Tag Archives: goed en kwaad

Kan iemand ‘n goeie mens wees sonder God?

Jou eerste reaksie as jy hierdie opskrif lees is dalk: “Retha Faurie, jou vermetele, bevooroordeelde [voeg selfstandige naamwoord in]! Daar is ongelowiges wat net sulke goeie – en selfs beter – lewens leef as gelowiges!

Met daardie laaste sin stry ek nie. Maar wag. Die vraag is nie of ‘n ongelowige ‘n goeie mens kan wees nie. Die antwoord op daardie vraag spreek vanself. Die vraag is: Kan enigiemand – gelowig of ongelowig – ‘n goeie mens wees in ‘n heelal waar geen gesag hoër as die mens bestaan nie?

Kom ons dink bietjie wat “goed” beteken, sodat ons “goeie” mense kan uitken. Jy behoort saam te stem dat mense goeie en slegte eienskappe het. ‘n Man wil byvoorbeeld in sy hart aan sy vrou getrou wees, maar sien terselfdertyd versoekings raak. Iemand anders se gewete pla haar as sy ‘n leuen vertel, want sy wil eerlik wees.

Jy kan seker sê hierdie is twee goed binne-in jou. Aan die een kant is daar die wil om reg te doen, om getrou of eerlik of wat ook al te wees. Aan die ander kant is daar die wil om verkeerd te doen, om ontrou of oneerlik of wat ookal te wees.

Maar dit lyk my daar is ook ‘n derde ding. Daar is iets binne-in ons mense wat ons vertel die een keuse is reg en die ander een verkeerd. Iets vertel ons aan watter een van sy twee instinkte ons behoort in te gee. Hierdie ding – wat ons vertel wat ons behoort te doen- kan nie een van die 2 instinkte wees nie, ewe min as wat die padreël “hou lings”die linkerkant van die pad is.

 Maar waar kom hierdie derde ding – hierdie konsep dat party dinge reg en ander verkeerd is- vandaan? Wat bedoel jy met reg en verkeerd, goed en sleg? Bedoel jy net: “Die meeste mense vind vriendelikheid goed en moord sleg.” Of bedoel jy dat party dinge goed of sleg is, ongeag wat mense dink?

 Hier is ‘n voorbeeld: Byna almal sal saamstem dat die Nazi-regime se dade afskuwelik sleg was. Maar veronderstel die Nazi’s het die oorlog gewen, en ontslae geraak van almal wat dink hulle dade was sleg. As almal gedink het hulle was reg, sou hulle dade dan reg gewees het?

 As jy antwoord dat dit in daardie geval reg sou wees, wat beteken “goed”en “sleg”dan? Dan is “goed” en “sleg” maar net ‘n saak van mense se smaak. Dan sou die stelling “Dis verkeerd om kleuters te mishandel” in dieselfde klas geval het as “olywe smaak nie lekker nie.” Dan sou ‘n ander samelewing welkom wees om kleuters te mishandel, soos olywe eet, as hulle daarvan hou. As goed en sleg afhanklik is van wat mense reken goed of sleg is, wie kan dan een persoon se dade goed en ‘n ander een se dade sleg noem?

 En as niemand se mening oor goed en sleg meer gewig dra as die volgende persoon s’n nie, word die stelling: “So-en-so is ‘n goeie mens” eintlik betekenisloos. Dan is moed niks beter as ingee aan jou vrese nie, omgee niks beter as haat nie, eerlikheid niks beter as skelmstreke beplan nie. Want daar is mense wat vrees, haat of skelmstreke kies. En hulle waardes is in daardie geval ewe geldig.

 As jy antwoord dat party dinge reg of verkeerd is, ongeag wat mense daaroor sê, dan kry goed en sleg eers werklik betekenis. Maar hoekom is hierdie dinge dan reg/ verkeerd as dit nie is oor mense so sê nie? Wel, dit moet dan verkeerd wees oor een of ander hoër wet as die mens so sê.

 Evolusioniste bespiegel dat ons idees van reg en verkeerd kom van wat vir ons spesie se evolusie voordelig was. Maar dit verklaar nie hoekom ons aanneming, of sorg vir weeskinders, as ‘n goeie ding beskou nie. (Aanneming is evolusionêr sleg. Dit help ander gene as joune om te oorleef.) Dit  verklaar ook nie hoekom ons verkragting as sleg beskou nie. (Verkragting is evolusionêr goed. Dit help jou gene om te oorleef.)

 En as evolusie die hoër wet is, beteken dit ook die wet kan verander. Ons mag dalk net “evolve” tot op die punt waar dit moreel reg is om byvoorbeeld kleuters te mishandel. Nee wat, dis myns insiens sinloos om na evolusie te kyk vir ‘n hoër wet.

 Ons weet dat wette ‘n wetmaker het. As goed en sleg iets meer beteken as persoonlike smaak, is dit oor iets of iemand groter as ons self daardie idee van goed en sleg in ons harte gesit het. In daardie geval bly hierdie iets of iemand se standaard reg, of jy nou saamstem met die hoër gesag oor wat reg/ verkeerd is, of nie.

Om te erken dat sekere dade reg of verkeerd is, is om te erken: “Daar is Iets of Iemand hoër as die mens. Daardie Iets of Iemand kan my dade as goed of sleg klassifiseer. Omdat daardie Iets of Iemand bestaan, kan iemand ‘n beter of slegter mens wees.”

 

 Kan ‘n mens, (hetsy gelowig of ongelowig,) ‘n goeie mens wees sonder die bestaan van ‘n hoër gesag? Ek sou dink dis onmoontlik. Want sonder daardie Hoër Gesag verloor goed en sleg hulle betekenis. Deur betekenis te heg aan die woorde “goed”en “kwaad”, erken jy klaar dat ‘n hoër gesag as die mens die reëls maak.