Tag Archives: skole

Hoe om die agterstand in die onderwys uit te wis?

Het jy al van die liefdadigheid Lapdesk gehoor? Hulle maak plankies wat op ‘n kind se skoot pas om op te skryf, oor baie Suid-Afrikaanse skoolkinders nie eers banke het nie. Tragies? Ja, absoluut.

Daar is ‘n populêre sondaar om te blameer. Apartheid. Die webblad South Africa Info vertel:

More money is always needed to address the huge backlogs left by 40 years of apartheid education. Under that system, white South African children received a quality schooling virtually for free, while their black counterparts had only “Bantu education”.

Nou ja, om in 1994 of 1996 apartheid te blameer, sou reg gewees het. Apartheid het party skole met ‘n groot agterstand gelos. Maar vandag? Kom ons kyk na syfers:

Volgens http://www.etu.org.za/toolbox/docs/development/income.pdf spandeer SA 17%van 773 biljoen op opvoeding. Dis 131, 41 biljoen per jaar.

Volgens South Africa Info het SA in die mees onlangse jaar waarvoor daar syfers is 14 167 086 leerders gehad. 2,5% van hulle was in privaatskole wat nie geld van die staat kry nie. Dit beteken dat SA R9513 per leerder per jaar aan skoolopleiding spandeer.

Met ‘n gemiddelde klasgrootte van 1 onderwyser per 31,5 leerders, beteken dit R300 000 per jaar, per klas. R300 000 minus een gemiddelde onderwysersalaris los nog steeds meer as helfte van die geld, Met, sê, R180 000 per klas per jaar, behoort dit nie moeilik te wees om ‘n klas te bou in die eerste jaar, en banke in te sit nie. In die tweede jaar kan mens boeke en toerusting koop en begin vooruit boer. Al daardie materiële tekorte kan met ‘n goed bestuurde R180 000 per klas per jaar vinnig uitgewis word.

My gevolgtrekking is dat die onderwysdepartement wanbestuur word. Daar is ‘n baie maklike manier om te sorg dat ons kinders ‘n kwaliteit-opvoeding kry. Maar die regering sal dit nie doen nie. Want dan kan hy op minder plekke die onderwysbegroting melk. En dan kan niemand die ideologie by skole beheer nie.

Advertisements

Watter soort kleuterskool moet ‘n ouer kies?

Huisgenoot vertel ‘n storie wat genoeg is om ouers koue rillings te gee. Dis van ‘n kleuterskool waar die kinders geslaan en vasgebind is:

 

 

 

 

 

 

 

As iemand wat self in my jeug by 3 kleuterskole/ dagsorgsentrums gewerk het, is my opinie as volg. Mens kan basies tussen 3 soorte kleuterskole kies:

a) Kleuterskole waar bytende, afknouende, skreeuende kinders die plek regeer, (in groen onderstreep in die Huisgenoot-artikel) en wat daarom ‘n onveilige en ongelukkige plek vir jou kind sal wees. Dis die plekke waar juffrouens nie dissipline kan handhaaf nie.

b) Kleuterskole wat, om Noreen Ramsden uit die artikel aan te haal, “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het. (in blou onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Waar stout kinders al die aandag opvat – Ramsden erken self dat lyfstraf vinniger en makliker is en ander strawwe meer tyd en aandag vat. Waar dit dus langer duur om stout kinders in te perk, en intussen sit jou kind met hulle chaos en geboelie opgeskeep. Waar die soet kind, van die tyd wat hy by die skool aankom tot hy in die middag huis toe gaan, nie eenkeer oogkontak of een sin se gesprek van juffrou kry nie.

c) Kleuterskole wat die wet oortree en kinders slaan. (in rooi onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Dikwels leer hulle ook kinders “moenie vir Ma vertel van die slaan nie” en myns insiens is die boodskap “Moenie ma vertel wat gebeur nie” baie gevaarliker vir kleintjies as enige slae wat ek al ooit by dagsorg waargeneem het.

Jy hou nie van wat jy hier lees nie? Goed, goed, dis nie heeltemal waar nie. Want kleuterskole het gewoonlik meer as een van bogenoemde 3 faktore in ‘n groter of kleiner mate teenwoordig, en ek het nog nie een gesien wat Ramsden se sogenaamde “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het nie. En dis by almal so dat kinders mekaar seermaak, en dat soet kinders geen aandag kry nie. En daar is ook ‘n ander alternatiewe vorm van dagsorg:

d) ‘n Tuisbly-ma wat haar kleuter by haar hou en die wêreld wys, die kind leer help in die huis, ‘n voorbeeld stel vir die kind van hoe om mense te behandel, hom of haar verrykende geselskap gee op ‘n vlak wat ander vier- of sesjariges nie kan nie. Waar jy self kan dophou dat jou groter kinders nie die kleintjies boelie nie. Waar jou kind nie lelike woorde leer tensy jy hulle self gebruik nie. Waar jy, as jy sou slaan, kan monitor of dit redelik en met liefde gedoen word. Waar jy kan seker maak stoutigheid is nie al wat aandag kry nie.

Ernstig, watter soort ouer los ‘n kind by iemand wat die ouer nie ken nie, sonder dat die ouer eers op ‘n dag ‘n uur lank in die hoek by die dagsorgsentrum sit en waarneem het hoe die onderwyseres kinders behandel?

Is die Afrikaanse Vryedenkers Calviniste?

Die webblad “Hulle“, van die Afrikaanse Vrydenkersbeweging is geskep om te kyk of die godsdiensbeoefening in openbare skole aan die wet voldoen. Op die 2de bladsy kla hulle hoe party skole die wet ignoreer, (hier is my kritiese ontleding van hulle bladsy 2. Sedertdien het hulle bladsy 2 aangepas met verwysings na voetnotas wat elke term verduidelik, en ‘n paar veranderings aan die woorde.)

Hulle kla onder andere oor party skole “voortgaan met die Calvinistiese gebruik van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda …” Die eerste betekenis van Calvinisme gaan eintlik oor die mens se onvermoë, volgens Calvyn, om te help met sy eie verlossing en hoe God dan red. Maar die AVB bedoel iets anders. Hulle bedoel met Calvinisme “die verstrengeling van staat en religie.”

Dit ontgaan blykbaar ons Afrikaanse Vrye Denkers dat hulle juis, soos Calvyn, die staat en wette gebruik om seker te maak dat kinders net leer soos dit by hulle idees inpas. En dat hulle teenstanders dit nie doen nie.

Beter skole vir almal – met die minimum werk vir die staat

Ek lees nou Helen Zille wil haar beywer om skole, en geletterdheid van kinders, in die land drasties te verbeter. Ek stem saam met haar: Ons land het ‘n reuse-probleem wat skoolopvoeding betref. Heelwat skole in hierdie land kan nie eers vir kinders basiese lees-vaardighede leer nie. En iemand van 5fm adverteer op TV hy ondersteun die liefdadigheid van om een kind deur die skool te sit.

Hier is ‘n idee wat ‘n ent sal gaan om die probleem op te los. Dit behels die goeie ou vryemarkstelsel en is fantasties geskik vir ‘n land soos SA met groot kontraste tussen ryk en arm, geleerd en laag geskool. Dit behels ook die minimum moeite vir die regering.

Die regering werk eerstens uit hoeveel hulle per kind aan onderwys betaal. (Dit is, die totale onderwysbegroting, gedeel deur die aantal leerders.) Dan, as die kind nie na ‘n staatskool gaan nie, bied die regering hierdie bedrag aan vir die skool waar ‘n ouer kies om sy kind te laat skoolgaan. Dis al wat die regering doen.

En die res? Waar is die beter skole wat die kinders nodig het? Wat doen die regering om dit te bewerkstellig? Watter verskil maak dit aan die kind wat noodwendig na die enigste skool in sy buurt gaan?

Die res doen die publiek, en dan spesifiek mense met ‘n belangstelling in kinders en onderwys: Mense met ondernemingsgees en visie stig die beter skole, hulle skep werk vir die beter onderwysers.* Mens het nie miljoene rande se nuwe geboue nodig om ‘n skool te begin nie- meeste kleuterskole werk byvoorbeeld reeds uit enige soort beskikbare gebou of vertrekke wat nooit as skool gebou was in die eerste plek nie.

Selfs laag geskoolde ouers sal uitwerk waar hulle kinders meer leer- en hulle kinders soontoe stuur. Een ding wat tans die mense met visie keer om skole te begin en in die land se onderwysbehoefte te voorsien, is geld – as die regering net geld vir staatskole gee, kan hulle nie skole begin om die probleem aan te spreek nie.

Kompetisie werk vir beter produkte/ dienste in byna alles- dit behoort vir skole ook te werk.
 ——————-

*beter onderwyser – In hierdie konteks beteken dit wie ookal beter in staat is om kinders te leer, nie iemand met beter onderwyskwalifikasies nie.

Ander naskrif: Omdat heelwat kinders dan in skole sal wees wat aan sakeman-/sakevrou- onderwysers behoort, sal kinders ook meer geneig wees om ‘n voorbeeld – en lesse – te kry van hoe om ‘n entrepeneur te wees – veral in arm gebiede is dit ‘n soort blootstelling wat op die oomblik ernstig ontbreek, en daardie tekortkoming hou kinders arm.

Skepties SA, ons kinders verdien beter

Skepties SA, soos koerantlesers of selfs lesers van hierdie blog reeds weet, wil ‘n hofsaak maak om godsdiens in skole te beperk.

Een van die kommentare hier oor die saak was van ‘n blogger genaamd Skoor:

Ek vertrou dat die George Claassen en die res van die heksejagters sal kry wat hulle toekom. Om spesifieke skole uit te sonder en te teiken, gaan my verstand te bowe. Ek kan horror verhale neerskryf oor hoe dit in skole in die land gaan. Van hoenderpote wat in ‘n groot kastrol kook in personeelkamers, en waar GEEN klasgee plaasvind tot na eerstepouse, wanneer die onderwysers hulle pote klaar geeet het, tot viktimisering van onderwysers en vandalisme. En dan mors hulle tyd op sulke twak!

Ja, ons land het talle swak skole met totaal ongemotiveerde onderwysers, soos Skoor uitwys. Ek kan my kop op ‘n blok sit die skole wat Claassen by die naam noem en wou vervolg, is van die beter akademiese skole in sy gebied. Wat Skepties SA beoog, is eintlik om goeie skole af te trek na die vlak van skole waar niks onderrig voor eerste pouse plaasvind nie- en Skepties SA verstaan dit nie. Hulle verstaan dit nie, want hulle kan nie skepties kyk na hulself, na menslike natuur, of die resultate van godsdiens uit skole haal elders in die wêreld nie.

 Skepties SA besef nie, vir een ding, dat goeie skole juis skole is waar die ouers betrokke is, en kies wat hulle kinders leer en wie die onderwysers is nie. Die regering voel vere vir jou kind. Jy as ouer gee die meeste om. As Skepties SA wil hê die regering moet meer beheer neem oor wat kinders mag en nie mag leer nie, word ouerbetrokkenheid- wat baie goed vir skole is- afgewater. (Hans Pietersen en diesulkes is egter vanselfsprekend welkom om as ouers ook deel te neem aan besluite oor wat geleer word by hulle kinders se skole.)

Vir die soort onderwyseres wat vrywillig haar geloof met kinders deel, is onderwys ‘n missie wat sy doen om God te eer en kinders vir wie God lief is te help. Maar om haar te vra om nie God te deel met kinders nie, is om eintlik te vra dat sy haar missie op die agtergrond skuif. En om te dink dat ‘n onderwyser(es) wat se missie en visie op die agtergrond geskuif/ vergeet word, ‘n ewe goeie en toegewyde onderwyser sal bly op die lang termyn (net ene wat stilbly oor godsdiens) is naief. Om te glo alle jong SA-ners wat in God hulle motivering vind, kan maar ander beroepe as onderwys kies, en dat skole nie sal ly wanneer daardie soort innerlik gemotiveerders wegbly uit die onderwysberoep nie, is uiters kortsigtig.

Om dit eenvoudig te stel: Daar is ‘n minderheidsgroepie onderwysers wat gemotiveer word deur hulle geloof. Hulle sien hulle werk as ‘n missie en doen dit met ‘n visie. Selfs waar hulle in die minderheid is, trek dit ander onderwysers by hulle skool om ook goeie werk te lewer. Toegewyde onderwysers skep ‘n kultuur van toewyding. Hulle is die sout en die lig van die onderwysberoep. As jy die visie- en missie- onderwysers vra om stil te bly oor hulle geloof, is die kanse goed dat jy party van hulle sal demotiveer. Op die lang duur demotiveer jy ook diesulkes om onderwys as beroep te kies.

En ons kinders het elke gemotiveerde onderwyser nodig wat ons kan kry. In ‘n ander onlangse pos (nie oor godsdiens in skole nie) het ek juis ook gevra vir meer aansporings om onderwysers te motiveer, nie minder nie.

Ek hoop en bid regtig dat ons land nie die soort skole kry wat die Skepties SA mense verdien nie. Want ons kinders verdien beter…

Godsdiens in skole: Claassen gee saak aan Pietersen

Ek sien George Claassen het die saak van godsdiens in skole gelos, en aan Hans Pietersen oorgegee. Claassen beweer sy opponente is “onaanvaarbaar beledigend en lasterlik.” Nou ja, niks wat ek in die media teëgekom of gehoor het kom neer op lasterlike aanvalle of selfs persoonlike beledigings teen Claassen nie. (In elk geval het ek al biografieë gelees van martelare vir geloof soos Richard Wurmbrand, Brother Yun, en Roger Youderian- hulle. Daardie mense laat “martelare” soos Claassen wat “belaster” en “persoonlik aangeval word” vir hulle aksies teen geloof maar taamlik on-indrukwekkend klink.)

Vermoedelik het Claassen om ander redes die saak in iemand anders se hande gelos. Sluit daardie redes dalk die volgende redes in:

* Dat hy weet party van sy bewerings teenoor skole in sy omgewing heeltemal onwaar was? Met ‘n nuwe man aan die stuur kan hulle voortgaan sonder daardie leuens en sonder dat hy verskoning hoef te vra daarvoor? Pietersen gaan nie uitgedaag word op wat Claassen gesë het nie.

* Dat hy bang is die hof vra hom hierdie blog se vraag: Deel hy sy opinie oor geloof in (tersiëre) klaskamers? (Pietersen gee heel waarskynlik nie enige soort onderwys nie, en die vraag hoef dan nie vir hom gevra word nie.)

* Dat hy reeds weet minder gaan met die saak bereik word as wat hy sou wou? Hy het ‘n week gelede gepraat van kriminele vervolging van skole, en Hans Pietersen praat nou bloot van duidelikheid kry oor wat presies toelaatbaar is.

(Pietersen sê hy voel “soos Dawid teen Goliat.” Nee, Hans, dink weer. Dawid se gevoel in die Goliat-saak was sterk daarop gegrond dat hy geglo het God is aan sy kant. – Lees 1 Sameul 17, veral vers 45. En Hans – ek hoop en bid regtig jy kan eendag soos Dawid voel!)

Ek hoop dat wat die hof ook al besluit, dat daar pertinent gesê word dat dit ook vir ateïste en Claassens-tipe “skeptici” tel wat leerders wil indoktrineer. Indien daar bv. besluit word: Godsdiens opinies mag net met kinders gedeel word as die ouer/ voog van die kind dit skriftelik goedkeur” dan moet dit ook vir iemand soos Claassen geld. Dan moet opinies soos Claassen s’n net op universiteit verkondig word, reken ek, waar die beurs-betalers/ studielening-borg dit goedkeur.

—————–

Naskrif: Christene, sit hierdie hofsaak hoog op julle gebedslysie. Want, soos pous Pius XI gesê het: “since education consists essentially in preparing man for what he must be and for what he must do here below, in order to attain the sublime end for which he was created, it is clear that there can be no true education which is not wholly directed to man’s last end.” Sit dit op julle gebedslysie, want kinders het God nodig. Sit dit op julle gebedslysie, want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Sit dit op julle gebedslysie, want God hoor. Sit dit op julle gebedslysie, want neutraliteit oor aanbidding is ‘n mite- waar God nie in die skole aanbid word nie sal iets of iemand anders aanbid word- soos hierdie Noord Koreaanse Amerikaanse video van Kim Jong Il Obama wys.

Van paddas en kookwater en praat en doen

Eendag op laerskool het ‘n onnie my ‘n storie oor ‘n padda vertel. Hy het gesê dat as mens ‘n padda in kookwater sou gooi, die padda dadelik sal uitspring en oorleef. Maar gooi ‘n padda in ‘n pot louerige water wat op ‘n stoof staan, en die padda sal daarin bly rondswem. Die water sal warmer en warmer word. Die padda sal nie uitspring nie. Op die ou end sal die padda dood kook.

Soms dink ek baie Suid-Afrikaners is soos die padda: Ons aanvaar dinge te maklik, oor hulle stadig verander. Ons spring nie uit nie. Nee, ek sê nie ons moet noodwendig uit SA “spring” nie. Ek sê dat ons soms uit onbillikheid en swak diens kan spring as ons net saamstaan en werk maak daarvan. Hier is so paar voorbeelde:

      Universiteite hoor dat hulle meer swart studente in verhouding tot ander rasse moet aanvaar in sekere rigtings. Hulle verlaag toelatingstandaarde vir swart studente en verhoog dit vir wit studente. Om verskillende standaarde vir verskillende rassegroepe te hê is rassisme! (Die stereotipering van “Swart + Agtergeblewene” in regstellende aksie is ook rassisties. Party swart mense het, nes party blankes, meer geleenthede as ander gehad.) Universiteite kan natuurlik saamstaan en nie onder kwotas swig nie, maar druk op die regering uitoefen om te befonds waar die mees verdienstelike studente – van alle velkleure- die beste opvoeding kry.

      My stad se waterpype bars en vat hoe lank om reggemaak te word, die paaie verval, daar is plekke waar rioolpype stukkend is, die brandweerwaens raak onrybaar. Nogtans doen bitter min van my stad se mense selfs die moeite om te stem in munisipale verkiesings.As helfte van die mense wat kla die moeite doen om te stem, en almal van hulle stem vir ‘n ander party as die een wat tans ons raad beheer, het ons na die volgende verkiesing ‘n ander stadsraad.

      Ek lees in ‘n plaaslike koerant ‘n ouer kla: Seuns wat nie eers in sy kind se skool is nie, word ingesluit in die rugbyspan en geborg vir rugbytoere, oor daardie seuns swart is. Nou ja, onderwysers en ‘n skoolhoof wat sulke gruwelike onregverdigheid toelaat en bevorder kort ruggraat.Hoofde en onderwysers moet saamstaan: Tot hier toe en nie verder nie.Ek spring uit hierdie gekkespul deur my skool se leerders regverdige kanse te gee. Maar hulle gewetes word afgestomp tot op die punt waar regverdigheid teenoor hulle leerders vir hulle onbelangrik is. (En dit sal seker deurslaan na ander dinge ook? ‘n Onderwyser wat nie meer omgee vir sy studente nie, sal seker nie omgee of hy ‘n kwaliteit-opvoeding gee nie?)

      Ouers kla ook oor dissipline-lose skole en skole wat op alles behalwe akedemie konsentreer. Ervare onderwysers verlaat (spring uit) die beroep oor hulle nie meer kans sien vir wat deesdae by skole gebeur nie. Dit wil vir my voorkom of daar plek is vir ‘n nuwe soort privaatskool in Suid Afrika. Nie ‘n rykmanskind-skool met die beste en duurste geboue, toerusting, ens. nie. Hoër- en laerskole wat bedryf word op dieselfde grondslag as meeste kleuterskole: ‘n ‘n Plek wat bestuur wor deur ‘n onderwyser(es), in watter huis of gebou kamers in klaskamers omskep kan word, wat volgens daardie onderwyser(es) se diskresie soveel kinders toelaat as wat hulle kan hanteer, onderrig en veilig hou. As ouers bitter ontevrede is met skole, en onderwysers so ongelukkig dat hulle skole verlaat, waarom word sulke skole nie begin nie? Die ouers sal sê hulle begin dit nie, want ouers is nie so ongelukkig dat hulle ‘n ander soort skoolstelsel sal oorweeg nie. (Ouers, dis ‘n feit: Jou kinders gaan alreeds skool in ‘n ander soort skoolstelsel as waarin jy ‘n generasie gelede was.) Die “water” van onderwys word stadigaan warmer, en ouers besef dit nie.

      Ons almal in die land kla oor misdaad. Daar is selfs iemand wat reken as ons saamstaan kan ons meer aan misdaad doen as om te kla! Hier is ‘n webblad waar hy sy idee verduidelik.

Daar kom ‘n tyd om nie meer net te verdra wat gebeur nie. Daar kom ‘n tyd om nie net te kla oor wat gebeur nie. Daar is ‘n tyd om saam te werk en oplossings vir probleme te soek. Liewe leser, hier is bietjie huiswerk vir jou (en my- ek gaan dit ook doen): Dink aan die dinge waaroor jy onlangs gekla het. Vra jouself wat jy kan doen om dit te verander. En lig dan jou alie van jou rekenaarstoel af – en gaan doen dit.