Category Archives: Nuus

Moet orgaanhandel dalk wettig wees?

Die Nuus is vol van die storie oor Netcare, wat skuldig bevind is aan onwettige nieroorplantings. Onwettig, oor die niere gekoop is.

Wat mens laat wonder: Moet dit nie dalk gewettig word om organe te skenk, mits dit op die basis van gewillige koper/ gewillige verkoper gebeur nie?

Daar is armes wat sal glo hulle kan heel goed klaarkom sonder een nier, maar met tienduisende rande. Op die oomblik reken regerings hulle weet beter: Mens het ‘n ekstra nier nodiger as wat mens ekstra geld het, aldus wetmakers. Hoekom kan hulle nie self besluit nie?

Maar“, protesteer jy dalk, “het jy dan nog nooit die aaklige stories gehoor van mense wat bedwelm word en wakker word iewers met ‘n sny, hulle organe gesteel, nie?” Ja, en dis verskriklik. Maar die motief om organe te steel sal verklein word as die wettige aanbod verhoog:

Want orgaanhandel, soos enige besigheid, gaan oor vraag en aanbod. Die vraag na niere, iets waarvan mens eintlik net een nodig het, gaan nie drasties verander nie, daar is net soveel nierpasiënte in die wêreld. Op die oomblik is daar nie naastenby genoeg niere om in die behoefte te voorsien nie. Daarom die versoeking om dit te steel, Veronderstel daar is meer gewillige verkopers as wat daar koper (nierpasiënte) is, sou daar minder rede wees om te steel.

Maar“, protesteer jy dalk nog steeds, “dis bitter onregverdig dat die ryk pasiënt kan betaal vir ‘n nier, en die arm pasiënt kan nie!” Wel, dis beter om minstens party pasiënte te red, as om ryk en arm almal te laat omkom.

Die slaggate is meer, maar dalk is daar ‘n manier om dit uit te brei na daardie organe wat eers na jou dood geoes kan word. Dalk iets soos dat mens as ‘n betaalde orgaanskenker registreer, dit met jou familie bespreek, en in jou testament vertel vir wie die orgaangeld sal gaan as jy vir organe sou geld kry? Dis natuurlik moontlik dat só ‘n potensiële orgaanskenker 87 jaar oud kan word, sy hart en lewer en alles klaar opgebruik, en dat sy nasate nie ‘n sent daaruit sal kry nie.

 

Hoe om die agterstand in die onderwys uit te wis?

Het jy al van die liefdadigheid Lapdesk gehoor? Hulle maak plankies wat op ‘n kind se skoot pas om op te skryf, oor baie Suid-Afrikaanse skoolkinders nie eers banke het nie. Tragies? Ja, absoluut.

Daar is ‘n populêre sondaar om te blameer. Apartheid. Die webblad South Africa Info vertel:

More money is always needed to address the huge backlogs left by 40 years of apartheid education. Under that system, white South African children received a quality schooling virtually for free, while their black counterparts had only “Bantu education”.

Nou ja, om in 1994 of 1996 apartheid te blameer, sou reg gewees het. Apartheid het party skole met ‘n groot agterstand gelos. Maar vandag? Kom ons kyk na syfers:

Volgens http://www.etu.org.za/toolbox/docs/development/income.pdf spandeer SA 17%van 773 biljoen op opvoeding. Dis 131, 41 biljoen per jaar.

Volgens South Africa Info het SA in die mees onlangse jaar waarvoor daar syfers is 14 167 086 leerders gehad. 2,5% van hulle was in privaatskole wat nie geld van die staat kry nie. Dit beteken dat SA R9513 per leerder per jaar aan skoolopleiding spandeer.

Met ‘n gemiddelde klasgrootte van 1 onderwyser per 31,5 leerders, beteken dit R300 000 per jaar, per klas. R300 000 minus een gemiddelde onderwysersalaris los nog steeds meer as helfte van die geld, Met, sê, R180 000 per klas per jaar, behoort dit nie moeilik te wees om ‘n klas te bou in die eerste jaar, en banke in te sit nie. In die tweede jaar kan mens boeke en toerusting koop en begin vooruit boer. Al daardie materiële tekorte kan met ‘n goed bestuurde R180 000 per klas per jaar vinnig uitgewis word.

My gevolgtrekking is dat die onderwysdepartement wanbestuur word. Daar is ‘n baie maklike manier om te sorg dat ons kinders ‘n kwaliteit-opvoeding kry. Maar die regering sal dit nie doen nie. Want dan kan hy op minder plekke die onderwysbegroting melk. En dan kan niemand die ideologie by skole beheer nie.

Watter soort kleuterskool moet ‘n ouer kies?

Huisgenoot vertel ‘n storie wat genoeg is om ouers koue rillings te gee. Dis van ‘n kleuterskool waar die kinders geslaan en vasgebind is:

 

 

 

 

 

 

 

As iemand wat self in my jeug by 3 kleuterskole/ dagsorgsentrums gewerk het, is my opinie as volg. Mens kan basies tussen 3 soorte kleuterskole kies:

a) Kleuterskole waar bytende, afknouende, skreeuende kinders die plek regeer, (in groen onderstreep in die Huisgenoot-artikel) en wat daarom ‘n onveilige en ongelukkige plek vir jou kind sal wees. Dis die plekke waar juffrouens nie dissipline kan handhaaf nie.

b) Kleuterskole wat, om Noreen Ramsden uit die artikel aan te haal, “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het. (in blou onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Waar stout kinders al die aandag opvat – Ramsden erken self dat lyfstraf vinniger en makliker is en ander strawwe meer tyd en aandag vat. Waar dit dus langer duur om stout kinders in te perk, en intussen sit jou kind met hulle chaos en geboelie opgeskeep. Waar die soet kind, van die tyd wat hy by die skool aankom tot hy in die middag huis toe gaan, nie eenkeer oogkontak of een sin se gesprek van juffrou kry nie.

c) Kleuterskole wat die wet oortree en kinders slaan. (in rooi onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Dikwels leer hulle ook kinders “moenie vir Ma vertel van die slaan nie” en myns insiens is die boodskap “Moenie ma vertel wat gebeur nie” baie gevaarliker vir kleintjies as enige slae wat ek al ooit by dagsorg waargeneem het.

Jy hou nie van wat jy hier lees nie? Goed, goed, dis nie heeltemal waar nie. Want kleuterskole het gewoonlik meer as een van bogenoemde 3 faktore in ‘n groter of kleiner mate teenwoordig, en ek het nog nie een gesien wat Ramsden se sogenaamde “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het nie. En dis by almal so dat kinders mekaar seermaak, en dat soet kinders geen aandag kry nie. En daar is ook ‘n ander alternatiewe vorm van dagsorg:

d) ‘n Tuisbly-ma wat haar kleuter by haar hou en die wêreld wys, die kind leer help in die huis, ‘n voorbeeld stel vir die kind van hoe om mense te behandel, hom of haar verrykende geselskap gee op ‘n vlak wat ander vier- of sesjariges nie kan nie. Waar jy self kan dophou dat jou groter kinders nie die kleintjies boelie nie. Waar jou kind nie lelike woorde leer tensy jy hulle self gebruik nie. Waar jy, as jy sou slaan, kan monitor of dit redelik en met liefde gedoen word. Waar jy kan seker maak stoutigheid is nie al wat aandag kry nie.

Ernstig, watter soort ouer los ‘n kind by iemand wat die ouer nie ken nie, sonder dat die ouer eers op ‘n dag ‘n uur lank in die hoek by die dagsorgsentrum sit en waarneem het hoe die onderwyseres kinders behandel?

Gun gelowige regeerders of ongelowiges mens meer vryheid? (Op Judith se aanvraag)

Judith vra my om hierdie as ‘n nuwe draad oop te maak. Sy begin goed, deur seker te maak waar ons gemeenskaplike grond het:

Van wat ek tot dusver gesien het, stem ons saam oor ‘n paar baie basiese goed. Die eerste is geloofsvryheid. Uit ons almal se skrywe blyk dit ons glo almal mense behoort nie vervolg te word vir hulle geloof nie. In hierdie konteks verwys die woord ‘geloof’ gewoonlik na ‘n hele geloofstelsel (ie Christen, Moslem, atheis). Ek ons is dit eens dat mense toegelaat moet word om die geloofstelsel van hul gewete aan te hang. So atheistiese Stalin was verkeerd in sy vervolging van gelowiges, en die vervolgings van die Waldense en Jode en Protestante en Anabaptiste etc in Europa (of dit nou deur Christene gedoen is of nie – dis ‘n aparte onderwerp) was verkeerd.

‘n Tweede ding wat ons mee ooreenkom hou verband met die eerste, maar dis nie presies dieselfde nie. Ons voel dat, ook as dit by spesifieke beliefs kom, selfs al is dit baie aaklige beliefs (soos: Amerikaners is almal sondige heidene en hoe meer van hulle in tereur sterf hoe beter), iemand nie vervolg kan word indien hy/sy nie optree daarvolgens nie. Muller se verwysing na Minority Report is uiters gepas hier.

Derdens dink niemand van ons dink geweld in die naam van geloof is aanvaarbaar nie – maw ons stem saam die persoon wat die belief hierbo (oor tereur) aanhang, is immoreel.

Is ons nog almal saam hier?

Tot dusvêr tel ek nog nie probleme op nie, Judith. Miskien kan ons net daardie lysies van Stalin (20 miljoen slagoffers vir hulle Christenskap) aan die een kant en vervolgings van Waldense en Jode en Protestante aan die ander kant met regte syfers aanvul, en nog vervolgers. Maar dis aanvulling, nie argument nie.

Ok, kom ons kyk na waar ons waarskynlik begin verskil. Dit lyk my, Retha, dat jy en Muller die skeiding van kerk en staat wantrou. Ek wil net mooi verstaan wat jy sien hoe die verhouding tussen kerk en staat ideaal moet lyk.

Die staat moet die kerk op geen manier beperk of beheer nie, tensy die kerk die wet wil oortree. As ‘n groep paganiste byvoorbeeld ‘n mens-offer sou wou bring soos hulle antieke voorvaders, dan wil ‘n godsdiensgroep die wet oortree. Staatsamptenare moet ewe vry as enigiemand anders wees om hulle geloof te beoefen, en selfs by die werk as ‘n groep te bid as hulle sou wou.

Ek lei af jy wil hê die staat moet eksplisiet sy wetgewingsbasis bou op die Christelike Bybel. So as ons parlement bv wetgewing oor handeldryf op Sondae, egskeiding, dobbel, aborsie of gay verhoudings ter tafel het, moet hulle hulleself amptelik (maw, nie net in die lede se privaat morele oortuigings as Christene nie) wend tot Bybelse riglyne aangaande sulke sake. Mens kan amper sê die Bybel word ons grondwet; alle wette word gemeet aan die standaard wat die Bybel daar stel.

Freedom!
Nee. Die regering moet so klein as moontlik wees, en so min as moontlik wette hê. Wette moet beperk wees tot wat die oorgrote meerderheid mense in ‘n samelewing kan aanvoel as reg. Wette oor moord en verkragting en diefstal sal byvoorbeeld daar wees. Die siviele hof sal mense by ooreengekomde kontrakte hou. Oor die res moet die gewone mens self kan besluit.
Wat skolering spesifiek aanbetref, neem ek aan jy hou van die stelsel min of meer soos dit onder Christelik Nasionale onderwys gewerk het, maw regeringskolering is eksplisiet Christelik. Praktiese gevolge hiervan is dat die kurrikilum ‘n Bybelklas insluit, skole open en sluit met skriflesing en gebed, sportspanne bid met wedstryde, etc – en daar word verwag dat onderwysers, kinders en ouers betrokke moet wees by sulke gemeenskaplike Christelike aktiwiteite. Is ek reg dat dit die tipe stelsel is wat jy graag sou wou sien?

Wat skole betref, soek ek ‘n stelsel waar die regering glad nie baas speel oor onderwys of onderwysers aanstel nie. Dis ongelowiges soos Madelyn Murray O’Hair en die Afrikaanse Vrye Denkers Beweging wat (godsdiens)onderrig in skole wil reguleer en by wette wil laat inval, nie ek nie. Die ouers stuur die kind na die skool wat hy wil, en ouers is klante wat met die onderwyser en skoolhoof as diensverskaffers praat oor of hy sy kinders in ‘n Bybelklas wil hê, of hy gebed by saalopening wil hê, ens. ‘n Bybelonderrig-klas wat by die kurrikulum ingesluit word, ongeag of enige onnie entoesiasties is om dit te leer of nie, is in elk geval ‘n vrygtelose idee- baie min kinders het iets geleer as kind in Bybelonderrig op skool.

Indien wel, hoe sien jy die rol van andersgelowiges in so ‘n stelsel?

Hulle het die volste reg om te leef soos hulle wil solank dit binne die minimale wette bly. Hulle kan ook hulle eie skole vir hulle kinders begin, of met die skoolhoof onderhandel om hulle kinders uit te sluit uit sekere aktiwiteite. Eweneens kan ‘n lid van ‘n Christen-minderheid in bv. ‘n Hindoe-omgewing dieselfde onderhandel vir hulle kinders met ‘n Hindoe- skoolhoof en merendeels Hindoe-onderwysers.

“Genocide in South Africa”: Swede hou optog

In Stockholm was daar laasweek ‘n optog oor die moorde op Suid Afrikaanse boere. Om aan te haal:

About a hundred participants joined the assembly at Sankt Eriksplan in Stockholm around noon. Except the organization´s own members and supporters, members of other nationalist groups showed up in support of the Boer. Once gathered, participants flanked the street with flags, a banderole, shields and signs. Both the Resistance Movement´s own flags, as well as the Vierkleur flag was represented. The banderole read “Stop the Boer genocide!” and the signs showed a portrait of the murdered leader of the AWB, Eugéne Terre’Blanche, who was honoured today as well. While the protesters waited for the march to begin, they distributed leaflets containing information about the South African situation to onlookers and people passing by…Kristian Nordvall – a member of the Resistance Movement – held an emotional speech in which he spoke about the importance of the protest, about the reality in South Africa, and about how we must bring attention to the ongoing genocide, which politicians and the media ignores.

Dis jammer dat hulle ET-plakkate as deel van hulle protes gebruik, want ons is nie almal so nie. Maar dan, die ET van die laaste jare was ook nie die ET van vroeër nie. Maar nou, meet die sokker-wêreldbeker, is die ideale tyd vir bloggers en alle Suid Afrikaners om die aandag te vestig op wat hier gebeur: Die misdaad, hoe slagoffers vir misdaad geblameer word, sprake om plase af te neem en myne te nasionaliseer, ongeregtigheid in werk-aanstellings, ens.

Adv. Simelane, staaf dit

Uit Beeld:

 Adv. Menzi Simelane, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), glo sommige wit aanklaers hanteer wit beskuldigdes beter as swart beskuldigdes.

“As jy wit is, jy het dronk (bestuur) en die aanklaer is wit, sal jy moontlik vry daarvan afkom.
“Maar as jy swart is, sal dit nie gebeur nie. Dit is die werklikheid, ons weet dit,” het Simelane eergisteraand tydens ’n debat by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg gesê.

As Adv. Simelane dít op my blog probeer sê het, sou ek hom uitgedaag het om bewyse te bring. Hy sou moes voorsien:

a) die name van minstens 3 wit regters

b) elk van die 3 se aantal wit en swart aangeklaagde dronk bestuurders

c) die persentasie wit bestuurders wat vry daarvan afkom by elk van die 3

d) die persentasie swart bestuurders wat vry daarvan afkom by elk van die 3

 Selfs dan het hy nog nie bewys dat dit reg is om te veralgemeen nie. Ek wens die land het meer skeptici wat bevraagteken wat hulle hoor…

Is die Afrikaanse Vryedenkers Calviniste?

Die webblad “Hulle“, van die Afrikaanse Vrydenkersbeweging is geskep om te kyk of die godsdiensbeoefening in openbare skole aan die wet voldoen. Op die 2de bladsy kla hulle hoe party skole die wet ignoreer, (hier is my kritiese ontleding van hulle bladsy 2. Sedertdien het hulle bladsy 2 aangepas met verwysings na voetnotas wat elke term verduidelik, en ‘n paar veranderings aan die woorde.)

Hulle kla onder andere oor party skole “voortgaan met die Calvinistiese gebruik van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda …” Die eerste betekenis van Calvinisme gaan eintlik oor die mens se onvermoë, volgens Calvyn, om te help met sy eie verlossing en hoe God dan red. Maar die AVB bedoel iets anders. Hulle bedoel met Calvinisme “die verstrengeling van staat en religie.”

Dit ontgaan blykbaar ons Afrikaanse Vrye Denkers dat hulle juis, soos Calvyn, die staat en wette gebruik om seker te maak dat kinders net leer soos dit by hulle idees inpas. En dat hulle teenstanders dit nie doen nie.

Beter skole vir almal – met die minimum werk vir die staat

Ek lees nou Helen Zille wil haar beywer om skole, en geletterdheid van kinders, in die land drasties te verbeter. Ek stem saam met haar: Ons land het ‘n reuse-probleem wat skoolopvoeding betref. Heelwat skole in hierdie land kan nie eers vir kinders basiese lees-vaardighede leer nie. En iemand van 5fm adverteer op TV hy ondersteun die liefdadigheid van om een kind deur die skool te sit.

Hier is ‘n idee wat ‘n ent sal gaan om die probleem op te los. Dit behels die goeie ou vryemarkstelsel en is fantasties geskik vir ‘n land soos SA met groot kontraste tussen ryk en arm, geleerd en laag geskool. Dit behels ook die minimum moeite vir die regering.

Die regering werk eerstens uit hoeveel hulle per kind aan onderwys betaal. (Dit is, die totale onderwysbegroting, gedeel deur die aantal leerders.) Dan, as die kind nie na ‘n staatskool gaan nie, bied die regering hierdie bedrag aan vir die skool waar ‘n ouer kies om sy kind te laat skoolgaan. Dis al wat die regering doen.

En die res? Waar is die beter skole wat die kinders nodig het? Wat doen die regering om dit te bewerkstellig? Watter verskil maak dit aan die kind wat noodwendig na die enigste skool in sy buurt gaan?

Die res doen die publiek, en dan spesifiek mense met ‘n belangstelling in kinders en onderwys: Mense met ondernemingsgees en visie stig die beter skole, hulle skep werk vir die beter onderwysers.* Mens het nie miljoene rande se nuwe geboue nodig om ‘n skool te begin nie- meeste kleuterskole werk byvoorbeeld reeds uit enige soort beskikbare gebou of vertrekke wat nooit as skool gebou was in die eerste plek nie.

Selfs laag geskoolde ouers sal uitwerk waar hulle kinders meer leer- en hulle kinders soontoe stuur. Een ding wat tans die mense met visie keer om skole te begin en in die land se onderwysbehoefte te voorsien, is geld – as die regering net geld vir staatskole gee, kan hulle nie skole begin om die probleem aan te spreek nie.

Kompetisie werk vir beter produkte/ dienste in byna alles- dit behoort vir skole ook te werk.
 ——————-

*beter onderwyser – In hierdie konteks beteken dit wie ookal beter in staat is om kinders te leer, nie iemand met beter onderwyskwalifikasies nie.

Ander naskrif: Omdat heelwat kinders dan in skole sal wees wat aan sakeman-/sakevrou- onderwysers behoort, sal kinders ook meer geneig wees om ‘n voorbeeld – en lesse – te kry van hoe om ‘n entrepeneur te wees – veral in arm gebiede is dit ‘n soort blootstelling wat op die oomblik ernstig ontbreek, en daardie tekortkoming hou kinders arm.

Stem met die beursie- dit werk!

Multichoice het besluit dat hulle nie porno-kanale wil instel by hulle bestaande diens nie. Dit wys weer die wonders van die vrye mark stelsel. 41 000 mense het gestem dat hulle nie porno-kanale soek nie. Baie van hulle het vertel dat hulle hul DSTV-subskripsies sal kanseleer as daardie kanale kom. Party het vertel watter negatiewe effekte pornografie op onskuldige kinders kan hê.

Ek is nie seker na watter een van daardie redes vir DSTV die deurslag gegee het nie, maar kom ons raai dit was die boikot-rede. Dan wys dit weer: As ons gelowiges dit wat ons het onder God se beheer stel, kan ons dinge hier op aarde beter maak.

Het ons ander mense hulle vryheid van spraak misgun? Nooit, ons het net ons stemme ook duidelik laat hoor. Het ons mense hulle vryheid van keuse misgun? Ja, tog. Nogtans, porno is een van daardie keuses wat ook skadelik kan wees vir mense wat dit nie kies nie, insluitende kinders.

Mense wat porno teenstaan is nie noodwendig koud of preuts nie- inteendeel, die Bybel bevat Hooglied, en Paulus beveel getroudes om nie hulle huweliksmaat omgang te weier nie*. (Dis opmerklik dat Hooglied sê: “Jy is vir my mooi, my liefling” en nie “Die ander vrou wat ek na gekyk het is vir my mooi, maar ek kan haar nie kry nie, nou vry ek jou” nie. En Paulus se woorde om gewillig te wees teenoor jou huweliksmaat is net tot een mens beperk.)

Suid Afrikaners het dit al vantevore reg gekry. Min of meer 1995 was verskeie klasse pornografie gewettig- en sulke tydskrifte het baie skielik in elke kafee opgeduik. Gewone gelowiges oraloor die land het hulle plaaslike kafees besoek, en vertel: “Ons is van die Baptistekerk/ die AGS Moedergemeente/ die NG Noordgemeente (of watter gemeente ookal) in die dorp, en as jou kafee voortgaan om porno-tydskrifte te verkoop, sal ons die gemeentelede aanmoedig om elders te koop.” Meeste kafees het gekies om dit nie aan te hou nie. En meer onlangs het Rapport Deon Maas die trekpas gegee oor talle lesers te kenne gegee het dat hulle nie meer Rapport sou koop as hy vir hulle bly skryf nie. Sulke dinge belemmer nie spraakvryheid nie. Inteendeel, dit wys juis die waarde van spraakvryheid. (Thys verduidelik hier hoe dit juis spraakvryheid tot sy reg laat kom.)

Dit wil selfs voorkom of party landsgenote al hier en daar hulle beursies gebruik om nuttelose stadsrade te vervang met verenigings wat wel dienste lewer wat mens van ‘n stadsraad verwag.

Gelowiges – en almal – jy het die volste reg om met jou beursie te stem. Doen dit.

————————

*Ander onderwerp: Ek vermoed dat as 1 Kor. 7:5 meer gepreek word, mens meer mans in die kerk sal kry – wat noodwendig sal sorg dat hulle vir vroulief saambring.

Maak ek die land beter?

Alta Botes vertel in Beeld hoe haar ideale land moet lyk. Veilig. Eerlik, sonder korrupsie. Bekwaam. Regverdig. Kortom, min of meer dinge wat meeste van ons wil hê, ongeag ras, geslag, ouderdom of geloof. En dan vertel sy:

 

En as dit dan is wat ’n volkstaat is, is dit waar ek wil woon.
 
 
Ek mag Alta misverstaan, maar dit klink vir my soos: “Ek hoop julle (wie ookal die “julle” is) bou ‘n veilige, nie-korrupte, bekwame land. Indien julle projek ‘n sukses is, sal ek aansoek doen vir burgerskap. Ek sal wil vat wat so ‘n land my kan gee, dankie.”

 

Of mens nou vir of teen die volkstaat-idee is, dis duidelik dat mense wat so dink, nie ‘n volkstaat (of positiewe kenmerke in enige land) sal help ‘n werklikheid maak* nie. En as niemand sal werk om so ‘n staat te laat bestaan nie, maak dit geen verskil hoeveel mense bereid is om in een in te trek as hy eers bestaan nie.

 

Wat my by ‘n vraag uitbring. ‘n Vraag wat ek in die eerste plek vir myself vra, maar ook wonder hoe ander Suid Afrikaners dit sal antwoord.

 

Ek vra nie of jy in die Nuwe SA gaan bly, Nieu Zeeland toe wil emigreer, klaar geëmigreer het, of ‘n volkstaat wil stig nie. Wat ek vra is:

 

Wat doen ek om die veilige, eerlike, bekwame samelewing te bewerkstellig wat ek (ons) na smag? Frons en kla ek net oor die samelewing nie lyk soos ek hom wil hê nie? Of werk en bid en praat en beplan ek vir ‘n mooier samelewing? En as my hele land (of dit SA, Nieu Zeeland of ‘n volkstaat is) so (on)eerlik, (on)bekwaam en (on)regverdig was soos wat ek in my daaglikse handel optree, hoe na sou my samelewing dan gewees het aan die een waarna ek smag?

 – – – – – – – – – –

*Orania is nie ‘n volkstaat nie, dis ‘n Suid Afrikaanse dorp wat belasting aan die Suid Afrikaanse regering betaal en onder die Suid Afrikaanse wet val.