Tag Archives: onderwys

Beter skole vir almal – met die minimum werk vir die staat

Ek lees nou Helen Zille wil haar beywer om skole, en geletterdheid van kinders, in die land drasties te verbeter. Ek stem saam met haar: Ons land het ‘n reuse-probleem wat skoolopvoeding betref. Heelwat skole in hierdie land kan nie eers vir kinders basiese lees-vaardighede leer nie. En iemand van 5fm adverteer op TV hy ondersteun die liefdadigheid van om een kind deur die skool te sit.

Hier is ‘n idee wat ‘n ent sal gaan om die probleem op te los. Dit behels die goeie ou vryemarkstelsel en is fantasties geskik vir ‘n land soos SA met groot kontraste tussen ryk en arm, geleerd en laag geskool. Dit behels ook die minimum moeite vir die regering.

Die regering werk eerstens uit hoeveel hulle per kind aan onderwys betaal. (Dit is, die totale onderwysbegroting, gedeel deur die aantal leerders.) Dan, as die kind nie na ‘n staatskool gaan nie, bied die regering hierdie bedrag aan vir die skool waar ‘n ouer kies om sy kind te laat skoolgaan. Dis al wat die regering doen.

En die res? Waar is die beter skole wat die kinders nodig het? Wat doen die regering om dit te bewerkstellig? Watter verskil maak dit aan die kind wat noodwendig na die enigste skool in sy buurt gaan?

Die res doen die publiek, en dan spesifiek mense met ‘n belangstelling in kinders en onderwys: Mense met ondernemingsgees en visie stig die beter skole, hulle skep werk vir die beter onderwysers.* Mens het nie miljoene rande se nuwe geboue nodig om ‘n skool te begin nie- meeste kleuterskole werk byvoorbeeld reeds uit enige soort beskikbare gebou of vertrekke wat nooit as skool gebou was in die eerste plek nie.

Selfs laag geskoolde ouers sal uitwerk waar hulle kinders meer leer- en hulle kinders soontoe stuur. Een ding wat tans die mense met visie keer om skole te begin en in die land se onderwysbehoefte te voorsien, is geld – as die regering net geld vir staatskole gee, kan hulle nie skole begin om die probleem aan te spreek nie.

Kompetisie werk vir beter produkte/ dienste in byna alles- dit behoort vir skole ook te werk.
 ——————-

*beter onderwyser – In hierdie konteks beteken dit wie ookal beter in staat is om kinders te leer, nie iemand met beter onderwyskwalifikasies nie.

Ander naskrif: Omdat heelwat kinders dan in skole sal wees wat aan sakeman-/sakevrou- onderwysers behoort, sal kinders ook meer geneig wees om ‘n voorbeeld – en lesse – te kry van hoe om ‘n entrepeneur te wees – veral in arm gebiede is dit ‘n soort blootstelling wat op die oomblik ernstig ontbreek, en daardie tekortkoming hou kinders arm.

Advertisements

Waag dit om te dink – oor “hulle” (Deel 2)

Ek let op dat die AVB die inleidende blad van hulle webwerf verander het. (Die aanhalings in my vorige pos is bv. nie meer almal daar nie.) Die eerste verandering is dat dit nou sê: “AVB waag dit om te weet” en nie meer “AVB waag dit om te dink” nie. Maar my probleem is nog steeds dat ek weet hulle praat nie die waarheid nie.

Die aanhalings is weereens van daardie webblad af:

waag dit om te weet

Maak nie sin nie: Daar is niks waaghalsig daaraan om iets te weet nie. Dit kan soms waaghalsig wees om iets te wete te kom, of om op te tree volgens wat jy weet, of dit te verkondig, maar “Waag dit om te weet” is onsinnig.

Ons leuse rakende opvoeding is eenvoudig: Leer ons kinders alles wat ons weet, maar geen van ons vrese nie.

Ja, ons doen dit/? Met die eerste helfte van die sin stem ek saam. En baie van ons (die onderwysers onder ons ook) weet- uit ervaring- dat Jesus van binne af nuut maak as mens jou lewe aan hom oorgee. En dit moet ons vir ons kinders leer, want ons weet dit. Wat die tweede helfte betref: Is ek seker dat die AVB niks van hulle vrese vir kinders wil oordra nie? Party ongelowiges het byvoorbeeld die belaglike vrees dat godsdiens oorlog gaan veroorsaak, of die vrees dat die leer van godsdiens dalk die kind minder rasioneel gaan maak. Maak die AVB seker dat hulle glad nie hulle vrese op hulle kinders oordra nie?

 Ongelukkig omseil baie Afrikaanse (gewoonlik ou model-C) openbare skole en individuele onderwysers die wette rakende godsdienste-onderrig en godsdiensinskerping wat sedert 2003 van krag is.

Kort bewyse: Skole en regsverteenwoordigers ontken dit. Hoe weet ek die AVB praat hier die waarheid, en die regsverteenwoordigers wat in koerante aangehaal word nie?

Die kern van die saak wentel daarom dat skole, veral Afrikaanse skole, steeds voortgaan met die Calvinistiese gebruik van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat ‘n ras-gebaseerde … elitisme bevorder

Onwaar: Soos ek reeds uitgewys het: Calvinisme bevorder nie ‘n ras-gebaseerde elitisme nie. Ek het ook nog nooit beleef dat godsdiens in skole ‘n ras-gebaseerde elitisme bevorder nie. (Ek vermoed dat die AVB hier oneerlik die rassekaart speel om aandag te kry van die regering.)

Julle ook: My vraag is: Deur hulself die Afrikaanse (nie Engels nie, nie Zoeloe nie) Vrye Denkers (bewering dat hulle denke superieur aan ander s’n is) te noem, bevorder hulle nie ‘n soort taal- en denke- gebaseerde elitisme nie? Hierdie saak gaan alkante toe: Almal wat ‘n opinie het reken hulle opinie is reg. Dis wat opinie beteken. As jy reken dat jou opinie (oor geloof of vrye denke of politiek of wat ook al) reg is, maak dit jou (nog) nie ‘n elitis nie. Dit geld ook vir onderwysers wat hulle opinie oor geloof verkondig.

Weens polities-geïnspireerde inmenging groei ons kinders egter steeds op in ‘n omgewing van geloofsapartheid (Geloofsapartheid = “Ons” geloof … is die “regte” een, en blootstelling van kinders aan ander “dwaalleringe” skep ‘n geleentheid vir “Satan” om die kind se siel te verlei. Sulke “heidense” “agendas” lei dan tot ‘n politieke teologie waar geloofsmotiewe verdedig word ter wille van die behoud van een of ander denkbeeldige ideaal.)

Verwarde denke: “Hulle” sê dat kinders nie in ‘n omgewing moet grootword waar ‘n idee oor geloof as die regte een voorgehou word nie. Eerstens wil ek vra: Sal hulle hul standaarde oor godsdiens ook op ander dinge toepas, soos lees of morele waardes of higiene of wiskunde? Mag geen kind geleer word dat vriendelikheid met ander kinders beter is as om hulle te boelie nie; dat die “k” klank anders uitgespreek word as die “t” klank nie, dat gereeld tande borsel beter is as om dit glad nie te doen nie; dat 1+2=3 en nie 7 nie? Hoekom op aarde moet kinders nie op skool geleer word watter idee reg is nie? Wat is die punt van onderwys as jy nie daar mag sê wat reg en verkeerd is nie? Waarom wil hierdie mense godsdiens op skool anders hanteer as enigiets anders? Skool gaan daaroor om sekere idees as reg voor te hou! En dis nie ‘n fout van skool nie, dis ‘n fout van die AVB om te dink skole moet ophou daarmee.

Kort bewyse/ onbenullig selde waar: ” polities-geïnspireerde inmenging”: Hulle moet my wys dat onderwysers wat oor geloof op skool praat polities gemotiveerd is. Want ek kan eerlik sê dat van al die mense wat ek al ooit in my lewe oor christenskap of die Bybel hoor praat het (dis baie mense) was net 2 polities geïnspireer. Dis seker so dat daar iewers in die land enkele onderwysers is wat polities gemotiveer is as hulle oor geloof praat. Maar dis nie iets om oor te veralgemeen nie.

word kennis van die wêreld en ander kulture van hulle weerhou

Non sequitur (Gevolgtrekking wat nie volg op gegewens nie): Om iemand ‘n sekere kennis te leer, beteken nie dat kennis oor ander sake van hom weerhou word nie. Ek sien absoluut geen rede waarom ‘n Christen kennis van die wêreld en ander kulture van kinders sal weerhou nie.

word ‘n ongewensde klimaat van “ons” teen “hulle” in gemeenskappe bevorder

Misleidend: Enigiets wat almal nie doen/ is nie, skep ‘n ons-hulle. “Ons” is meisies, “hulle” is seuns; ons huistaal is Afrikaans, “hulle” s’n is Zoeloe; “ons” is deel van die interskole-atletiekspan, “hulle” nie, ens. Maar ‘n ons/ hulle beteken nie noodwendig dat ons iets téén hulle moet hê nie.

Julle ook: Nota aan die hulle-webblad: As daar een manier is om ‘n ons-teen-hulle houding tussen Christen en nie-Christen te bevorder, is dit deur Christenskap/ geloof “onwetenskaplike wensdenkery” te noem. (Julle inleidingsblad het tot onlangs daardie woorde opgehad.) Ander suksesvolle manier om ons-teen-hulle te bevorder, is deur spesifiek Christene uit te sonder vir aanvalle, (julle webblad noem bv. nie enige probleme met Moslem-skole, of universiteitsprofessors wat ateïsme verkondig nie.); deur te beweer-soos julle maak- dat kinders in die donker gehou en “perdevye gevoer word” deur gelowiges; of deur “evangelisties” en verkramp in een paragraaf te noem. (Dit was ook nog onlangs deel van julle inleiding.)

nog ‘n geslag Afrikaanse kinders word onkundig gehou (en wonder later hoekom ander groepe voorkeur kry in die werksplek).

Misleidend: Die AVB probeer die indruk hier skep dat a) Afrikaanse skole akademies minderwaardig is bo meeste ander skole in die land en b) dat godsdiens die rede vir daardie minderwaardigheid is. Onwaar. Oor die algemeen is die Afrikaanse skole oraloor van die akademies beste staatskole in hulle gebied- en ek glo dis juis te danke aan die sout en lig van toegewyde Christen-onderwysers. Ons almal weet hoekom ander groepe voorkeur kry. Dis nie oor Afrikaanse kinders dom of onkundig of swak werkers is nie.

 

Om op te som: Die AVB se klagtes is misleidend en grootliks onwaar. En hoewel hulle beweer dat hierdie nie ‘n Christen-teen-ongelowig saak is nie, gee hulle webblad my die teenoorgestelde idee. Die blote feit dat George Claassen van Skepties SA die saak eerste aangeroer het, vertel my ook: Selfs waar hulle nou iets sê waarmee Christene kan saamstem, is hierdie groep se uiteindelike agenda nie iets waarmee ek kan saamgaan nie.

Gelyke geleenthede = ewe swak?

 
Nou wil die regering weer keer dat goeie onderwysers nie na skole in ryker gebiede gelok word met beter salarisse, aangevul deur gegoede ouers, nie. Die idee is só edel: “Arm kinders moet ook goeie onderwys hê.” “Onderwysers moet tevrede wees met wat hulle kry.”

Maar in die praktyk werk edel idees nie altyd nie. Bekwame onderwysers kan nog steeds oorsee hulle talente vir meer verkoop as hier, en dan het ons kinders – ryk en arm – minder onnies in die land. Of hulle kan die onderwys los vir iets meer winsgewend- en dan het ons weereens minder onnies. Onderwysers wat bekwaam kan wees as hulle hul beste gee, maar onbekwaam as hulle moed verloor (die meerderheid onderwysers) sal steeds moed verloor as daar nie aansporings (waarvan geld net een moontlike een is) is wat hulle motiveer nie. En bekwame jong mense sal, as hulle sien daar is geen verskil in die geldelike beloning vir ‘n goeie en swak onderwyser nie, minder geneig wees om onderwysers te word. Die ANC beplan nie hier om ryk en arm kinders almal goeie onderwysers te gee nie, dit is ‘n plan om ryk en arm van goeie onderwysers te ontneem.

 Is daar iets wat die ANC kan doen om beter onderwysers vir ryk en arm te gee? Ja! Begin om prestasie-gegronde bonusse vir onderwysers in te faseer.* Toets aan die einde van elke jaar waar ‘n student is met standaardtoetse, en betaal onderwysers volgens hoeveel die gemiddelde kind in sy klas in ‘n jaar se tyd gevorder het. Maak dit so dat ‘n goeie onderwyser (“goeie onderwyser” het niks met kwalifikasies te doen nie, wel met sy studente se vordering) meer uit bonusse verdien as uit sy basiese salaris. Baie gou sal meeste onderwysers goeie onderwysers wil wees, en meer bekwame, hardwerkende jongmense sal wil onderwys studeer. En voila, beter onderwysers vir ryk én arm!

 ANC, moenie die rykes keer om goeie onderwys te koop vir die kinders wat hulle liefhet nie. Wie is julle in elk geval om te wil hê dat alle goeie goed net van julle af moet kom? As julle die kinders van die land liefhet, “koop” liewer goeie onderwys vir hulle almal.

———–

* Ek besef dat dit die belastingbetaler is wat eintlik alle staatsdienswerkers betaal. Maar selfs hulle sal sekerlik eerder wil sien dat hulle geld aan eerlik berekende bonusse vir prestasie bestee word as aan salarisse vir niksdoeners?