Tag Archives: Los gedagtes

Van paddas en kookwater en praat en doen

Eendag op laerskool het ‘n onnie my ‘n storie oor ‘n padda vertel. Hy het gesê dat as mens ‘n padda in kookwater sou gooi, die padda dadelik sal uitspring en oorleef. Maar gooi ‘n padda in ‘n pot louerige water wat op ‘n stoof staan, en die padda sal daarin bly rondswem. Die water sal warmer en warmer word. Die padda sal nie uitspring nie. Op die ou end sal die padda dood kook.

Soms dink ek baie Suid-Afrikaners is soos die padda: Ons aanvaar dinge te maklik, oor hulle stadig verander. Ons spring nie uit nie. Nee, ek sê nie ons moet noodwendig uit SA “spring” nie. Ek sê dat ons soms uit onbillikheid en swak diens kan spring as ons net saamstaan en werk maak daarvan. Hier is so paar voorbeelde:

      Universiteite hoor dat hulle meer swart studente in verhouding tot ander rasse moet aanvaar in sekere rigtings. Hulle verlaag toelatingstandaarde vir swart studente en verhoog dit vir wit studente. Om verskillende standaarde vir verskillende rassegroepe te hê is rassisme! (Die stereotipering van “Swart + Agtergeblewene” in regstellende aksie is ook rassisties. Party swart mense het, nes party blankes, meer geleenthede as ander gehad.) Universiteite kan natuurlik saamstaan en nie onder kwotas swig nie, maar druk op die regering uitoefen om te befonds waar die mees verdienstelike studente – van alle velkleure- die beste opvoeding kry.

      My stad se waterpype bars en vat hoe lank om reggemaak te word, die paaie verval, daar is plekke waar rioolpype stukkend is, die brandweerwaens raak onrybaar. Nogtans doen bitter min van my stad se mense selfs die moeite om te stem in munisipale verkiesings.As helfte van die mense wat kla die moeite doen om te stem, en almal van hulle stem vir ‘n ander party as die een wat tans ons raad beheer, het ons na die volgende verkiesing ‘n ander stadsraad.

      Ek lees in ‘n plaaslike koerant ‘n ouer kla: Seuns wat nie eers in sy kind se skool is nie, word ingesluit in die rugbyspan en geborg vir rugbytoere, oor daardie seuns swart is. Nou ja, onderwysers en ‘n skoolhoof wat sulke gruwelike onregverdigheid toelaat en bevorder kort ruggraat.Hoofde en onderwysers moet saamstaan: Tot hier toe en nie verder nie.Ek spring uit hierdie gekkespul deur my skool se leerders regverdige kanse te gee. Maar hulle gewetes word afgestomp tot op die punt waar regverdigheid teenoor hulle leerders vir hulle onbelangrik is. (En dit sal seker deurslaan na ander dinge ook? ‘n Onderwyser wat nie meer omgee vir sy studente nie, sal seker nie omgee of hy ‘n kwaliteit-opvoeding gee nie?)

      Ouers kla ook oor dissipline-lose skole en skole wat op alles behalwe akedemie konsentreer. Ervare onderwysers verlaat (spring uit) die beroep oor hulle nie meer kans sien vir wat deesdae by skole gebeur nie. Dit wil vir my voorkom of daar plek is vir ‘n nuwe soort privaatskool in Suid Afrika. Nie ‘n rykmanskind-skool met die beste en duurste geboue, toerusting, ens. nie. Hoër- en laerskole wat bedryf word op dieselfde grondslag as meeste kleuterskole: ‘n ‘n Plek wat bestuur wor deur ‘n onderwyser(es), in watter huis of gebou kamers in klaskamers omskep kan word, wat volgens daardie onderwyser(es) se diskresie soveel kinders toelaat as wat hulle kan hanteer, onderrig en veilig hou. As ouers bitter ontevrede is met skole, en onderwysers so ongelukkig dat hulle skole verlaat, waarom word sulke skole nie begin nie? Die ouers sal sê hulle begin dit nie, want ouers is nie so ongelukkig dat hulle ‘n ander soort skoolstelsel sal oorweeg nie. (Ouers, dis ‘n feit: Jou kinders gaan alreeds skool in ‘n ander soort skoolstelsel as waarin jy ‘n generasie gelede was.) Die “water” van onderwys word stadigaan warmer, en ouers besef dit nie.

      Ons almal in die land kla oor misdaad. Daar is selfs iemand wat reken as ons saamstaan kan ons meer aan misdaad doen as om te kla! Hier is ‘n webblad waar hy sy idee verduidelik.

Daar kom ‘n tyd om nie meer net te verdra wat gebeur nie. Daar kom ‘n tyd om nie net te kla oor wat gebeur nie. Daar is ‘n tyd om saam te werk en oplossings vir probleme te soek. Liewe leser, hier is bietjie huiswerk vir jou (en my- ek gaan dit ook doen): Dink aan die dinge waaroor jy onlangs gekla het. Vra jouself wat jy kan doen om dit te verander. En lig dan jou alie van jou rekenaarstoel af – en gaan doen dit.

Nooi al jou huweliksgaste vir die egskeiding?

skeikoek.jpgElders op die net vertel iemand nou die dag: “Wat ek nie kan verstaan nie die dag as jy trou moet béídé partye trou beloof………….die dag as jy wil skei is slegs één party nodig, die ander het selde indien ooit regtig ‘n sê in die saak.”

Dit bring die mense toe by ‘n bespreking uit: ‘n Paartjie beloof gewoonlik trou voor ‘n dominee/pastoor, en al hulle familie en vriende. Dalk moet mens almal wat vir die troue daar was vir die egskeiding nooi. Dan verduidelik die een wat wil skei waarom hy/sy nie meer sy/haar beloftes wil hou nie. (Hy of sy moet bly verduidelik tot die meerderheid gaste glo ‘n egskeiding is die regte ding. “Die huwelik was ‘n fout” is nie goed genoeg nie. ) Op die ou end het die mens wat nou wil skei tog ons almal wat by die troue was belieg met sy/ haar huweliksbeloftes, nie waar nie?

Het hulle die reg om nou te maak of dit nie ons saak is nie? En as mens trougeskenke moet gee by ‘n troue, moet die paartjie nie dan skei-geskenke uitdeel vir die familie en vriende by ‘n egskeiding nie?

As ‘n derde party by die egskeiding betrokke is, moet díé dalk die onthaalkoste dra?

Miskien, net miskien, sal dit mense twee keer laat dink oor die egskeiding-idee…

Wat dink julle?

Die Padda wat vir ‘n koning aangesien was

 frog6.jpg

Karakters:

Die Groot Koning

Padda N, wat op tye in die storie ‘n prins en toe ‘n koning was.

Die Groot Koning se Bruid

N se onderdane

Die minister van wet en orde 

Die Groot Koning se diensmeisie, R

– – – – – – – – – –

Eendag, nie so lank gelede, het iemand ‘n forum begin waarop die Groot Koning, en hoe om hom te dien, bespreek sou word. Baie vinnig het daar mense opgedaag wat nie die Groot Koning wou dien nie. Paddaprins N was een van hulle. Hy het ‘n gladde mond gehad en kon woorde mooier aanmekaar ryg as die ander. Die Koning se Bruid het probeer wal gooi. Sy het probeer wys dat diens aan haar Koning ‘n verstandige keuse is. Sy het probeer wys watter pragtige invloed die Groot Koning op die wêreld het. Maar die forum, wat eers beskou was as die Groot Koning s’n, het gou van karakter begin verander. Daar was nou baie wat die Koning beledig het. Hulle het selfs gesê die Koning bestaan nie. Baie vinnig het hulle hulle eie forum-koning gekry: Paddaprins N.

Party mense, soos die Groot Koning se diensmeisie R, het gesien dat N ‘n padda en ‘n leuenaar is. Maar as die Groot Koning se mense iets sleg oor Koning N (wat voorheen in hierdie storie paddaprins N was) probeer sê het, is hulle uitgeskel. As hulle by die minister van wet en orde gaan kla het oor N, is hulle geignoreer. Want sien, hoewel die minister van wet en orde gesê het hy glo in die Groot Koning, het hy wel Paddakoning N ook ondersteun.

Van die Groot Koning se mense het gedink dat N opreg en mislei is. Ander het gesien N is ‘n gladdebek bedrieër-padda, met geen respek vir vriend of vyand nie. Maar dit sou nie help om te sê “Oppas! N is ‘n padda!” nie. Paddakoning N se onderdane sal nooit die opposisie glo nie. Omdat Paddakoning N sy volgelinge wysgemaak het dat die opposisie “IDiote” is, kan mens ook nie verwag dat hulle die opposisie sou glo nie.

Diensmeisie R het eers probeer om teenstrydighede en leuens in N se hogere woorde uit te wys. Dalk, het sy gedink, sou dit Paddaprins N se onderdane wys dat hy nie iemand is om te vertrou nie. Dit het nie gewerk nie. Mense het probeer om gewelddadige stellings van N uit te wys. Dit werk ook nie. Op die ou end is diensmeisie R weg uit die land, wat nou grootliks aan N se mense behoort het. Een van haar laaste boodskappe het nog probeer waarsku dat N ‘n “werklik aaklige mens” is. Die boodskap het ‘n paar voorbeelde van N se gedrag ingehad wat haar so laat sê. Maar hoekom sou die opposisie luister?

‘n Jaar later maak diensmeisie R weer ‘n draai in die land. Sy hoor die res van die hartseer verhaal: Hoe Paddakoning N se onderdane begin het om hom met munte te gooi, uit waardering vir sy mooi stories. Hoe een van sy onderdane ‘n (problematiese) huwelik gelos het en duisende kilometers agter haar getroude Koning N aangetrek het. Hoe N haar vertel het hy is op die punt om te skei. Hoe sy ‘n nuwe blyplek gekry het en al die rekeninge betaal het wat koning N sou deel. Hoe koning N by haar geld geleen het met die belofte dat sy (baie) geld nog op pad is. Hoe koning N haar op die ou end gelos het met ‘n leë skatkis, duisende kilometers van waar sy vandaan kom. Van sy ander onderdane se skatkiste is ook leër as voor hulle hom ontmoet het.

Dit kom toe uit dat koning N reeds al vantevore bedrog gepleeg het. Die Koninklike Binnesirkel sou seker kon opspoor dat N ‘n bedrieër was as hulle die moeite sou gedoen het om dit op te soek. (Die res van Kletskerk-land sou nie dit kon opsoek nie, want N was ‘n skuilnaam- hy was eintlik D.) Maar die Koninklike Binnesirkel het die Koninklike Binnesirkel geword júís deur N/D te vertrou.

Maar die storie is nie klaar nie. Heelwat misleide eks-onderdane moet nou hulle lewens herbou. Ek hoop en bid dat (ten minste party) van hulle op die ou end besef: Mense-konings kan nie vertrou word nie. En baie van die stories wat hulle teen die regte Groot Koning en sy onderdane gehoor het, kom van ‘n gesoute leuenaar. Daar is net een Ware Koning, die Groot Koning teen wie hulle rebelleer. En hierdie genadige Koning sal hulle terugneem as hulle Hom wil volg.

Diensmeisie R sê: Ek is jammer. Ai, Karin, ek hoop regtig jy kry iewers ‘n goeie koning in jou lewe. Een wat jou sal goed behandel en met jou eerlik sal wees. Nie soos ekskoning H wat jou nie vertel het hy verkies prinse bo prinsesse nie. Nie soos die gladdebek ekskoning D (ekskoning N) wat jou met niks gelos het nie. Wat ekskoning N/D ander onderdane betref wat rede het om kwaad te wees: Ek is jammer. Nie oor D/N se projekte nie gewerk het nie. (Al sy projekte was in elk geval gemik op teenstand teen my Groot Koning, waarom sal ek hartseer wees dat dit gefaal het?) Oor julle vertroue geskend is. Oor mens onsinverklikkers mens soms nie suksesvol waarsku teen gladdebek-bedrieërs nie. Ek glo nie D se vrou en dogters sal ooit hier lees nie, maar sterkte aan julle ook.