Vervolg van hier.
In die eerste deel hiervan het ons gekyk na die saak wat meer belangrik as Bybelse foutloosheid is. Dis natuurlik ‘n voordeel as gelowiges glo dat die Bybel onfeilbaar is. Dit maak leer van God soveel makliker. Maar hoe kan ‘n gelowige eerlik toets of iets in die Woord, wat vir hom onwaar lyk, waar is – of nie?
Wat doen ‘n gelowige as dit lyk of die Bybel iets onwaar sê?
Daar is twee soorte mense wat foute in die Bybel raaksien: Die eerste soort dink dat hulle slimmer as die Bybel is en dat hulle sopas iets in die Bybel verkeerd bewys het. (Dis natuurlik nie vanselfsprekend dat die res van die Bybel ook verkeerd is, as daardie ding verkeerd is nie. En nog minder dat dit, soos die skrywer wat ek in die eerste deel aanhaal beweer, geskryf is “om mense te manipuleer.” Die denkende mens sal nie val vir daardie skrywer se redenasie nie.)
Die tweede soort mens dink dat die Bybel slimmer as hulle is en dat hulle sopas iets in die Bybel gesien het wat hulle nog nie verstaan nie. Dit wat in ons beperkte begrip na ‘n fout klink, is nie noodwendig ‘n fout nie. Jy verstaan byvoorbeeld dalk nie hoekom die Nuwe Testament van God se enigste Seun praat, en later van baie kinders van God nie. Wel, die meer letterlike vertalings praat van God se eniggebore (“only begotten”) Seun -Sy enigste biologiese kind- en alle vertalings praat van hoe God baie mense aanneem tot kind. Een biologiese kind en baie aangenome kinders is nie teenstrydig nie.
Nou ja, die soort mens wat glo dat hy alles weet, leer niks nuut nie. Die een wat reken dat hy dalk nie alles weet nie, sal darem luister en so nou en dan iets nuuts leer.
Hoe leer die gelowige wat ‘n teenstrydigheid of probleem teëkom in die Bybel dit wat hy nog nie verstaan nie?
1) Kyk wat presies die Bybel regtig sê.
As jy dink aan of hoor van iets in die Bybel wat nie reg klink nie, lees presies, uit die Bybel self, wat die Bybel regtig in daardie vers en om dit sê.* As jy bv. iets onwetenskaplik sou sien in die raad wat Job se vriende hom gee – God self het Job se vriende se raad afgekeur. Die woorde van Job se vriende is nie die Bybel se boodskap nie.
Heelwat Bybelprobleme kan opgelos word deur net die Bybel se gedeeltes oor die saak te lees. Byvoorbeeld: Hoekom praat die ou Testament van “ ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n lewe vir ‘n lewe?” en Jesus keur ” ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand” af? Jy het nie eers nodig om te weet van rituele wetgewing wat in die Nuwe Testament nie meer tel nie om daardie een te verstaan nie. As jy die relevante dele lees, sien jy dat eersgenoemde van die Israelitiese regstelsel in die Ou Testament praat. ” ‘n Oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n lewe vir ‘n lewe” was die regte vonnis vir moord en party soorte aanranding. Wanneer Jesus in die Nuwe Testament dit noem, vertel hy nie regters om anders te vonnis nie. Hy praat met gewone, wraagsugtige mense. Jesus wys uit dat hulle blitsvinnig daardie vers aanhaal om hulle wraaklus te regverdig- en Hy is daarteen.
2) Gebruik naslaanbronne
As jy ‘n teenstrydigheid in die Bybel teëkom, beveel ek jou aan om die drie naslaanbronne in die 2de paragraaf van hierdie artikel se deel 1 te gebruik.
As dit ‘n ander soort fout is, of as daardie bronne nie werk nie, probeer om te kyk wat ‘n soekenjin daarvan sê. Tussen die hele liggaam van Christus wêreldwyd is daar sekerlik mense wat al voor jou oor jou probleem gedink het. Veral in Engels is daar talle bronne beskikbaar oor byna alles wat met geloof te doen het. Gebruik die soekterme “apologetics” en jou probleem in Engels, byvoorbeeld “apologetics one Son of God many sons of God.”
3) Vra iemand wat die Bybeltale ken
Vra jou predikant. As hy Grieks (Die oorspronklike taal van meeste van die Nuwe Testament) en Hebreeus (Die oorspronklike taal van meeste van die Ou Testament) ken en jy nie, is die kanse alreeds goed dat hy iets sal verstaan van die gedeelte, iets wat nie maklik vertaal nie. En selfs as sy veeltaligheid nie die antwoord gee nie, is die kanse goed dat hy meer bronne tot sy beskikking het as jy.
4) Onderskei feite van spekulasie
Met dinge waar dit lyk of die Bybel en wetenskap mekaar weerspreek, moet jy eers kyk na die aanvaarde
wetenskapfeite – nie spekulasie nie. Daar was byvoorbeeld ‘n tyd wat mense gespekuleer het die “steady state theory” is dalk reg, dat die heelal nie ‘n begin gehad het nie. Daardie tyd het mense gespekuleer dat Genesis 1:1 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” – nie wetenskaplik waar kan wees nie. Vandat die Big Bang teorie ingekom het, is daardie stuk kritiek grootliks op ‘n einde. As jy weet of iets wetenskapfeit of wetenskapspekulasie (geskiedenisfeit of geskiedenis- spekulasie is), kyk jy wat die beste moontlike Bybel-interpretasie is. Byvoorbeeld, in Josua staan die son en maan het stil gestaan om ‘n lang dag te maak. Tegnies, weet ons, sal dit nie die son nie, maar die aarde wees wat moet ophou roteer vir ‘n lang dag. Maar is “kyk, dis verkeerd!” die beste interpretasie? Selfs vandag nog praat ons van ‘n mooi sonsondergang, terwyl die son nie regtig ondergaan nie. “Sonsondergang” of “die son het nie ondergegaan nie” is ‘n waar idioom, maar nie ‘n letterlike waarheid nie. Die Bybelskrywers lieg nie, en die Bybel is nie onwaar, as die Bybelskrywers in hulle eie idioom eerlik vertel wat hulle gesien het nie.
——————–
Naskrif: Sien ook Do the Facts Matter? vir Greg Koukl se perspektief oor skrif-foutloosheid. Hy reken dis waar, maar werklik nie die belangrikste ding om te verdedig nie.
* Dalk is hier iemand wat nou vra “en hoe weet ek waar in die Bybel om ‘n gedeelte te kry?” Wel, leer om ‘n konkordansie te gebruik, dis iets soos ‘n woordeboek. E-sword is ‘n gratis konkordansie wat jy op die Internet kan opsoek en aflaai. (Ander onderwerp: Dit is ‘n vreeslike tragedie dat iemand deur hoërskool-Sondagskool of kerk-jeugbyeenkomste kan gaan sonder om ‘n konkordansie te leer gebruik. As jy by tienerwerk betrokke is, probeer asseblief om hulle ten minste die gereedskap te gee om die Bybel te verstaan. En dit sluit hoe om ‘n konkordansie te gebruik in.)