Tag Archives: theodicity

As God in beheer is, waarom gebeur sulke dinge? (Deel 5 – Moontlike reaksies op slegte gebeure)

Eerste deel hier

As jy oor ‘n slegte gebeurtenis dink, kan jy een van 4 reaksies hê. In tabelvorm lyk dit so:

Veronderstelling

Is dit God se skuld? Is dit regverdig?
1 Ja Ja
2 Ja Nee
3 Nee Ja
4 Nee Nee

Om hierdie tabel aan die hand van ‘n voorbeeld te bespreek, veronderstel iets verskriklik gebeur. Craig Hill se voorbeeld is dat ‘n man by ‘n huis inbreek, die ouers vermoor en die tienerdogter verkrag.

Veronderstel die meisie glo dat God dit laat gebeur, of toegelaat het, Want, glo sy, “God is in beheer.” En as God goed en regverdig is, dan moet hierdie op een of ander manier regverdig wees. (Hierdie posisie is algemeen onder gelowiges.) Dit is bitter moeilik om God te vertrou as jy so dink. Want sy verstaan natuurlik nie hoe kan so iets regverdig kan wees nie. En as God hierdie ding toelaat, wat kan sy hom vertrou mee?

Of veronderstel sy gaan van posisie 2 uit. “God het dit beheer, en Hy was aaklig om dit toe te laat.” In daardie geval glo sy dat God nie kan goed wees nie. Sy haat God. Dit is blykbaar ‘n algemene posisie onder ongelowiges voor hulle ateïsme omhels.

Sy sal nie posisie 3 hê: “God is nie verantwoordelik nie, maar dis regverdig” nie. Dalk kan ‘n mal diktator so dink oor wat hy doen.

As sy posisie 4 het, glo sy God was nie in beheer van hierdie gebeurtenis nie, is nie ‘n poppemeester nie, en dit was nie Sy wil nie. Satan en sy koninkryk het hierdie man se outoriteit gebruik om te doen wat totaal teen God se wil is. Jesus het gekom om sulke werk te vernietig, nie om dit toe te laat nie. God haat wat gebeur het, en huil daaroor. Alle euwel teen my is ook euwel teen God, en Jesus self het gely om my onthalwe, sodat Hy my sonde, pyn en hartseer op Hom kan neem. Hy is my enigste bron van hoop.

(Word vervolg)

——

Hierdie notas is gedagtes in Craig Hill se boek, “If God is in control, then why?”

Die doel van hierdie inskrywings is om met medegelowiges te gesels, mekaar te versterk en in te lig, en kommentaar hierop is nou oop vir julle. Anti-gelowiges word dikwels ekstensief geantwoord op ander plekke op die blog, maar hier vra ek dat diesulkes nie tussenin skree waar broers en susters mekaar probeer troos of probeer leer nie.

As God in beheer is, waarom gebeur sulke dinge? (Deel 4 – Die natuur)

Eerste deel hier

(Hierdie kom nie uit dieselfde boek as meeste dele nie.)

As God dan nie beheer vat vir alles wat mense doen nie, wat van natuurrampe? Moet God die blaam vat vir elke dood in ‘n droogte of aardbewing of oorstroming?

Hier beskryf die wetenskaplike Rich Deem waarom natuurrampe nodig is op aarde. Dis nie wreedheid van God as hierdie dinge gebeur nie, maar deel van wat die natuur nodig het.

Wanneer ‘n natuurramp gebeur, moet jy ook onderskei tussen wat wel op die natuur geblameer kan word, en watter deel die resultaat van mense se keuses is. Nie so lank terug nie was daar byvoorbeeld ‘n aardbewing in Haiti. Haiti is een van 2 state wat op dieselfde eiland lê. Die ander een is die Dominikaanse republiek. Waarom het jy gehoor van ‘n rampspoedige aardbewing in Haiti, en nie in die Dominikaanse republiek nie? Want Dominikane bou hulle geboue met beter boustandaarde, sodat dit nie op mense geval en soveel dood gemaak het nie. Hulle infrastruktuur is beter, sodat hulle na die tyd nog die mense laat doodgaan het van gebrek aan lewensmiddele nie.

Hoekom het droogte in Zimbabwe so ‘n paar jaar terug soveel mense laat verhonger? Die droogte het immers nie op Zim se grenslyne gestop nie, maar buurlande ook getref, en hulle het nie honger gely nie? Want dis nie die droogte se skuld nie. Zimbabwiërs het gekies om boere weg te jaag. Boere is die vervaardigers van voedsel. Jaag die kos-makers weg, en die resultaat is … te min kos.

In talle oorstromings bou mense huise waar die weerkundiges weet daar elke 20, of hoeveel ookal, jaar ‘n oorstroming is. Moet God dan blameer word as die huis oorstroom word? As jy wonder of ‘n natuurramp God se wil was, maak eers seker watter deel van gebeure is mense se fout.

(Deel 5)

——

Kommentaar hierop sal geopen word in die volgende aflewering.

As God in beheer is, waarom gebeur sulke dinge? (Deel 3 – God se wil)

Eerste deel hier

Was dit God se wil dat my pa moes siek word? Was dit God se wil dat my geliefde ‘n geweldsmisdaad beleef? Was dit Sy wil dat Judas vir Jesus verraai?

Daar is twee Griekse woorde in die nuwe Testament wat albei met “wil” van God vertaal word. Volgens Craig Hill (wat ook erken die betekenissse in nie 100% dieselfde elke keer wat dit gebruik word nie) vertaal een van die woorde as “onveranderlike doel”, en die ander as “begeerte.”

God se onveranderlike doel sal gebeur, dis God se soewereine plan, Sy bepaalde besluit.

Voorbeelde hiervan sluit in:

> Jesus sal sterf aan die kruis

> God sal Israel teruggee aan die Jode

> Jesus sal terugkeer

God se begeerte is wat Hy sal wil hê moet gebeur, dit wat by sy karakter en aard inpas. Geen mens kan God se onveranderlike doel stop nie, maar mense het die gesag om God se begeerde wil te stop.

Voorbeelde, volgens Hill, sluit in:

> God wil siekes genees

> God wil hê dat ‘n man sy gesin liefhet en hulle nie mishandel nie.

> God wil hê dat besigheid-eienaars eerlik is met hulle klante.

Baie mense het ‘n vals idee oor God se wil, oor hoe hulle pa’s was. As jou pa sy wil op jou afgedwing het, glo jy maklik God sal sy wil op almal afdwing, en moet jy ‘n regte beeld van God leer.

(Deel 4)

——

Hierdie notas is gedagtes in Craig Hill se boek, “If God is in control, then why?” Kommentaar hierop sal geopen word in latere aflewerings.

As God in beheer is, waarom gebeur sulke dinge? (Deel 2 – Wat het God nie?)

Vervolg vanaf hier

Wat het God alles om dinge reg te kry op aarde?

God het die kennis: Hy weet alles. Hy weet van alle euwel en ongeregtigheid in die wêreld. (1 Joh. 3:20)

Hy het die wysheid: Hy weet hoe om euwel en ongeregtigheid uit te skakel. (1 Tim 1:17)

Hy het die krag om die probleem op te los: Hy is God almagtig. (Genesis 35:11)

Hy het die liefde/ goedheid om dit te wil uitskakel. (1 Joh. 4:16) ‘n Goeie definisie van liefde wat meer as tydelik is, is “om die hoogste goed vir almal betrokke te kies.” Euwel en ongeregtigheid is nie God se wil, in Sy liefde nie, en Hy wil dit uitskakel. (Jesaja 59:15)

Wat het God nie?

God het gesag op die aarde vir die mens gegee in Genesis 1. (:27-28, ook in Ps 8:7 en Ps. 115:16) As God gesag vir die mens gee, hou hy dit nie vir homself nie. Hy het dus Sy eie regte oor die aarde vir eers beperk. Maar die aarde is nog steeds syne. (Ps. 24:1)

Waarom het Jesus nodig gehad om mens te word? As jy deel 1 en die boonste stukkie gelees het, ken jy waarskynlik die antwoord.

Hoe kon Satan vir Jesus die konkryke aanbied in Matt. 4? Is die aarde dan nie God s’n nie? Die aarde is God s’n, maar dit was onder uitgehuurde gesag. Jesus se versoeking was om nie aan die kruis sterf of die mense te red nie, maar onmiddelik die aarde terug te kan neem.

Wat beteken dit as Jesus vertel dat elkeen wat nie deur die hek in die skaapkraal inkom nie, ‘n dief en ‘n rower is? (Joh. 10:1) Hy vertel die wettige manier om gesag op aarde te hê is mens-wees. Hy is die goeie herder wat bereid was om mens te word om mense te red. Die Satan is die een wat gesag kry deur mense te kul en hulle gesag vir Sy doelwitte te gebruik.

(Deel 3)

——

Die eerste notas is gedagtes in Craig Hill se boek, “If God is in control, then why?” Vanaf “Waarom het Jesus nodig gehad om mens te word?” is van elders. Kommentaar hierop sal geopen word in latere aflewerings.

As God in beheer is, waarom gebeur sulke dinge? (Deel 1 – Die huurkontrak)

Eendag het Gert ‘n kontrak gesluit om  sy huis te verhuur.  Marius het ‘n kontrak geteken om die huis ses  jaar lank te bly huur.

Wie se huis is dit? Gert s’n. Wie hou die sleutels? Marius, en wie hy ookal voor duplikate maak. Wie mag ingaan? Marius, en wie hy toelaat. Gert kan nie ingaan in sy eie huis sonder Marius se toestemming nie. As hy binne is, kan hy nie die meubels skuif of besluit hoe die gordyne moet lyk nie. Hy het vrywillig sy regte op sy huis beperk.

Dis dieselfde as wat in Genesis gebeur: God huur die aarde aan Adam en Eva. (Genesis 1:27-28) Ons lees in die Bybel wat gaan gebeur as die huurtermyn verby is. (Jy mag dalk Matteus 21:33-44 en Op. 18:11 -20:6 wil lees in terme van die huur-analogie.)

Veronderstel Gert hoor van ‘n moontlike gaslek in die huis. Hy wil dit graag regmaak. Hy het die wil, die kennis, die wysheid en die vermoë om dit reg te maak. Hy het nie die outoriteit nie, want die outoriteit om in die huis in te gaan behoort aan Marius.

Wat, vra jy dalk, is die verskil tussen outoriteit en krag, of outoriteit en vermoë? Dink aan ‘n kar wat se enjin goed werk, en wat genoeg petrol inhet, by ‘n rooi lig. Die kar het die krag/ vermoë om te ry, maar nie die outoriteit, die reg om dit te doen nie. Dink nou aan ‘n kar wat sonder petrol gaan staan het, voor ‘n groen lig. Hierdie ryding het die outoriteit om te ry, maar nie die krag nie.

Terug na Marius. Hy het nie kennis van die gaslek nie, en nie die geldelike vermoë om te betaal vir herstelwerk nie. Gert se kennis en vermoë saam met Marius se outoriteit is nodig om die probleem op te los.

Kom ons vat die analogie verder. ‘n Maand in die huurtyd in laat Marius vir Dave, ‘n dwelmbaas, in die huis intrek. Dave nooi nog dwelmvriende in. Hy maak ook vir Marius en sy familie afhanklik van dwelms. Marius-hulle raak al dieper in die skuld by Dave oor hulle dwelmgewoonte. Dit was glad nie die planne wat Gert vir sy huis, of Marius-hulle, gehad het nie. Maar hy het nie die reg om Dave uit te skop nie. In sy diep besorgdheid werk hy egter aan ‘n plan om Marius (en die huis) te bevry.

Hy koop letterlik die huur terug by Dave, vir ‘n astronomiese bedrag. Hy betaal ook al Marius se skuld aan Dave. Hy betaal vir rehabilitasie vir Marius. Daarna vertel hy: “Ek gee die gesag oor die huis terug aan jou. Vertel jou familie wat ek gedoen het, help hulle vrykom, en ek sal jou help met alles wat jy aanpak.” (Matt. 28:18-20)

Dave het nie meer gesag nie, maar hy en sy vriende weier om te gaan. En hy kry die reg om weer in te kom by familie van Marius wat met hom saamwerk. Oor hulle bang is vir hom, oor party van hulle aan dwelms verslaaf is en hy dit verskaf, oor party vir hom werk en dwelms verkoop.

Gert, in sy wysheid, hoor van Dave se planne voor hy hulle uitvoer. Vir die res van die huurtyd moet Gert en Marius saamwerk om Dave se planne te fnuik.

(Deel 2)

——

Hierdie notas is gedagtes in Craig Hill se boek, “If God is in control, then why?” Kommentaar hierop sal geopen word in latere aflewerings.