Tag Archives: luister na ander

Dominee Tienie: Verstaan die film-makers die boodskap?

“Spoiler” waarskuwing: Hierdie blog inskrywing bespreek die einde van die film.

dstienie

Foto: IMDb

 

Dekades gelede moes ek kinderkransmateriaal aanbied oor ‘n ryk seun wat besef dat die arm seun klere nodig het wat hy te veel het. Dit het daaroor gegaan om kinders te leer gee. Eers jare later het ek besef die storie is onvolledig: Dit beeld die ryk seun as ‘n meerdere uit wat uit sy oorvloed goedheid kan gee. Dit beeld die arm seun uit as ‘n mindere wat bloot kan ontvang (en natuurlik baie dankbaar moet wees oor tweedehandse klere wat nie met hom in gedagte gekoop is nie, meer dankbaar as wat die ryk seun waarskynlik daaroor was toe dit splinternuut was).
Dit dek nie ‘n situasie waar arm mense ewe veel oor geestelike wysheid kan beskik as rykes nie, of “deel, al het jy net twee kledingstukke” nie.

Dit is so min of meer hoe ek oor Dominee Tienie voel.

Die film handel oor ‘n moeë predikant, Tienie Benade (Frank Opperman), in ‘n krimpende Moedergemeente. Sy tyd word só opgeneem deur gemeentesake dat sy familie, hoewel nog in sy huis, vervreemd begin raak. Die gemeente se verwagtings van hom en sy vrou is soms teenstrydig of onredelik.

Party tonele in die film was werklik roerend: Sy storie van bekering, sy begeerte om God te dien wat hom genoop het om te gaan teologie studeer, en sy studeerkamer-gesprek met ‘n kollega wat ook nie meer raad weet in ‘n veranderende wêreld wat nie meer die dominee se opinie soek nie, byvoorbeeld nie meer hom vra vir getuigskrifte nie… En die eindtoneel, waar di kerk almal nooi om saam te eet is treffend.

Maar het die makers van die film met swart mense en vroue gepraat oor hoe hulle uitgebeeld word? Sou ‘n swart mens daarvan hou dat die vernaamste swart karakter in die film se naam Zero (niks) is, en dat daardie naam nie eers ‘n rol speel in die film nie? Niemand vra vir Zero wat hy dink of nodig het nie, en daar word nooit ‘n woordspeling gemaak waarin dit gewys word dat Zero méér as niks is nie.

Die karakters wat hulle gekies het om wit en swart te maak in die film is grootliks realisties. Mens sou byvoorbeeld nie sommer ‘n paar van Moedergemeente se kerkraad anderskleuriges kon maak sonder om die aard van die storie (‘n gemeente wat inkyk na hulle minderheidsgroep, maar moet leer om wyer te kyk) te verander nie.

Dis realisties dat die uitgebrande dominee, sy kollega Johan, en die “cool” dominee Dirkie (genoem, nie gewys nie) al drie mans is. Die meeste predikante is inderdaad mans. (Tot 1990 was vroue nie as NG predikante toegelaat nie.) Maar die haweloses Sparky en die man wat vra of Sparky weer in die moeilikheid is, die gemeente-werknemers wat bel om ‘n inbraak/ dooie man by die kerk aan te kondig, die kerkraadslede wat hulle monde oopmaak op die kerkraadsvergaderings, die selfde-geslag paartjie wat trou, die polisielid wat hom vat om sy orrelpype in die skrootwerf uit te ken, die begrafnisondernemer, die regerings-werknemer wat kom vertel wie Sparky Jordaan was – is dit nodig dat hulle almal mans is?

Buiten vir Ester Benade (Ds. Tienie se vrou) is die vroue randfigure: Hulle word gegroet voor die kerk, die dominee kry party van sy lastige oproepe van vroue, een tannie ondersteun haar gay (manlike) susterskind, en sy dogter word uitgebeeld as iemand wie se vernaamste belangstel ‘n outjie is (Tienie se seun stel in musiek belang).

Gestremdes word op die ou end vir die ete genooi, maar speel geen rol (letterlik of figuurlik) vroeër in die film nie.

Dominee Tienie se idees oor wat om vir sy gemeente(vroeër in die film) en swaarkry-mense (later in die film) te doen kom nie eintlik van raad wat hy kry by vroue, anderskleuriges of die hawelose karakters nie.

Kortom, die beste en slegste ding wat ek van Dominee Tienie kan sê is dat dit by ‘n begin eindig: Dit eindig waar hy mense wat anders as hy is oornooi om uit hulle stories te leer. Ons hoop dat die makers van die film dan ook sal leer by diegene wat anders is, dat hulle sal sien wat mense van ‘n ander kultuurgroep, wat op ‘n ander geldelike vlak vir oorlewing stry, met ander genitalieë, of ander fisiese of verstandelike vermoeëns, het om te bied. En dat hulle volgende stories dan karakters wat nie gesonde blanke mans is nie se insette ook sal bevat – nie net as ontvangers nie, maar ook as mense wie se standpunte tel.