Tag Archives: menings

Waar en wanneer jy gebore is bepaal wat jy glo?

Ek het onlangs weer iets gelees wat ek al talle kere by ongelowiges gehoor het:
     “wat jy glo is geheel en al verbonde aan geografie, waar en wanneer jy gebore is  bepaal  wat jy glo.”

Glo mense daardie stelling, sonder bevraagtekening, oor waar en wanneer hulle gebore is? Of glo hulle dit uit persoonlike oortuiging? Moet mens regtig niemand in bv. die Afrikaanse blogosfeer enige krediet gee dat hulle uit verskillende moontlike opinies gekies het wat vir hulle die waarste lyk nie? Is al ons bloggers se opinies oor godsdiens, politiek, of ons medemens en samelewing bloot die gevolg van ons grootwordjare? En blog ons almal maar met geen hoop om iemand (gedeeltelik) na ons wêreldbeeld oor te haal nie, want hulle is elders gebore?

“Waar en wanneer iemand gebore is bepaal wat hy glo?” Hoe waar is dit? Ken jy enige jongmens wat nie die kerk hoog aanslaan nie, ondanks die feit dat sy ma diep betrokke is by haar kerk? Ken jy enige broers/ susters wat nie ewe gelowig is nie? Weet jy van enige ongelowige wat uit ‘n godsdienstige huis kom? Het jy al mense ontmoet wat beweer dat hulle tot bekering gekom het- m.a.w. begin het om anders te glo? Hoekom is daar talle Hollywood-sterre wat Kaballa aanhang, al het hulle ouers nie dit geglo nie? En talle ander Hollywood-sterre wat dit nie aanhang nie?

Wat mens glo het natuurlik nie net te doen met godsdiens nie. Jy mag dalk glo dat jou span ‘n goeie kans het om die Curriebeker te wen. (Iemand anders wat geografies naby jou gebore is ondersteun dieselfde span, maar glo nie noodwendig hulle gaan wen nie.) Jy kan glo dat kommunisme ‘n slegte/ goeie idee is. Jy kan glo dat ons land beter/ slegter daar sal uitsien oor 10 jaar. Jy kan glo dat rare vleis lekkerder as well done is, of dat iemand verlief is op jou, of dat jy ‘n goeie kans staan op bevordering. Glo jy hierdie dinge op grond van geografie? Ek dink nie so nie.

Selfs in lande wat hulself as 98% of 100% Moslem aandui, glo almal seker nie dieselfde nie. Party glo, ander gaan waarskynlik deur die motions wat by hulle kultuur inpas. En in enige kultuur waar ‘n nuwe geloof verkondig word (of dit nou New Age; of Christen-bekering; of die geloof dat daar g’n God bestaan nie is) is daar gewoonlik mense wat hulle geloof verander om by die “nuwe” idee in te pas. Hulle kies dus iets wat nie is hoe hulle gebore is of van kleins af geleer het nie.

Ek self het nie die soort geloof waarin ek groot geword het nie. My geloof het al ‘n paar keer verander: Van die soort moraliteit-gesentreerde geloof van my kleintyd wat sonder bevraagtekening aangehang is, tot agnostisisme teen ouderdom 10, tot ‘n Jesus/ wedergeboorte gesentreerde, maar ondeurdagte geloof, wat ontwikkel het na ‘n Jesus/ wedergeboorte gesentreerde geloof wat van talle kante deurdink en bevraagteken is.

Gevolgtrekking: As almal in elk geval geglo het wat hulle gebore is om te glo, sou dit sinloos om te vra dat iemand van opinie moet verander. Maar die mens is ‘n denkende wese. Hy kan self besluit, uit alle opsies wat voor hom neergesit word, wat die waarste lyk. Ek was al ‘n agnostikus, ek was voor dit ‘n wie-reg-leef-is-‘n-Christen gelowige, maar ek weet nou meer. Maar jy kan dalk anders dink. Miskien reken jy (a.g.v. waar en wanneer jy gebore is), dat ek bloot gebore is om te stry met bogenoemde idee.