Tag Archives: logika

Ateïsme as godsdiens en bles as haarkleur

Ateïsme is ewe min ‘n godsdiens as wat bles ‘n haarkleur is – Ateïstiese slagspreuk

Miskien moet mens enige ateïs wat daardie stelling verkondig verban van godsdiensforums of godsdiensblogs af? Want hy erken self hy bly nie by die onderwerp nie.

Is daar enige bewyse vir lewe na die dood?(1)

Eers vra ek jou om een ding te aanvaar wat jy dalk self beleef het, of heel waarskynlik al in die lewe van iemand na-aan jou gesien het: Talle mense getuig dat hulle van binne verander is, op maniere wat hulle nie hulself kan verander nie, toe hulle Jesus in hulle lewens ingenooi het.

As mense verander na so ‘n Jesus-innooi-gebed, (op maniere wat hulle nie hulself kan verander nie) kan mens aanneem dat iemand die gebed gehoor het, en die verandering begin bewerk het. Aangesien dit gebeur wanneer Jesus Christus ingenooi word, kan mens aanneem die hoorder is Jesus Christus.

Hoe is dit moontlik, want Jesus Christus is ‘n eerste eeuse karakter, en volgens ons ervaring van mense moet enige man wat destyds geleef het al byna 2000 jaar dood wees? Wel, dan is dit seker logies om aan te neem die Nuwe Testament is reg, dat Jesus lewe en vir ons intree. En as Jesus nog lewe, dan is lewe na die dood ‘n feit.

Oeps! Alweer ateïste se logika

Die ateïs George Claassen is onlangs genooi om die (omstrede) teologie fakulteit van die UP te open. Volgens Hennie Mouton in “Juig”:

…die tragiese is, dat George Claassen nie net evolusie gepropageer het nie — hy het geloof in God en God self blatant aangeval. Hy het by implikasie beweer dat moderne wetenskaplikes, onder andere Charles Darwin, groter gesag as die Heilige Gees het. Sy redenasie was eenvoudig — die evolusionistiese wetenskap het die Bybel verkeerd bewys, Christene glo dat die Heilige Gees die Bybel geïnspireer het, en daarom weet moderne wetenskaplikes meer as die Heilige Gees en het dus hoër gesag. Dit is nou ingeval die Heilige Gees bestaan – wat Claassen in elk geval nie glo nie.

Ek weet nie wat Claassen vertel het om “die evolusionistiese wetenskap het die Bybel verkeerd bewys” te regverdig nie. Sulke “bewyse” skiet gewoonlik sleg tekort, en klink net oortuigend as jy nie daaroor nadink nie. Rosalind Franklin het byvoorbeeld al hier vertel:

die sterkste bewys [vir evolusie, teen skepping] die menslike genoomprojek wys aan ons dat die mens nie uniek “geskape” is nie, maar gene besit wat sover as 500 miljoen jaar gelede ook in ander organismes gevind is. Ons deel selfs gene met visse en honde en talle ander organismes.

Komponente wat hergebruik word is natuurlik geen argument teen ontwerp nie. Ontwerpers hergebruik dikwels komponente. ‘n Argitek gebruik nie net gereeld sement, bakstene en vensterglas in byna alles wat hy doen nie, hy hergebruik ook goed soos die standaardhoogte van plafonne, die standaardgrootte vir deurkosyne, en 90-grade-hoeke. ‘n Programmeerder van rekenaarspeletjies gebruik stukke rekenaarkode oor en oor. (In my opinie het mense wat reken dat sekere wetenskapfeite onversoenbaar met sekere Bybelfeite is, gewoonlik ‘n wanbegrip van óf die Bybel of die wetenskap, maar dis net persoonlike ervaring.)

Maar kom ons veronderstel, argument’s onthalwe, Claassen se aanname is reg, dat hy onbetwisbaar bewys het dat Genesis onversoenbaar met wetenskap is.

Selfs dan is die aangehaalde argument nie waar nie. ‘n Veronderstelling wat Claassen daar gemaak het, sonder om dit te noem, was: “Die Heilige Gees se doel met die Bybel was om ons alles wat Hy weet te vertel oor die natuur en niks wat Hy weet uit te laat nie.” Want as die Gees ‘n ander doel gehad het, en minder as alles wat Hy weet in die Bybel laat neerskryf het, is die aanname verkeerd dat die Gees minder weet/ minder gesag het as moderne wetenskaplikes.

Weereens hou ongelowiges se argumente teen God nie water nie.

————————————–

Naskrif:

  • Sien Claassen se kommentaar -en my antwoord daarop – vir hoe Claassen nie sy “die Bybel is ‘n onbetroubare boek” wil of kan staaf nie.(Uit sy vraag, dink ek dat Claasen dalk onbewus is dat Jesus ‘n werklike historiese karakter is wat deur sekulêre geskiedkundiges erken word.) Sien “Ek sien foute in die Bybel, wat nou?” vir waarom, selfs as daar foute in die Bybel sou wees, dit nie die einde van Christenskap moet wees nie.

  • Ander kommentaar oor Claassen-stellings hier (veral die naskrif) en hier.

Die Christendom se onlogiese, onredelike kritici

Jaco Roux skryf in Beeld ‘n brief wat ek hier woordeliks gaan aanhaal. My kommentaar verskyn in rooi, tussen sy woorde. Let op hoe hy homself die reg gun om te praat, maar hy gun dit nie vir mense wat die teenoorgestelde as hy dink nie. Hy mag met die media praat-en hy doen dit- maar die opposisie moet volgens hom wegkruip en stilbly :

Ek wil net ’n paar goed sê oor die artikel wat verlede week op Beeld se voorblad verskyn het oor die moontlikheid dat MultiChoice ’n pornografiese kanaal die lig gaan laat sien.

As so ’n kanaal wel begin gaan word, sal ek dit self nie kyk nie omdat ek geen plesier daaruit sal put nie, maar dit is steeds vir my belangrik om te weet dat ek die vryheid van keuse het om dit te kyk as ek dit sou verkies. Jy wil dit nie kyk nie, maar jy wil die geleentheid hê om dit te kyk. Ons verstaan. Ons glo jou.

My vraag aan die mense wat die pornografiese kanaal so vurig teenstaan, is: Hoe dink julle wie is julle? Het iemand julle as morele polisie aangestel?

Ek is eerlikwaar siek en sat vir hierdie “Christene” wat rondloop en kerm oor alles wat nie aan hul morele standaarde voldoen nie.

Argument van gevoel. Ander mense is siek vir pornografie, of siek vir mense wat kerm soos wat Jaco nou kerm. Hoekom moet enigiemand hulle steur aan waarvoor Jaco Roux siek is? Of waarvoor die anti-pornografie mense siek is? Sowel Jaco as die anti-pornografie brigade moet beter redes gee as “ek is siek vir …” as hulle mense wil beïnvloed.

Hulle dink die wêreld behoort aan hulle en hulle voel vere vir ander mense se sienings en gelowe.

En jy, Jaco? Dink jy die wêreld behoort aan jou en voel jy vere vir die porno-teenstanders se sienings, geloof en selfs vryheid van spraak?

Die argument dat die pornografie kinders gaan beïnvloed, is sommer twak.

Jy as ouer moet mos weet wat jou kinders kyk. Dit is ook hoekom DStv ’n funksie het waarmee ouers sekere programme kan blok.

So, die argument dat gewere mense kan doodmaak is twak, want ‘n geweer het ‘n veiligheidsknippie en kan in ‘n kluis gebêre word? As pornografie op TV is, sal dit soms deur kinders gesien word. Pornografie het ‘n negatiewe effek op kinders. En selfs as Mev. Toegewyde Gelowige nie haar kinders in haar huis laat pornografie kyk nie, gaan hulle by die skool beïnvloed kan word – en selfs mee gelol word- deur ander kinders wat dit wel kyk en wil eksperimenteer.

So hou jul prehistoriese sienings vir julself …

Dus, jy mag jou siening met koerante deel, maar ander mense moet hulle sienings vir hulself hou? En voor jy die Christene se sienings prehistories wil noem, skuld jy ons ‘n argument wat minstens wys dat die teenstand teen pornografie ‘n ouer idee is as die nie-teenstand daarteen. (Dis natuurlik logies onmoontlik, want daar moes eers porno gemaak word – en gebruik word deur goedkeurendes – voor enigiemand hulle daarteen kon uitspreek.)

… en gaan kruip weg in jul kerke sodat julle teen hierdie groot, slegte pornografiese wêreld van ons beskerm kan wees.

Jaco, gaan kruip weg in jul porno-teaters sodat julle teen hierdie groot, slegte Christelike kerk van ons beskerm kan wees. (Nee, ek bedoel nie daardie laaste sin nie. Dis net ‘n manier om jou te wys wat jy gesê het.) Die Christendom is nie wegkruipers nie, maar sout en lig. Ons kan nie eenkant gaan wegkruip nie.

Is ‘n akker ‘n eikeboom?

Daar is ‘n aborsie-argument wat só lui:
 
Is an acorn an oak tree?
Bedoelende dat ‘n embrio nie ‘n mens is nie, maar ‘n “potensiële mens,” soos ‘n akker ‘n potensiële eikeboom is.
Maar waar trek mens dan die streep? Is die heel eerste groenigheid wat bo die grond uitsteek as ‘n akker geplant is ‘n eikeboom? Nee, dit is nie. Volgens daardie argument sal ‘n pasgebore baba ook nie ‘n mens wees nie. Op watter punt tussen die sagte groen plantjie en die groot boom word dit ‘n eikeboom?

Akker staan teenoor eikeboom soos embrio teenoor volwassene. Nie soos embrio teenoor mens nie. Akkers is nie eikebome nie. En embrios is nie volwassenes nie. Maar menslike embrios bly mens.

Aborsies is nie veilig nie

Ek lees gister die woorde op ‘n advertensie: SAFE ABORTIONS
Veilige aborsies? Mens kry ewe min ‘n veilige aborsie as ‘n veilige galgtou of ‘n veilige elektriese stoel. Die punt van ‘n aborsie is om dood te maak. Dit maak dit die presiese teenoorgestelde van veilig.

Ek sien “foute” in die Bybel! Wat nou? Deel 2 – ‘n Strategie om te weet wat die Bybel leer

 Vervolg van hier.

In die eerste deel hiervan het ons gekyk na die saak wat meer belangrik as Bybelse foutloosheid is. Dis natuurlik ‘n voordeel as gelowiges glo dat die Bybel onfeilbaar is. Dit maak leer van God soveel makliker. Maar hoe kan ‘n gelowige eerlik toets of iets in die Woord, wat vir hom onwaar lyk, waar is – of nie?

 Wat doen ‘n gelowige as dit lyk of die Bybel iets onwaar sê?

 Daar is twee soorte mense wat foute in die Bybel raaksien: Die eerste soort dink dat hulle slimmer as die Bybel is en dat hulle sopas iets in die Bybel verkeerd bewys het. (Dis natuurlik nie vanselfsprekend dat die res van die Bybel ook verkeerd is, as daardie ding verkeerd is nie. En nog minder dat dit, soos die skrywer wat ek in die eerste deel aanhaal beweer, geskryf is “om mense te manipuleer.” Die denkende mens sal nie val vir daardie skrywer se redenasie nie.)

 Die tweede soort mens dink dat die Bybel slimmer as hulle is en dat hulle sopas iets in die Bybel gesien het wat hulle nog nie verstaan nie. Dit wat in ons beperkte begrip na ‘n fout klink, is nie noodwendig ‘n fout nie. Jy verstaan byvoorbeeld dalk nie hoekom die Nuwe Testament van God se enigste Seun praat, en later van baie kinders van God nie. Wel, die meer letterlike vertalings praat van God se eniggebore (“only begotten”) Seun -Sy enigste biologiese kind- en alle vertalings praat van hoe God baie mense aanneem tot kind. Een biologiese kind en baie aangenome kinders is nie teenstrydig nie.

Nou ja, die soort mens wat glo dat hy alles weet, leer niks nuut nie. Die een wat reken dat hy dalk nie alles weet nie, sal darem luister en so nou en dan iets nuuts leer.

 Hoe leer die gelowige wat ‘n teenstrydigheid of probleem teëkom in die Bybel dit wat hy nog nie verstaan nie?

 1) Kyk wat presies die Bybel regtig sê.

As jy dink aan of hoor van iets in die Bybel wat nie reg klink nie, lees presies, uit die Bybel self, wat die Bybel regtig in daardie vers en om dit sê.* As jy bv. iets onwetenskaplik sou sien in die raad wat Job se vriende hom gee – God self het Job se vriende se raad afgekeur. Die woorde van Job se vriende is nie die Bybel se boodskap nie.

Heelwat Bybelprobleme kan opgelos word deur net die Bybel se gedeeltes oor die saak te lees. Byvoorbeeld: Hoekom praat die ou Testament van “ ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n lewe vir ‘n lewe?” en Jesus keur ” ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand” af? Jy het nie eers nodig om te weet van rituele wetgewing wat in die Nuwe Testament nie meer tel nie om daardie een te verstaan nie. As jy die relevante dele lees, sien jy dat eersgenoemde van die Israelitiese regstelsel in die Ou Testament praat. ” ‘n Oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n lewe vir ‘n lewe” was die regte vonnis vir moord en party soorte aanranding. Wanneer Jesus in die Nuwe Testament dit noem, vertel hy nie regters om anders te vonnis nie. Hy praat met gewone, wraagsugtige mense. Jesus wys uit dat hulle blitsvinnig daardie vers aanhaal om hulle wraaklus te regverdig- en Hy is daarteen.

 2) Gebruik naslaanbronne

 As jy ‘n teenstrydigheid in die Bybel teëkom, beveel ek jou aan om die drie naslaanbronne in die 2de paragraaf van hierdie artikel se deel 1 te gebruik.

 As dit ‘n ander soort fout is, of as daardie bronne nie werk nie, probeer om te kyk wat ‘n soekenjin daarvan sê. Tussen die hele liggaam van Christus wêreldwyd is daar sekerlik mense wat al voor jou oor jou probleem gedink het. Veral in Engels is daar talle bronne beskikbaar oor byna alles wat met geloof te doen het. Gebruik die soekterme “apologetics” en jou probleem in Engels, byvoorbeeld “apologetics one Son of God many sons of God.”

 3) Vra iemand wat die Bybeltale ken

 Vra jou predikant. As hy Grieks (Die oorspronklike taal van meeste van die Nuwe Testament) en Hebreeus (Die oorspronklike taal van meeste van die Ou Testament) ken en jy nie, is die kanse alreeds goed dat hy iets sal verstaan van die gedeelte, iets wat nie maklik vertaal nie. En selfs as sy veeltaligheid nie die antwoord gee nie, is die kanse goed dat hy meer bronne tot sy beskikking het as jy.

 4) Onderskei feite van spekulasie

Met dinge waar dit lyk of die Bybel en wetenskap mekaar weerspreek, moet jy eers kyk na die aanvaarde Earth rotating face we see away from sunwetenskapfeite – nie spekulasie nie. Daar was byvoorbeeld ‘n tyd wat mense gespekuleer het die “steady state theory” is dalk reg, dat die heelal nie ‘n begin gehad het nie. Daardie tyd het mense gespekuleer dat Genesis 1:1 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” – nie wetenskaplik waar kan wees nie. Vandat die Big Bang teorie ingekom het, is daardie stuk kritiek grootliks op ‘n einde. As jy weet of iets wetenskapfeit of wetenskapspekulasie (geskiedenisfeit of geskiedenis- spekulasie is), kyk jy wat die beste moontlike Bybel-interpretasie is. Byvoorbeeld, in Josua staan die son en maan het stil gestaan om ‘n lang dag te maak. Tegnies, weet ons, sal dit nie die son nie, maar die aarde wees wat moet ophou roteer vir ‘n lang dag. Maar is “kyk, dis verkeerd!” die beste interpretasie? Selfs vandag nog praat ons van ‘n mooi sonsondergang, terwyl die son nie regtig ondergaan nie. “Sonsondergang” of “die son het nie ondergegaan nie” is ‘n waar idioom, maar nie ‘n letterlike waarheid nie. Die Bybelskrywers lieg nie, en die Bybel is nie onwaar, as die Bybelskrywers in hulle eie idioom eerlik vertel wat hulle gesien het nie.

——————–

 Naskrif: Sien ook Do the Facts Matter? vir Greg Koukl se perspektief oor skrif-foutloosheid. Hy reken dis waar, maar werklik nie die belangrikste ding om te verdedig nie.

* Dalk is hier iemand wat nou vra “en hoe weet ek waar in die Bybel om ‘n gedeelte te kry?” Wel, leer om ‘n konkordansie te gebruik, dis iets soos ‘n woordeboek. E-sword is ‘n gratis konkordansie wat jy op die Internet kan opsoek en aflaai. (Ander onderwerp: Dit is ‘n vreeslike tragedie dat iemand deur hoërskool-Sondagskool of kerk-jeugbyeenkomste kan gaan sonder om ‘n konkordansie te leer gebruik. As jy by tienerwerk betrokke is, probeer asseblief om hulle ten minste die gereedskap te gee om die Bybel te verstaan. En dit sluit hoe om ‘n konkordansie te gebruik in.)

Ek sien “foute” in die Bybel! Wat nou? Deel 1-‘n Foutlose Bybel nie die kernsaak

‘n Ongelowige vertel my nou onlangs:

Een fout is genoeg om te bewys dat dit (die Bybel) mense werk is. Geskryf van mense om mense te manipuleer. So maklik…….

 Hy reken Josua se lang dag-storie is so ‘n fout. Die verhaal vertel dat God die son (en maan) laat stilstaan het. Met kennis van sterrekunde wat nie in Josua se tyd beskikbaar was nie, weet ons dat, om ‘n lang dag te maak, dit eintlik die aarde is wat moet ophou draai.

 Omtrent ons almal het al dinge in die Bybel gesien wat moeilik is om te glo, of wat teenstrydig lyk met ander verse in die Bybel. Die kanse is dat jy al dinge gesien het wat nie naastenby so maklik oplos as die oppervlakkige “fout” van hierdie geloof-kritikus nie. Hoe hanteer die gelowige dinge in die Skrif wat verkeerd lyk? Is dit irrasioneel om te bly glo as die Bybel lyk of hy foute het?

 Daar is natuurlik verklarings vir meeste van die Bybel se sogenaamde teenstrydighede (hier, hier en hier is goeie naslaanblaaie daaroor), maar wat as jy ‘n fout sien wat jy nie kan versoen nie?

 Die kern van Christenskap is nie skrif-foutloosheid nie

Sou dit werklik, logies, die einde van jou Christenskap moet wees as jy eerlik moet erken die Bybel lyk nie foutloos nie?

Nee. Dink bietjie daaroor. Het die eerste gelowiges, byvoorbeeld die nie-Jode wat na Paulus se getuienis geluister het, geglo in ‘n foutlose Bybel (“scripture inerrancy”)? Well, vir een ding was 1/3 van die Bybel nog nie eers geskryf nie. En die nie-jode het hulle nie eintlik gesteur aan die 2/3 wat reeds geskryf was nie.

Wat hulle gehad het, was getuienis oor ‘n man genaamd Jesus, wat sekere goed gedoen en gesê het, wat op ‘n kruis dood is en weer lewendig geword het. As die algemene inligting oor Jesus waar was, as die breë details van waaroor Christenskap gaan dan oortuigend is, is dit al wat nodig is. Paulus het die skrif geken, maar nie by Genesis begin preek nie. Hy het by Jesus begin.

Die kerk se fondament is die waarheid van Jesus en dus die bekering en nuutmaking wat hy gee. Baie van sy leiers het al vandaar af na skrif-foutloosheid beweeg nadat die kerk hoe lank omgegaan het met die 66 boeke van die Bybel. Maar skrif-foutloosheid is nie die basis waarop Christenskap rus nie.

Maar, vra jy dalk, as die skrif nie (noodwendig) foutloos is nie, hoe weet ons dat Jesus was wie die Bybel sê hy was? Wel, twee van die 4 Bybelse biografieë oor Jesus (beter bekend as 4 evangelies), Matteus en Johannes, is deur dissipels geskryf wat Jesus goed geken het, en een, Markus, waarskynlik deur Petrus se sekretaris. Lukas het gepraat met ooggetuies, (en na bewering afgeskryf uit ‘n Q-dokument wat nog nader aan die tyd van Jesus was,) en sy boek was waarskynlik in 62 of 63 die derde evangelie om geskryf te word.

Hulle het goed geskryf wat nie jare later moeilik is om helder te onthou nie- as ek ooit op ‘n skip was in ‘n storm, en iemand vertel die wind om te kalmeer, en die see word ewe skielik spieëlglad, sal ek dit nie vergeet nie. As iemand my vertel dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is, dan sal ek dit net kan vergeet as sy ordinêre gedrag so ‘n stelling belaglik maak. Selfs dan sal ek dit dalk onthou as opperste vermetelheid.

En ons praat van mense wie se kultuur hulle goed geleer het om te onthou. Hulle moes kleintyd die eerste 5 Ou Testament boeke uit hulle koppe leer – hoeveel van vandag se kinders en grootmense se memoriseer-talent is so goed ontwikkel? Jesus se dissipels het nie net ‘n van kleins af ingeoefende memoriseertalent ontwikkel nie, hulle het ook ‘n drie jaar internskap saam met Hom geloop waar hulle Sy woorde ingedril is, waar hulle dit oor en oor gehoor het, waartydens hulle uitgestuur is vir kort sendingreise waarvoor Jesus hulle geleer het wat om te sê. En hulle het goed vertel wat mens nie sou opmaak oor Jesus nie.

 Omdat die sentrale feite van Christenskap soveel geskiedkundige bewyse het, beveel Bybelgeleerdes soos William Lane Craig en Gary Habermas byvoorbeeld ‘n Minimale Feite Benadering aan – hulle reken dat mens Christenskap kan verdedig met net ‘n paar deeglik bewese feite.

En die bekering waarvan die Bybel praat, maak in talle mense van alle kulture die verskil waarvan die Bybel praat – ‘n verskil wat die bekeerde nie kan verstaan of verklaar nie, wat bekeerdes soos ek weet nie uit onsself kom nie. Want ek het presies voor my bekering ook gewerk aan daardie eienskappe wat by bekering verander het. Ek was baie onsuksesvol met die verander van my selfsug en buierigheid. Toe ek die taak aan God oorgee, het ek opgehou probeer- en God was baie suksesvol met die verander van my selfsug en buierigheid! Nou, as die bekering wat so belangrik in die Nuwe Testament is, dan so akkuraat beskryf word in die nuwe Testament, so presies net soos wat in lewens oraloor die planeet gebeur as hulle beheer van hulle lewens aan God oorgee, dan is bekering waar.

Selfs as daar iewers foutiewe geskiedenis in, sê maar, 1 Kronieke, sou wegkruip, of as Matteus nie al die vroue noem wat daardie Sondagoggend vir Jesus wou gaan balsem nie, maak dit geensins die kern van die Bybelboodskap minder werd nie.

Deel 2 volg hier.

Waag dit om te dink – oor “hulle” (Deel 1)

Bysteek het my vriendelik uitgenooi na die webblad “Hulle.” Die webblad gaan oor godsdiens se plek in skole. Dit open met die Woorde “AVB Waag dit om te dink.” Nou ja, ek neem daardie uitdaging aan. Hier gaan ek dit waag om te dink oor AVB se bewerings op bladsy een van die Hulle-webblad. Alle aanhalings wat ek maak sal van daardie bladsy af kom.

Skole, veral Afrikaanse skole, gaan steeds voort met die Calvinistiese gebruike van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat ‘n oordrewe ras- of geloofs-gebaseerde nasionalisme in kinders se koppe inprent en hulle wêreldbegrip verarm.

Verkeerde begrip: Ras-gebaseerde nasionalisme, selfs geloof-gebaseerde nasionalisme, is nie Calvinisties nie. Die skrywer van hierdie stuk moet gaan opkyk wat Calvinisme beteken.

Kort bewyse: Hulle-webblad moet bewys dat (veral) Afrikaanse skole ‘n “geloofs-gebaseerde nasionalisme” in kinders se koppe inprent. Ek glo baie skole leer geloof, maar hy moet bewys dis ‘n vorm van nasionalisme.

Kort bewyse: Hulle-webblad moet bewys -nadat hulle bewys het die “Calvinisme”, en die “geloofs-gebaseerde nasionalisme” (twee verskillende dinge) albei in skole geleer word – dat hierdie dinge wel die kind se wêreldbegrip verarm en nie ‘n ekstra idee is wat die kind se wêreldbegrip verryk nie.

Ander nota: Aha! Ek het gedink dat dit nie gaan oor bv. skole met ‘n Moslemgrondslag nie- hierdie is ‘n manier om Christenskole en Christene te by te kom. Dis nie oor gelykheid, ongeag wie tans bevoordeel word nie, dis spesifiek gemik teen Christene- en dit word al in paragraaf twee erken.

Dit ten spyte van wetgewing (sien Skakels-bladsy) wat voorskryf dat openbare skole op staatsgronde …..alle kinders en hulle gelowe gelykmatig moet respekteer

Kort bewyse: Ek kan nie sien waar dit staan dat skole (onderwysers) alle kinders se gelowe gelykmatig moet respekteer nie?

Verwarde gedagte: Dis ‘n eenvoudige feit dat niemand alle idees oor geloof gelykmatig respekteer nie. Ongeag of jou wêreldbeeld Hindu, Christen, of sekulêr humanisties is, jy het meer respek vir dit wat jy glo as vir dit wat jy onwaar vind. Dis nie net die geval met godsdiens nie- as jy bv. glo sekere politieke beginsels sal die land ‘n beter plek maak, het jy meer respek vir daardie politieke gelowe as vir teenoorgestelde politieke gelowe. Mens kan nie alle standpunte/ gelowe ewe veel respekteer nie. Ek verwag dit van niemand. Ek verwag van myself, en is bly as ander mense ook so maak, om alle mense, ongeag wat hulle glo (oor God/gode, oor politiek of oor wat ookal) met respek te behandel.

Ons het hier te make met ‘n politieke teologie wat vinnig, ook met die oog op opkomende munisipale verkiesings en die franchise-benadering van die opsweep-kerke, vir eie gewin uitgebuit word. Hierdie polities-geïnspireerde inmenging…

Onwaar: Hierdie is nie vir my, wat oor die saak praat, ‘n politieke teologie nie. Ek glo bloot daarin om dit wat mooi is en ‘n bewese positiewe verskil maak– wat ek al in kinderlewens beleef het- met kinders te deel. En die gelowige onderwysers waarmee ek al gepraat het het nie een politieke, nasionalistiese ideale nie, en hulle belewenis van wat nou gedoen word het niks te doen met die komende verkiesing nie.

Onwaar/ grootliks onwaar: Kerke kan nie ‘n franchise-benadering volg nie, want die meerderheid kerklidmate maak geen geldelike gewin uit kerkbetrokkenheid nie. En talle van die mense wat wel hulle salaris by ‘n kerk kry, kan meer maak buite die kerk met dieselfde vlak van opleiding. Dis ook onlogies om op godsdiens in skole te fokus as jy aan eie gewin dink: Kinders gee nie kerkbydraes nie. En mense gaan waarskynlik nie na jou kerk stroom oor jy meer oor die saak sê as hulle pastoor nie….

het tot gevolg dat kinders steeds in ‘n omgewing van religieuse apartheid opgroei,

Byna vansefsprekend, maar teenstrydig met AVB-doelwitte elders: In enige omgewing waar kinders van hulle geloof leer, hetsy kerk of moskee of by ‘n soortgelyk-denkende onderwyser, en waar kinders van ander gelowe dit nie hoef by te woon nie, word ‘n soort “religieuse apartheid” geskep. As ‘n kind sekulêr grootword, terwyl ander kinders om hom ‘n tempel of moskee of kerk bywoon, is hy ewe veel deel van ‘n “religieuse apartheid” van ander kinders. Die enigste manier ,, waaraan ek kan dink, om “religieuse apartheid” te keer, is deur alle kinders te dwing om saam te gaan kerk toe, én moskee toe, én tempel toe. Is dit wat die hulle-webblad se skrywers wil hê? Klaarblyklik nie, want Dirk Koekemoer vertel elders op die webwerf: ” Ek wonder net somtyds hoekom mense dink die AVB is teen godsdiens. Die hele beweging het dan begin omdat ons voel dit is die ouers se voorreg om godsdiens aan hul kinders oor te dra en om seker te maak dat hul kinders nie deur anderster leringe gekonfronteer word terwyl hy/sy nog op graad een sit nie.” Watter een is waar, AVB? Wil julle religieuse apartheid keer, en kinders aan alle gelowe blootstel? Of wil julle juis religieuse apartheid sien, met kinders wat nie aan ander leerstellings blootgestel word nie?

(Word vervolg.)

Oor skeptisisme en sosiale wetenskap, religie en ruimtereise

Science flies man to the moon. Religion flies man into buildings.

Ons kan gerus skepties wees oor sulke slagspreuke. Die eerste probleem met daai stelling is natuurlik dat wetenskap (en tegnologie) mense wel in geboue invlieg, in presies dieselfde opsig as wat wetenskap (en tegnologie) mense maan toe vlieg. Dis wetenskap wat die mens laat vlieg het, wat uitgewerk het dat ‘n gebou deur ‘n vliegtuig vernietig kan word. Wetenskap verskaf die tegnologie en vermoë vir albei.

En politiek is ‘n vername rede waarom albei hierdie dinge gebeur het: Die eerste maanreise was tydens die koue oorlog ‘n (baie duur, vir die belastingbetaler) manier van spiere wys, en 9/11 gaan oor politiese sake soos die verdrukking van die Palestyne, asook die Amerikaanse en Britse steun aan Egipte en Saudi-Arabie. Alle oorloë word deur politiek en regerings veroorsaak, maar die oorgrote meerderheid oorloë het nie godsdiens onder die oorsake nie.
Waarom kry wetenskap eer as iemand op die maan land, maar kry hy nie nie skuld as iemand hom gebruik om atoombomme te maak of vliegtuie in geboue vas te vlieg nie? As jy wetenskap bedank vir die “goeie” dinge waartoe hy die vermoë gee, moet jy hom mos kritiseer vir die slegte dinge waarvoor hy die vermoë gee?

 

Wetenskap is nie iets om te verafgod nie.Wetenskap kan fantastiese of aaklige gevolge hê. Wetenskap alleen kan ons nie in ‘n utopia inlei nie. Om onkrities lof aan wetenskap te gee, is ‘n vorm van scientisme, ‘n religie wat teen alle rasionaliteit ingaan. Die regte gesindheid in die mens is nodig om wetenskap, of watter nuttige ding ookal, reg aan te wend.