Category Archives: Los gedagtes

Die eerste rugbyspan is nie die enigste mense wat saak maak nie

Die 2 prominentste hoërskole in Welkom (Welkom is ‘n stad, nie ‘n dorpie nie, en het ‘n hele paar hoërskole) hou elke jaar ‘n derby waar hulle hokkiespanne, netbalspanne en rugbyspanne teen mekaar meeding. Meeste jare, in onlangse tye, wen Gouties die meeste netbalwedstryde, die meeste hokkiewedstryde, en die meeste rugbywedstryde. En jaar na jaar berig plaaslike koerante: “Gimmies verpletter Gouties” of: “Gim vermorsel Goudveld“.
Selfs as jy nie van Welkom is nie kan jy seker raai watter Gim-span gereeld wen. Dis nie ‘n derde span of ‘n o. 15- span nie, hulle tel nie vir koerantskrywers nie. Dis nie ‘n span meisies – van watter sport ookal – nie, hulle tel ook nie. Dis nie ‘n seuns-hokkiespan nie, hulle tel ewe min.

Om te tel in hierdie wêreld, moet jy
a) manlik
b) in die eerste span, en
c) in die mees macho sport wees.
Ek dink ons moet ons houding oor wat saakmaak verander. Almal se insette, almal se prestasies tel. Dit sluit die 3de netbalspan en o. 15 hokkiespan in. Dit sluit die verloorspanne in wat hulle beste gegee het. Dit sluit toeskouers in wat met respek en waardigheid hulle span of kind kom ondersteun het. Dit sluit die kind in ‘n minder prominente skool in wat ook sy beste in sport gee, maar wat nie so ‘n goeie span rondom hom het nie.

As ons almal se sukses raaksien, sal ons verander hoe ons oor wenners praat.

_____________

Naskrif: Artikel die dag na die derby geskryf, om praktiese redes nou eers gepubliseer.

Dis tyd om te dink oor “It’s Time”

Ek kry ‘n Whatsapp gisteraand: “Hoe was dit?”

Sy praat van die Angus Buchan gebedsdag. Uuuhhhmmm, wat vertel mens in ‘n paar Whatsapp-woorde? Om deel te wees van miskien Suid Afrika se grootste gebedsbyeenkoms nog ooit  (sien eerste kommentaar vir waarom hierdie sin gekorrigeer moet word) was ‘n belewenis wat ek vir min dinge sal wil verruil. En nogtans voel ek nie heeltemal gemaklik daarmee nie. Lees voort

‘n God vir twyfelaars, vraag-vraers, worstelaars en diegene wat ongeseënd voel

Genesis 32:22-32

Party goed in die Bybel is moeilik om te verstaan. Vat nou die storie waar Jakob deurnag met ‘n man stoei en om seën vra. Hy vertel na die tyd dat hy met God en mens geworstel het. Dit verstaan ek nie.

Kan mens letterlik met die almagtige skepper van hemel en aarde stoei? God sal enige mens oorrompel voor die stoeigeveg begin! As dit ‘n mens was, hoekom vertel hy daar dat Hy God van aangesig tot aangesig gesien het?

Maar in elk geval, na die tyd hoor Jakob (sy naam beteken figuurlik bedrieër) dat hy ‘n nuwe naam kry: Israel. Israel, soos ons almal weet, is nie net die naam van ‘n man nie, maar van die volk waarvan hierdie man die voorvader is. God se volk. Israel beteken “hy worstel met God.”

Daardie naam is goeie nuus! Want as die volk se naam “gehoorsaam aan God” was, dan kon ek begin twyfel het sodra ek ongehoorsaam is: Is ek nog deel van God se volk?

As die volk se naam “glo aan God” was, sou daar nie plek gewees het vir jou as jy begin twyfel nie.

As die volk se naam “die God-prysers” was, dan sou ons kon wonder of God minder van ons God is wanneer ons sukkel om te lofprys.

Maar God se volk is díé mense wat met Hom worstel: Wat met hulle twyfel na Hom toe gaan, en hul twyfel-kwessies deurbid. Wat met alles wat nie sin maak in die Bybel nie, steeds na God en Sy wil bly soek in die teks. Wat met al die lelik in die wêreld nie weghardloop van God nie, maar worstelend hulle “Here, hoekom?” vir die Skepper bly vra. Wat ten midde van “Here, hoekom” se tragedies nog steeds vir God se seën stoei. Sy seën op die aarde. Op jou geliefdes. Op jouself.

Daardie mense, die mense wat met God bly ‘n pad stap selfs in die worstel-tye, is God se volk.

 

Wie die hardste skree, opvolg: Vrede maak met myself

He’s not wrong he’s just different, but his pride won’t let him do things to make you see he’s right – uit “Mamas don’t let your babies grow up to be cowboys”

(Waarskuwing: As jy nie wil hoor hoe mense oor hulself praat nie, vermy hierdie inskrywing.)

‘n Ander kategeet-wat-nie-meer-kategese-gegee-het-nie het my eenkeer, nadat ek weggejaag is, iets toegesnou wat neerkom op: “Dis baie aaklig van jou om uit te praat. Mense soos ek het waardes en is bly die kategese is ontslae van mense soos jy.”

Nou verstaan ek dat daar meer as een soort waardestelsel is: Die een soort gaan veral oor lojaliteit, gehoorsaamheid aan gesag en suiwerheid (‘n gemeenskap-waardestelsel). Die ander gaan oor regverdigheid, sorg, en eerlikheid (‘n individuele waardestelsel). Lees voort

Ek? ‘n Inspirasie?

Nou die dag gebeur ‘n snaakse ding. Iemand vertel my dat ek “so ‘n inspirasie” is.

Eintlik het dit begin as ‘n net-onder-normale, ietwat frustrerende Sondag: Die gemeente waar ek nou ‘n kategese gee is, volgens loop-afstand, eintlik nogal vêr van my huis af. Maar ek loop nooit Sondagoggende kerk toe nie, so dis geen probleem nie. Maar daardie oggend het ek nie my normale lift gehad nie, en ek wou nie iemand vra wat dit met ‘n slegte gesindheid sou doen nie, toe loop ek maar. Lees voort

Is die 1983-Bybelvertaling “afgewater”?

Ek het onlangs geskryf oor doemprofete wat nuwer Bybelvertalings afkam. Hier is ‘n soortgelyke een, oor die Afrikaanse Bybel:

Op ‘n bladsy genaamd “Aanslag op die Bybel” staan daar:

Verdraaiings in die Nuwe Vertaling

In die jare sedert die Nuwe Afrikaanse Bybel (NAB) in 1983 deur die Bybelgenootskap vrygestel is, het ‘n skokkende lang lys vertaalfoute, verdraaiings, afgewaterde stellings en weglatings aan die lig gekom…

Wat sulke bronne nie vertel nie, is dat die 1933/53 vertaling ook vertaalfoute en stellings wat nie in Afrikaans deur kom soos dit in Grieks/ Hebreeus bedoel is nie (“afgewaterde stellings”) inhet. Om presies te wees, dit was nodig om die Bybel in 1953 in ‘n hersiende vorm uit te gee deels oor die dinge in die Bybel wat volgens teoloë nie reg deurgekom het nie. Waar kritici sal vertel die Nuwe Vertaling het weglatings, reken ander kenners die Ou Vertaling het byvoegings. (Sien my vorige artikel hieroor.) Die verskil is dat die Nuwe Vertaling se voorstanders nie die Ou Vertaling-voorstanders se motiewe bevraagteken nie, net watter ou manuskripte die beste is.

“Die vertalers het hulleself die vryheid veroorloof om in terme van hul eie teologiese raamwerk verklarend te vertaal en in die proses die betekenisse van baie tekste te verander…”

Die vertalers van albei vertalings het “in terme van hul teologiese raamwerk” verklarend probeer vertaal. Jy wen nie spiesgooi sommer oor die deelnemer ná jou se spies op ‘n ander plek eindig as joune nie. En jou Bybelvertaling is nie beter net oor dit anders lyk as die een ná hom nie.

“Indien hierdie vertaling as ‘n parafrase bemark is, sou dit minder misleidend gewees het. Om dit egter ten spyte van die vrysinnige vertaling, weglatings en subjektiewe veranderings nog steeds DIE BYBEL te noem, is om die minste te sê aanmatigend.”

Daar is meningsverskille onder vertalers oor hoe vêr mens moet gaan in die rigting van dinamies-ekwivalente vertaling, of andersins in die rigting van letterlike vertaling. Die debat is vergelykbaar met hierdie voorbeeld:

‘n Afrikaanse man trou met ‘n Britse vrou. Sy ousus sien hulle seun, en reken die appel val nie vêr van die boom nie. Pa kan vir die kind vertel: “The apple don’t fall far from the tree”(letterlike vertaling) of “you look a lot like I did as a kid”(dinamies-ekwivalente vertaling) . Eersgenoemde is 100% akkuraat, maar die kind sal dit nie verstaan nie. Laasgenoemde verduidelik net ‘n deel van wat die tannie bedoel het – die tannie het dalk nie net die kind se voorkoms bedoel nie, maar ook sy woeligheid – maar die kind verstaan iets.

” ‘n Doelbewuste poging is ook aangewend om Ou Testamentiese messiaanse profesieë só te verdraai dat die leser nie moet agterkom dat dit op die Here Jesus dui nie.”

(Messiaanse profesieë is Bybelgedeeltes in die Ou Testament wat Jesus voorspel.) Om te vertel dat dit doelbewus was moet mens in mense se harte inkyk en hulle motiewe sien, wat net God kan doen. Andersins moet jy erkennings uit hul eie monde hê. As jy dit nie het nie, kan jy hoogstens vertel dat nie almal met jou saamstem oor watter Bybelgedeeltes messiaans is, of hoe om dit die akkuraatste te vertaal, nie.

“Die Here sê duidelik:

“Julle mag by die woord wat Ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die Here julle God mag onderhou, wat Ek julle beveel” (Deut. 4:2).”

Ja, en die mense wat ietwat minder verse inhet reken dat die goed wat hulle uitlaat later ingesluip het. Hulle luister dus na die “moet daar niks byvoeg nie.”

Dan gee die skrywer wat ek hier aanhaal, soos meeste sulke kritici, ‘n lang lys dinge wat in die Nuwe en Ou Vertalings verskil. So? ‘n lys verskille bewys net sy punt as mens ‘n rede het om te glo dat die een bron reg en die ander verkeerd is. Hy eindig met hoe mens die Bybel as God se woord moet sien, en God sal diegene straf wat daaraan verander. Maar sy opposisie, sovêr ek weet, probeer ook die woord van God akkuraat weergee. Die verskil tussen hom en hulle is nie “ek respekteer die Bybel en hulle nie.” Die verskil is “ek reken X is die beter manuskrip/ woordkeuse en Y nie” teenoor “”ek reken Y is die beter manuskrip/ woordkeuse en X nie.”

Verstaan my nou mooi: Die Nuwe Vertaling, nes die ou een, is waarskynlik nie perfek nie. Ek vermoed daar is punte waar Prof. J.S. Malan, wat ek hier bo aanhaal reg glo oor die beste vertaling van ‘n spesifieke vers. Maar die vertalers wat anders as hy dink is ook gekwalifiseerd, en tot ek bewyse van slegte motiewe het sal ek glo dat hulle ook die Bybel so akkuraat as moontlik wou vertaal.

Kom ons hou op om gelowiges wat nie presies ons idees deel nie se geloof te bevraagteken. En kom ons hou op bang wees vir die Bybel. Of jy die Nuwe of Ou Vertaling lees, of daar dalk ‘n paar ekstra versies by is in jou Bybel of ‘n paar weggelaat, oor wat antieke met-die-hand-oorskrywers verklarend bygesit of per ongeluk oorgeslaan het, as jy hom lees in die krag van die Gees sal dit jou verryk en versterk.

Wat is die beste Bybelvertaling? Die een wat jy oopmaak en lees.

Wat is die “merk van die dier”op ‘n voorkop of hand?

(Let wel: Hierdie artikel probeer nie om iets te leer (teach) nie, maar om self oor iets te dink. As jy dink jy weet, kan jy kommentaar lewer – so leer ons ander dalk by jou!)


Ons almal het seker die storie gehoor dat die merk van die dier (Openbaring 13:17; 14:9-11; 16:2; 19:20; 20:4) ‘n rekenaarskyfie is, oor dit iets gaan wees waarsonder mens nie kan koop en verkoop nie. Ek dink nie daardie idee kan waar wees nie. Tussen ‘n duisend keuses wat mense daagliks maak oor hoe om ander te behandel en eerlikheid en getrouheid, hoekom sal God mense laat hel toe gaan oor hulle ‘n rekenaarskyfie in die hand kies? En dit maak net (ten minste effens) sin in ryker lande: Dink jy regtig hierdie idee gaan geimplimenteer word in Somalië of die oerwoude van Brazil? En glo jy dan die banke/ bankwese is die dier van Openbaring?
Lees voort