Moet ons “Raaiselkind” sien voor ons daaroor praat?

Dis logies, maar word soms heeltemal verkeerd aangewend: “As jy nie die boek gelees/ die fliek gesien het nie, kan jy nie kommentaar lewer daarop nie.” As ek nie ‘n fliek gesien het nie, kan ek nie eerstehands vertel of die taalgebruik daarin goed, die karakters myns insiens geloofwaardig, of die gebeure spannend is nie. 

Maar ek kan kommentaar lewer soos “Hierdie film is ‘n riller” as resensies van die film vertel dit is ‘n riller. Ek kan ook reken dat ‘n film te veel seks of geweld het vir my kind om te kyk – sonder dat ek dit self gekyk het, maar oor die fliek se graderings dit vertel. Ek kan ook weet, byvoorbeeld, dat as ‘n sekere film uitgegee word deur Neo-Nazis, dit waarskynlik snaakse idees oor rasverhoudings sal bevat. Jy kan ook iets oor ‘n filmtema weet deur die boek waarop dit gegrond is te ken.

Daar het onlangs ‘n argument uitgebreek tussen lede van die outistiese gemeenskap en die vervaardigers van die film “Raaiselkind”. Die film handel oor ‘n gesin met ‘n outistiese kind.

Hier is die basiese punte van outistiese kritiek:

1) Die vervaardigers en akteurs het nie met mense op die spektrum gekommunikeer oor hoe om outisme uit te beeld nie. (Hulle het glo met nie-outistiese mense by die outismevereniging, en met onderwysers – wat ek sal aanneem nie self op die spektrum is nie – by ‘n skool vir outistiese kinders gepraat.)

2) Hulle verkondig verkeerde definisies van outisme: Hulle Facebook-blad het ‘n definisie opgehad waarvolgens outisme ‘n “geestestoestand” (dit laat dit klink of ons iets soos skisofrenie het) is wat voorkom in die vroeë kinderjare (asof volwassenes nie outisme het nie.) Hulle het darem daardie een uitgevee nadat onder meer ek daaroor gekla het.

3) Die film beeld die “ergste” vorm van outisme uit en kan dus bydra tot die stereotipering van mense op die spektrum. (“Ergste” is relatief. Maar sekere eienskappe maak dit baie moeiliker vir party mense as ander om in die samelewing oor die weg te kom, hulle behoeftes te kommunikeer, ens. Hierdie kind sukkel – volgens die outiste wat die boek gelees het – werklik.)

4) Die boekbeskrywing van die boek se Engelse vertaling sê:

“Did she murder her child? And who could blame her if she did? ”

Om outisme uit te beeld as so erg dat mens nie ouers kan blameer wat hul kinders doodmaak nie kan kindermishandeling aanmoedig. Ek – Retha Faurie- beskou die houding van “wie kan iemand blameer wat jou soort doodmaak” as kwetsend. Hierdie soort boodskappe lei ook tot algemene gebrek aan aanvaarding – wie kan jou blameer as jy nie iemand op die outismespektrum wil werk gee/ in jou vriendskapgroep aanvaar/ ‘n kans gee om deel te wees van jou kerkbediening nie?

5) Die film beeld (as dit soos die boek is, wat party van my vriende wel gelees het) die outistiese kind as ‘n reuse-probleem uit, terwyl daar mense met oplossings is. Om Tania Melnyczuk aan te haal:

“What frustrates me hugely is that many of us are standing here saying, “Headbanging? Some of us have done that, we can explain. Hiding in cupboards? Been there, done that, we can explain.” But all they want to say is puzzle puzzle puzzle puzzle. THEY DON’T WANT TO KNOW. “

6) Die film-vervaardigers vee kritiek van werklike outiste uit, en blok party van hulle. Hulle is ook disrespekvol teenoor werklike outiste: Die kommentaar hier onder is van klaarblyklik die eienaar van die media-maatskappy wat die film maak.

As hierdie sarkastiese kommentaar nie verteenwoordigend is van hoe hulle outiste se opinies wil ignoreer of verdraai nie, kan hulle Tania verskoning vra en in die publiek vertel dit was nie verteenwoordigend van hulle opinie oor outiste nie.

Die filmvervaardigers, wat meer mag en geld het en dus ‘n onregverdige voorsprong in die argument, het ‘n persverklaring uitgereik om hulle outistiese kritici te antwoord. (Die kap na kritici is in die laaste paragraaf.)

Waar ek aan die filmmakers se kant is is dat ek nie reken ‘n akteur wat bv. ‘n pa of ma speel met ‘n outistiese volwassene hoef te praat nie – hulle moet praat met ouers van outistiese kinders. En die vervaardigers het die volste reg om ‘n storie te vertel wat klaarblyklik, op grond van alles wat ek gehoor het, ‘n ekstreme geval uitbeeld. Hulle mag ook teisteraars blok – maar die mense wat geblok is het moeilike vrae gevra wat hulle nie kan antwoord nie. Dit is baie anders as om te dreig of te wil leed aandoen.

Tot die mate wat ons nie weet wat in die film is nie, kan ons ook nie daaroor kla nie. Maar ons kan:

  • kla oor disrespekvolle behandeling deur filmmakers wanneer hulle ons disrespekvol behandel.
  • vra dat hulle, as hulle dan bewusmaking wil doen op grond van die film in plaas van bloot vermaak aanbied, dat hulle werklike outistiese skrywers/ bloggers/ vloggers aanbeveel vir ouers – mense wat dalk weet van oplossings vir die raaisels.
  • vertel – tensy en tot hulle ons vertel die fliek is nie in hierdie opsig die minste soos die boek nie – dat “kan mens haar blameer as sy hom doodgemaak het?” ‘n gevaarlike boodskap is.
  • vir hulle uitwys as hulle verkeerde definisies van outisme in hulle reklamemateriaal (wat ons wel gelees het) sit.
  • die algemene opinie hoorbaar maak dat dit in die vervolg beter is om eers met mense op die spektrum te kommunikeer (merkwaardig baie van ons kan kommunikeer!), en hulle jou planne te wys. Eerder dít as om te vertel: “Julle het nog nie ons voltooide produk gesien nie en moet dus nie iets daaroor sê nie”.
  • Ons kan nie aandring dat hulle geen flieks oor ekstreme gevalle maak, of hul stories vertel uit ons perspektief eerder as die ouers s’n nie. Flieks word grootliks gemaak om winsgewend te wees. Ouer-wees is iets waarmee meer as helfte van volwassenes kan identifiseer, outisties wees is nie. As hulle ‘n ekstreme voorbeeld van ‘n karakter uit ‘n misverstane minderheidsgroepie uitbeeld, kan hulle egter aan die begin van die film iets sê soos: “Hierdie verhaal is fiksie. Moenie aannames oor ‘n hele groep maak op grond van die karakter wat hier uitgebeeld word nie. Moenie eers aannames maak op grond van die menings van die sogenaamde kenners met wie die ouers in hierdie film gesels nie – hulle is ook fiksie en selfs regte kenners is soms verkeerd.” (Let wel: Ek weet nie of die ouers in die storie kenners se menings hoor as woorde in die storie nie. My voorstel is bloot tentatief.)

As ek op hierdie laat stadium van produksie (die film kom 16 Februarie uit) vir die vervaardigers raad kon gee, sou dit wees om ‘n voorvertoning vir die outiste wat hulle vra om te luister te hou. Laat daardie groep dan antwoord wat hulle dink gedoen kan word om “Raaiselkind” op ‘n verantwoordelike manier voor te sit. Die vervaardigers moet immers self insien dat “Kan ons haar blameer as sy hom doodgemaak het?” ‘n gevaarlike boodskap is. As die fliek in daardie opsig enigsins soos die boek is, is ons bekommernis geregverdig. As dit nie is nie, sal ‘n voorvertoning ons gerus stel.

En vra vir Tania Melnyczuk om verskoning.

—————————————

Skermgrepe: Kommentaar van werklike outiste. Moet mens die fliek sien om hierdie menings te hê?

quote

Die aanhaling in hierdie greep kom uit ‘n lokprent vir die film:
quote was gelukkig

quote eugenics

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s