Dis tyd om te dink oor “It’s Time”

Ek kry ‘n Whatsapp gisteraand: “Hoe was dit?”

Sy praat van die Angus Buchan gebedsdag. Uuuhhhmmm, wat vertel mens in ‘n paar Whatsapp-woorde? Om deel te wees van miskien Suid Afrika se grootste gebedsbyeenkoms nog ooit  (sien eerste kommentaar vir waarom hierdie sin gekorrigeer moet word) was ‘n belewenis wat ek vir min dinge sal wil verruil. En nogtans voel ek nie heeltemal gemaklik daarmee nie.

Kon al die geld om in Bloem uit te kom dalk beter spandeer gewees het? Toe een blogger hieroor spesifiek vra of mens nie dalk eerder vir die informele gebied in Kayelitsha spoeltoilette kon bou nie, tref daai vraag my juis. Want op pad na “It’s time” het ek agter bosse langs die pad gehurk. By “It’s time” was daar emmertoilette (Jig!). Om my naaste te help met ablusie is beslis ‘n belangrike saak. Dit maak net die lewe soveel skoner en meer welriekend, wat op sigself sal help om hoop te laat oppik. Maar dan, daar is ook ‘n tyd om Jesus se voete met parfuum te salf, nie om die armes te help nie. (Mark 14:1-9)

Was dit werklik ‘n byeenkoms vir alle Suid Afrikaners? Ek het by “It’s time” gesien hoe graag ‘n groot deel van die wit bevolking vir die land wil bid. Van waar ek gesit het skat ek so 95% van die bywoners was wit. Die res was swart – ek het niemand gesien wat bruin of soos ‘n Indiër lyk nie. (Van waar ek sit kon ek uiteraard nie almal sien nie.)

Aan die een kant was dit wonderlik om te sien hoeveel mense graag vir Suid Afrika wil bid. Aan die ander kant? Gesien in die lig dat dit oor gebed vir die land gegaan het, dink ek eerlik nie dat die konferensie genoeg gedoen het om ander bevolkingsgroepe in te sluit nie. Die hoofspreker was nie alleen ‘n wit man nie, maar ‘n boer. Geen swart spreker is geadverteer of het opgetree nie, en ek vermoed dat daar nie vir anderskleurige gelowiges gevra was watter kerkliedere hulle graag sing toe die lofprysing beplan is nie. Die beplanning sluit ook grootliks arm Suid Afrikaners en diegene te siek om te reis uit: Mense wat in ‘n plakkerskamp bly kan nie bekostig om te gaan nie. En die byeenkoms was nie tegnologies gebring na TV-skerms elders vir mense wat nie daar kon wees nie.

En die inhoud? Wel, ja…

Hy vertel dat ons eers ons eie lewens in orde moet kry, en vertel van die 4 basiese soorte gebed. (Danksegging, Aanbidding, belydenis, voorbidding) Hy lei ons in gebed, en laat ons ook ‘n bietjie self bid.

Maar soos by meeste predikante van megakerke, sien ek self-promosie. Daar is die soort nederigheid wat praat oor “I am just a semi-illiterate farmer…”, maar nie die soort wat minder oor homself praat nie. Al sy stories en voorbeelde gaan oor mans wat by Angus Buchan konferensies tot bekering gekom het, mense wat opgeoffer het om by sy konferensies te wees, en dinge wat tydens Angus-Buchan-preke gebeur het. Geen bediening word gepromoveer as Angus Buchan nie sentraal staan daarin nie. Ek sou dink dat op ‘n dag soos gister daar bemoedigende stories kon wees oor hoe God herlewing elders gebring het, of oor wat 23 jaar gelede in Suid Afrika gebeur het. Maar sulke stories het nie Angus Buchan in nie.

Hy vertel: “Vandag sê ek net wat God op my hart lê!” Meer nederige predikers weet: “Ek sê wat, na die beste van my wete en gebede, van God af kom. Maar in my feilbaarheid kan iets deurglip wat nie van God af is nie. Toets alles – my ook – aan die Woord.” Hierdie tipe selfvertroue, die vertroue dat hul eie woorde en God s’n niks verskil nie, kom sovêr ek kan sien gewoonlik van mans wat hulle lewe lank, of minstens dekades lank, (figuurlik) baas van die plaas was en nie weet wat dit is om woorde te sluk of iemand anders se idees te volg nie.

“Suid Afrika is ‘n Christen-land!” vertel hy. Wat presies bedoel hy? Vir my beteken ‘n Christen-land een waar meeste mense werklik Christene is, nie net waar meeste hulself Christene noem nie. Ek is nie seker hy is reg nie. Sou ‘n Christelike land soveel moord en verkragting hê? Soveel korrupsie? Soveel mense wat stem vir ‘n ou wat al van verkragting aangekla was en ‘n liedjie oor sy masjiengeweer sing? Toe ek hierdie laaste paar sinne tik, dink ek weer aan oom Angus se woorde by “It’s time”: “As jy wil sleg praat van die land, bid eerder!” Ek stop en bid, maar sluit in elk geval hierdie woorde by my artikel in.
Dalk is “Suid Afrika is ‘n Christen-land” Word-of-Faith-taal. Hulle glo dat as jy iets van God vra, moet jy praat of jy dit klaar het. (Is dit nie dalk vals getuienis nie? Daar is ‘n verskil tussen om te vertel iets sal wees, en om te vertel dit is.)

“God gaan vandag siekes hier in hulle stoele genees, sonder dat iemand vir hulle bid. Hier is mense wat aan alkohol en dwelms verslaaf is wat nooit weer aan sulke goed gaan raak nie. Daar gaan ‘n tyd kom wat die parlement in Suid Afrika met skriflesing en gebed geopen gaan word!”, proklameer hy. (Ek dink so by myselwers dat selfs skriflesing en gebed misbuik kan word in die hande van korruptes en magsbeheptes, hoe saamwerk tussen kerk en staat gewoonlik beter vir die staat as vir geloof in die land is, hoe Bybel lees in die parlement nie vir my noodwendig ‘n teken van die koninkryk is nie. Maar eersgenoemde twee sal wees.)

God het nie ‘n miljoen bidders saam nodig te hoor wat jy sê nie“, vertel die kritici ons voor die byeenkoms. “Hy hoor jou as jy alleen bid ook.” Dis waar. Ons draai nie God se arm as ons bid nie. Ons stap nader die God wat gewillig is om die goeie te gee. Hoekom saam bid as ‘n miljoen bidders nie God se wil verander nie? Want ‘n miljoen bidders word (ten minste so ‘n bietjie) deur God verander. En om Suid Afrika te verander, moet Suid Afrikaners verander.

As jy by die konferensie was: Dankie, dit was ‘n belewenis! Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.(Jak. 5:16) En as jy een van die genesings (van siekte of verslawing) beleef het waarvan Oom Angus daar gepraat het, dan wil ek asseblief jou getuienis hoor!

As jy die Here liefhet en nie daar was nie: God sien jou gebede ook. Hy sien jou redes om nie te kom nie. Weet dan dat ons ook jou wil ken en saam met jou vir ons land wil bid.

Vir al die gelowige Suid Afrikaners wat hier lees: Miskien wys “It’s time” ook dat dit nog steeds tyd is om te bid en te werk vir eenheid. Dis hartseer dat ons as gelowiges van Suid Afrika nog nie op die punt is waar gelowiges van verskeie rasse kan saam werk om ‘n yslike biddag te reël waar verskeie groepe ewe geneig sal wees om te kom saam bid vir ons almal se land nie. ‘n Biddag wat uitgesaai word vir ryk en arm. ‘n Groot biddag waar geesvervulde leiers, manlik en vroulik en van alle bevolkingsgroepe elke gelowige laat voel dat hierdie dag ewe veel vir sy groep bedoel is. Buchan het gebid dat ons ontslae sal raak van “racialism” (sy woord vir “racism”) – dalk moet ons oplet dat ons volgende groot biddag nie hoofsaaklik aan een ras behoort nie.

Miskien is dit goed dat ons – diegene wat gegaan het en diegene wat gebly het – “stry” oor of ons nie ons geld beter kan spandeer nie. Dalk motiveer daardie vraag jou om meer te doen vir hulle wat nie soveel soos jy het nie.

As hierdie biddag die hele storie was, dan was “It’s time” a mors van tyd. Maar as dit deel was van meer as ‘n miljoen stories – ons elkeen s’n – wat aangaan in God se krag met insig van bo, was dit meer as die moeite werd.

Advertisements

4 responses to “Dis tyd om te dink oor “It’s Time”

  1. Ek besef nou dat een aanname in my artikel verkeerd is, maar dalk moet ek dit juis nie verander nie: ‘n Geskatte 3-5 miljoen lede van die Zion’s Christian Church vergader elke Paasfees by Moria. Hierdie is dus nie Suid Afrika se grootste geloofs-byeenkoms nog nie. Dis nie eers die grootste een die afgelope maand nie.

    Maar miskien wys die feit dat ons eerder skryf en gesels oor wat ‘n wit man reel, en dus nie eers weet of onthou daar was al groter byeenkomste nie, op sigself dat eenheid in Suid Afrika nog iets is om voor te bid en werk.

  2. Goeie artikel Retha. Dankie. Selwers nie een vir “massa-byeenkomste” nie, maar is al genoeg deur die genade geslaan in my lewe om nie ‘n sweempie van veroordeling te gooi na die wat wel daarvan hou nie. Verskeidenheid in die skepping is mos hoe mooi God geskep het; ook in ons mense se spiritualiteite!
    Groete

  3. Hi, ek sal nie se ek is noodwendig een vir groot byeenkomste nie…veral nie deesdae nie… …ons moet onthou dat hierdie groot byeenkoms baie vinnig gereel moes word. Baie mense het, blyk dit, baie hard gewerk daaraan en mense het verskillende tipes bydraes gemaak om dit te laat gebeur, waarvoor ons BAIE DANKBAAR IS – nadat hulle sekerlik gevoel het, soos die wat wou/kon gaan, dat ons God en Vader dit van ons gevra het en ons besef het IETS MOET BEGIN GEBEUR…

    Dit was NIE PERFEK nie….dit het ook nie so gevoel nie, maar DIT maak NIE saak nie – want in hierdie geval was die BELANGRIKE deel dat ons as verteenwoordiges van die res van Suid-Afrika, bereid was om UIT TE REIK NA GOD op hierdie manier. Soos ek gesien het, was DIT WAT Hy Angus geantwoord het, DIT IS wat ONGEVEER GEREEL WAS…. al verstaan ons nie ALLES NIE, en al het alles nie gebeur soos elkeen dink dit moes wees nie…. Ons het getoon dat ons ten minste GEHOORSAAM WOU WEES, en bereid was vir INTREE NAMENS onsself en die res van die land. Indien ons dit net so vinnig EN nog beter/perfek gedoen wou he, sou dit tien teen een nie gebeur het nie…:((:: ::::

    Ons is feilbare mense, maak nie saak wat ons ouderdom is nie…hoekom se die Bybel anders dat ons geduldig moet wees en mekaar in liefde moet verdra…. Gelukkig het ons ook n GENADIGE VADER… laat ons dan steeds Sy Wil SOEK vir die land…

    Ek het ook reeds n tyd lank gebid en gewag om te sien wat God vir ons land en mense beplan het, aangesien daar SO BAIE waarskuwings met gevolglike ‘EVENTS’ OORSEE aan die gebeur was, en is – en was verlig toe dinge hier begin gebeur. Baie mense hier het BEWUSMAKING nodig van die TYD waarin ons is, EN dat dinge sal MOET verander – bv. ons sieninge van Christenskap en Kerkwees, ens.

    Daar was heelwat bevestigings vir my oor die Belydenisdag.
    n Christen-suster het vroeer oorsee n video geplaas oor tekens/dinge wat sy hoor, van God – WAT en WIE Hy almal RAAKSIEN – die EEN was iets buitengewoons wat ek die Vorige Aand gedoen het….! Sy het verder gehoor dat God OOK die een SIEN in die hospitaal, wat wag vir n orgaan…, die een in die ouetehuis… en dat Hy DIE EEN SIEN IN DIE VELD…!
    …maar VOORAF, klink dit toe so vreemd… en NA die byeenkoms in Bloemfontein, het ek dit skielik onthou! Die EEN in die VELD – want ons wou graag soos EEN, vir DIE HELE LAND in gehoorsaamheid, optree – is my gevoel hieroor.

    Verder het ek MATTHEUS 14:14 gekry en dit het my dadelik aan die veld by Bloem laat dink…. en dieselfde dag sien ek ‘toevallig’ n video wat reeds in 2015 gemaak is deur ‘n profeet, dr. Owuor, vir S.A. – dat ons GENESING sal beleef soos ons bymekaarkom – die vers hier se dat Jesus die SKARE bymekaar GESIEN HET, innig jammer vir hulle gevoel het en hulle GENEES het. Dit was n getuie vir my. Op n ander geleentheid het dr. Owuor, ook in 2015 reeds, gese dat God suid-Afrika oproep om byeen te kom en te bid….

    EN net voor Paasfees, het ek LUK.19:43 gekry. Dit handel (Luk.19:37-44), oor die dag dat Jesus Jerusalem ingegaan het – net Voor Paasfees – en die mense gejuig het oor SY BESOEK, oor Sy wonderdade. Hy se daar dat Jerusalem NIE BESEF het Wat tot hulle VREDE sou lei nie,… dat hulle Vernietiging in die gesig staar, Erge geweld….vers 43. Nadat ek nagedink het, besef ek toe dat dit ons ook SO raak… vers 44: INDIEN ons NIE BESEF dat ONS (OOK NOU), DIE TYD VAN Jesus en God se BESOEKING AAN ONS BELEEF NIE – maar Hy het ons WAKKER gemaak en GEROEP….. EN ONS HET GEHOOR EN GELUISTER. Dit, was in elk geval my belewenis…

    n Week na 22 APRIL se geleentheid, was ek by n getuienisaand by die kerkie wat ons BUS BLOEM TOE gereel het, (en is so dankbaar daaroor!) en gewone mense, wat party nie genoeg fondse tot hul beskikking gehad het nie, het vertel van bus-kaartjies wat geskenk was, van genesing van twee kniee en asma, en van geen-sonbrand-nie – wat oppad en tydens die dag gebeur het, waarvoor hulle self voot gebid het – en twee ander het oppad reeds ingetree vir die (ernstige geval) asma-lyer…. …En nog n paar verhale….

    Terwyl ek daar sit, net Voor die aand begin, dink ek, Vader wat maak ek hier…en maak die Bybel oop om n stukkie te lees.
    Ek maak oop en my oog val op Jeremia 34:15 – dit is HOE GOD SIEN WAT ONS GEDOEN HET….tref dit my… in sy oe was dit REG… EN …HY HET ook N VERBOND MET ONS GESLUIT…
    (En dit praat oor VRYLATING wat ons uitroep vir ons naaste –
    iets wat ons moet ondersoek??!)

    Net daarna praat dit van WAARSKUWINGS as Sy mense WEGDRAAI….
    Seen-groetes

  4. Hi,…Vir 22 April, TANS EN vir 6 SEPTEMBER (sien ondertoe), was en is hierdie bybel-gedeeltes gegee:
    JOEL 1 EN 2 – GOD PRAAT VAN Byeenkom, Belydenis en HUIL as Sy volk – om te WEEKLAAG VOOR GOD…. VERSE wat MEERMALE in verband met SUID-AFRIKA gebruik is…

    JEREMIA 36, praat van GOD WAT SY WOORDE VIR SY PROFETE GEE, om vir DIE VOLK TE GEE. (So is daar ook Amos 3:7), en God is STEEDS DIESELFDE…. soos altyd.

    SO HET Vicky Erlank as een van Vader se profete, drome, woorde en visioene gekry; eers oor die BRANDE by Knysna ens…., sy het egter nie mooi verstaan wat sy moes doen nie – sy moes Knysna toe te gaan, een week VOOR die BRANDE begin het… sy het toe gedink daar is baie meer tyd oor…
    (Ander profete en persone, se sy, het ook drome, woorde en visioene ontvang VIR SUID-AFRIKA
    en wel ook oor N ANDER WAARSKUWING – met n Link daar…)

    Gedurende JULIE het sy N ERNSTIGE WOORD gekry VIR DIE LAND!
    DAT ONS DIE DAG MOET AFSONDER VAN 6 SEPTEMBER,
    om te vas en te treur voor Vader – want ons staan SKULDIG AS LAND, VOOR HOM.

    Sy se ons kan as gesinne, in groepe en as KERKE bymekaar kom oor die hele land – hopelik sal alle KERK-LEIERS die boodskap om TE VAS, TE WEEN EN BELYDENIS TE DOEN VOOR GOD, ERNSTIG opneem –
    soos dit staan IN JOEL 1:14, (en JOEL 2…).

    Die JOEL 1 Skrif-gedeelte was verlede jaar oorsee gevind op n deels-verbrande Bybel-bladsy, NA N VUUR. Die bladsy het onder n bankie gele.
    (Ek het die FOTO daarvan al n paar keer die afgelope jaar gebruik as n ‘PROFILE’ op my selfoon.)
    DIE TEKEN is dus reeds ongeveer n jaar gelede al, as GETUIE van hierdie waarskuwing gegee – asook van die 22 APRIL OPROEP TOT GEBED – en dit vertel ook van VURE, droogtes en “die land” wat treur.

    Een Suster in die geloof vertel dat Vader God se WAARSKUWINGS juis TEKENS is van sy GENADE VIR ONS. Hy gee aan ons genadiglik n GELEENTHEID VIR BEROU. As ons Gehoorsaam is, sal Hy ons GEBEDE HOOR, aan ons DINK en medelye he ….en die oordeel versag… JOEL 2).

    Sien die VIDEO-BOODSKAP by: Vicky Erlank kanaal You Tube.

    (Sien ook die ERNSTIGE PROFESIE daar – vir N TSUNAMI aan die Wes-Kaapse Kusgebiede – – – ook in Vele mense se drome…)

    Die opskrif oor die VAS is,
    “Spiritual Egypt and Solemn Fast South Africa – Inspired by Elohim”
    ( https://www.youtube.com/watch?v=SQ1ml8FZbXo )

    Seen-wense

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s