Idees met ballonne vir Sondagskool

Een van my Facebook-vriende is ‘n mede-Aspie winkel (iemand wat met dieselfde soort outisme gediagnoseer is) met ‘n groot liefde vir ballonne. Ek word toe ge-tag in sy Ballonne-groep toe hy die vraag vra: Hoe gebruik mens ballonne in die Sondagskool?

Dis ‘n oulike vraag! Ek maak toe ‘n lys van maniere wat ek al gesien het.

1) Hersienspeletjies.

In ‘n hersienspeletjie word die kinders in spanne ingedeel en moet die spanne om die beurt ‘n vraag antwoord oor die les(se) wat hersien word. Die kind wat die vraag reg antwoord kan die speletjie kom speel. (In ‘n groot groep soos kinderkerk, waar almal nie ‘n beurt gaan kry nie, maak ek gewoonlik die reel dat een kind antwoord, en hy nomineer ‘n ander kind om te trek – tussen antwoord en aan die speletjie deelneem moet soveel moontlik kinders ‘n beurt kry. In ‘n kleiner klas maak ek ander reels om te sorg dat almal ‘n beurt kry – bv. die reel dat as die volgende kind in die ry reg antwoord kry die span volpunte, as ‘n ander kind moet antwoord net halfpunte. )

1a) Bars hom anders

In hierdie hersien-speletjie sit jy ‘n vooraf ‘n punte-papiertjie in elke ballon – nie almal ewe veel punte nie – en blaas die ballon op en knoop toe voor die tyd. Die kind wat reg antwoord kan ‘n ballon trek en moet hom bars sonder om sy hande te gebruik, en nie soos die vorige kind dit gedoen het nie. As hy die ballon bars, kry sy span die punte binne-in. (Een kind kan bv. daarop trap, die volgende daarop gaan sit, ens. Dis gewoonlik groot vermaak, oor die hele span idees voorstel en albei spanne kyk hoe dit gedoen word. (Deur my mede-spanlid Liezel Cilliers (nou Landman), toe ons Diensjaar vir Christus gedoen het lank gelede.)

1b) Liggewigstoot

Toe ek hierdie een gespeel het, was dit in ‘n klas met 30cm-vloerteëls. As jou klas nie teëls het nie, sal jy met bv. wol strepe op die vloer moet lê.

Die kind wat reg antwoord kan gewigstoot met die ballon doen. As die ballon agtertoe/ geensins vorentoe nie land, kry sy span 10 punte vir reg antwoord. As die ballon een teël vorentoe land, 20 punte. 2 teëls vorentoe – 30 punte, ens.
(Terloops, spiesgooi met ‘n koeldrankstrooitjie of diskus met ‘n speelkaart gebruik dieselfde reëls.)

Die span met die meeste punte wen. (Maar herinner die kinders – veral as hulle onder 9 is – dat almal wenners is in Christus, hierdie speletjies is net ‘n grappie.)


2) Teksvers-memorisering:

Blaas ballonne op en skryf op elkeen ‘n woord of twee van die teksvers wat jou klas moet leer. Sit die ballonne op ‘n tafel voor hulle neer, sodat hulle daarvandaan die vers kan aflees. Laat die klas die woorde herhaal met bewegings. Soos die klas die woorde leer ken, bars al meer van die ballonne (laat die kinders beurte kry vir ballon bars) sodat hulle dit met minder leidrade kan opsê, tot die klas die hele vers ken en sonder woorde dit kan sê.

(Christian-based Gender Equality Curriculum for children aged 7-12 years, gemarhema.org)

3) Bywoning – vir kleintjies

Hierdie is nou wel nie regtig ballonne nie, maar dit het ‘n ballontema: Sny ballon-vorms uit verskillende kleure karton en skryf ‘n kind se naam op elkeen, min of meer só:

ballon idee1
ballon ideeKnip die “ballonne” uit, sit ‘n toutjie om elkeen. Bind die toutjies saam (party langer as ander), en plak iewers in die klas op. Sit prestik agter op elke “ballon”. Wanneer ‘n kind die klas inkom, plak sy naam se ballon vas – die hang-ballonne is afwesige kinders, die op-ballonne teenwoordige kinders.

4) Gebedsles-inleiding

Laat deel die klas in twee spanne, elk met ballon. Merk wenstreep ‘n paar meter weg. Die voorste kind in elke ry blaas die ballon tot oor die wenstreep, vat die ballon terug vir die volgende voorste kind wat dan dieselfde doen, en gaan sit. Die span wat eerste sit, wen.

Dan sê jy: Jy het jou asem vir hierdie speletjie gebruik. Het jy geweet dat gebed soos geestelike asemhaling is?… Gaan voort met gebedsles. (Amazing Race@kruis, KidsXpress)


5) Heilige Gees les

(Hierdie sal ook werk vir ‘n gesinspreek-erediens, waarin daar idees is wat ‘n meer volwasse geloof beter sal verstaan, maar ander wat gemik is om kinders die boodskap te laat onthou. Grootmense onthou ook beter met prentjies, maar erken dit net nie altyd nie.)
Jy het twee ballonne en ‘n sigaretaansteker nodig. Maak vooraf een balon vol water, die ander vol lug, en knoop styf toe. Teken met koki ‘n vriendelike gesig op albei. Die kinders weet nie van die verskil- water en lug – nie.

Hier is twee kinders, _______ en __________. (Gee vir elke ballon ‘n naam.) Dit gaan goed met hulle. _______ en __________ lyk altwee na gelukkige, vriendelike kinders. Maar toe begin dit om nie meer so goed te gaan nie. _______ se pa verloor sy werk. Hulle trek na ‘n kleiner huis en ‘n ander skool.

_______ beland in die klas by ‘n juffrou wat op die kinders skree. (Hou die aansteker se vlam by die balon om te wys die kind kry swaar. Die ballon sal nie bars nie.) _______ is nog dieselfde. Sy is nog vriendelik, sy kla nie. Sy is ‘n kind van God en het die Heilige Gees by haar om haar te help.

Dieselfde dinge gebeur met _______. Haar pa verloor sy werk. Hulle trek na ‘n kleiner huis en ‘n ander skool.

_______ beland in die klas by daardie selfde juffrou wat so op die kinders skree. (Hou die aansteker se vlam by die ballon met lug. Die ballon sal bars.) _______ kon nie meer vriendelik of gelukkig wees nie. Haar vriendelikheid en blydskap het net uit haarself gekom, nie van die Heilige Gees nie.

As jy God se kind is, bly die Heilige Gees in jou en help jou om te doen wat reg is. En die Heilige Gees is God, net soos Jesus en God die Vader.”

——————-

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s