Category Archives: Geloof

Is die NG kerk in ‘n treurige toestand?


Opdatering: Ek het intussen geleer dat Glo die Bybel nie die dolerendes se webblad is nie. Hulle treur egter wel oor die NG Kerk se standpunt – of gebrek daaraan – oor die saak wat sentraal staan in hierdie artikel. Die hoofpunte van die artikel staan dus onveranderd.
—————

Tot eergister toe het ek nie die woord doleer geken nie. As ek moes geraai het, sou ek dink dit beteken iets soos opdollie – om oordadige rokke aan te trek en baie grimering op te sit. Dit was dus vir my nogal boeiend toe ek hoor verskeie NG dominees doleer. (Noudat ek verstaan waaroor hulle doleer, is my eerste gedagte oor hierdie manlike dominees nogal ironies.)

Dit was interesant genoeg dat ek die regte betekenis van die woord opgesoek het. Toe leer ek doleerders is iets anders: Hulle treur oor die kerk (na hulle mening) die regte pad verlaat het:

“‘n Dolerende gemeente is dus ‘n treurende gemeente wat treur oor ‘n kerk wat die pad van die Woord byster geraak het. Dolerende gemeentes skei nie (onmiddelik) af nie, maar laat die kerkverband duidelik weet en besef dat hulle treurend sal bly totdat daar bekering by die kerk kom en ‘n terugkeer na die Woord plaasvind”

Tafelberg Gemeente

Wanneer het die NG kerk (glo) die pad verlaat? Waaroor treur hulle? Het die kerk die pad verlaat toe hy oor kleinigheidjies van die Doppers en Hervormers afgeskei het? (Joh. 17:21) Of toe hy denominasies soos die NG Sendingkerk gestig het eerder as om almal saam in die kerk te verwelkom? (Gal 3:28) Het hy die pad verlaat toe hy in die NP regering se sak was? (Joh. 18:36, Mark 12:17) Het hy die pad verlaat toe hy uit die regering se sak uitgeklim het?*

Is hulle hartseer dat in ‘n land waar byna 80% van die bevolking hulself Christene noem, die moord- en verkragtingsyfers so hoog is?

Pla die yslike gaping tussen ryk en arm in die land hulle? God het immers land regverdig tussen Sy volk uitgedeel (Num 26:53) en was besorg oor armes. (Deut 15:7-8, Spreuke 14:31, 19:17, 21:13, 22:16, Eseg 16:49-50, Luk 4:18, 6:20-21 en 24 en 31, 18:22 Hand 4:34-35, Jak 1:27)

Treur hulle oor die krimpende lidmaattal, oor hoe min kinders in die kategese is, oor hoeveel kinders die kerk verlaat na belydenisaflegging? God roep ons om dissipels te maak (Mat 28:19-20) – pla dit hulle dat die kerklidmate dan daal en nie styg nie?

Nee! Hulle treur, kragtens die webblad GloDieBybel, oor wat die NG Kerk oor homoseksualiteit, die duiwel, skrifgesag en Jesus se maagdelike geboorte sê. Oor party onderwerpe gee hulle lyste van Bybelverse, maar oor ander gee hulle hul eie menings ook. As hulle byvoorbeeld oor mans en vrouens se beweerde “rolle” praat, gee hulle tans agt artikels wat nie net Bybelverse is nie, en dan ‘n artikel van hul eie, en dan eers Bybelverse. (Hulle reken mans moet baas wees en vroue klaas, en hulle glo dit sterk genoeg om nie bloot by die Bybel te bly nie, maar hulle eie menings by te sit. Ek het al op hulle eerste skakel – ‘n artikel wat in Afrikaans in JUIG en Engels in JOY was – gereageer, en daardie artikel “reageer” op my brief aan hulle.)

Maar dis duidelik dat die punt waarby hulle begin en waarna hulle oor en oor terugkeer oor selfde geslag verhoudings (SVG) gaan. Voor ons oor hulle treurende (treurige?) toestand praat, moet ek iets bely. Die oomblik toe ek die naam Glo die Bybel lees, het my rughare regop gespring.

Dis belangrik om die Bybel te glo. Dis ook belangrik om hom in konteks te lees, want dan is wat jy glo inderdaad wat die skrywers – en die Gees wat hulle inspireer – bedoel het. Maar ek het al te doen gehad met mense wat sê: “Ek glo die Bybel!”/ “Jy moet die Bybel glo!” “Die Bybel sê jy moet só maak!” Meeste van hulle verstaan nie dat ander mense ook Bybel lees, en dan die inhoud probeer in konteks verstaan – en opeindig om die Bybel anders te verstaan as hulle nie. Hulle glo eintlik dat hulle die enigste Bybel-glo-ers is, en dat almal wat anders dink dan uiteraard geen respek vir die Bybel het nie.

Daarom, toe ek die naam Glo Die Bybel sien, het ek begin dink aan iets waaroor ek treur: Die verdeeldheid en mure waarmee gelowiges hulle broers en susters weghou van hulself af. Aan die verskonings, soos “hy glo nie die Bybel nie”, wat ons keer om medegelowiges (mede-glo-ers) as broers en susters te sien.

Maar weg van my tranedal af, terug na hulle s’n. Die 2019 besluit oor SGV van die NG kerk kom basies hierop neer (alle versierende taal oor verantwoordelike skrif-vertolking en versoening as ons verskillend dink uitgelaat):


6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se: 6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, 6.2 toegang tot die sakramente, 6.3 integriteit van verhoudings, en 6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem 6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se: 7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, 7.2 toegang tot die sakramente, 7.3 integriteit van verhoudings, en 7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

2019 besluit oor SGV van die NG kerk

Dit kom neer daarop dat iemand wat gay aantrekking beleef ook geroep kan wees, en ook so skoon kan lewe voor die Here as enige ander gelowige. As party gelowiges reken dat skoon lewe selibaatheid vir ‘n gay persoon beteken, en ander reken dit beteken bloot getrouheid aan een maat, word die regte antwoord nie hier uitgespel nie. Dit kom neer daarop dat mense wat selfdegeslag-aantrekking beleef (gay seksuele oriëntasie het) ook die geskikte persoon vir ‘n spesifieke kerkrol kan wees. Die besluit vra immers dat die persoon se belydenis, roeping, spiritualiteit, getuienis van leer en lewe, integriteit van verhoudings, en teologiese vorming in ag geneem word.
Die enigste soort mens wat probleme met hierdie bewoording kan hê, is iemand wat reken dat ‘n man of vrou wat gay aantrekking beleef glad nie in enige kerk-amp mag dien nie, en só ‘n teologiese student mag nie gelegitimeer word nie – ongeag toewyding aan God, ongeag roeping of kennis, selfs as die persoon selibaat bly, ongeag die integriteit van hoe hulle met hulle medemens omgaan. En dit kan tog nie! Om te reken dat sulke versoekings – selfs as jy nie daaraan toegee nie – mens heeltemal onvanpas vir enige kerkrol maak, is glad nie in pas met hoe God in Sy genade met mense werk nie.

8. Die Algemene Sinode erken dat daar: 8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie, 8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig.

2019 besluit oor SGV van die NG kerk

Enige gemeente is dus vry om hulle God, die Bybel, en hulle gewete te volg waar díé hulle lei. Is dit so erg om predikante en gemeentes te laat besluit hoe hulle God en die Bybel verstaan oor ‘n saak, veral as verskillende gelowiges nie ‘n paar Bybelgedeeltes daaroor dieselfde verstaan nie?

En nee, die doleerders het nie alle wysheid oor die saak nie. Weens verskeie redes glo ek die treurendes is nie bloot besig om die skrif te volg nie. Maar daardie dinge is rede vir ‘n volgende inskrywing.



———————————-

Verwysing:

* Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis kan dit verkeerd wees om nie invloed in die regering te soek nie:

“DIE BURGERLIKE OWERHEID

… [God het] die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig… Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19; 17:16; 2 Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan. 2:21-22; (5:8); Jes. 49:23; 2 Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk 22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand. 4:17-19; Hand. 2, 5; Hos. 5:11; Jer. 27:5; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2. “

Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 36

As die “hulle” wat afgodery en vals godsdiens moet uitroei die burgerlike owerheid is, dan reken hierdie geloofsbelydenis ons moet invloed in die regering hê.


Paasfees 2020 – Oordenking vir ‘n Paasfees met toe kerkdeure

Vir die eerste keer wat ons kan onthou, is die kerke se deure toe hierdie Paasfees. Hoe laat hierdie gedagte jou voel?

Hartseer? Verward? Alleen? Wanhopig? Dalk sou julle iets spesiaal doen by die kerk, en jy voel gefrustreerd oor dit nie gaan gebeur nie? Of voel jy dalk ‘n rustigheid daaroor, dat God sy tyd het met alles?

Die goeie nuus is: Die kerk se deure hoef nie toe te wees hierdie Paasfees nie! Ons kan dit oop hou.

Die ware kerk is nie ‘n gebou nie, en die regte kerkduere sit op ‘n ander plek. Die enigste manier wat die kerk se deure kan toe wees hierdie jaar, is as ons nie na Christus se klop luister nie:

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. – Openbaring 3:20

As die kerk se deure dan by gelowiges se harte sit, wat kan jy doen om die deure oop te hou? Ek kan aan drie dinge dink:

1) Bogenoemde teks verwys na of jy al vir Christus in jou ingenooi het. As jy hoegenaamd ‘n blog-inskrywing met ‘n opskrif soos hierdie lees, is die kans goed dat jy “ja” kan antwoord.

2) Jy kan egter ‘n gelowige wees, maar nog nie elke hoekie van jou hart – alles agter jou hart se kamerdeure en kasdeure en selfs kluisdeure – vir Christus gegee het nie.

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand…” – Lukas 10:27a

3) As die kerk se deure dan op ons harte sit, maak jy jou hart oop vir andere? Gee jy waarlik om vir die mense wat oor jou pad kom?

“… en [jy moet] jou naaste [liefhê] soos jouself.” – Lukas 10:27b

Wat kan jy vandag doen om kerkdeure oop te hou hierdie Paasfees – en altyd?

Young woman practicing yoga on the beach.

Foto: Geleen

Hoeveel reg moet die staat hê om vir die kerk voor te sê?

Uitspraak

Foto uit Kerkbode

Party mense het ‘n talent om so te praat dat hulle lingse vriende glo hulle is lings, en hulle regse vriende glo hulle is regs. Soms wens ek dat ek ook daardie talent gehad het. Maar helaas: As ek hier nie eers ‘n opinie gee nie, maar ‘n spul vrae vra gaan my behoudende maats reken ek is nie behoudend genoeg nie, en my progressiewe maats ek bevorder nie gay regte genoeg nie. Maar ongeag wat enigiemand anders hieroor dink, miskien is hier tussenin vrae wat jy of ek nog nie vir onsself of God gevra het nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het hierdie week ‘n besluit ter syde gestel waarin die NG Kerk in 2016 gekies het om nie gay huwelike te bevestig nie. Die hele storie laat my uit twee teenoorgestelde hoeke ongemaklik voel. Lees voort

Dominee Tienie: Verstaan die film-makers die boodskap?

“Spoiler” waarskuwing: Hierdie blog inskrywing bespreek die einde van die film.

dstienie

Foto: IMDb

 

Dekades gelede moes ek kinderkransmateriaal aanbied oor ‘n ryk seun wat besef dat die arm seun klere nodig het wat hy te veel het. Dit het daaroor gegaan om kinders te leer gee. Eers jare later het ek besef die storie is onvolledig: Dit beeld die ryk seun as ‘n meerdere uit wat uit sy oorvloed goedheid kan gee. Dit beeld die arm seun uit as ‘n mindere wat bloot kan ontvang (en natuurlik baie dankbaar moet wees oor tweedehandse klere wat nie met hom in gedagte gekoop is nie, meer dankbaar as wat die ryk seun waarskynlik daaroor was toe dit splinternuut was).
Dit dek nie ‘n situasie waar arm mense ewe veel oor geestelike wysheid kan beskik as rykes nie, of “deel, al het jy net twee kledingstukke” nie.

Dit is so min of meer hoe ek oor Dominee Tienie voel.

Die film handel oor ‘n moeë predikant, Tienie Benade (Frank Opperman), in ‘n krimpende Moedergemeente. Sy tyd word só opgeneem deur gemeentesake dat sy familie, hoewel nog in sy huis, vervreemd begin raak. Die gemeente se verwagtings van hom en sy vrou is soms teenstrydig of onredelik.

Party tonele in die film was werklik roerend: Sy storie van bekering, sy begeerte om God te dien wat hom genoop het om te gaan teologie studeer, en sy studeerkamer-gesprek met ‘n kollega wat ook nie meer raad weet in ‘n veranderende wêreld wat nie meer die dominee se opinie soek nie, byvoorbeeld nie meer hom vra vir getuigskrifte nie… En die eindtoneel, waar di kerk almal nooi om saam te eet is treffend.

Maar het die makers van die film met swart mense en vroue gepraat oor hoe hulle uitgebeeld word? Sou ‘n swart mens daarvan hou dat die vernaamste swart karakter in die film se naam Zero (niks) is, en dat daardie naam nie eers ‘n rol speel in die film nie? Niemand vra vir Zero wat hy dink of nodig het nie, en daar word nooit ‘n woordspeling gemaak waarin dit gewys word dat Zero méér as niks is nie.

Die karakters wat hulle gekies het om wit en swart te maak in die film is grootliks realisties. Mens sou byvoorbeeld nie sommer ‘n paar van Moedergemeente se kerkraad anderskleuriges kon maak sonder om die aard van die storie (‘n gemeente wat inkyk na hulle minderheidsgroep, maar moet leer om wyer te kyk) te verander nie.

Dis realisties dat die uitgebrande dominee, sy kollega Johan, en die “cool” dominee Dirkie (genoem, nie gewys nie) al drie mans is. Die meeste predikante is inderdaad mans. (Tot 1990 was vroue nie as NG predikante toegelaat nie.) Maar die haweloses Sparky en die man wat vra of Sparky weer in die moeilikheid is, die gemeente-werknemers wat bel om ‘n inbraak/ dooie man by die kerk aan te kondig, die kerkraadslede wat hulle monde oopmaak op die kerkraadsvergaderings, die selfde-geslag paartjie wat trou, die polisielid wat hom vat om sy orrelpype in die skrootwerf uit te ken, die begrafnisondernemer, die regerings-werknemer wat kom vertel wie Sparky Jordaan was – is dit nodig dat hulle almal mans is?

Buiten vir Ester Benade (Ds. Tienie se vrou) is die vroue randfigure: Hulle word gegroet voor die kerk, die dominee kry party van sy lastige oproepe van vroue, een tannie ondersteun haar gay (manlike) susterskind, en sy dogter word uitgebeeld as iemand wie se vernaamste belangstel ‘n outjie is (Tienie se seun stel in musiek belang).

Gestremdes word op die ou end vir die ete genooi, maar speel geen rol (letterlik of figuurlik) vroeër in die film nie.

Dominee Tienie se idees oor wat om vir sy gemeente(vroeër in die film) en swaarkry-mense (later in die film) te doen kom nie eintlik van raad wat hy kry by vroue, anderskleuriges of die hawelose karakters nie.

Kortom, die beste en slegste ding wat ek van Dominee Tienie kan sê is dat dit by ‘n begin eindig: Dit eindig waar hy mense wat anders as hy is oornooi om uit hulle stories te leer. Ons hoop dat die makers van die film dan ook sal leer by diegene wat anders is, dat hulle sal sien wat mense van ‘n ander kultuurgroep, wat op ‘n ander geldelike vlak vir oorlewing stry, met ander genitalieë, of ander fisiese of verstandelike vermoeëns, het om te bied. En dat hulle volgende stories dan karakters wat nie gesonde blanke mans is nie se insette ook sal bevat – nie net as ontvangers nie, maar ook as mense wie se standpunte tel.

As God se koninkryk kom…

In 2002 het ek een keer notas gemaak van iets waaroor ek dikwels probeer dink het: oor hoe dit sou lyk as ons probeer om God se koninkryk te laat kom, hier op die aarde soos in die hemel. Wat hier volg is die lys wat ek gemaak het: Hoe sou dit lyk as die koninkryk kom? Ek het geen insigte van die laaste 16 jaar nou bygesit nie:

———————–

Spreadthelove

“Spreading the love from above” – Akriliese verf en merkpen, Oktober 2017 (Vir meer van my kuns, kyk hier)

As die koninkryk van God kom

* Sal ons verstaan – die antwoord op elke vraag.
* Sal uiterlikes nie wees waarop ons oordeel nie. (1 Sam 16:7b, Jak. 2:1+9)
* Sal mense vir mekaar omgee.
* Sal God die belangrikste onderwerp van gesprekke en gedagtes wees.
* Sal materiële behoeftes bevredig word vir dié wat swaarkry – direk deurdat hulle wat het, gee, en indirek deur God se seën.
* Sal romantiese liefde nie die liefde wees waaroor die meeste gefantaseer en flieks gemaak en nagejaag word nie.
* Sal misdaad, vrees, pyn en trane nul wees, siekte ook.
* Sal tonge onder God se beheer wees, gedagtes ook.
* Sal karakter en wysheid eerder vir iemand die geleentheid gee om ander te beinvloed as welsprekendheid, mag, of geld.
* Sal status en mag nie belangrik wees nie. Die hoogste status sal gegee word aan dienaars en kinders – en aan Die Kind wat gekom het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. (Fill. 2)
* Sal mense vanuit verskillende kulture en oortuigings één word.
* Sal die Gees van die Here ons lei in gedagtes, woorde en dade wat bogenoemde dinge waar maak.
* Vreugde sal so volop soos suurstof wees.
* Vriendelikheid sal vanselfsprekend wees – vanaf almal.
* Sal toewyding aan God die enigste, die maklikste en die mees logiese manier van leef wees.

———————–

Laat u koninkryk kom. Laat U wil op die aarde geskied, net soos in die hemel. – Mat. 6:10

 

Ek soek U

Ek soek U krag, maar dit wil nie kom.
Ek soek U raad, maar U stem bly stom.
Ek soek U wil, maar my pad is skeef. Lees voort

Christianstein (Toneelstuk vir gebruik deur kerke, Christelike kampe of ander Christelike byeenkomste)

Karakters:

Verteller

Dr. E. van Gelies (dra bril, labaratoriumjas, het clipboard byderhand met lys van bestanddele)

Assistent (dra labaratoriumjas)

Christianstein

Toneel:

Stel laboratorium voor. As jy kan: laboratorium-bottels, proefbuise, ens. op ‘n tafel op die agtergrond. Voor op die verhoog is daar ‘n tafel. Daarop lê Christianstein, wat met ‘n laken tot by sy nek toegegooi is.

———————–

[Geluide van donderslae word gespeel. As die beligting dit kan doen, laat helder verligting die donkerte vir oomblikke onderbreek, soos bliksemflitse.] Lees voort

Die volmaakte sirkel (oordenking)

Mens weet sommer kleintyd al hoe ‘n sirkel lyk, al ken jy nog nie die woord “rond” nie. Nogtans, toe ek as drie-jarige ‘n kar probeer teken het, was my wiele ‘n vorm wat glad nie sou kon ry nie. (Ons almal se eerste pogings om te teken is maar krom en skeef.) Teen 8 kon ek ‘n baie beter sirkel teken as op 3. Toe ek op 12 geleer is om ‘n passer te gebruik, was my sirkels vir die eerste keer perfek. Maar dis nie of ek sirkels ontdek het toe ek ‘n passer leer gebruik het nie.

Ek dink dis dieselfde met geloof: Lees voort

‘n Snaakse droom?

Ek het laasnag ‘n besonder helder droom gehad, en die inhoud was vir my ontstellend toe ek wakker word:

Op ‘n strand sien ek ontvoerders, meer as een velkleur, wat vasgebinde, geblindoekde gevangenes lei na 2 karre toe. Die karre is opsigtelik en helderkleurig beskilder met goed soos palmbome, branderplanke, en eiland-drankies met sambreeltjies.

Ek probeer skree: “Haai, wat doen julle? Los daai mense!” maar word geignoreer. (Terloops, in die regte wêreld, anders as in my droom, sal ek nie probeer om waarskynlik gewapende ontvoerders se aandag te trek nie.) Lees voort

Kinderles: Almal is welkom by God – Handelinge 10

ALMAL IS WELKOM BY GOD

Bybelgedeelte:

Handelinge 10

Aktiwiteit:

Laat omtrent 8 kinders voor by jou kom staan (as dit ‘n groot groep is.) 6 van hulle sit hulle arms om die kind langs hulle se lywe/ nekke om ‘n omhelsende kring te vorm. Twee ander moet probeer om deel te word van die kring, sodat hulle ook daar arm-om-die-nek/lyf met die ander staan. Die res probeer hulle uithou. Stop dit na enkele minute en stuur hulle terug sitplekke toe.

(Alternatiewelik, maak kleingroep-sirkels in die groot groep waar elke groepie met hulle groepleier die aktiwiteit in hul klein groepies doen, voor hulle weer gaan sit.) (As dit ‘n klein groep is, laat al die kinders deelneem.)

Les:

Inleiding:

In hierdie speletjie het party kinders ander probeer uithou – hulle het gedink daardie kinders hoort nie in hulle kring nie.

Ken julle mense wat party ander mense nie by hulle soek nie? Party mense dink hulle is beter as ander oor hulle ryk is. (Wys die prent van ‘n luukse huis, ‘n kleiner huisie, en ‘n plakkershut.)

Party kinders dink hulle is beter as ander oor hulle goed doen op skool. (Wys ‘n prent van ‘n kind wat sy/ haar hand opsteek.) Dan wil hulle nie maats hê wat nie ryk is, of wat sukkel op skool nie.

Party kinders, sê nou maar hulle speel met ‘n bal, wil nie kinders laat saam speel wat nie so goed soos hulle met die bal-speletjie is nie.

Ken julle sulke mense? Hoekom soek kinders by jou skool soms nie party ander by hulle nie? (Gee een of twee wat wil kans om te antwoord.)

Dink julle God dink ook so? Vertel hy ons moet mense wat anders is uit ons groep hou? Kom ons kyk hoe God oor sulke verskille dink. Lees voort