ten alle tye te respekteer, hy outomaties meer liefde aan jou sal bewys… Respect your man and he will make you a happy wife with a happy life. – Dedré Delport

Talle mishandelde vroue kan getuig dit is nie waar nie. Mishandelaars mishandel ongeag hoe jy hulle respekteer. Mens kan maar net kyk na hoe mans op Internet-pornografie reageer: Pornografie wys talle vroue wat oordadige, verafgod-respek vir mans gee. Manlike kykers se kommentaar op pornografie1 wys hulle sien daardie vroue as voorwerpe wat maar verniel kan word, want respekvolle vroue lei nie noodwendig tot liefdevolle mans nie.

Dan lê sy swaar, eensydige laste op vroue: Terwyl vroue deesdae net soveel ure as hul mans vir geld werk, reken sy ook ‘n vrou moet ‘n “toegewyde tuisteskepper” wees. kos maak, die huis skoon hou, en altyd goed versorg lyk – ter wille van die man. Sy reken nie dat mans en vroue saam verantwoordelikheid moet vat vir hulle kos en blyplek en wedersyds moeite doen om te wees wat hul maats aantreklik vind nie.

Verder gebruik sy stereotipes soos dat vroue oor 30 goed op ‘n slag dink en dadelik wil praat oor goed wat hulle nie verstaan nie en mans op hulle eie wil dink en uitpluis (dan is ek ‘n man), of dat mans respek en vroue liefde soek (mans soek ook liefde en vroue ook respek). Oor die algemeen pas mense nie vreeslik goed in boksies in nie.

Sy dink ook vroue is soos kinders:

Oor die algemeen het vrouens ‘n diepe innerlike behoefte om aantreklik te wees. Die klein dogtertjie binne in haar wil hoor dat sy mooi is.

Reken Delport dat om te wil weet jy is mooi kinderlik/ kinderagtig is? Klein dogtertjies het nog nie soveel blootstelling gehad aan ‘n kultuur wat hulle op hul uiterlike oordeel nie, en wil nie ‘n huweliksmaat plesier nie, en gee dus nie soveel om vir uiterlike skoonheid nie.

Hier is nog een:

Die een oomblik lag jy saam met lieflike Lolita en julle is albei dol gelukkig. Dan gebeur die onlogiese, verwarrende… Lieflike Lolita het in haatlike Helga verander en julle het een vreeslike geveg.

Om die naam “Lolita” te kies vir ‘n vrou as sy haar man plesier gee is verdag. ‘n “Lolita” beteken ‘n dogtertjie wat meer in seks belang stel as wat vir haar veilig is.

Die eerste karakter waaraan ek dink as ek die naam Helga hoor is die strokieskarater-vrou van Hägar die Verskriklike, wat die huis en twee tieners, Honi en Hamlet, heel goed behartig as haar Viking-man maande lank weg is met die skip om Engeland te gaan plunder. Sy kan ook haar man, ekskuus vrou, staan teen Hägar. Sy het foute, maar sy is ‘n verantwoordelike volwassene.

Impliseer sy dat die ideale vrou haar soos ‘n vroegwys kind gedra? Of dat mans eerder ‘n kind wil misbruik as om ‘n verantwoordelike volwasse maat te hê? Ek dink meer as dit van die gemiddelde man.

Waarom dan, is daar soveel vroue wat voel of hulle nie genoeg liefde kry nie, en waarom is dit vir volwasse vroue soos Helga nodig om te “neul” om mans se ore?

Ek dink daar is veral twee redes waarom vroue (en ons is volwassenes, nie dogtertjies nie!) soms nie baie geliefd voel nie:

1) Die samelewing leer vroue om liefde te wys, en mans om nie te wys hoe hulle voel nie. Mans en vroue het ewe veel liefde nodig van hul maats, maar vroue word geleer hoe om dit te gee en mans nie. Mans kry dus dikwels meer liefde, in ‘n vorm wat hulle verstaan en as liefde beleef, by hul vroue as andersom. Om daardie rede is die vrou se “liefde-tenk” heel dikwels leeg terwyl haar man s’n vol is.

2) Liefde word gewoonlik T-Y-D gespel. In ‘n wêreld waar mans geld verdien het, en vroue tuis gebly het met kinders en kos maak en ander take, was dit moeilik om te vertel wie die meeste gedoen het vir hulle maats en gesinne, om dus te vertel wie die meeste liefde met hulle dade gewys het. Maar in ‘n wêreld waar vroue ewe lang ure by die werk is, en dan meer ure aan kook en kinders en ander take spandeer, kan ‘n mens maklik sien wie die meeste liefde wys.

As ‘n vrou ewe veel tyd by die werk spandeer as haar man, en dinge soos kook, huis skoonmaak, gimnasium toe gaan en grimeer om goed te lyk vir haar man, ens. haar net 2 ure per dag neem, en die man spandeer ewe veel moeite as die vrou aan ander gesinstake (inkopies, kinders grootmaak, huis en tuin onderhou, ens), wys die vrou 2 ure per dag liefde terwyl die man op sy stert sit. En dis dalk waarom vroue meer bekend staan vir neul (Helga se slegte eienskap) as mans: As vroue neul, beteken dit hulle wil sien dat die man ook haar prioriteite syne maak, soos sy vir hom doen.

Ja, vroue smag na liefde.Die vrou se behoefte aan liefde is volwasse en wedersyds, dit maak haar nie ‘n “dogtertjie” nie. En dis uitstekende nuus vir die man, want dit beteken dat sy liefde gee ook.

Iewers moet die Christendom leer dat mans en vroue as gelykes na God se beeld geskape is, om te heers. (Gen. 1:27, 2:18) Die vrou is ‘n helper nie in die sin van ‘n huishoudster nie – dieselfde woord wat met helper vertaal word, word in die Bybel gebruik vir God self, as Hy mense help. Met hierdie helper hoef die man nie meer God se opdrag alleen uit te voer nie. Sonde het gemaak dat mans oor vroue heers (Gen. 3:16), maar die voorspellings van die sondeval is nie God se ideaal nie – die evangelie gaan oor regmaak wat in die sondeval verkeerd gegaan het. En 1 Kor. 7:3-4 verwys daarna dat selfs in die slaapkamer dinge wedersyds moet gebeur – revolusionêr vir Paulus se tyd.

hagar_the_horrible_june_7_2015

—————————-

1Ek besef dat die mans pornografie (valslik – alles wat daarin gebeur gebeur met regte vroue en mans) as ‘n fantasie sien. Maar die feit bly staan: Porno-kykers fantaseer nie daaroor om respekvolle vroue liefdevol te behandel nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s