Tag Archives: Hoekom

Antwoord as jy kan

Hoekom sal my mediese fonds nie betaal vir eenvoudige toetse (bloedsuiker en bloeddruk, in hierdie geval) by die apteek nie, maar hulle sal my betaal om die toetse by die dokter te doen, waar dit duurder is?

Hoekom, wanneer mense begin “Ek wil nou nie skinder nie/ek wil nou nie beledigend klink nie/ ek wil nou nie negatief wees nie” eindig hulle altyd hulle sinne deur te doen wat hulle glo nie wou doen nie?

Hoekom maak onderklere-vervaardigers 38D bra’s in Medium Beheer en mooi vroulike style, maar 40C bra’s net in enkele onvroulike Ferm Beheer style? ‘n C-bors is kleiner as ‘n D-bors. En bra’s beheer borste, nie borskaste nie.

Hoekom word soveel goed as ‘n moet-hê” geadverteer terwyl die grootste deel van die wêreldbevolking al hoe lank daarsonder klaarkom?

Hoekom reken mense ek is ‘oopkop’ wanneer ek met hulle saamstem, en dan begin sê hulle ek is “toekop’ sodra ek van hulle begin verskil?

Hoekom reageer verskeie mense op my pos oor rugby en niemand op poste oor kinders se veiligheid nie? Is rugby vir Suid-Afrikaners meer belangrik as hulle kinders?

Hoekom verdwyn sokkies en los een van ‘n paar? En waarheen verdwyn sokkies?

Hoekom kan mense wat skeptisisme as ‘n deug beskou nie skepties wees oor Richard Dawkins se opinies nie? Alle ander mense wat hom lees kan dan?

Hoekom is dit so moeilik om goeie gewoontes aan te leer?

Hoekom is dit so maklik om slegte gewoontes aan te leer?

Hoekom is daar soveel hoekoms sonder antwoorde?