Tag Archives: kinders

Hoe om die agterstand in die onderwys uit te wis?

Het jy al van die liefdadigheid Lapdesk gehoor? Hulle maak plankies wat op ‘n kind se skoot pas om op te skryf, oor baie Suid-Afrikaanse skoolkinders nie eers banke het nie. Tragies? Ja, absoluut.

Daar is ‘n populêre sondaar om te blameer. Apartheid. Die webblad South Africa Info vertel:

More money is always needed to address the huge backlogs left by 40 years of apartheid education. Under that system, white South African children received a quality schooling virtually for free, while their black counterparts had only “Bantu education”.

Nou ja, om in 1994 of 1996 apartheid te blameer, sou reg gewees het. Apartheid het party skole met ‘n groot agterstand gelos. Maar vandag? Kom ons kyk na syfers:

Volgens http://www.etu.org.za/toolbox/docs/development/income.pdf spandeer SA 17%van 773 biljoen op opvoeding. Dis 131, 41 biljoen per jaar.

Volgens South Africa Info het SA in die mees onlangse jaar waarvoor daar syfers is 14 167 086 leerders gehad. 2,5% van hulle was in privaatskole wat nie geld van die staat kry nie. Dit beteken dat SA R9513 per leerder per jaar aan skoolopleiding spandeer.

Met ‘n gemiddelde klasgrootte van 1 onderwyser per 31,5 leerders, beteken dit R300 000 per jaar, per klas. R300 000 minus een gemiddelde onderwysersalaris los nog steeds meer as helfte van die geld, Met, sê, R180 000 per klas per jaar, behoort dit nie moeilik te wees om ‘n klas te bou in die eerste jaar, en banke in te sit nie. In die tweede jaar kan mens boeke en toerusting koop en begin vooruit boer. Al daardie materiële tekorte kan met ‘n goed bestuurde R180 000 per klas per jaar vinnig uitgewis word.

My gevolgtrekking is dat die onderwysdepartement wanbestuur word. Daar is ‘n baie maklike manier om te sorg dat ons kinders ‘n kwaliteit-opvoeding kry. Maar die regering sal dit nie doen nie. Want dan kan hy op minder plekke die onderwysbegroting melk. En dan kan niemand die ideologie by skole beheer nie.

Watter soort kleuterskool moet ‘n ouer kies?

Huisgenoot vertel ‘n storie wat genoeg is om ouers koue rillings te gee. Dis van ‘n kleuterskool waar die kinders geslaan en vasgebind is:

 

 

 

 

 

 

 

As iemand wat self in my jeug by 3 kleuterskole/ dagsorgsentrums gewerk het, is my opinie as volg. Mens kan basies tussen 3 soorte kleuterskole kies:

a) Kleuterskole waar bytende, afknouende, skreeuende kinders die plek regeer, (in groen onderstreep in die Huisgenoot-artikel) en wat daarom ‘n onveilige en ongelukkige plek vir jou kind sal wees. Dis die plekke waar juffrouens nie dissipline kan handhaaf nie.

b) Kleuterskole wat, om Noreen Ramsden uit die artikel aan te haal, “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het. (in blou onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Waar stout kinders al die aandag opvat – Ramsden erken self dat lyfstraf vinniger en makliker is en ander strawwe meer tyd en aandag vat. Waar dit dus langer duur om stout kinders in te perk, en intussen sit jou kind met hulle chaos en geboelie opgeskeep. Waar die soet kind, van die tyd wat hy by die skool aankom tot hy in die middag huis toe gaan, nie eenkeer oogkontak of een sin se gesprek van juffrou kry nie.

c) Kleuterskole wat die wet oortree en kinders slaan. (in rooi onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Dikwels leer hulle ook kinders “moenie vir Ma vertel van die slaan nie” en myns insiens is die boodskap “Moenie ma vertel wat gebeur nie” baie gevaarliker vir kleintjies as enige slae wat ek al ooit by dagsorg waargeneem het.

Jy hou nie van wat jy hier lees nie? Goed, goed, dis nie heeltemal waar nie. Want kleuterskole het gewoonlik meer as een van bogenoemde 3 faktore in ‘n groter of kleiner mate teenwoordig, en ek het nog nie een gesien wat Ramsden se sogenaamde “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het nie. En dis by almal so dat kinders mekaar seermaak, en dat soet kinders geen aandag kry nie. En daar is ook ‘n ander alternatiewe vorm van dagsorg:

d) ‘n Tuisbly-ma wat haar kleuter by haar hou en die wêreld wys, die kind leer help in die huis, ‘n voorbeeld stel vir die kind van hoe om mense te behandel, hom of haar verrykende geselskap gee op ‘n vlak wat ander vier- of sesjariges nie kan nie. Waar jy self kan dophou dat jou groter kinders nie die kleintjies boelie nie. Waar jou kind nie lelike woorde leer tensy jy hulle self gebruik nie. Waar jy, as jy sou slaan, kan monitor of dit redelik en met liefde gedoen word. Waar jy kan seker maak stoutigheid is nie al wat aandag kry nie.

Ernstig, watter soort ouer los ‘n kind by iemand wat die ouer nie ken nie, sonder dat die ouer eers op ‘n dag ‘n uur lank in die hoek by die dagsorgsentrum sit en waarneem het hoe die onderwyseres kinders behandel?

Herbesin oor saamwoon? (3) Statistiek

Saamwoners:

* Se verhoudings is meer geneig om op te breek
* Se latere huwelike met iemand anders is meer geneig om te misluk. Hoe langer en meer dikwels hulle saamgewoon het, hoe meer geneig is dit om te misluk.
* Manlik en vroulik, is meer geneig om hulle maats te verkul
* Maak minder rykdom bymekaar as getroudes
* Het meer gesondheidsprobleme
* Het meer depressie
* Met kinders se verhouding is nog meer geneig om op te breek as sonder kinders.

Vroulike saamwoners:

* Is 6 keer meer geneig as getroude vroue om ‘n kliniek te besoek oor seksueel oordraagbare siektes
* Word meer mishandel deur hulle mansvriende as getroude vroue deur huweliksmaats. En vroue wat nog nooit getroud was nie, ly oor die algemeen meer onder geweld as vroue wat getroud is of was.

Saamblyers se kinders:

* Sal meer waarskynlik ‘n reeks ontwrigtings in hulle gesinslewe ervaar.
* Doen slegter op skool
* Het meer emosionele probleme
* Is, na opbreek van die verhouding, minder geneig as kinders uit egskeidings om nog kontak met hulle pa’s te hê.

Saamwonende “stief-families” (biologiese ma met saamwoonman wat nie kind se pa is nie) is statisties die onveiligste plek vir ‘n kind, waar kinders meer geneig is om emosioneel, fisies of seksueel mishandel te word.

Vergeleke met huise waar biologiese ouers getroud is met mekaar, is ‘n kind:

* 6 keer so geneig om mishandel te word in ‘n huis met ‘n biologiese ma getroud met ‘n stiefpa
* 14 keer so geneig om mishandel te word in ‘n huis met ‘n biologiese enkelma
* 20 keer so geneig om mishandel te word in ‘n huis met 2 biologiese ouers wat ongetroud saambly.
* 20 keer so geneig om mishandel te word in ‘n huis met ‘n biologiese enkelpa.
* 33 keer so geneig om mishandel te word in ‘n huis met ‘n biologiese ma wat saambly met ‘n ander man.

Uit:

Click to access bg_1732.pdf


http://www.civitas.org.uk/hwu/cohabitation.php
http://www.smartmarriages.com/cohabit.html

Click to access Marriage%20or%20cohabitation.pdf

Ek droom van ‘n samelewing …

Ene “Martie” skryf ‘n brief aan Beeld waarin sy kla oor ‘n pornografiese fliek wat laataand op e-tv gewys het. Haar probleem is dat “sulke walglike tonele vir ons kinders op ‘n skinkbord gegee” word. In die kommentaar daar onder kom dinge soos die volgende voor:
 

“Het jy dan geen beheer waarna jou kinders kyk nie?”
“Ons is mense met keuses . Verander die kanaal of sit die TV af as jy nie daarna wil kyk nie”

“Shame Martie, jy kyk seker baie selde TV. Waar was jy vir die laaste 6 jaar? Want dis is hoe lank ETV nou al elke Saterdag aand laat sagte pornografiese films wys.”

“Die kinders van vandag stel nie meer belang in die sagte pornografiese films soos die op ETV nie. Nee, daar is veel harder en sieker goed vir hulle op ‘n baie groter skinkbord wat hulle die “internet” noem. “

My mening? Ek sal graag in ‘n samelewing wil bly waar die breë samelewing ingestel is op “Wat is goed vir kinders? Hoe kan ons die regte waardes by hulle kweek?” en individue vir hulself moet gaan seksvideos koop of huur, as hulle so voel. Tans bly ek in ‘n samelewing waar groot bronne soos ETV seks gebruik om te verkoop, en individue is welkom om hulle kinders op te voed om skoon te bly van sulke invloede, as hulle so voel.

Ons samelewing se probleme het ‘n invloed op ons kinders. Dis groter op die kinders van ouers wat nie die krag of wil het om hulle kinders waardes te leer nie, maar dit beinvloed al ons kinders. En ja, daardie kinders is my kinders ook. Ek sal, waar ek kan, verantwoordelikheid vat vir hulle welsyn en opvoeding. Ek droom van ‘n samelewing met genoeg respek vir kinders om dit ook te doen.

In ‘n samelewing waar aborsiedokters op lamppale adverteer, ‘n samelewing met van die wêreld se hoogste voorkoms van misdaad teenoor kinders, ‘n samelewing waarin kinders gekry word sodat ma’s die “child support grant” kan kry, waar gaan ons begin om kinders as waardevolle beleggings in die toekoms te sien? Hoe gaan ons begin om ons samelewing se kinders reg te behandel? Dalk is kla oor TV-programme wat hulle verkeerd leer een van die baie plekke waar ons kan begin.

 

It takes a village to raise a child – Ou Afrika slagspreuk

Slegs vir kinders!

virhulle

‘n Toegewyde Christen-vrou kom by my aan met ‘n breë glimlag. Sy vertel my: “Die Here vertel my ek is geroep om met stukkende vroue te werk. Ek is nou klaar met kinders gespeel, ek het my Sondagskoolklas aan Annemarie oorgegee.”

En ek is onmiddelik kwaad. Oor sy haar Sondagskoolklas drop? Nee. Die Here kan haar dalk die begin van die vierde kwartaal vir iets anders roep, en as sy selfs iemand anders kry om haar klas oor te neem, hoekom nie? En vir al wat ek weet het die Here Annemarie geroep om by kinderwerk betrokke te raak.
Oor sy met stukkende vroue wil werk? Nee, nooit, wat is daarin om oor kwaad te wees?

Wat my so kwaad maak dat dit al my selfbeheersing gevat het om nie daar te begin berispe voor almal nie (daar is ‘n tyd en plek vir alles) is dat sy impliseer dat kinderwerk net “speel” is, en nie ‘n sinvolle spandeer van tyd nie. Oor sy kinders minag, en nie as belangrik in die koninkryk beskou nie.

Die Bybel sê:

“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang my. … Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurig by my hemelse Vader is.” Matteus 18

Die koninkryk van God het, volgens Matteus 18:3, ‘n bordjie op: Slegs vir kinders (en mense soos hulle). Ons moet verander en soos kinders word om daar in te gaan. (Kinderlike geloof , terloops- net om misverstand te voorkom noem ek dit- beteken nie ‘n geloof wat anti-rede en anti-kennis is nie, of “blinde geloof” nie- dit beteken iets anders.)

Bekeer ouderdomJunior sondagskool/kinderkerk/ kleuterkerk is nie een van die kerk se laagste takies vir mense wat niks beter kan doen nie. Dis belangrike werk met mense wat vir God belangrik is, wat na Sy beeld geskape is. George Barna, kerk-statistikus, het eenkeer ‘n opname onder Christene gemaak oor die ouderdomme waarop hulle tot bekering gekom het. (Grafiek hier regs. 100% verteenwoordig alle bekeerdes, nie alle mense nie.)

Wat mens by ‘n vraag uitbring? Watter persentasie van die kerk se geld, tyd, en beplanning gaan daarin om kinders tussen 4 en 14 te bedien? Kom ons vat, vir ‘n rowwe raaiskoot, 15% ? Wel, as ek in verskeie projekte belê, en ek sien dat 85% van my wins konstant kom uit ‘n plek waar ek gewoonlik 15% van my “geld” belê, sal ek meer daar belê- en minder elders. Die gemiddelde ouderling (en dalk selfs dominee) behoort dit mos te verstaan?

Die beroemde 19de-eeuse prediker Charles Spurgeon het gesê:

A child of 5, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any adult.

Ek wil van hom “verskil”, en saamstem met wat ‘n jeugwerker my eentyd geleer het:

An adult, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any child of 5. – Tania Schultz.

Daar is ‘n klomp voordele aan kinderbekerings. Die een is dat God ‘n groter deel van die bekeerde se lewe kry. (Bv. 60 jaar i.p.v. 30jaar.) ‘n Ander is dat die kerk so lidmate kry wat nog nie verval het in soveel sonde en slegte keuses en seer, en so baie nodig het om te verpleeg en genees en te vernuwe nie.

En die punt is? Die punt, medegelowige, is om oor kinders te dink soos God oor hulle dink. En God reken nie kinders, of werk met hulle, is onbenullig nie.

—————

Naskrif: Vir ‘n Christen wat verder oor hierdie saak wil dink, beveel ek hierdie aanhalings aan.

Skepties SA, ons kinders verdien beter

Skepties SA, soos koerantlesers of selfs lesers van hierdie blog reeds weet, wil ‘n hofsaak maak om godsdiens in skole te beperk.

Een van die kommentare hier oor die saak was van ‘n blogger genaamd Skoor:

Ek vertrou dat die George Claassen en die res van die heksejagters sal kry wat hulle toekom. Om spesifieke skole uit te sonder en te teiken, gaan my verstand te bowe. Ek kan horror verhale neerskryf oor hoe dit in skole in die land gaan. Van hoenderpote wat in ‘n groot kastrol kook in personeelkamers, en waar GEEN klasgee plaasvind tot na eerstepouse, wanneer die onderwysers hulle pote klaar geeet het, tot viktimisering van onderwysers en vandalisme. En dan mors hulle tyd op sulke twak!

Ja, ons land het talle swak skole met totaal ongemotiveerde onderwysers, soos Skoor uitwys. Ek kan my kop op ‘n blok sit die skole wat Claassen by die naam noem en wou vervolg, is van die beter akademiese skole in sy gebied. Wat Skepties SA beoog, is eintlik om goeie skole af te trek na die vlak van skole waar niks onderrig voor eerste pouse plaasvind nie- en Skepties SA verstaan dit nie. Hulle verstaan dit nie, want hulle kan nie skepties kyk na hulself, na menslike natuur, of die resultate van godsdiens uit skole haal elders in die wêreld nie.

 Skepties SA besef nie, vir een ding, dat goeie skole juis skole is waar die ouers betrokke is, en kies wat hulle kinders leer en wie die onderwysers is nie. Die regering voel vere vir jou kind. Jy as ouer gee die meeste om. As Skepties SA wil hê die regering moet meer beheer neem oor wat kinders mag en nie mag leer nie, word ouerbetrokkenheid- wat baie goed vir skole is- afgewater. (Hans Pietersen en diesulkes is egter vanselfsprekend welkom om as ouers ook deel te neem aan besluite oor wat geleer word by hulle kinders se skole.)

Vir die soort onderwyseres wat vrywillig haar geloof met kinders deel, is onderwys ‘n missie wat sy doen om God te eer en kinders vir wie God lief is te help. Maar om haar te vra om nie God te deel met kinders nie, is om eintlik te vra dat sy haar missie op die agtergrond skuif. En om te dink dat ‘n onderwyser(es) wat se missie en visie op die agtergrond geskuif/ vergeet word, ‘n ewe goeie en toegewyde onderwyser sal bly op die lang termyn (net ene wat stilbly oor godsdiens) is naief. Om te glo alle jong SA-ners wat in God hulle motivering vind, kan maar ander beroepe as onderwys kies, en dat skole nie sal ly wanneer daardie soort innerlik gemotiveerders wegbly uit die onderwysberoep nie, is uiters kortsigtig.

Om dit eenvoudig te stel: Daar is ‘n minderheidsgroepie onderwysers wat gemotiveer word deur hulle geloof. Hulle sien hulle werk as ‘n missie en doen dit met ‘n visie. Selfs waar hulle in die minderheid is, trek dit ander onderwysers by hulle skool om ook goeie werk te lewer. Toegewyde onderwysers skep ‘n kultuur van toewyding. Hulle is die sout en die lig van die onderwysberoep. As jy die visie- en missie- onderwysers vra om stil te bly oor hulle geloof, is die kanse goed dat jy party van hulle sal demotiveer. Op die lang duur demotiveer jy ook diesulkes om onderwys as beroep te kies.

En ons kinders het elke gemotiveerde onderwyser nodig wat ons kan kry. In ‘n ander onlangse pos (nie oor godsdiens in skole nie) het ek juis ook gevra vir meer aansporings om onderwysers te motiveer, nie minder nie.

Ek hoop en bid regtig dat ons land nie die soort skole kry wat die Skepties SA mense verdien nie. Want ons kinders verdien beter…

Godsdiens in skole: Claassen gee saak aan Pietersen

Ek sien George Claassen het die saak van godsdiens in skole gelos, en aan Hans Pietersen oorgegee. Claassen beweer sy opponente is “onaanvaarbaar beledigend en lasterlik.” Nou ja, niks wat ek in die media teëgekom of gehoor het kom neer op lasterlike aanvalle of selfs persoonlike beledigings teen Claassen nie. (In elk geval het ek al biografieë gelees van martelare vir geloof soos Richard Wurmbrand, Brother Yun, en Roger Youderian- hulle. Daardie mense laat “martelare” soos Claassen wat “belaster” en “persoonlik aangeval word” vir hulle aksies teen geloof maar taamlik on-indrukwekkend klink.)

Vermoedelik het Claassen om ander redes die saak in iemand anders se hande gelos. Sluit daardie redes dalk die volgende redes in:

* Dat hy weet party van sy bewerings teenoor skole in sy omgewing heeltemal onwaar was? Met ‘n nuwe man aan die stuur kan hulle voortgaan sonder daardie leuens en sonder dat hy verskoning hoef te vra daarvoor? Pietersen gaan nie uitgedaag word op wat Claassen gesë het nie.

* Dat hy bang is die hof vra hom hierdie blog se vraag: Deel hy sy opinie oor geloof in (tersiëre) klaskamers? (Pietersen gee heel waarskynlik nie enige soort onderwys nie, en die vraag hoef dan nie vir hom gevra word nie.)

* Dat hy reeds weet minder gaan met die saak bereik word as wat hy sou wou? Hy het ‘n week gelede gepraat van kriminele vervolging van skole, en Hans Pietersen praat nou bloot van duidelikheid kry oor wat presies toelaatbaar is.

(Pietersen sê hy voel “soos Dawid teen Goliat.” Nee, Hans, dink weer. Dawid se gevoel in die Goliat-saak was sterk daarop gegrond dat hy geglo het God is aan sy kant. – Lees 1 Sameul 17, veral vers 45. En Hans – ek hoop en bid regtig jy kan eendag soos Dawid voel!)

Ek hoop dat wat die hof ook al besluit, dat daar pertinent gesê word dat dit ook vir ateïste en Claassens-tipe “skeptici” tel wat leerders wil indoktrineer. Indien daar bv. besluit word: Godsdiens opinies mag net met kinders gedeel word as die ouer/ voog van die kind dit skriftelik goedkeur” dan moet dit ook vir iemand soos Claassen geld. Dan moet opinies soos Claassen s’n net op universiteit verkondig word, reken ek, waar die beurs-betalers/ studielening-borg dit goedkeur.

—————–

Naskrif: Christene, sit hierdie hofsaak hoog op julle gebedslysie. Want, soos pous Pius XI gesê het: “since education consists essentially in preparing man for what he must be and for what he must do here below, in order to attain the sublime end for which he was created, it is clear that there can be no true education which is not wholly directed to man’s last end.” Sit dit op julle gebedslysie, want kinders het God nodig. Sit dit op julle gebedslysie, want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Sit dit op julle gebedslysie, want God hoor. Sit dit op julle gebedslysie, want neutraliteit oor aanbidding is ‘n mite- waar God nie in die skole aanbid word nie sal iets of iemand anders aanbid word- soos hierdie Noord Koreaanse Amerikaanse video van Kim Jong Il Obama wys.

George kla!(sen)

George Claassen van Skepties SA wil glo skole wat gebed en Bybel lees in klastyd toelaat strafregtelik vervolg. Volgens hom luister sulke skole nie na die nasionale beleid oor godsdiens in skole nie.

Die skole wat hy by die naam noem maak kapsie teen wat hy sê, en antwoord hom met:

“Die Grondwet sê jy kan nie godsdiens afdwing nie, maar jy kan ewe min die afwesigheid van godsdiens afdwing,” Enige beleid oor dié kwessie is ondergeskik aan die Grondwet se beskerming van godsdiensvryheid.- prof. Rassie Malherbe, grondwetkenner aan die Universiteit van Johannesburg, wat al artikels oor die grondwetlikheid van skolegodsdiens gepubliseer het.

Die staat moet ’n ruimte skep waar mense hul geloof vrylik kan beoefen. Dit sluit openbare skole in. – ook prof. Rassie Malherbe

Claassen beskuldig die skool verkeerdelik. Ons godsdiensbeleid “is nagesien en in orde bevind deur vooraanstaande kenners van die onderwysreg en konstitusionele reg. “Dit is bevestig deur die direkteur van onderwys in die Wynlandstreek en die twee kringbestuurders.”- Dr. Johan van der Merwe, voorsitter van die Laerskool Stellenbosch se beheerliggaam

Deelname aan dié skool se godsdiensaktiwiteite is “absoluut vrywillig” – Mnr. Hawkie de Villiers, skoolhoofDie beskuldigings teen my skool is feitelik verkeerd. -. Mnr. Arrie Genis, skoolhoof van die Laerskool Louw Geldenhuys

“Ingevolge die raamwerk van die Grondwet kan ’n skool steeds ’n Christelike of ’n Moslemskool wees. Die Grondwet bepaal bloot jy kan nie meer alle leerlinge verplig om aan godsdiensaktiwiteite deel te neem of mense met ander menings uitsluit nie. Skole moet begrip en verdraagsaamheid kweek, eerder as om een siening rigied af te dwing.” – Jaco Deacon, nasionale bedryfshoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole

Dit wil voorkom dat Claassen se idee oor skolegodsdiens en die grondwet verkeerd is. Dit wil ook voorkom dat sy feite oor wat die skole doen verkeerd is, volgens Mnr. Arrie Genis. (Verder wil dit voorkom dat dit ‘n vendetta teen Christene spesifiek is – ek sien nie dat hy bv. een Moslem-skool insluit nie.)

Claassen sê:

“Skepties Suid-Afrika oorweeg dit om strafregtelike klagte teen skole aanhangig te maak tensy dié optrede dadelik gestaak word en skole begin om die nasionale beleid oor godsdiens in onderwys te gehoorsaam. Ons woon nie meer in Nazi-Duitsland of die apartheidstaat nie.”

Nee, George, ons bly nie in Nazi-Duitsland nie. Ons bly in ‘n demokrasie. En in ‘n demokrasie moet die gewone, belasting-betalende mens die reg hê om self te kies dat hy dit wat hy goed vind – soos sy geloof – ook met sy kinders wil gedeel hê. En evangeliese Christenskap is juis ook iets waarin mens nie ingedwing kan word nie, maar waarin mense- ook kinders -vryelik moet kies of hulle dit wil volg of nie. En ons demokrasie het vryheid van spraak ook. Dit geld sekerlik ook vir Christen-onderwysers?

Dan wil ek ‘n vraag vir George vra: As onderwysers nie in klastyd met leerders mag praat oor hulle geloofstandpunte nie, geld dit vir universiteitsprofessors wat in klastyd ateïsme verkondig ook? Sal George hulle ook wil strafregtelik laat vervolg?

En die punt hier? Die punt is dat ons gelowiges nugter en wakker moet wees. Ons moet ons regsgeleerdes vra om ons regte te verdedig, voor dit van ons weggeneem word. Voor ons soos kommunistiese China of Rusland word. Maar ons moet ook onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, nie teen die George Claassens van hierdie wêreld nie. Ons moet onsself toerus om die stryd te stry teen die propaganda van ongelowiges, en teen die magte wat agter hulle sit. Ons moet ook ons kinders toerus om die waarheid te ken.

————————————-

Naskrif: Kan iemand vir ons bevestig dat George Claassen, ‘n professor in Stellenbosch,

a) Nooit sy standpunt oor godsdiens(hy is daarteen 🙂 ) in klastyd deel nie

OF dat hy

b) Wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel?

Want dit wil vir my voorkom dat, indien hy wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel, hy skynheilig is en net agter (sy verstaan van) “die grondwet” wegkruip. As hy egter volkome selfbeheersing toepas en nooit sy standpunt oor godsdiens deel waar mense wat dit nie wil hoor daaraan blootgestel sal wees nie, is hy bloot ‘n opregte ou wat die grondwet misverstaan

Idees vir lesmateriaal

bidkidjap1

Liewe leser, as jy in hierdie tema belangstel, daar is nuwer artikels van hierdie soort, met meer onlangse skakels na materiaal.

Klik hier vir die reeks resensies van lesmateriaal se deel 6: Voorstelle en vergelyk van lesmateriaal
(Sien veral die vergelykende tabel van daardie blad, want daar is skakels direk na voorbeeldlesse en waar lesse gekoop kan word.

Klik hier vir deel 7: Voorbeelde van tiener- en kleutermateriaal

  – Rooi woorde bygevoeg 6 Sept 2013

Hallo! Dis alweer die begin van die jaar vir Sondagskool en kinderkerk en al daardie dinge begin. Watter lesmateriaal vind ek goed vir jeugwerk?
Werner en Tania Schultz (wat my opgelei het in kinderwerk) gee as KidsXpress ‘n hele paar boeke kinderwerk lesse uit. Hulle materiaal betrek die kind aktief en is maklik om te gebruik. (Miskien is ek hier besig met nepotisme, want ek ken vir Werner en Tania. En Chrissie wat deels hulle kleuterboeke skryf.)

Modkats is goeie tematiese stof vir kinder- en tienerkategese, wat selfs so nou en dan gesinspreek- materiaal insluit. Dit verg egter ‘n metode-skuif van die gemeente, omdat dit vra dat diegene wat by die kategese betrokke is baie nouer saamwerk, en sommige programme saam voorberei vir grootgroepe of graadgroepe. Gemeentes wat bloot hierdie materiaal in elke kategeet se hand wil druk sonder om die samewerking-kultuur te vestig, hou nie van Modkats nie. Groter gemeentes is blykbaar meer gewillig om die moeite te doen hiermee as kleiner gemeentes.

As jy ‘n ouer is wat jou kinders van God wil leer, het Jane van Deventer, wat ek ken oor ek as vrywilliger vir Child Evangelism Fellowship werk onder haar, onlangs ‘n webblad daaroor begin, en   ‘n boek daaroor uitgegee. (In die VK versprei die uitgewer die boek, hier het sy kopieë om self te versprei.)

(Hier is gou ‘n boekie met idees vir lofgebede met kinders: praise . Hierdie boek en heelwat soortgelykes was beskikbaar op www.praykids.com . Die blad is nie tans meer beskikbaar nie.)

————-

Soortgelyke artikels hier en hier.

Afsonderlike kinderdienste? Ja of nee?

‘n Predikant vra my eenkeer, omdat ek opleiding in jeugwerk het, of ek dink dat gemeentes ‘n aparte kinderdiens moet hou, of glo ek kinders en grootmense hoort saam in die kerk.

Uhm, sê ek toe. Ek dink dis nodig om om eers seker te maak wat bedoel word met “kinders en volwassenes saam in die kerk.” Dalk moet ons onderskei tussen 3 dinge:

[a] is ‘n aparte kinderdiens en aparte volwasse erediens.

[b] is ‘n volwasse erediens waar die kinders in die gemeente ook maar moet insit omdat hulle nie ‘n keuse het nie, maar waar die meerderheid van hulle niks leer nie. (Ek weet ek het tot so st. 5 of 6 orrelpype getel en gedagdroom in die kerk, want ek was in sulke gemeentes.)

[c] is wat die kerk bedoel as hulle van gesinsbediening praat: ‘n Diens waar die predikant sy tema verstaanbaar wil maak vir groot en klein, reg van die begin af daaraan dink dat daar kinder (en tieners) in die kerk is wat ook die erediens moet verstaan, en toepassings gee vir almal. Liedere word gekies dat dit singbaar en relatief eenvoudig om te verstaan is, ens.

Daar is geen twyfel by my dat opsie [a] of [c] ‘n honderd keer beter kans het om die kind te laat word wie God wil hê hy moet wees as opsie [b] nie. (Tussen opsie [a] en [c] kan mens nog gesels oor wat die beste is.) Daar is ook beslis predikante wat sê: “Ons gemeente het nie aparte kinderdienste nie. Hier bedien ons groot en klein saam” terwyl hulle opsie [b] gebruik en nie ‘n oomblik dink aan die kinders in die gemeente nie.

Die kind in die gemeente is minstens net so belangrik as die volwassenne vir God. Die kerk wat sy kleintjies minag -nie belangrik genoeg ag om erns mee te maak nie – staan skuldig voor God.

Hoe leer ‘n predikant die beste om kinders en volwassenes sáám suksesvol te bedien? My vermoede is as volg, maar daar sal uitsonderings op hierdie reël wees: Deur eers te leer om met kinders apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Deur terselfdetyd te leer om met volwassenes apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Dan moet hy daardie kennis saamvoeg om hulle saam te bedien. As ‘n gemeente dan nét in gesamentlike bediening glo, waar sal die predikant met kinders leer werk?

Die samelewing is werklik verdeeld tussen generasies deesdae: Ons driejariges is saam met ander driejariges in dagsorgsentrums. Ons tieners is in klasse saam met ander tieners, en na skool by sport of kulturele groepe van tieners wat nie net in omtrent dieselfde ouderdomsgroep is nie, maar ook dieselfde belangstelling(rugby of drama of wat ookal) het. Ons bejaardes is saam in aftree- oorde, ens. Teen die tyd wat gesinne saam tuis kom is almal dikwels te moeg vir ware samesyn. Die kind en jongmens soek dan sy samesyn (nog meer) by sy portuurgroep. Om daardie rede sal die kerk die samelewing ‘n fantastiese diens bewys as hy dit kan regkry om gesinne één te maak in die geloof deur hulle saam te bedien, en met mekaar oor God te laat praat. Om dieselfde rede is dit werklik moeilik om almal suksesvol so te bedien, en is so ‘n situasie vreemd vir ons jong mense.

Dit was gedagtes, hier is ‘n vraag: Ek het al gehoor van kinders van kerklose of kerklos ouers wat die kerk so geniet dat hulle op die ou end hulle ouers ook oortuig om kerk toe te kom! Dit het ek nog altyd net van gelees in gevalle waar die gemeente ‘n sterk aparte kinderkerk het, Gebeur dit ook in gesinsgerigte gemeentes? Sal ‘n kind wat sonder sy ouers ‘n gesinsgerigte erediens bywoon nie dalk “uit” voel en nie terugkom nie?

Dit wil vir my voorkom of ‘n kind albei nodig het: Deel wees van die gemeente (en dit sluit saam gesels en saam dien ook in, nie net saam luister na ‘n predikant nie), en om op sy eie vlak bedien te word.

‘n Sinvolle gemeentebediening teenoor kinders sal myns insiens aparte en gesamentlike aspekte bevat:

Aparte lering (Sondagskool) wat apart op ‘n kind se vlak, en apart op ‘n tiener se vlak, hom ‘n basiese geloofskennis gee.

Gesamentlike en aparte aanspreek van die kind se hart- sy liefde vir God, en sy wil om God te dien, en lofprysing. (Apart, omdat die Sondagskool nie net oor kopkennis mag gaan nie, en gesamentlik, want die gemeentekinders moet darem weet die grootmense het ook God lief.)

Gesamentlike diens-geleenthede. (‘n Kind kan bv. ewe maklik as ‘n volwassene kollekte opneem, en tieners is ewe in staat as grootmense om ‘n basaartafel te beman, en enige ouderdom lidmaat kan aan ‘n gemeente-konsert deelneem. En hierdie is net enkele werklik eenvoudige voorbeelde.)

My kort antwoord op die vraag heelbo aan hierdie artikel? Dominee/ Pastoor, sinvolle inter-generatiewe bediening is moeilik, maar hoogs aan te beveel. Dalk is die beste manier om dit aan te leer deur kinders sinvol te leer bedien-apart, en tieners sinvol te leer bedien-apart, en graatmense sinvol te leer bedien-apart. Maar moenie dink dat, net oor kinders saam met ouers in die kerk sit, jy met inter-generatiewe bediening besig is nie.

 gesin