Die “sataniese” Ronald McDonald- skilder, en slegte motiewe

Het jy geweet dat, kragtens een van die belydenisse van Afrikaanse kerke soos die NG Kerk, een van hierdie twee prente sonde, soos in regte 10-gebooie-verbied-dit-direk-sonde is?

Michelangelo, The Creation of Adam

Kunswerk deur ‘n student by Grantleigh School, wat Ronald McDonald wys in die plek wat God op die vorige skildery inneem.

Het jy dalk nou verkeerd geraai? Die sondige kunswerk is Michealangelo se oorspronklike weergawe heel bo. Die Heidelbergse Kategismus se verstaan van die 10 gebooie is dat uitbeeldings van God sonde is.* Die punt van hierdie inleiding? Wat jy in hierdie kunswerke lees, is dalk nie wat die volgende persoon daarin lees nie.

‘n Matrikulant aan Grantleigh School naby Richardsbaai se skilderye en beelde het onlangs landswyd gelowiges de josie in gemaak toe dit op sosiale media versprei is. Buiten vir skilderye wat Ronald McDonald uitbeeld in kunswerke waar God/ Christus in die beroemde weergawes sou wees, maak hy ook beeldhouwerke soos goue skedels met horings en geskeurde Bybelblaaie daarop geplak, en ander prente wat Christus op verdagte maniere uitbeeld.

Die Ronald McDonald -kunswerke handel glo oor die kommersialiasie van godsdiens, oor ryk predikante en die soort skynheiligheid waarin iemand godsdiens vir wins bedryf. Daardie deel van sy verduideliking maak sin: Ronald McDonald is absoluut ‘n kras simbool van kommersialisasie, en om Christus met die McDonalds-nar te vervang kan inderdaad kritiek wees op ‘n godsdiens wat oor wins eerder as sielevoedsel gaan. As dit is, stem ek saam – godsdiens vir wins en nie uit liefde nie is ‘n onding.

‘n Leerder aan ‘n Christen-skool kan immers juis bekend wees met gekommersialiseerde godsdiens: Christen-skole maak hulle geld deurdat relatief ryk Christen-ouers vir hulle kinders se godsdienstige opvoeding wil betaal. Die eienaar van sy skool is dus ‘n sakeman (of sakevrou) wat geld maak uit godsdiens. Sy onderwysers maak hulle salaris deurdat Christen-ouers hulle betaal om Christenskap vir kinders te leer deur woorde en voorbeeld. Hulle moet dus enige on-Jesus-agtige eienskappe wegsteek vir die ouers, ten einde gehuur te word. Maar om jou slegte eienskappe weg te steek is soos om ping-pong balletjies onder water te probeer wegsteek. Sodra jy laat los spring die goed weer op, en skoliere aan ‘n Christelike skool sal die lelike kant van hulle onderwysers ken. Christen-skole is ook dikwels gekoppel aan ‘n kerk met genoeg ryker lidmate om ‘n private skool moontlik te maak.

Hierdie outjie se kuns is dalk deels kritiek op Grantleigh School, of op sy kerk. Dalk is daar rede om kwaad te wees vir die personeel van Grantleigh oor die skilderye, maar nie oor hulle dit in die saal gesit het nie. Miskien is hulle die soort mense wat die jong kunstenaar se kritiek verdien.

Maar kan ‘n mens werklik die matrikulant se verduideliking koop? Kommersialisasie lyk nie vir my na waarvoor hierdie soort beelde veronderstel is om te staan nie:

Daar is egter meer skynheiligheid in hierdie storie as wat die matriek-kunsstudent raaksien.

Die Onhafhanklike eksamenraad wat glo baie goeie punte vir sy kuns gee, is ook vol skynheiliges. Die kuns-establishment se skynheiligheid gee egter nie godsdienstigheid voor nie: Hulle maak of hulle skilderye, beeldhouwerk, boeke of films beoordeel op kriteria soos vaardigheid en simboliek. Hulle maak of publieke reaksie vir hulle ‘n goeie ding is. Dis egter nie die hele waarheid nie.

Vir een ding, as kuns goed is wanneer dit mense kwaad maak en laat praat, dan moet die kuns-verdedigende liberale mos die pastoor-ouer wat die video gemaak het prys: Die man het op kuns gereageer soos op kuns gereageer moet word! Maar nie een verdediger van hierdie prente het die pastoor gesien as iemand wat reg doen nie.

Kuns-beoordelaars beweer ook dat hulle goeie punte gee vir dit wat ‘n boodskap oordra en wat mense op reageer, maar dis nie die hele waarheid nie. Hierdie skilderye het byvoorbeeld tans duisende mense kwaad gekry vir ‘n paar minute uit hulle lewens. Aan die ander kant is daar mooi, rustige geskilderde natuurtonele in my plaaslike Mediclinic. Oor die jare was daar seker al ‘n paar duisend mense wat daardie kunswerke/ afdrukke gesien het, en dalk ‘n bietjie beter gevoel het in ‘n wêreld van siekte en pyn. Daardie beter voel is ‘n reaksie, die gevoel dat daar darem nog iets mooi in die wêreld is, nie net siekte nie, ‘n boodskap wat uit die kuns kom.

Dit was baie maklik om hierdie prent op die Internet te kry, wat bewys dat die kunstenaar se idee nie besonder oorspronlik is nie en meer kunstenaars as net Michelangelo plagiariseer

Hierdie kuns kan onoorspronklik genoem word: Dit plagiariseer bv. Michelangelo se “Skepping van Adam”, en een van die beeldhouwerke gebruik ‘n krale-skaap wat hy heel moontlik by ‘n kunsmark gekoop het, en dan nie sy eie werk is nie. Dis ook nie besonder oorspronklik om Ronald McDonald as ‘n simbool van kommersialisasie, of ou godsdienstige kuns as simbool vir godsdiens, te gebruik nie. Die kunstenaar self vertel dat hy misverstaan word, ‘n teken dat sy kuns nie werklik goed is daarin om ‘n boodskap oor te dra nie.

As ‘n ander kunsstudent met ewe goeie tegniek en ewe (on)oorspronklike simboliek ewe veel ander kunstenaars plagiariseer, en ‘n ewe misinterpreteerbare boodskap gee, maar haar prente laat gewone mense goed voel, sodat hulle dit graag wil koop en bokant die bank in hulle sitkamers wil ophang, sal daardie student swakker punte kry.

Dit bring ons by ons derde moontlik skynheilige party: Die kunsstudent in die middel van hierdie herrie. Hy vertel ons sy kuns gaan oor kommersialisasie in godsdiens, maar dis duidelik nie die volle waarheid nie. Net party van sy kunswerke lyk of dit daaroor handel.

Dalk het hy gesien dat kritiek op godsdiens beter resultate kry by die kuns-beoordelaars buite sy skool. Dalk skilder hy nie wat in sy hart is nie, maar wat die kuns-establishment se aandag sal trek.

As hy ‘n hartsgevoel-taak aspris doen op so ‘n manier dat hy beoordelaars se aandag trek, ongeag die effek op mense om hom, het ek nuus vir hom: Hy is ongelukkig maar dieselfde as diegene wat godsdiens vir geld bedryf.

—————————————-
* Punte 96 en 97, Heidelbergse Kategismus

2 responses to “Die “sataniese” Ronald McDonald- skilder, en slegte motiewe

  1. As predikant in die NG Kerk kan ek jou verseker dat Michelangelo se skildery beslis nie deur die NG Kerk as sonde beskou word nie. Ek gebruik graag kuns in my preke en talle werke oor die eeue heen het een of ander vorm van uitbeelding van Christus of God. En as Christus nie as “God” beskou word nie, is ons nie meer by monoteisme nie, wat ‘n groter probleem sou wees.

    Nee wat, Rembrandt se skildery van die Verlore Seun, wat ook ‘n uitbeelding is van God, Michelangelo s’n hierbo oor die Gees geinspireerde skryf en talle Katedrale se kunswerke is pragtige uitbeeldings van dit wat in die harte en gedagtes van die mense in hul tyd geleef het, en beslis nie sonde nie. Sonde lê in elk geval nie in iets eksterns (soos ‘n skildery) nie, maar spruit voort uit die hart van die mens. Verwys na Jesus se gesprek met die Fariseërs oor wat ‘n mens onrein maak…

  2. Dankie, ja, Ekkedink, ek is bly jy wys dit uit. Dis nie kragtens die gemiddelde NG predikant sonde om so ‘n uitbeelding te skep nie (dankie tog, ek hou self van kuns en wys vir kinders Bybel-prentjies as ek stories vertel!), maar dit is volgens die letter van die kategismus teen die gebooie.

    Ek het inderdaad al op die Internet aan ‘n gereformeerde (Engelssprekend, oorsese leierskap) behoort wat gereken het dat enige prentjie/ skildery van Jesus iets is wat God verbied. Hulle sou goed vra soos “where do I find a children’s Bible without 2CV” (2CV is hulle afkorting vir second commandment violation. Dis vir hulle so ‘n sentrale tema dat hulle glo almal sal die term 2 CV verstaan.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s