Monthly Archives: Maart 2018

Die klanke wat ons nie by mekaar hoor nie

Een van die dinge wat ek en my pa nie oor saamgestem het nie, was musiek. Dit was soms nogal ironies. Soos die keer toe hy Jurie Els se ‘hoe sê mens dankie’ op een van my bandjies bo-oor my musiek opgeneem het, en ek vir hom kwaad was.
Toe ek ‘n tiener was – baie lank gelede – het mens musiek ge-“download” deur langs die radio te sit terwyl jou gunsteling-musiekprogram aan was. Jy het ‘n kasset met magnetiese lint in die radio se kassetspeler gehad. Dan probeer jy om “record” te druk op presies die oomblik dat die omroeper ophou praat, sodat jy die hele liedjie en niks van die omroeper se stem kry nie.
Nou ja, my kasset was in die speler toe my pa “record” druk. En sy liedjie word toe bo-oor twee van my gunstelinge opgeneem. Ek gooi toe ‘n tiener-vloermoer oor my verlore musiek. Die ironie van die saak is dat die liedjie juis gaan oor dankbaarheid teenoor jou ouers. My ouers doen baie vir my, en as mens onthou wat jou ouers vir jou doen gaan jy nie vloermoere gooi oor hulle twee van jou gunsteling-liedjies per ongeluk laat wegraak nie. As daar ‘n stem van dankbaarheid was wat my pa daardie dag sou wou hoor, het hy dit nie gehoor nie.
‘n Ander ironiese keer was toe die musiekvideo ‘You don’t own me’ uit First Wives Club op TV was, en ek en my ma gekyk het. “Sit af daai gemors!”, vertel my pa. (Sy ore was sensitief vir party soorte klanke.) Ons ignoreer hom. Want Bette Midler, Diane Keaton en Goldie Hawn is in die fliek geskeide vroue wat bly is dat hulle nie meer na mans hoef te luister nie, en hulle liedjie gaan so:

“Don’t tell me what to do… don’t try to change me in an way…”

My pa het geweet niemand skakel musiek af sommer oor hy so sê nie. Maar hy het eers jare later vir my verduidelik dat sekere musiek en klanke sy kop seermaak, toe sy kleindogter drie was en lief was vir hoë gilletjies as sy opgewonde raak. En ons het hom nooit vertel dat takt beter werk as bombastiese opdragte nie. (Hy het dit darem later uitgevind. “As jy in hierdie huis wil skree, skree Cheetas”, het my pa daardie kleuter-kleindogter van hom geleer.)
Maar die mees ironiese een was miskien ‘The living years’ van Mike and the Mechanics. Ek kon dit oor en oor luister. “Dis sommer ‘n klomp twak waarna jy luister”, vertel my pa eenkeer. Ek byt my tong, want ek kan juis nie vir hom vertel hoekom dit my roer nie. Dit gaan oor iemand wat wens hy kon beter met sy pa kommunikeer:

I just wish I could have told him in the living years.”

Hoekom vertel ek dit nou vir julle? Miskien oor ek verlang. Miskien oor ek wens ons kon beter kommunikeer toe hy nog hier was. Maar ek is nie die enigste een nie.
Dis jare gelede. Ons ry van die gedenkdiens vir my oupa se begrafnis na die begrafplaas, ‘n stywe entjie. “Ek wens ek kon hom vertel hoe besonders hy was, hoe ek hom waardeer het,” mymer my ma. Niemand antwoord nie. My pa sit die radio in die kar aan om die stilte te breek. Julle sal my nie kwalik glo, maar hierdie is die woorde wat toe speel:

…If I never did it
I was only waiting
For a better moment that didn’t come
There never could be
A better moment than this one, this one.” – Paul McCartney

————-
Is daar dinge wat jy wens jy kon gesê het, of wens jy kon hoor? Vertel my in die kommentaar, as jy wil. Of vertel wat jou strategie vir openhartig gesels is.

Advertisements

Ek soek U

Ek soek U krag, maar dit wil nie kom.
Ek soek U raad, maar U stem bly stom.
Ek soek U wil, maar my pad is skeef. Lees voort