Argument 1: “Dis wreed om van iemand te verwag om selibaat te leef”
Dit sou net wreed gewees het as ‘n selibate lewe aaklig was en ongelukkigheid gebring het. En om in ‘n verhouding met God te staan, is so groot, en mooi, en vervullend! Dis ‘n tragedie as jou seksuele gedrag ‘n muur maak tussen jou en God! Ek praat uit ervaring as ek sê dat ‘n gelowige ‘n gelukkige, vervulde, selibate lewe kan hê.
Argument 2: “Ja, die Bybel noem homoseksualiteit ‘n gruwel. Maar dit noem skulpvis eet (en ‘n paar ander goed in Levitikus wat ons as aanvaarbaar beskou) ook ‘n gruwel.” OF “As jy die Bybel aanhaal oor iets soos homoseksualiteit, moet jy ook die vreemde Levitikus-reëls oor kossoorte, ens. gehoorsaam.”
(Een ding moet ons mooi verstaan: God se reëls beskerm en help die mens. In die ou Israelietiese samelewing, waar niemand veel van bakterieë of parasiete geweet het nie, was varkvleis gewoonlik vervuil van parasiete. Reëls soos hande was voor ete en nie aan lyke raak nie het dieselfde doel gehad. Vir daardie doel het God daardie samelewing ‘n klomp reëls in in Levitikus gegee wat, volgens Handelinge 10 byvoorbeeld, nie meer vir ons geld nie. Aan die ander kant herhaal die Nuwe Testament, so lyk dit, dat (sekere??) homoseksuele dade sonde is. (Romeine 1:26-27; 1 Timoteus 1:9-10 en 1 Kor 6:9-10.) )
Selfs die boek Levitikus noem nie homoseksuele dade as gelykstaande aan die rituele reëls oor byvoorbeeld kos nie. Die kosreëls het nie eers die woord “sonde” by nie. Dit spel geen straf uit as mens dit oortree nie. Aan die ander kant het Lev. 18:20 die woord “afstootlike sonde” by, en Levitikus 20:13 spel selfs die doodstraf uit.
Argument 3: “Fundamentaliste veroordeel gays op grond van een enkele Ou Testament versie.”
Nee.
Lev. 18:20; Lev. 20:13; Rom. 1:26-27; 1 Kor 6:9-10; 1 Tim. 1:10 is sewe verse op 5 plekke. Dalk verstaan jy die verse anders as wat sogenaamde fundamentaliste dit verstaan, maar “fundamentaliste” gebruik nog steeds nie net een vers, of net die ou Testament nie.
Argument 4: “Straight mans molesteer meer kinders as gays:”
Na raming word ongeveer een uit elke 3 meisies en een uit elke 6 seuns in S.A. gemolesteer as kinders. Dis tragies. Dis verskriklik. Ja, dit is so dat omtrent 2 uit elke 3 gemolesteerde kinders meisies is. Maar dit beteken by vêr nie dat die gay gemeenskap hulle hande in onskuld kan was nie.
Na raming is omtrent 1 uit elke 100 mans gay- en ‘n verdere 3 uit elke 100 biseksueel. ‘n Groep wat een 25ste van die bevolking uitmaak, is dus klaarblyklik skuldig aan omtrent een 3de van alle gevalle waar mans kinders molesteer. Die gevolgtrekking is dat homoseksuele disproporsioneel baie kinders molesteer.
(‘n Vinnige Internet soektog sal jou twee verskillende boodskappe hieroor gee. Die een boodskap is soortgelyk aan hierdie een, die ander is dat meeste pedofiele wat seuntjies verkies nie gay is nie, want hulle het geen belangstelling in volwasse mans nie.
Die twee soorte syfers word versoen deur na ouderdomsgroepe te kyk. Studies wat net na molesteerders van klein kindertjies onder bv. 10 kyk, vind nie ‘n konneksie tussen homoseksualiteit en molestering nie. Studies wat alle ouderdomme minderjariges in ag neem, vind dat homoseksuele mans disproporsioneel geneig is om met minderjariges te lol.)
Argument 5: “Jy mag nie oordeel nie, jou homofobiese Fariseër!”
Okei, okei! Ek oordryf met hierdie een. Hierdie stellings kom nooit saam in een sin voor nie. Maar dit bring mens uit by 3 argumente wat gereeld deur gays gebruik word.
Argument 6: “Jy mag nie oordeel nie.”
Waarom oordeel die gebruiker van die “jy mag nie oordeel nie” argument dan die persoon wat homoseksuele dade oordeel? Hy weerspreek homself mos!
Daar is net een manier uit hierdie paradoks uit: Herdefinieer oordeel. As “oordeel”, soos in moderne taal, beteken “om ‘n mening uit te spreek oor die aanvaarbaarheid van iemand se gedrag” weerspreek jy jouself as jy sê: “Jy mag nie oordeel nie.” As “oordeel” egter beteken “om die straf te begin voltrek” dan maak dit sin as Jesus in Johannes 8 vir die owerspelige vrou sê: “Ek oordeel jou nie. Hou op sonde doen.”
Argument 7: “Jy is homofobies!”
Huh? ‘n Fobie is ‘n irrassionele vrees vir iets. Ek ken iemand wat ‘n fobie vir springkane het. As sy ‘n springkaan sien, kan sy nie meer gesels of dink nie, sy sien net die springkaan raak en dink aan niks voor die springkaan nie weg is nie. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat irrassioneel bang word as hulle ‘n gay sien nie. Ek ken mense wat homoseksuele gedrag as verkeerd beskou ja. Net so ken ek baie mense wat pornografie kyk, of jou eggenoot verkul, as verkeerd beskou. Maar ek ken niemand wie se keel toetrek van vrees vir gays, porno-kykers of verkullers nie. Woorde het betekenisse. En die woord “fobie” is nie een waarmee ek enigeen wat ek ken se opinie van homoseksualiteit sal opsom nie.
Argument 8: “Die mense wat hulself teen gays uitspreek, is Fariseërs.”
Uhmmmm, ‘n moeilike een! Oordinkbaar. Jesus het hom uitgespreek teen die Fariseêrs, klaarblyklik oor hulle gedink het hulle ken God, maar dit in die Woord geignoreer het waarvan hulle nie hou nie. Dis sekerlik so dat van die mense wat hulself teen gays uitspreek, dinge in die Bybel ignoreer waarvan hulle nie hou nie.
Maar teen daardie selfde standaard kan ‘n homoseksueel ook ‘n Fariseër wees. As hy homself verdedig met “ek is ‘n goeie mens, ek bid en lees Bybel en is gaaf met ander” en hy ignoreer Romeine 1:26-27; 1 Timoteus 1:9-10 en 1 Kor 6:9-10 oor hy nie daarvan hou nie, is hy mos ook ‘n Fariseër? (Nou praat ek nie van mense wat ‘n ander vertolking van daardie verse kan gee nie. Ek praat van mense wat hulle doodeenvoudig nie steur aan die Nuwe Testament se boodskap vir Christene waar hulle nie daarvan hou nie.)
(Een van ‘n tweelingstel inskrywings. Die ander een is “Verkeerde argumente om gays mee af te kraak.”)