‘n Nuwe jaar by die Kinderkerk (Sondagskool/ Kategese) – waar begin ek?

Foto vanaf teachingbiblelessons.com/

Liewe kinderkerk-leier/ kategeet/ sondagskool-sekretaresse/ kinder-mentor, hoe voel jy daaroor dat jy in 2020 by kinderbediening betrokke gaan wees? Voel jy opgewonde? Senuweesagtig om iets nuut aan te pak? Dalk nog effens moedeloos van laasjaar af, met dalende getalle of – so voel dit vir jou – dalende belangstelling van die kinders af wat wel daar is?

Hoe dit ook al sy, in Christus is daar altyd rede om met verwagting uit te sien na wat Hy deur jou en in jou wil doen hierdie jaar.

Hier is wat jy vanjaar het:

> Jy het die voorreg om by te dra in die verkondiging van die mooiste, mees verrykende ewigheidswaardes.
> Jy deel dit met die mees beinvloedbare ouderdomsgroep.
> God roep sy kinders om die woord te verkondig – en met moderne kerkstrukture met een predikant en ‘n klomp luisteraars op ‘n Sondagoggend kry mens maar min kans daarvoor.

Hierdie Sondag gaan alles dalk nog nie reg loop nie. Rome is nie in een dag gebou nie. Hier is dus net so ‘n bietjie raad om dit reg van die begin af te laat tel:

Maak dit van dag een af relevant:
Baie Sondagskole het nie die eerste week al ‘n les nie. Die eerste week gaan oor naamlyste, aktiwiteitsboeke uitdeel, en om elke kind te wys wie haar onderwyser en waar haar klas is. As dit die geval is by jou groep, kry ten minste ‘n paar minute se voorwerples vir jou klas, byvoorbeeld hierdie een, of lees vir hulle een versie en bemoedig hulle om dit te gaan leef. Bid dan kortliks vir elkeen by die naam.
En hoekom nie dag een al ‘n les hê nie? Die rede is gewoonlik gebrek aan voorbereiding. Maar kan julle leiers nie dalk die les-handleiding kan kry voor die tyd, en vir die eerste week les een voorberei nie? Of kan die leidster by die kinderkerk dalk vir daardie dag ‘n grootgroep-les hê – dan moet net een leier daardie dag voorberei?

Maak dit persoonlik:
Glimlag vir die kinders en maak oogkontak. Selfs as die Bybelverhaal in die groot groep aangebied word (ek neem hier aan jou kinderkerk se groot-groep bywoning is meer as so 12 of 15 kinders ‘n week), sorg nog steeds dat julle klein groepe en kleingroepleiers het.

Klein groepies …

1) is die enigste plek waar die gemiddelde kind die vrymoedigheid sal hê om gebed – nie gebedsrympies nie – in te oefen.
2) Is ‘n plek waar die kind vrae gevra kan word soos: “Vandag se les het vertel dat ons ons naaste moet liefhê. Jamie, wat gaan jy hierdie week doen om liefde aan jou boetie te wys?”
3) Is heel moontlik die enigste plek waar die kind ooit sal hoor dat iemand *by die naam* vir hom bid. “Here, Help asseblief vir Jamie om hierdie week [Jamie se voorneme] te doen.” Of, na die vakansie: “Dankie, hemelse Vader, dat Eileen veilig terug is nadat sy by haar Ouma in Durban gekuier het.”
4) Kan ‘n plek wees waar die kind voel sy en haar bywoning maak saak en word raakgesien. “Anschen, waar was jy laasweek? Ons het jou gemis.” (‘n Onderwyser kan selfs bel as die kind ‘n paar weke lank wegbly.)
‘n Grootgroep-leier kan gewoonlik nie daarby uitkom om vir elke kind persoonlik te glimlag, oogkontak te maak, of elke kind se naam minstens een keer te gebruik per bywoningsweek nie. Kleingroepleiers kan.
5) ‘n Kleingroepleier kan onderneem om vir elke kind in sy groepie by die naam te bid.
6) Klein groepe is ‘n beter plek vir hersiening – as jy vir 80 kinders 6 vrae oor die les vra, kry 6 kinders kans om iets te wys van hoe hulle dit verstaan. As jy 6 kinders in jou groep het, kan al 6 iets antwoord.

En as jou kerk al jare lank nie meer klein groepe het nie, en jou materiaal maak nie voorsiening daarvoor nie? Deel dan in elk geval gereeld in klein groepe in na die groot groep se les, selfs net vir ‘n paar minute. Wys die kleingroepleiers hierdie 6 punte, en laat hulle voor elke week se byeenkoms weet waaroor die Bybelles sal gaan. Dan kan hulle self dink of hulle die betrokke week die paar minute wil inklee deur elke kind te laat bid oor die tema/ deur kinders te laat voornemens noem of neerskryf hoe hulle die tema wil uitleef/ deur as groepleidster vir die kinders te bid/ deur hersieningsvrae te vra (‘n leier wat elke 3de week hersieningsvrae vra kan dit byvoorbeeld oor 3 lesse op ‘n slag vra). Glimlag, oogkontak, en die kinders se name gebruik moet ‘n gegewe wees, ongeag waaraan die kleingroeptyd spandeer word.

Hoeveel kleingroepleiers? Een leier vir elke 6-8 bywoners werk gewoonlik goed vir kinders wat nie gestremd is nie. 6-8 bywoners, in vandag se dae, beteken nie dieselfde as 6-8 name op die register nie: ‘n Gemeente met 40 kinders wat soms by die Sondagskool is kan bv. 20-24 bywoners per gemiddelde week hê. Hulle kan dus die 40 name tussen drie leiers verdeel. (Met ‘n bywoning van 20-24 per week sal elk van die 3 leiers dan so 6-8 kinders per week in sy groep hê, al is daar meer kinders op elke registerlys.) As jou klassies soms ‘n bywoning van 1 of 2 het, kan dit kinders en leiers demotiveer.

En wat as ek nog glad nie lesmateriaal bestel het nie?

O aarde, dis nou bietjie laat! Soek dan ‘n les of drie op wat jy vereers kan gebruik, tot die materiaal wat jy nou gaan bestel kom. Asseblief, bestel iewers lesmateriaal – as jy sonder ‘n plan werk, eindig dit gewoonlik op dat kinders sekere boodskappe oor en oor hoor en ander nooit.

Ek hersien hier die sterk punte wat ek in verskillende kategesereekse sien:

Kennis kategese (Toe ek dit hersien het, het die buiteblaaie nog anders gelyk en was dit nie Kennis kategese genoem nie. Ek weet ook nie of hulle nog steeds die aktiwiteitsboek vir Gr. 4-6 op dieselfde manier gebruik as destyds nie.)
Paidion
Lesse wat leef

(Ek het nie hier Modkats en LP3 wat ek ook geresenseer het genoem nie, eersgenoemde oor ek nie weet of hulle nog bestaan nie, laasgenoemde oor ek nie reken dis besonder kindervriendelik nie. My belewenis van LP3 is dat bywoning daal en leiers verdwyn waar dit gebruik word. Ek wens ek het van kindervriendelike materiaal geweet wat geskik is om almal van Gr. 1 (of kleuters) tot Gr. 6 (of 7) te bedien in een groep in ‘n klein gemeente, maar ek weet ongelukkig nie.)

En, liewe leser – mag die Here jou en jou kerk se kinderbediening oorvloedig seën hierdie jaar. Ek bid vir jou!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s