Hoeveel reg moet die staat hê om vir die kerk voor te sê?

Uitspraak

Foto uit Kerkbode

Party mense het ‘n talent om so te praat dat hulle lingse vriende glo hulle is lings, en hulle regse vriende glo hulle is regs. Soms wens ek dat ek ook daardie talent gehad het. Maar helaas: As ek hier nie eers ‘n opinie gee nie, maar ‘n spul vrae vra gaan my behoudende maats reken ek is nie behoudend genoeg nie, en my progressiewe maats ek bevorder nie gay regte genoeg nie. Maar ongeag wat enigiemand anders hieroor dink, miskien is hier tussenin vrae wat jy of ek nog nie vir onsself of God gevra het nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het hierdie week ‘n besluit ter syde gestel waarin die NG Kerk in 2016 gekies het om nie gay huwelike te bevestig nie. Die hele storie laat my uit twee teenoorgestelde hoeke ongemaklik voel.

Aan die een kant, die uitspraak klink of dit die staat mag oor die kerk gee:

Advocate Jeremy Gauntlet, SC, for Gaum and co, insisted that the church conceded to being discriminatory and that the church failed to put up facts to discharge the onus that there was a breach of the Constitution in the 2016 decision.
He added that the church did not have the right to invoke hurt or discriminate against anyone by not accepting same-sex unions and by “imposing celibacy on one roof of people”. – News24.com

Ek is nie gemaklik daarmee om die staat te veel mag oor die kerk te gee nie. Gelowiges reken seksualiteit is Godgegewe en moet op ‘n heilige manier bedryf word. Ja, gelowiges verskil soms skerp hieroor: Party reken byvoorbeeld dat gay verhoudings liefdevol en van God af, en dus heilig kan wees; ander dink glad nie so nie. Maar die staat verskil op ‘n meer fundamentele manier van hulle, want hy erken glad nie hierdie komponent nie.

Aan die ander kant, as ons kla oor die staat hier gelowiges se gewetens en hul verstaan van reg en verkeerd wil voorskryf, dan kan die NG Kerk van dieselfde ding beskuldig word! En wat is “te veel mag”?

Ongemak vanuit die kerk-oogpunt

1) Tot watter mate moet die staat die reg hê om vir die kerk voor te skryf, en wat is volgende as hulle dit kan doen? Seksuele oriëntasie en geloof is twee dinge op grond waarvan mens volgens die staat nie onbillik mag diskrimineer nie.Veronderstel dat ‘n sekere teologiestudent nie meer in God glo teen die tyd dat hy klaar is nie, kan die staat die kerk dwing om daardie student te beroep? As jy ‘n Christen as jou dominee of pastoor soek, is dit diskriminasie op grond van geloof?

Hier moet ek net gou iets verduidelik oor diskriminasie: Kragtens die wet is nie alle diskriminasie onbillik nie. ‘n Goeie voorbeeld is as jy die siende eerder as die blinde aansoeker aanstel as busbestuurder. Tegnies is dit diskriminasie teenoor ‘n gestremde. Maar die aard van die werk is so dat ‘n blinde mens dit nie kan doen nie. Die wet aanvaar dit dus as billike diskriminasie.

2) Gauntlet het bevind dat die kerk gays seermaak. Wat mag die kerk nie doen nie, oor dit mense kan seermaak? Veronderstel ‘n kerk aanvaar nie selfdegeslag-verhoudings nie, maak hy gays seer? En wat as hy nie buite-egtelike heteroseksuele verhoudings aanvaar nie, maak hy dan straight mense seer? En as hy nie ‘n leefstyl sonder gebed en Bybel lees aanvaar nie, maak hy dan biddeloses seer? Daar is ‘n verskeie soorte gedrag wat die kerk verkeerd noem, maak hy almal wat dit doen seer?
In die lig daarvan dat gays maar regtig mense nes enigiemand anders is, kan dit beteken dat die kerk later geen gedrag onaanvaarbaar mag noem nie.

3) Is dit werklik waar dat die NG Kerk net een groep mense vra om selibaat te leef? Daar is mense wat om een of ander rede ongewenste trou-maats is (gestremdheid, onvermoë om geld te verdien, ens.), of wat nie ‘n maat kry wat pas nie – meeste kerke reken ook hulle moet selibaat leef. Hierdie saak raak my ook – ek is op die outisme spektrum en kry nie ‘n geskikte trou-maat nie.

Hierdie is dalk die punt waarop ek die gay gemeenskap en hulle spreekbuise die minste verstaan: Hulle bly vertel die kerk diskrimineer wanneer gay omgang nie deur die kerk goedgekeur word nie, maar praat nooit asof hulle en ek deel van dieselfde groep is, dat die kerk (a) gays, (b) gestremdes wat slegte huweliksmaats sal maak en (c) diegene wat nie ‘n geskikte trou-maat vind almal moet toelaat om saam te slaap nie. Met die LGBTQA+ sambreel noem hulle egter aseksueles (mense wat nie saam met enigiemand wil slaap nie en wat dus geen probleem het met die kerk se selibaatheid-voorskrif nie) deel van die groep vir wie se regte hulle baklei. Waarom en hoe praat die gay gemeenskap vir aseksueles en nie vir heteroseksueles wie se verhoudings vir die kerk onaanvaarbaar is nie?

Ongemak met die kerk:

4) Veronderstel iemand hou nie daarvan dat die staat vir gelowiges voorskryf nie, en daarom hou sy/ hy nie van hierdie hofuitspraak nie. Kan sy/ hy dan gemaklik wees met die 2016-beslit wat teengegaan is?
Die NG Kerk het in 2016 outoritêr namens sy gemeentes besluit dat hulle nie die Heilige Gees se leiding, hulle gewetes en hul verhouding met God moet vra hoe om gay lidmate te behandel nie, maar die kerk se leierskap. As ek teen outoritêre besluite van bo is, en vra dat God en Sy liefde mense moet lei, moet ek nie dan ongemaklik wees met sowel die NG Kerk se 2016-besluit as die hof se uitspraak die afgelope paar dae nie? (Die 2015-besluit wat nou van krag is oor die 2016-besluit ongedaan gemaak is tel nie as outoritêr nie – dit reken kerkrade moet hul eie gewetens volg oor hierdie sake.)

5) Tot watter mate moet kerke hulle aan die wet onderwerp? As ‘n godsdiens diere-offers bring, moet hulle na die wette luister wat wreedheid teenoor diere beheer? Ek sou “ja” antwoord. As ‘n prediker sy lidmate met DOOM wil spuit, en hy kry sy gemeente om te glo dis nodig, moet die polisie ingryp? Nou raak dit ietwat moeiliker, want ‘n mate van instemming (Engels consent) is hier teenwoordig. Ek reken dis afgryslik om mense met DOOM te spuit en instemming moet meer behels as net die afwesigheid van “nee”, en is hier aan die polisie se kant – die kerk moet hulle aan die wet onderwerp. Maar wat as die staat sou bevind kerk toe gaan is op sig self skadelik (“mors tyd”), of geld vir die kerk gee is sleg vir jou geldelike posisie? Presies wanneer mag die staat vir gelowiges voorsê?

As ‘n kerk nie seksueel aktiewe gay predikante aanstel nie, is dit billike diskriminasie om net mense wat hul waardes deel en (oënskynlik) daarvolgens leef aan te stel? Of is dit onbillike diskriminasie om in die eerste plek daardie waardes te hê?

6) Praat die gelowiges – aan weerskante van die saak – die waarheid oor liefde? Party mense op die foto hierbo dra ‘n T-hemp met hierdie prent op: loveisloveIs dit waar? Impliseer die bewoording nie dalk dat daar geen verskil tussen eros, philia, agape en storge is nie? Of dat daar geen verskil tussen ‘n liefde vir roomys (‘n liefde wat verorber en opgebruik) en ‘n liefde vir jou maat is nie? En om na die ander kant van die spreekwoordelike tafel te beweeg, hoeveel liefde is daar in die “wees lief vir die sondaar, haat die sonde” mense? Wys hulle werklik liefde?

7) Kan die kerk werklik hulle houding oor gays skriftuurlik regverdig?

Ek weet watter tekste gebruik word om gay gedrag te veroordeel. Party mense reken daar is ander maniere om daardie selfde tekste te verstaan. Maar die grootste gebod is die liefdesgebod – is gelowiges se houding teenoor gays werklik liefdevol? Tussen (a) ‘n verhouding tussen twee vroue wat vir mekaar omgee en lewenslank bymekaar bly en (b) ‘n gemeente wat nie hierdie twee vroue as lidmate wil hê nie, wie doen die meeste verkeerd in God se oë? Die twee vroue doen iets wat dalk volgens ‘n teks in Romeine 1 verkeerd is. Die gemeente oortree dalk die liefdesgebod.

Ek hou nie daarvan dat die staat vir gelowiges voorsê nie. Maar moet gelowiges nie dalk ophou kla oor die staat en eerder hand in eie boesem steek, biddend vir God vra of wat hulle doen reg en goed is nie? Maar dis alles vrae, nie antwoorde nie.

Vir my lesers:


Wat dink julle? Lewer asseblief kommentaar! (Sit asseblief ‘n nommer van 1-6 by jou antwoord, dan kan ons as lesers dadelik sien watter vrae jy aanraak.)

_________________________

3 responses to “Hoeveel reg moet die staat hê om vir die kerk voor te sê?

  1. Punt 5.
    Die staat en die reg is nogal mooi afsonderlik in SA, so die vraag moet eintlik wees of die regstelsel gesag oor die kerk moet hê.
    Die regstelsel het in elk geval gesag oor die kerk, of die kerk daarvan hou of nie.
    Om te sien hoekom dit absoluut, ondubbelsinnig ‘n goeie ding is, hoef jy net te kyk na die seksuele misbruik van kinders in (veral, maar nie uitsluitlik nie) die Roomse Kerk.
    Dit gebeur op groot skaal in elke land waar die Roomse kerk besigheid doen – dit lyk werklikwaar of die meerderheid priesters òf self misbruik gepleeg het, òf betrokke was by die toesmeer daarvan.

    Presies net soos alle ander organisasies (bv politieke partye), is die hoogste prioriteit van die Kerk sy eie oorlewing as organisasie – daarom die toesmeerdery. Die tragedie daarvan is dat die misbruik en toesmeerdery aangehou het ondanks mense wat dit vir dekades al probeer oopvlek het. Kinders wat misbruik is, is deur die Kerk geïntimideer om stil te bly.

    Eers toe die regstelsel uiteindelik begin het om die wêreld warm maak vir die Roomse Kerk, kon daar vooruitgang begin kom oor hierdie kwessie.
    Kyk maar byvoorbeeld die gevalle van George Pell in Australië en Philippe Barbarin in Frankryk.
    Die gevolg van hierdie hofsake gaan wees dat die hoeveelheid seksuele misbruik van kinders deur priesters minder gaan word.
    Ook die intimidasie van misbruikte kinders deur die Kerk sal minder word. Ook die hoeveelheid kinders wat aan die Kerk toevertrou word, sal hopelik drasties verminder.

    En ek is bly jy sien in dat godsdienste wat wreedheid teenoor diere pleeg gestraf moet word volgens die wet, maar hoe is dit dan dat jy nie dieselfde oor die DOOM kwessie dink nie? Dit is aanranding van kinderlik naïewe en ongeletterde mense wat in daardie pastoor se mag beland het – dit sou onaanvaarbaar en immoreel wees as die staat / polisie / regstelsel dit laat verbygaan.

  2. “hoe is dit dan dat jy nie dieselfde oor die DOOM kwessie dink nie?”

    Ek dog “Ek… is hier aan die polisie se kant – die kerk moet hulle aan die wet onderwerp” wys my wel aan die kant van die staat hier?

  3. Dis waar Retha – ek moes eintlik iets soos “sonder voorbehoud oor die kwessie van instemming” geskryf het.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s