Monthly Archives: September 2017

Teologie studeer? Ek?

Jy wil eintlik ‘n vroue-dominee word“, verklaar my neef, by wie se slaghuis ek op daardie stadium gewerk het. Ek was 18, en die idee het regtig nog nooit by my opgekom nie. Ek het nog nooit ‘n vrou op ‘n preekstoel gesien nie, en kon myself dus nie eers daar verbeel nie.

So twee jaar terug vra een van die Rhema-pastore my of ek op ‘n kursus wil gaan waar ons geleer gaan word om ander in geslagsgelykheid op te lei. Ek maak toe seker of hulle wel my, ‘n admin klerk wat nie met mense werk nie, daar soek. Haar reaksie was iets soos: “O, op grond van jou blog het ek het gedog jy is ‘n predikant of iets! (Toe wou hulle my nie meer op kursus stuur nie.) Ek was verbaas: Lyk my of my blogs iets reg doen?

Verlede jaar kom ek af op ‘n Facebook-groep af waar iemand wat my dominee was oor my “skinder”:

(Hierdie is die begin van ‘n inskrywing en dan daardie selfde predikant se eie kommentaar op die inskrywing waar ek aangehaal word.)

Huh? Ek is nie ‘n teoloog nie! Ek was nog nooit naby ‘n teologiese skool nie. En ek sal nooit die luukse hê van ses jaar voltyds soos wat die denominasie waaruit ek kom, die NG Kerk, vereis nie. Veral gesien daarin dat mens nie eers noodwendig dan werk kry in daardie rigting nie, klaarblyklik nog meer so vir vroue. (Ek noem die NG Kerk, want dis ook die dominee s’n en hy noem gereformeerde teologie.)

En die pas tel op. Laas Sondag skryf ‘n berader-blogger van Houston, Texas: ” Retha Faurie, a writer in South Africa… and a person I consider to be a good theologian, says [hy haal een van my blogs aan]…”

Hei, wag, ek is nie ‘n teoloog nie. Ek is half trots dat jy my een noem, maar deesdae kan ek kwalik bid. Waarvoor sal ek teologie studeer as ek kwalik kan bid? Wat baat al die kennis, as ek kwalik glo dat ek God self meer verstaan? Gaan ek nie mense van die wal af in die sloot lei nie?

Iets in my hart wens jy was reg. Iewers, vroeër vanjaar, het ek op FaceBook gesit dat ek soms my verbeel ek is op die preekstoel. Maar kerke moet buitendien wegbeweeg van preke wat die middelpunt van alles is, en gemeentes wat “Pastoor Neville se kerk” of “Dominee André se kerk” is -Dit moet God en die hele gemeente se kerk wees.

Gister vra ‘n outisme-verteenwoordiger, ‘n man wat self krities staan teen die Christendom se foute, ‘n ou Facebook vriend wat ek vandag eers in die regte lewe ontmoet het, hoekom ek nie teologie studeer nie. “Ek kan dit nie bekostig nie”, antwoord ek.

“Kyk hierdie video wat my seun gemaak het“, vertel Carla my gisteraand. Die jongman praat oor die roeping uitleef wat God jou gegee het. Twee dinge spring uit in my hart: Ek wil leer (Engels learn) van God. En leer (Engels teach) van God.

Maar die verskonings maal deur my kop: Ek weet nie hoe of waar nie. Ek moet liewer iets prakties gaan studeer wat my vinnig uit werkskaarte deursit kan wegkry. Ek is moeg vir donderse werkskaarte. Ek kan dit nie nog tien jaar doen terwyl ek oor die pos teologie leer in my spaartyd nie. Party dae, as ek heeldag werkskaarte deursit, het ek nie spaartyd vir leer nie. Ek doen werkskaarte, loop huis toe, het kwalik energie vir aandete maak, en klaar geëet slaap ek daardie dae so 10, 11 ure. Intussen vertel my hart hy is reg: Hoekom doen ek dit nie?

Help, Here, want die teologie-ding voel so reg – en so onmoontlik.

As ek wil teologie leer, waar begin ek?