Tag Archives: denke

Verveeld? Hoe om die dag om te kry, hoe om die dag aan te gryp.

Dis ‘n ongewone vraag: Hy vertel my dat sy vriendin 8 ure ‘n dag alleen op kantoor moet spandeer, onmiddelik moet los waarmee sy besig is as werk inkom, maar net so 2 ure ‘n dag se werk het om te doen. Sy sukkel al saans om te slaap van pure verveling. Sy is nie dom nie, en sy soek iets om haar brein mee besig te hou. Sy het Internet by die werk, maar dit sal nie aanvaarbaar wees om dit vir hoë verkeer soos Youtube te gebruik nie.

Watse raad,  vra hy my, kan ek gee om hierdie jong vrou besig te hou?

Hier is my vinnige gedagtelys. Liewe leser, voeg gerus enige ander gedagtes by waaraan jy kan dink.

> Lees. Oor enigiets wat jou interesseer

> Blokraaisels, suduko, rekenaarspeletjies

> Begin deelneem, buite werksure, aan enigiets wat jy voor kan voorberei. As jy bv. deel van ‘n dramagroep word, kan jy woorde inoefen, as jy Sondagskool gee kan jy dink oor hoe om jou les beter aan te bied, as jy vir ‘n liefdadigheid werk kan jy bemoedigende kaartjies of SMSe skryf vir mense met wie jy werk, as jy by toastmasters vir ‘n kursus inskryf kan jy jou toesprake uitdink.

> Vat CD’s waarvan jy hou werk toe en leer om regtig, heelhartig, te luister. Meeste mense deesdae “luister” musiek as ‘n agtergrond vir ander dinge, hulle leer nie om musiek regtig te waardeer nie.

> Skryf vir ‘n korrespondensiekursus in iets in.

> Vind iets wat jy kan maak/ vervaardig. Dalk is daar selfs ‘n mark vir wat jy maak, en kry jy ‘n ekstra inkomste daaruit. (Juwele maak met krale vat bv. min plek, en kan maklik uit die pad geskuif word vir ander werk.)

> Raak geinteresseerd in blogs of forums, (mens kry blogs of forums oor byna enige onderwerp), en begin daar kommentaar lewer.

> Word die meisie van wie almal vertel, “Wow, sy onthou almal se verjaarsdae, sy onthou altyd om dankie te sê vir die kleinste dingetjie. Sy is regtig bedagsaam.” Gebruik bietjie van jou spaartyd om ‘n verjaardaglys op te stel, te dink of iemand wat jy ken dalk ‘n bemoedigende e-pos nodig het, of ‘n dankie-oproep iewers goed sal afgaan, ens.

> Word ‘n intersessor- leer om te bid in daardie tyd.

Advertisements

Is ‘n akker ‘n eikeboom?

Daar is ‘n aborsie-argument wat só lui:
 
Is an acorn an oak tree?
Bedoelende dat ‘n embrio nie ‘n mens is nie, maar ‘n “potensiële mens,” soos ‘n akker ‘n potensiële eikeboom is.
Maar waar trek mens dan die streep? Is die heel eerste groenigheid wat bo die grond uitsteek as ‘n akker geplant is ‘n eikeboom? Nee, dit is nie. Volgens daardie argument sal ‘n pasgebore baba ook nie ‘n mens wees nie. Op watter punt tussen die sagte groen plantjie en die groot boom word dit ‘n eikeboom?

Akker staan teenoor eikeboom soos embrio teenoor volwassene. Nie soos embrio teenoor mens nie. Akkers is nie eikebome nie. En embrios is nie volwassenes nie. Maar menslike embrios bly mens.

Aborsies is nie veilig nie

Ek lees gister die woorde op ‘n advertensie: SAFE ABORTIONS
Veilige aborsies? Mens kry ewe min ‘n veilige aborsie as ‘n veilige galgtou of ‘n veilige elektriese stoel. Die punt van ‘n aborsie is om dood te maak. Dit maak dit die presiese teenoorgestelde van veilig.

Is die Afrikanervrydenkersbeweging (AVB) eerlik?

Ons agenda

‘n Vraag vir leraars, luisteraars, leuenaars, leuenstoelfilosowe, lusteloses, lewenslustiges, leiers en lede

h_consciousnessDaar is goeie en slegte nuus vir die Christendom. Eers die goeie nuus: Die belangstelling in spiritualiteit is hoog. Annerkant sê byvoorbeeld sy/haar blog is oor “die lewe, spiritualiteit, werklikheid, die heelal en ons plek daarin.” En daar is talle soos hy/sy- wat baie baie graag oor spiritualiteit wil praat. Temas soos “geestelike heelheid” word hoog aangeslaan. Aan die anderkant is daar die slegte nuus: Hoewel ons Christene beleef ons het al Één, en net een, teegekom wat geestelike heelheid kan bring, skakel  baie mense af as die onderwerp oor Hom begin gaan. Ek vermoed ‘n wanindruk oor wat geloof en wie God is het dalk baie daarmee te doen. Christenskap kan byvoorbeeld nie vir mense buite die kerk voorskryf wat hulle moet wees nie. Maar waaroor het mense ‘n wanindruk?

En daarom vra ek: As geestelikheid dan so belangrik is, hoekom stroom meer mense nie na Jesus nie? Ek gaan nie hier begin met antwoorde nie, ek laat die kommentaar-leweraars begin.

Hierdie is ‘n vraag “vir”, en nie net ‘n vraag “aan” nie, omdat “vir”ook “ter wille van” beteken. Die vraag is vir leraars, want hulle moet weet hoekom heelwat “respektabele mense” wat meer diepte soek, nie hulle “produk”- Jesus- soek nie. Die vraag is vir luisteraars, want hulle moet sê wat hulle sou wou hoor, wat Christene nie sê (of kan sê?) nie. Dis ‘n vraag vir leuenaars nie oor ek ‘n oneerlike antwoord wil hoor nie. Leuenaars beteken hier mense wat tot dusvêr nie kon eerlik wees oor hoekom hulle verder soek na godsdiensdienstigheid in iets anders nie, wat nie vir hulle kerk-medelede kon vertel hoekom of waar hulle soek nie. En leuenstoelfilosowe? Wel, as jy ‘n denker is, het jy dalk al gedink oor geestelikheid. Dis vir almal wat waarde heg aan geestelike dinge maar nie Christenskap oorweeg nie, om te vertel waarom nie. Of vir ons wat Christene is, om te verstaan waarom ander dit nie is nie. Dis o.a. in my “idees vir kategese, kinderkerk ens.” afdeling, omdat iemand wat met die jeug werk ook moet sorg dat hy/sy heersende denkrigtings in die samelewing verstaan. Want jy wil nie hê dat die kind of jongmens vir wie jy nou les gee, oor 5 of 15 jaar ‘n verdraaide beeld van God en geloof moet hê nie.

Die evangelie is onveranderlik. Maar die verpakking verander. As jy die evangelie aan ‘n Spaanssprekende wil verkondig, sal jy moet Spaans praat. Iemand het gesê: “As ek die evangelie aan ‘n honger mens verkondig, draai ek dit in ‘n toebroodjie toe.” Paulus het in 1 Kor. 9:22 gesê: “Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.” En daarom, sonder kompromieë, vra ons as volgelinge van Christus onsself: Wat moet ons wees, en waaroor moet ons begin praat as ons die mens wat wil spiritueel wees, maar by Christenskap verbykyk vir die antwoorde, die Goeie Nuus wil help verstaan? Waarom is dit nie vir ons luisteraars die nuus wat hulle soek nie?

Die Argument in die Beeldhouer se Ateljee

Raai wat?” vertel die klip-beeld van ‘n vrou. “Ek hoor party van ons gaan lewendig word. Lewendig- soos die Beeldhouer.

“Daar is nie ‘n Beeldhouer nie” vertel ‘n klei-renoster. “Hoe kan daar een of ander soort ding bestaan wat beter as onsself is? Ek dink hierdie Beeldhouer-stories gee ons net ‘n minderwaardigheidskompleks oor wie en wat ons is. Ons beelde het ‘n Beeldmaker-storie uitgedink eeue terug, en nou voel party van ons minderwaardig daaroor. Ons beelde is die beste ding in die ateljee. Beter as beitels of tafels of vloerteëls. Hoekom nou maak of een of ander “beeldhouer” slimmer as ons is?”

“Ek het nie ‘n minderwaardigheidskompleks nie,” protesteer ‘n klipweergawe van ‘n St. Bernard. “Inteendeel, ek is trots daarop dat ‘n maker my spesiaal gemaak het!”

Die klei-renoster kap terug: “Spesiaal gemaak se kleivoet! Winderosie en watererosie laat klip verweer. Ons is erosie-verweer, en nou dink party misleides maar net dat hierdie vorms wat ons het spesiaal ontwerp is. Wat ons klei-beelde betref, ons almal weet die son laat klei hard word. Daar is g’n Beeldhouer nodig nie.”

“Ja,” voeg ‘n klip-mansbeeld by, “die beste moontlike bewys teen ‘n Beeldhouer, en vir erosie, is hoe almal van ons van dieselfde soorte goed is. Hier is klein perd-beelde van klip, en groot mens-beelde wat ook uit klip ge-erodeer het. Kleipotte en klei-paddas en klei-leeus is almal van dieselfde soort klei gebak. Maar julle met julle Beeldhouer-idees glo mos erosie gebeur nie.”

“Ons glo erosie gebeur, ons glo egter erosie verklaar nie alles nie,” val ‘n klei-luiperd in die rede.

“O, wat meer is, as daar ‘n beeldhouer is, wil ek hom nie dien nie. Dit gebeur gereeld dat beelde wat hier in die ateljee gestaan het, nie meer hier staan nie. Watter soort beeldhouer wis sy eie beelde uit?” mor ‘n klip-perd.

“Die wêreld is groter as ons ateljee,” vertel die beelde wat aan ‘n Beeldhouer glo. “Hy wis nie beelde uit nie, hy vat hulle iewers anders heen.”

Die klip-perd stry nog steeds: “Jy annihileer nie beelde nie, ek annihileer nie ander beelde nie. Hoe kan jy ‘n beeldhouer vertrou wat beelde annihileer- of dan wegneem elders heen, soos jy glo?”

“Ek glo in die Beeldhouer, want hy stel my alreeds in staat om te beweeg” vertel die klip-St. Bernard. “En eendag, sal ek net so vryelik soos hy kan beweeg. Dis deel van die lewe wat hy gee.”

Vryelik? As jy moet beweeg soos die beeldhouer jou in staat stel, wat is vryelik daaraan? In elk geval het ons beelde geen manier om daardie sogenaamde “beweging” te sien nie.. Dis net een van julle bygelowige praatjies,” ontplof die gefrustreerde klip-mansbeeld.

“En nog iets oor hierdie sogenaamde beweging,” kla ‘n klei-aap. “Dit was glo beweging wat nou die dag ‘n groot klip-kameelperd oor ‘n klompie klei-narre laat omval en hulle almal gebreek het. Nee wat. Julle wat in beweging glo, veroorsaak net moeilikheid.”

“Ag Klei-Aap, jy gee elk geval nie vir die kleiner swakker kleibeelde om nie. Vir wat gooi jy nou ‘n vloermoer?” vra ‘n bitsige klei-olifant.

Baie gou ontaard dit in ‘n geskreeu waarin geen beeld meer enige ander beeld se standpunt hoor nie. Die beelde verloor belangstelling in praat sonder luisteraars, en gaan aan met ander dinge.  Maar  ‘n paar beelde bly dink oor die wonder van om eendag te deel in die soort lewe wat die Beeldhouer het……

Glo soos ‘n kind? Jy hoef nie!

Daar is heelwat gelowiges wat sê dat hulle sukkel om “soos kinders te glo.” Ek het baie empatie met daardie standpunt. Ek kan self nie glo op die manier wat hulle van praat nie. Maar verwag die Bybel werklik dat mens moet glo sonder bevraagtekening, sonder om bewyse te soek? Ek dink nie so nie. Iemand wat nie omgee of wat hy glo waarheidsgronde het of nie, kan mos net sowel in reïnkarnasie glo, of in ‘n vlieënde spaghetti-monster. Of in enigiets anders.

 Dalk is hier nou iemand wat my wil herinner: Oppas wat jy sê, Retha! Die Bybel sê ons moet verander en soos kinders word!” As jy dit antwoord, is jy reg. Veels geluk dat jy jou Bybel so goed onthou. Matteus 18:2, om meer spesifiek te wees, sê inderdaad so. Maar daardie vers sê nie mens hoef te “glo soos ‘n kind” nie.

Die dissipels het daar gestry oor wie die belangrikste is in die koninkryk. Toe vertel Jesus hulle dat hulle soos kindertjies moet word. Hy voeg nie by: “Want kindertjies glo maklik” nie. Hy voeg by dat wie homself gering ag die belangrikste is. Babatjies stry nie oor wie die duurste bababedjie verdien nie. Kleuters stry nie oor wie die belangrikste by die kleuterskool is nie.

Het jy al gesien hoe ‘n 2 of 3-jarige seerkry, en dadelik in ‘n vertrek vol mense na sy ma hardloop vir hulp? Hy hardloop na haar, niemand anders nie, want ervaring (bewyse) vertel dat sy die een is wat hom in die verlede gehelp het. Selfs kleintjies soek – en gebruikbewyse.

 

Wat sê die Bybel dan oor die saak? Mag jy jou geloof aan bewyse toets of nie?

  • * Jesus het sy bediening begin as iemand wat al klaar bewysskrifte het uit die ou Testament se profete: Daar was onder andere voorspel dat die Messias sal afstam van Sem, Abraham, Isak, Juda, en Dawid. Daar word ook voorspel dat hy in Betlehem gebore sal word, uit die vrou se saad (ander mense kom van ‘n man se saad) en dat hy vooraf gegaan sal word deur ‘n boodskapper.
  • * Deur Jesus se lewe, sterwe en opstanding het hy voortgegaan om nog profesieë waar te maak, en dus nog meer te bewys wie Hy is. Hy bewys dit ook met wonderwerke.
  • * Jesus belowe ook tekens aan die son, maan en sterre voor Sy wederkoms.(Luk. 21:25)
  • * Toe die Fariseërs vra vir ‘n teken, het Jesus wel geantwoord dat ‘n ongelowige en ontaarde geslag ‘n teken vra, en nie een gaan kry nie. (Matt. 16: 4) Maar onder die omstandighede het Hy nie verwag mense moet glo sonder bewyse nie. Jesus het immers al klaar ‘n hele klomp van die Messias-profesieë vervul, profesieë  wat die skrifgeleerdes moes ken. Hy het ook wonderwerke gedoen waarvan die Fariseërs moes geweet het.  Dit lyk of hy daarteen was dat mense net nóg en nóg tekens vra, eerder as om te begin die rigting/ persoon volg wat deur vorige tekens aangedui is.
  • * Jesus bewys sy boodskap van dood oorwin en opstanding- deur op te staan.
  • * Toe Tomas sê hy sal nie glo voor hy sy vingers in die spykermerke gedruk het nie, het Jesus hom Sy hande gewys. (Ek vermoed die verskil tussen Tomas en die Fariseërs was dat die Fariseërs verskoning gesoek het om nie te glo nie, en Jesus het dit geweet. Tomas, het Jesus geweet, sou bereid wees om vir Hom te sterf as hy net verstaan. Buite-Bybelse geskiedenisbronne vertel ons Tomas was later met ‘n spies doodgemaak omdat Hy Jesus bly verkondig het.)

Die volgelinge van Jesus sit hierdie toets-dit-aan-bewyse patroon voort na die hemelvaart: Hulle maak beroep op ooggetuie-bewyse(1 Luk. 1:1-3; Hand. 1:3; 2:22; 26:26, 2 Pet. 1:16; Joh 1:1-3.) Boonop vra Paulus in 1 Tess. 5:20-21 dat ons profesieë moet toets.

Ek beweer nie dat daar voldoende bewyse sal wees vir elke punt in die Bybel nie. Die kleuter wat na haar ma hardloop eerder as na die ander mense in die vertrek, het nie voldoende bewyse dat haar ma wel ‘n salf vir hierdie pyn het nie. Sy het wel bewyse (alles wat Mamma in die verlede vir haar gedoen het) dat haar ma sal wil help en die pyn sal wil wegvat. 

Die evangelie van Jesus kan maar met ‘n oop kop bevraagteken word. (‘n Oop kop beteken hier een wat bereid is om die bewyse te volg, waarheen hulle ook al lei. Net ‘n waarskuwing: Om bewyse te volg as hulle in die evangelie se rigting lei,  is om jou lewe in Jesus se hande oor te gee, wat ook “tot bekering kom” genoem word. Mense soos Frank Morison en CS Lewis was oopkop oor die saak.) 

As jy dus nie kan “glo soos ‘n kind” nie, moenie bekommerd wees nie, die Bybel beveel dit nêrens nie.  Glo dan maar soos ‘n volwassene. En dalk sal jy vind, as God jou Vader word, dat “glo soos ‘n kind” iets anders beteken as wat jy gedink het. En dat dit nie so moeilik is nie.