Tag Archives: kerk

Wie die hardste skree – ‘n Kerkstorie (Deel 3)

Met al die klagtes en moontlike-sabotasie-moontlike-per-ongeluk verkeerd loop, wat nou?

Bly ek as mense so oor my voel? Aan die een kant, hoe werk ek saam met mense wat so oor my voel, en wat ‘n kla-vergadering hou in kategesetyd oor die kinders laag op hulle prioriteitslys is? Aan die ander kant, niemand buiten ek wil groot groep aanbied nie, en as ek nou wegraak, gaan hulle ook ophou klein groepe – regte Sondagskoollesse – te doen.

Ek is dus vir ‘n paar weke min of meer in beheer, en meeste van daardie weke kon lesse gebeur soos op die program. Dis in daardie tyd wat die kerksaal 2 keer nie beskikbaar is nie.

Die laaste dag

Eendag was ek besig met sang lei in die groot groep toe Millie my kom vertel Lees voort

Ek volg nie die God van my kinderjare nie

“Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat…” – Deut. 5:9, Ou Vertaling

Hierdie woorde uit die 10 gebooie is die eerste ding wat ek van die kerk uit my kinderjare onthou: Die jaloerse God wat vir my sal kwaad wees as my ouers en oupas en oumas kwaad doen. Nie dat ek gedink het my ouers en grootjies doen vreeslik kwaad nie, maar dit bly die God wat geslagte lank kwaad bly. Lees voort

Kerk-wees gaan nie oor programme nie (Vir predikante, ouderlinge en ouers)

“BKJA (Belydende Kerk Jeug Aksie, of te wel ‘n omgeegroep vir jong volwassenes) het nog nooit gewerk in ons gemeente nie”, vertel die ouderling my. “Die moeilikheid is dat mense trou en nie die groep verlaat nie, maar eerder saam met hulle huweliksmaats bly kom. En so 5 of 6 jaar later het mens ‘n kliek van meestal egpare waar jong enkellopendes nie meer voel om aan te sluit nie.”

Oom, dit klink vir my of BKJA wonderlik gewerk het in jou gemeente. Die lede bou ware verhoudings en word deel van ‘n groep.  As programme belangriker as gemeenskap was in die kerk, sou hierdie ‘n probleem gewees het. Maar dit is nie. Kry vir julle BKJA ‘n ander naam wat nie “jeug” inhet nie, stig ‘n nuwe groep elke klompie jare vir net-net skoolverlaters en almal wat daar meer tuis voel as in die ouer groep.

Program-gedrewenes reken ook dinge soos dat kinders op omtrent 12 vanuit die “kindergroep” na die “tienergroep” met ander leiers moet skuif, en die verhouding met die kinder-groepleier tot ‘n einde kom.

Die kerk moet onthou dat verhoudings belangriker as programme is. En daarom moet jy dink hoe om ouers te lei om hulle kinders te leer. Daarom moet groepe nie opgebreek word vir definisies (soos “hierdie is die ongetroude jongmense se groep en paartjies wat trou, moet wegraak”) nie.

As jy besef dat verhoudings belangriker as programme is, sal jy anders oor kerk dink. Vir ‘n begin, sal jy verkies om ouers wat Sondagskool gee verkieslik by hulle kinders se klasse in te deel. Op die lang duur sal jy ook, as jy dit besef, ouers leer om self hulle kinders van God te leer- hulle is beter daartoe in staat as ‘n kategeet oor die reeds bestaande verhouding. Maar waar kry mens ‘n predikant wat ouers leer en motiveer om hulle kinders God en geloof te wys?

Herbesin oor saamwoon? (2)

Die kerk gee nou baie beter redes vir herbesin oor saamwoon as in ‘n week gelede se koerant. Om aan te haal, vetdruk myne:
Die NG Kerk se taakspan vir leer en aktuele sake (Atlas) gaan egter nou herbesin oor dié kwessie omdat die kerk tans geen duidelike amptelike beleid daaroor het nie. Boonop meen al hoe meer progressiewe lidmate die kerk moet meer verdraagsaam teenoor sommige saamwoners wees.
 
 Maar behoudende lidmate en kerkleiers, onder wie die moderator, het die afgelope week gesê dit sou ’n fout wees as die kerk ’n vorm van saamwonery buite die huwelik goedkeur.
 
 As ‘n kerkgroep wil herbesin oor iets, omdat hulle nie meer wil sterk standpunt inneem oor reg en verkeerd nie, sou dit baie verkeerd wees en al die kritiek verdien wat die afgelope week hulle kant toe gekom het. As ‘n kerkgroep egter wil herbesin oor hulle nie tans ‘n beleid het hoe om mense (in liefde) te behandel, en wat om vir hulle te sê nie, is daar goeie rede om te herbesin.
 
 God se standaarde verander nie. As die kerk reken saambly sonder om te trou sou 200 jaar terug sonde gewees het, dan moet hulle ook glo dit is vandag sonde. 1 Kor. 7:9 vertel: “Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou; want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.”
 
 Samelewings verander. Saambly sonder om te trou kon dalk in ‘n baie preutse samelewing 150 jaar terug iets wees wat jy net doen as jy totaal alle reëls van jou samelewing verwerp, en nie omgee dat almal om jou sien dat jy absoluut vere voel vir hulle waardes nie. In só ‘n samelewing kon die predikant reg wees om saamblyers soos uitgeworpenes sonder enige morele waardes behandel. (Die Bybelse voorskrif is dat mens soms mense uit jou gemeente kan verwyder, en hulle dan soos heidene kan behandel-1 Kor 5:12-13-, maar die Bybel sê nooit dat die Christen heidene sleg mag behandel nie. ) In ons samelewing is saambly egter ‘n algemene en grootliks aanvaarde ding. As die kerk glo dat saambly teen God se wil is, is dit ons gelowiges se werk om ander kerklidmate te oortuig om anders as die samelewing te dink. Jy kan egter nie iemand te hard veroordeel oor hy soos meeste mense om hom dink, oor hy nie ‘n totaal ander waardestelsel as almal om hom het nie.
 
 Daarom reken ek kerke kan inderdaad herbesin oor saamwoon: Hoe deel ‘n mens God se onveranderlike waardes in ‘n veranderende samelewing, aan mense met veranderende waardes? Wat sê ons vir, en doen ons om te help met, moeilike situasies soos die weduwee tant Sannie wat wil trou met oom Klaas, maar voel sy kan nie bekostig om oorl’e oom Jan se pensioen te verloor nie?
 
 (Kan die kerk dalk ‘n soort troue reel waarmee dit publiek gewys word word hoe tant Sannie en oom Klaas voor mense aan mekaar trou beloof, wat bindend is volgens die gemeente maar nie volgens die landswet nie? Of is dit bedrog teenoor die pensioenfonds? Dis word beskou as Bybels verkeerd om saam te slaap sonder om trou aan mekaar te belowe- en die belofte te wil hou- maar móét ‘n huwelik deur die landswet erken word vir mense om getroud te wees?)
————
 
 Naskrif: Ek gaan vir C.S. Lewis aanhaal. Sommer oor ek lus is en dit my blog is:
 
 
 

Much of the modern resistance to chastity comes from men’s belief that they “own” their bodies — those vast and perilous estates, pulsating with the energy that made the worlds, in which they find themselves without their consent and from which they are ejected at the pleasure of Another! -The Screwtape letters
 
 Indeed, if we consider the unblushing promises of reward and the staggering nature of the rewards promised in the Gospels, it would seem that Our Lord finds our desires, not too strong, but too weak. We are half-hearted creatures, fooling about with drink and sex and ambition when infinite joy is offered us, like an ignorant child who wants to go on making mud pies in a slum because he cannot imagine what is meant by the offer of a holiday at the sea. We are far too easily pleased. – The Weight of glory

Slegs vir kinders!

virhulle

‘n Toegewyde Christen-vrou kom by my aan met ‘n breë glimlag. Sy vertel my: “Die Here vertel my ek is geroep om met stukkende vroue te werk. Ek is nou klaar met kinders gespeel, ek het my Sondagskoolklas aan Annemarie oorgegee.”

En ek is onmiddelik kwaad. Oor sy haar Sondagskoolklas drop? Nee. Die Here kan haar dalk die begin van die vierde kwartaal vir iets anders roep, en as sy selfs iemand anders kry om haar klas oor te neem, hoekom nie? En vir al wat ek weet het die Here Annemarie geroep om by kinderwerk betrokke te raak.
Oor sy met stukkende vroue wil werk? Nee, nooit, wat is daarin om oor kwaad te wees?

Wat my so kwaad maak dat dit al my selfbeheersing gevat het om nie daar te begin berispe voor almal nie (daar is ‘n tyd en plek vir alles) is dat sy impliseer dat kinderwerk net “speel” is, en nie ‘n sinvolle spandeer van tyd nie. Oor sy kinders minag, en nie as belangrik in die koninkryk beskou nie.

Die Bybel sê:

“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang my. … Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurig by my hemelse Vader is.” Matteus 18

Die koninkryk van God het, volgens Matteus 18:3, ‘n bordjie op: Slegs vir kinders (en mense soos hulle). Ons moet verander en soos kinders word om daar in te gaan. (Kinderlike geloof , terloops- net om misverstand te voorkom noem ek dit- beteken nie ‘n geloof wat anti-rede en anti-kennis is nie, of “blinde geloof” nie- dit beteken iets anders.)

Bekeer ouderdomJunior sondagskool/kinderkerk/ kleuterkerk is nie een van die kerk se laagste takies vir mense wat niks beter kan doen nie. Dis belangrike werk met mense wat vir God belangrik is, wat na Sy beeld geskape is. George Barna, kerk-statistikus, het eenkeer ‘n opname onder Christene gemaak oor die ouderdomme waarop hulle tot bekering gekom het. (Grafiek hier regs. 100% verteenwoordig alle bekeerdes, nie alle mense nie.)

Wat mens by ‘n vraag uitbring? Watter persentasie van die kerk se geld, tyd, en beplanning gaan daarin om kinders tussen 4 en 14 te bedien? Kom ons vat, vir ‘n rowwe raaiskoot, 15% ? Wel, as ek in verskeie projekte belê, en ek sien dat 85% van my wins konstant kom uit ‘n plek waar ek gewoonlik 15% van my “geld” belê, sal ek meer daar belê- en minder elders. Die gemiddelde ouderling (en dalk selfs dominee) behoort dit mos te verstaan?

Die beroemde 19de-eeuse prediker Charles Spurgeon het gesê:

A child of 5, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any adult.

Ek wil van hom “verskil”, en saamstem met wat ‘n jeugwerker my eentyd geleer het:

An adult, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any child of 5. – Tania Schultz.

Daar is ‘n klomp voordele aan kinderbekerings. Die een is dat God ‘n groter deel van die bekeerde se lewe kry. (Bv. 60 jaar i.p.v. 30jaar.) ‘n Ander is dat die kerk so lidmate kry wat nog nie verval het in soveel sonde en slegte keuses en seer, en so baie nodig het om te verpleeg en genees en te vernuwe nie.

En die punt is? Die punt, medegelowige, is om oor kinders te dink soos God oor hulle dink. En God reken nie kinders, of werk met hulle, is onbenullig nie.

—————

Naskrif: Vir ‘n Christen wat verder oor hierdie saak wil dink, beveel ek hierdie aanhalings aan.

Afsonderlike kinderdienste? Ja of nee?

‘n Predikant vra my eenkeer, omdat ek opleiding in jeugwerk het, of ek dink dat gemeentes ‘n aparte kinderdiens moet hou, of glo ek kinders en grootmense hoort saam in die kerk.

Uhm, sê ek toe. Ek dink dis nodig om om eers seker te maak wat bedoel word met “kinders en volwassenes saam in die kerk.” Dalk moet ons onderskei tussen 3 dinge:

[a] is ‘n aparte kinderdiens en aparte volwasse erediens.

[b] is ‘n volwasse erediens waar die kinders in die gemeente ook maar moet insit omdat hulle nie ‘n keuse het nie, maar waar die meerderheid van hulle niks leer nie. (Ek weet ek het tot so st. 5 of 6 orrelpype getel en gedagdroom in die kerk, want ek was in sulke gemeentes.)

[c] is wat die kerk bedoel as hulle van gesinsbediening praat: ‘n Diens waar die predikant sy tema verstaanbaar wil maak vir groot en klein, reg van die begin af daaraan dink dat daar kinder (en tieners) in die kerk is wat ook die erediens moet verstaan, en toepassings gee vir almal. Liedere word gekies dat dit singbaar en relatief eenvoudig om te verstaan is, ens.

Daar is geen twyfel by my dat opsie [a] of [c] ‘n honderd keer beter kans het om die kind te laat word wie God wil hê hy moet wees as opsie [b] nie. (Tussen opsie [a] en [c] kan mens nog gesels oor wat die beste is.) Daar is ook beslis predikante wat sê: “Ons gemeente het nie aparte kinderdienste nie. Hier bedien ons groot en klein saam” terwyl hulle opsie [b] gebruik en nie ‘n oomblik dink aan die kinders in die gemeente nie.

Die kind in die gemeente is minstens net so belangrik as die volwassenne vir God. Die kerk wat sy kleintjies minag -nie belangrik genoeg ag om erns mee te maak nie – staan skuldig voor God.

Hoe leer ‘n predikant die beste om kinders en volwassenes sáám suksesvol te bedien? My vermoede is as volg, maar daar sal uitsonderings op hierdie reël wees: Deur eers te leer om met kinders apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Deur terselfdetyd te leer om met volwassenes apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Dan moet hy daardie kennis saamvoeg om hulle saam te bedien. As ‘n gemeente dan nét in gesamentlike bediening glo, waar sal die predikant met kinders leer werk?

Die samelewing is werklik verdeeld tussen generasies deesdae: Ons driejariges is saam met ander driejariges in dagsorgsentrums. Ons tieners is in klasse saam met ander tieners, en na skool by sport of kulturele groepe van tieners wat nie net in omtrent dieselfde ouderdomsgroep is nie, maar ook dieselfde belangstelling(rugby of drama of wat ookal) het. Ons bejaardes is saam in aftree- oorde, ens. Teen die tyd wat gesinne saam tuis kom is almal dikwels te moeg vir ware samesyn. Die kind en jongmens soek dan sy samesyn (nog meer) by sy portuurgroep. Om daardie rede sal die kerk die samelewing ‘n fantastiese diens bewys as hy dit kan regkry om gesinne één te maak in die geloof deur hulle saam te bedien, en met mekaar oor God te laat praat. Om dieselfde rede is dit werklik moeilik om almal suksesvol so te bedien, en is so ‘n situasie vreemd vir ons jong mense.

Dit was gedagtes, hier is ‘n vraag: Ek het al gehoor van kinders van kerklose of kerklos ouers wat die kerk so geniet dat hulle op die ou end hulle ouers ook oortuig om kerk toe te kom! Dit het ek nog altyd net van gelees in gevalle waar die gemeente ‘n sterk aparte kinderkerk het, Gebeur dit ook in gesinsgerigte gemeentes? Sal ‘n kind wat sonder sy ouers ‘n gesinsgerigte erediens bywoon nie dalk “uit” voel en nie terugkom nie?

Dit wil vir my voorkom of ‘n kind albei nodig het: Deel wees van die gemeente (en dit sluit saam gesels en saam dien ook in, nie net saam luister na ‘n predikant nie), en om op sy eie vlak bedien te word.

‘n Sinvolle gemeentebediening teenoor kinders sal myns insiens aparte en gesamentlike aspekte bevat:

Aparte lering (Sondagskool) wat apart op ‘n kind se vlak, en apart op ‘n tiener se vlak, hom ‘n basiese geloofskennis gee.

Gesamentlike en aparte aanspreek van die kind se hart- sy liefde vir God, en sy wil om God te dien, en lofprysing. (Apart, omdat die Sondagskool nie net oor kopkennis mag gaan nie, en gesamentlik, want die gemeentekinders moet darem weet die grootmense het ook God lief.)

Gesamentlike diens-geleenthede. (‘n Kind kan bv. ewe maklik as ‘n volwassene kollekte opneem, en tieners is ewe in staat as grootmense om ‘n basaartafel te beman, en enige ouderdom lidmaat kan aan ‘n gemeente-konsert deelneem. En hierdie is net enkele werklik eenvoudige voorbeelde.)

My kort antwoord op die vraag heelbo aan hierdie artikel? Dominee/ Pastoor, sinvolle inter-generatiewe bediening is moeilik, maar hoogs aan te beveel. Dalk is die beste manier om dit aan te leer deur kinders sinvol te leer bedien-apart, en tieners sinvol te leer bedien-apart, en graatmense sinvol te leer bedien-apart. Maar moenie dink dat, net oor kinders saam met ouers in die kerk sit, jy met inter-generatiewe bediening besig is nie.

 gesin