Die 500 gewones, die solo rykes: ‘n Storie oor kerk wees

Al die kinders in die gehoor was dit eens: “500 in my taxi” was hulle gunsteling.
Dit was ‘n melodrama by die kerk so 2 dekades gelede, en een van die items was ‘n klompie kinders wat die passasiers in ‘n minibus-taxi voorstel terwyl ‘n Leon Schuster-liedjie speel.
Die kinders op die verhoog druk hulself stywer in sodra nog kinders bykom op die stoele wat die taxi se sitplekke voorgestel het. Ek onthou nog twee met dik opgestopte boude en arms vol plastieksakke wat indruk in die oorvol sitplekke. ‘n Paar gooi goed by die “busvenster” uit. Op een stadium maak ‘n kind of hy sy neus blaas in ‘n bondel toiletpapier. Kykers in die voorste rye koes geskok toe hy die “vuil” toiletpapier in die skare ingooi.
Nog ‘n gunsteling van die aand is “O solo Mio“. Die laerskool se hoof gee voor hy is Pavarotti, en nog ‘n man in die gemeente speel Bryan Adams. “Bryan Adams” het ‘n sakdoekie om te maak of hy sweet afvee, en span homself oordrewe in om by “Pavarotti” te probeer byhou. Die twee deel ook rose uit aan dames in die voorste rye.
Later merk tannie Daphne op: “Ek het nie geweet die skoolhoof het so ‘n mooi stem nie!” Sy besef nie eers dis lipsing nie.
Aan die einde van die aand kom ons toe by nog ‘n deel: Gemeentelede “bie” op die items. Hierdie soort ding werk anders as by ‘n veiling. By ‘n veiling, as jy R5 000 op iets bie, en die volgende persoon bie R6 000, dan betaal net die hoogste bieer. In hierdie geval word al die geld wat jy bie vir die kerk gegee, of jy nou wen of nie. Die item waarop die meeste geld gebie word, word weer aangebied.
Omtrent 6 of 8 kinders sit ‘n bod in op “500 in my taxi”. Hulle gee dalk so R10 elk – kinders is nie die rykste mense in die gemeente nie.
Die afslaer kondig aan: Ons volgende bod is van Dr. Derrik Dirksen. Hy sit R300 op “O solo mio“. Gee asseblief ‘n groot handeklap vir Dr. Dirksen!” O-ô, dink ek. Hierdie hande klap besigheid is nie vir my heeltemal reg nie: R300 is vir Dr. Dirksen maar ‘n klein deeltjie van wat hy besit. R10 is vir baie van die kinders (toe was dit nogal baie geld vir ‘n kind) ‘n groot deel van hulle geld. Negejarige Nina verdien ‘n groter handeklap vir haar R10 as wat Dr. Dirksen vir sy R300 verdien. Onthou ook dat hierdie storie 20 jaar gelede gebeur het – toe was R10 meer as wat dit nou was.
Nou is daar R300 (dalk bietjie meer, daar is ander bieers ook) op “O solo mio”, en dalk R80 op “500 in my taxi”. Nogtans probeer die kinders nog bie. Hulle, en een of twee anonieme volwassenes, lig “500 in my taxi” tot op ‘n bedrag wat taamlik naby aan “O solo mio” se R300 is. Nog ‘n bod kom in, van Dr. Dirksen se vriend Spog-Sarel Swarts.
“Gee asseblief ‘n groot handeklap vir Spog-Sarel Swarts,” vra die afslaer. “Hy skenk vir ons R500, die grootste skenking vanaand!” (Die grootste skenkings op só ‘n aand is nooit anoniem nie.) Hiermee probeer die kinders nie eers kompeteer nie. “O solo mio” is die wenner. Hulle gaan nie weer “500 in my taxi” kyk nie.
Omdat “Adams en Pavarotti” nie verwag het om hulle item ‘n tweede keer te doen nie, is hulle rose op. Hulle plunder die rangskikking wat my ma gemaak het om die kerksaal te versier vir die geleentheid, en deel hierdie keer krisante uit.
Tot by die bie-ery het ek die aand baie geniet, maar daardie aand sukkel ek om te slaap. Iets is verkeerd. Dis nie dat dit eintlik saak maak watter item herhaal word nie, maar twee ander dinge is wel belangrik.
Eerstens, die kinders van die kerk het geleer dat as jy nie ryk is nie, tel jou stem en jou wense minder. Dit is nie kerkwees nie. Ware kerkwees gee om vir almal in die gemeente.
Tweedens, die Christendom moenie trots of spog aanmoedig nie. Die hele kultuur van hierdie soort gebie is ontwerp om die gegoedes se spog vir die gemeente se inkomste aan te wend. Dis glad nie in pas met Jesus se gesindheid nie.
Nie so lank daarna nie het ek by ‘n gemeente aangekom waar daar nie gebie word aan die einde van ‘n konsert nie. Ek het nie na die ander gemeente oorgegaan oor hoe die nuwe gemeente konserte hanteer nie, dit het ek later eers uitgevind. Ek het oorgegaan oor dit gevoel het die “500” gewone mense is hier net so belangrik as die “solo” rykes.

Die regte Pavarotti en Brian Adams: die opvoering wat die skoolhoof en ander man nageaap/ mee gespot het

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s