Tag Archives: oopkop

Glo soos ‘n kind? Jy hoef nie!

Daar is heelwat gelowiges wat sê dat hulle sukkel om “soos kinders te glo.” Ek het baie empatie met daardie standpunt. Ek kan self nie glo op die manier wat hulle van praat nie. Maar verwag die Bybel werklik dat mens moet glo sonder bevraagtekening, sonder om bewyse te soek? Ek dink nie so nie. Iemand wat nie omgee of wat hy glo waarheidsgronde het of nie, kan mos net sowel in reïnkarnasie glo, of in ‘n vlieënde spaghetti-monster. Of in enigiets anders.

 Dalk is hier nou iemand wat my wil herinner: Oppas wat jy sê, Retha! Die Bybel sê ons moet verander en soos kinders word!” As jy dit antwoord, is jy reg. Veels geluk dat jy jou Bybel so goed onthou. Matteus 18:2, om meer spesifiek te wees, sê inderdaad so. Maar daardie vers sê nie mens hoef te “glo soos ‘n kind” nie.

Die dissipels het daar gestry oor wie die belangrikste is in die koninkryk. Toe vertel Jesus hulle dat hulle soos kindertjies moet word. Hy voeg nie by: “Want kindertjies glo maklik” nie. Hy voeg by dat wie homself gering ag die belangrikste is. Babatjies stry nie oor wie die duurste bababedjie verdien nie. Kleuters stry nie oor wie die belangrikste by die kleuterskool is nie.

Het jy al gesien hoe ‘n 2 of 3-jarige seerkry, en dadelik in ‘n vertrek vol mense na sy ma hardloop vir hulp? Hy hardloop na haar, niemand anders nie, want ervaring (bewyse) vertel dat sy die een is wat hom in die verlede gehelp het. Selfs kleintjies soek – en gebruikbewyse.

 

Wat sê die Bybel dan oor die saak? Mag jy jou geloof aan bewyse toets of nie?

  • * Jesus het sy bediening begin as iemand wat al klaar bewysskrifte het uit die ou Testament se profete: Daar was onder andere voorspel dat die Messias sal afstam van Sem, Abraham, Isak, Juda, en Dawid. Daar word ook voorspel dat hy in Betlehem gebore sal word, uit die vrou se saad (ander mense kom van ‘n man se saad) en dat hy vooraf gegaan sal word deur ‘n boodskapper.
  • * Deur Jesus se lewe, sterwe en opstanding het hy voortgegaan om nog profesieë waar te maak, en dus nog meer te bewys wie Hy is. Hy bewys dit ook met wonderwerke.
  • * Jesus belowe ook tekens aan die son, maan en sterre voor Sy wederkoms.(Luk. 21:25)
  • * Toe die Fariseërs vra vir ‘n teken, het Jesus wel geantwoord dat ‘n ongelowige en ontaarde geslag ‘n teken vra, en nie een gaan kry nie. (Matt. 16: 4) Maar onder die omstandighede het Hy nie verwag mense moet glo sonder bewyse nie. Jesus het immers al klaar ‘n hele klomp van die Messias-profesieë vervul, profesieë  wat die skrifgeleerdes moes ken. Hy het ook wonderwerke gedoen waarvan die Fariseërs moes geweet het.  Dit lyk of hy daarteen was dat mense net nóg en nóg tekens vra, eerder as om te begin die rigting/ persoon volg wat deur vorige tekens aangedui is.
  • * Jesus bewys sy boodskap van dood oorwin en opstanding- deur op te staan.
  • * Toe Tomas sê hy sal nie glo voor hy sy vingers in die spykermerke gedruk het nie, het Jesus hom Sy hande gewys. (Ek vermoed die verskil tussen Tomas en die Fariseërs was dat die Fariseërs verskoning gesoek het om nie te glo nie, en Jesus het dit geweet. Tomas, het Jesus geweet, sou bereid wees om vir Hom te sterf as hy net verstaan. Buite-Bybelse geskiedenisbronne vertel ons Tomas was later met ‘n spies doodgemaak omdat Hy Jesus bly verkondig het.)

Die volgelinge van Jesus sit hierdie toets-dit-aan-bewyse patroon voort na die hemelvaart: Hulle maak beroep op ooggetuie-bewyse(1 Luk. 1:1-3; Hand. 1:3; 2:22; 26:26, 2 Pet. 1:16; Joh 1:1-3.) Boonop vra Paulus in 1 Tess. 5:20-21 dat ons profesieë moet toets.

Ek beweer nie dat daar voldoende bewyse sal wees vir elke punt in die Bybel nie. Die kleuter wat na haar ma hardloop eerder as na die ander mense in die vertrek, het nie voldoende bewyse dat haar ma wel ‘n salf vir hierdie pyn het nie. Sy het wel bewyse (alles wat Mamma in die verlede vir haar gedoen het) dat haar ma sal wil help en die pyn sal wil wegvat. 

Die evangelie van Jesus kan maar met ‘n oop kop bevraagteken word. (‘n Oop kop beteken hier een wat bereid is om die bewyse te volg, waarheen hulle ook al lei. Net ‘n waarskuwing: Om bewyse te volg as hulle in die evangelie se rigting lei,  is om jou lewe in Jesus se hande oor te gee, wat ook “tot bekering kom” genoem word. Mense soos Frank Morison en CS Lewis was oopkop oor die saak.) 

As jy dus nie kan “glo soos ‘n kind” nie, moenie bekommerd wees nie, die Bybel beveel dit nêrens nie.  Glo dan maar soos ‘n volwassene. En dalk sal jy vind, as God jou Vader word, dat “glo soos ‘n kind” iets anders beteken as wat jy gedink het. En dat dit nie so moeilik is nie.

Oopkop, toekop – ‘n koppige perspektief.

Amper 2000 jaar terug het ‘n man met die naam Paulus in Griekeland aangekom. Hy was gewoond daaraan om kontroversieel te wees. Hy het selfs al met die gereg gebots daaroor. Baie mense het sy leringe gehaat. Ander was dol daaroor en het hulle lewens daarvolgens ingerig.Die oopkop Grieke vra hom dadelik: “Watter nuwe goed wil jy ons leer? Vertel, vertel!” Tussen mense wat “hulle tyd aan niks anders bestee het as om iets nuuts te of te hoor nie”- (Handelinge 17:21) het Paulus glad nie gesukkel om ‘n gehoor te trek vir sy lesse nie. Maar ondanks die baie luisteraars, was Paulus nie eintlik suksesvol in Griekeland nie. Die Grieke het Paulus gehoor, dit beskou as nog iets wat hulle gehoor het- en wou nog iets nuuts hoor. Die Grieke het almal se menings gehoor en na niemand s’n geluister nie.

GK Chesterton het gesê: “The purpose of having an open mind, like the purpose of having an open mouth, is to close it on something solid.”

Dit is vandag nog so dat jy eers iets sinvol, of iets wat jy beskou as sinvol, kan doen as jy jou kop toemaak op iets. Jy kan net ‘n suksesvolle entrepeneur wees as jy vereers jou kop toegemaak het op die idee dat sukses en geld belangriker is as middelmatigheid en min geld. As jy nie jou mind kan opmaak nie, sal jy nie eers alleen kan inkopies doen of aantrek om werk toe te gaan nie.

Jy kan net betoog vir gay regte nadat jy vereers jou kop toegemaak het op die idee dat gay regte nodig is. Dieselfde is waar vir die ander kant van die saak: Jy kan jou net beywer teen gay regte as jy vereers jou kop toemaak oor die saak. Daar is g’n rede om te dink dat die pro-gay groep oopkop en die ander groep toekop is nie.

Die deugde van oopkop wees word deesdae hoog besing. Gaaf. Maar kom ons maak seker wat oopkop beteken.

Is oopkop-wees om g’n opinie te hê nie? Dis nie oopkop nie, dis verstandelik verlam. As jy g’n opinie het oor of jy uit die bed wil klim of nie, sal jy probleme hê die oomblik wat jy wakker word. Is oopkop-wees om só min van ‘n opinie te hê dat jy jou mening verander die oomblik wat iemand jou iets nuuts vertel? Selfs die grootste voorstander van oopkop-wees verander nie sy opinie elke keer wat hy iets nuuts hoor nie.Is oopkop wees om vir niks “nee” te sê nie? Dan is oopkop wees gevaarlik en dom: “Kom ons vermoor iemand.” Ja. Kom ons drink gif. Ja.Is oopkop wees om ander mense se opinies te verdra, terwyl jy dit nie noodwendig joune maak nie? Talle liberales sal reken dis nie goed genoeg nie. En wanneer ‘verdra’ jy ‘n opinie? Eers wanneer jy boeke en berigte lees oor die opinie en kliphard daaroor dink? Wanneer jy houers van daardie opinie ‘n spreekbeurt in jou organisasie gee, al glo jou organisasie die teenoorgestelde? (Bv. om ‘n fabriek-eienaar te nooi om ‘n omgewingsbewaring-is-nie-so-belangrik-soos-om-‘n-wins-te-maak-nie toespraak by ‘n World Wildlife Fund konvensie te hou; of ‘n verskillende-godsdienste-is-maar-net-verskillende-paaie-na-God artikel te plaas in ‘n evangeliese Christelike tydskrif.) Wanneer jy nooit iets krities sê oor ‘n opinie nie? Hoekom reken die student wat wild tekere gaan by ‘n partytjie hy is meer oopkop as die student wat nie so wild tekere gaan nie? Hulle neem teenoorgestelde besluite, maar albei het ‘n besluit geneem. Nugter besluite is meer oopkop as dronk besluite- drank maak juis dat jy nie jou kop gebruik nie. En ‘n kop is seker ‘n voorvereiste vir oopkop wees, of hoe?Ek sou dink oopkop wees is om bereid te wees om opnuut te dink oor ‘n saak as jy goeie redes kry. As jy byvoorbeeld goeie redes kry om te glo sekere boeke is nie goed vir kinders nie, is dit oopkop om dit van die skole se aanbevole leeslys, of die biblioteek se jeug-seksie te wil verwyder. ( Om iets van skole se leeslys te verwyder, of na ‘n ander deel van die biblioteek te skuif, is nie soos om die uitgewer te verbied om dit te publiseer nie. Laasgenoemde bedreig persvryheid.) Oopkop wees is ook om jou ore oop te hou vir mense wat anders dink as jy, sodat jy kan hoor wanneer die opposisie goeie redes het.

Dalk wonder jy nou hoe oopkop die skrywer van hierdie artikel is? Ek is natuurlik die swakste moontlike mens om daaroor te oordeel. Te oopkop om “jy is so oopkop” vleitaal te glo wanneer mense hou van wat ek sê. Te toekop om “jy is so closed-minded” te glo wanneer mense nie hou van my opinie nie. Naskrif: Jy wat hier lees, reageer asseblief en gee jou eie definisie vir oopkop. Of antwoord enige van die vrae wat ek vra.