Tag Archives: verandering

“Oor my” is opgedateer

Die bewoording op die “Oor my” blad is verander. Gaan kyk maar as dit jou interesseer.

‘n Eenvoudige boodskap vir ‘n deurmekaar en komplekse mensdom

Hier was onlangs ‘n pos waarin ek vertel het dat die Bybel ons nêrens vertel om te “glo sonder bevraagtekening” nie. Van die antwoorde het daarop neergekom dat geloof eenvoudig is, dat debat oor die saak mense kan verwar.

 

Hulle is natuurlik reg. Geloof is ‘n heel eenvoudige ding. Jesus het kom vertel wie hy is en waarom hy gekom het. Geloof gaan eenvoudig oor: Gaan jy hierdie Jesus vertrou of nie? Ons het almal instinkte wat ons vertel om maar te vertrou, of waarsku om nie te vertrou nie. In die lig van jou mensekennis moet jy jouself afvra: Hoe betroubaar is die Bybel se Jesus?

 

Ja, daar bestaan lang, ingewikkelde boeke oor die betroubaarheid van die Bybel, en navorsers wat jare spandeer het om daardie boeke te skryf. Hulle doen dit oor party mense ekstra bewyse nodig het voor hulle oortuig raak. As jy nie sulke bewyse nodig het nie, is dit piekfyn. As jy dit wel nodig het, is dit daar vir jou.

Daar is indrukwekkende artikels op die Internet om te verdedig dat Jesus geleef het, dat Hy gedoen het wat in die evangelies aan hom toegeskryf is, en dat Hy opgestaan het. Maar as Jesus jou lewe nuutgemaak het, het jy 10 teen 1 nie daardie redenasies self nodig nie.

 

Party mense kan slim redenasies maak oor die versoenbaarheid van die wetenskap en die Bybel. Hulle doen die moeite omdat ander mense beweer die twee is nie versoenbaar nie. Maar as niemand jou nog ooit kon mislei met liegstories soos “wetenskap en godsdiens is onversoenbaar”nie, het jy nie nodig om teruggelei te word van daardie liegstorie af nie.

 

Die evangelie, baie kortliks is:

 

God het jou gemaak na sy beeld.(1) Hy ken jou potensiaal, Hy weet wie en wat jy veronderstel is om te doen en te wees.

Jy het dinge gedoen, gedink, en gesê waarvan God nie hou nie.(2) So het jy die verhouding tussen jou en God versteur.(3) Howel God jou liefhet, is daardie dade nie welkom by hom nie. Maar jy, en die res van die mensdom, se wandade het ook mense se interpersoonlike verhoudings, die mens se  vermoë om sy potensiaal te bereik, en selfs die natuur, versteur. Niks wat jy uit jou eie doen, kan jou geneigdheid tot verkeerde goed regmaak nie.(4)

Jesus het ‘n manier gemaak om hierdie verhouding  te kan regmaak, en jou geneigdheid tot die verkeerde te herstel: Hy is in jou plek gestraf. Hy het die dood oorwin.(5) Hy vra dat jy Hom aanneem en volg. Dit behels o.a. om te erken dat jy sonde  gedoen het.(6) 

As jy kies om Hom aan te neem en te volg, maak God jou van binne af nuut.(7) Hierdie nuutmaak begin nou al, maar in die lewe na die dood sal die gelowiges en die skepping volkome nuutgemaak wees.

Jy kan hierdie eenvoudige boodskap óf aanvaar, óf verwerp. Mense van oraloor die wêreld, alle ouderdomme en vlakke van geleerdheid, getuig hoe hulle hierdie boodskap biddend aangeneem het, en dit die beste besluit is wat hulle ooit gemaak het.   

 

Skakels soos hierdie of hierdie of hierdie sê net dat jy myns insiens nie “intelligensie” of “logika”  moet noem as redes waarom jy dit verwerp nie.

 

Naskrif: Hoeveel lesers van hierdie gedeelte kan raai wat die kleure Goud, Swart, Rooi en Wit in die prentjie hierbo met die tema van die stuk te doen het?

 

(1)   Genesis 1:27

(2)   Romeine 3:23

(3)   Jesaja 59:2

(4)   Efesiërs 2:8-9

(5)   1 Korinthiërs 15:3-4

(6)   1 Johannes 1:9

(7)   2 Korintiërs 5:17

 

Hierdie is kortliks enkele van talle verse wat dieselfde boodskappe gee.

Werkgewers is ook mense!

 

Die hof het onlangs besluit dat die NG gemeente Moreletapark onbillik teen die musiekdosent Johan Strydom gediskrimineer het toe hulle sy mondelingse kontrak beeindig het. Dit het hulle natuurlik gedoen na hulle uitgevind het hy bly saam met ‘n man.

Prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, het geantwoord dat ’n kerk die vryheid moet hê om gedragsreëls, gegrond op die Bybel, vir sy personeel en lidmate neer te lê. “Hoe kan die kerk Bybelgetrou bly en terselfdertyd die mensgemaakte grondwet van die land kan nakom? Hoe ver kan ’n hof in intern-kerklike sake inmeng?” het Strauss gevra.

En dis vir my die issue! Binnekort sal kerke seker van diskriminasie aangekla word as hy enigsins gedrag-standaarde vir sy werknemers wil opstel.

Hy sal gays en rondslapers en geldvrate en wie ookal moet aanstel, want die grondwet beweer mens moenie diskrimineer nie.

Die kerk moet die reg behou om aan te stel wie by sy beleid inpas. Ek vra nie spesiale regte vir die kerk hier oor hulle anders is nie. (Mens kan. Ek verstaan hoe die kerk anders is.) Ek vra die reg om aan te stel wie jy wil, en wie jy dink vir jou organisasie goed is, vir almal.

·                    Die gym moet die reg hê om eerder skraal as vet mense aan te stel, bloot oor eersgenoemde beter by hulle beeld inpas.

·                    ‘n Portugese sakeman in SA moet die reg hê om voorkeur te gee aan ‘n Portugees om een van sy winkels te bestuur, bloot oor die Portugees beter met die baas kan kommunikeer.

·                    ‘n Klub vir lesbiërs moet die reg hê om te adverteer vir ‘n vrou, eerder as man, om in die kroeg te werk.

·                    Die plaaslike ANC-tak moet die reg hê om ‘n boekhouer wat ANC-gesind is aan te stel, eerder as een wat Vryheidsfront wil stem.

·                    Kerk-denominasies moet op dieselfde redenasie die reg hê om nie gays, of vroue, in sekere poste aan te stel nie as hulle glo dis teen hulle waardes. (As gays of vroue dan voel die gemeente is verkeerd daaroor, moet hulle die gemeente oortuig om anders te dink oor die saak. Hulle moenie die kerk wetlik dwing om teen sy gewete te gaan nie.)*

Die grondwet moet nie die reg hê om vir mense voor te sê wie hulle in hulle organisasie moet aanstel nie. Die vraag is nie of ek of die grondwet dink dat ‘n besigheid/ kerk se besluit reg is nie. Die vraag is watter reg het die regering om in te meng met wie organisasies aanstel? Dis – letterlik- nie hulle besigheid nie.

Die regering beskerm nie hier die reg van individue (mense) teen dooie organisasies nie. Hulle gee een mens (die potensiële werknemer) ‘n eis teen ‘n ander mens of groep mense (die werkgewer.)

______________

* Naskrif: Moenie hieruit aflei hoe ek voel oor gays en oor vroue in die kerk, of dat ek eenders voel daaroor nie. Hierdie pos gaan oor regte wat ek glo elke organisasie se mense moet hê, of ek nou met hulle doelwitte saamstem of nie.

Dieselfde ou (nuwe) storie

Daar is nou ‘n boek uit met die naam: “Die Nuwe Geskiedenis van Suid Afrika.”

Nuwe geskiedenis? Wel, hulle bedoel klaarblyklik nie “onlangse geskiedenis” nie.

Geskiedenis bly dieselfde. Wat gebeur het, het gebeur. Al wat verander , is dat mense ander dinge wil beklemtoon as voorheen- en ander dinge wil verswyg. Oorlede helde word skurke en oorlede skurke word helde. Intussen het die “helde” en “skurke” almal al die tydelike met die ewige verwissel en moes hulle almal al voor ‘n Ander Gesag verantwoording gedoen het vir hulle dade. Held of skurk, hulle kan nie meer omgee wat ons hierdie kant van hulle dink nie.

Maar die vraag is nie of ons geskiedenisboeke her-interpreteer en herskryf nie. Die vraag is: Leer ons iets prakties uit die geskiedenis? Of herhaal ons hom net?

Van paddas en kookwater en praat en doen

Eendag op laerskool het ‘n onnie my ‘n storie oor ‘n padda vertel. Hy het gesê dat as mens ‘n padda in kookwater sou gooi, die padda dadelik sal uitspring en oorleef. Maar gooi ‘n padda in ‘n pot louerige water wat op ‘n stoof staan, en die padda sal daarin bly rondswem. Die water sal warmer en warmer word. Die padda sal nie uitspring nie. Op die ou end sal die padda dood kook.

Soms dink ek baie Suid-Afrikaners is soos die padda: Ons aanvaar dinge te maklik, oor hulle stadig verander. Ons spring nie uit nie. Nee, ek sê nie ons moet noodwendig uit SA “spring” nie. Ek sê dat ons soms uit onbillikheid en swak diens kan spring as ons net saamstaan en werk maak daarvan. Hier is so paar voorbeelde:

      Universiteite hoor dat hulle meer swart studente in verhouding tot ander rasse moet aanvaar in sekere rigtings. Hulle verlaag toelatingstandaarde vir swart studente en verhoog dit vir wit studente. Om verskillende standaarde vir verskillende rassegroepe te hê is rassisme! (Die stereotipering van “Swart + Agtergeblewene” in regstellende aksie is ook rassisties. Party swart mense het, nes party blankes, meer geleenthede as ander gehad.) Universiteite kan natuurlik saamstaan en nie onder kwotas swig nie, maar druk op die regering uitoefen om te befonds waar die mees verdienstelike studente – van alle velkleure- die beste opvoeding kry.

      My stad se waterpype bars en vat hoe lank om reggemaak te word, die paaie verval, daar is plekke waar rioolpype stukkend is, die brandweerwaens raak onrybaar. Nogtans doen bitter min van my stad se mense selfs die moeite om te stem in munisipale verkiesings.As helfte van die mense wat kla die moeite doen om te stem, en almal van hulle stem vir ‘n ander party as die een wat tans ons raad beheer, het ons na die volgende verkiesing ‘n ander stadsraad.

      Ek lees in ‘n plaaslike koerant ‘n ouer kla: Seuns wat nie eers in sy kind se skool is nie, word ingesluit in die rugbyspan en geborg vir rugbytoere, oor daardie seuns swart is. Nou ja, onderwysers en ‘n skoolhoof wat sulke gruwelike onregverdigheid toelaat en bevorder kort ruggraat.Hoofde en onderwysers moet saamstaan: Tot hier toe en nie verder nie.Ek spring uit hierdie gekkespul deur my skool se leerders regverdige kanse te gee. Maar hulle gewetes word afgestomp tot op die punt waar regverdigheid teenoor hulle leerders vir hulle onbelangrik is. (En dit sal seker deurslaan na ander dinge ook? ‘n Onderwyser wat nie meer omgee vir sy studente nie, sal seker nie omgee of hy ‘n kwaliteit-opvoeding gee nie?)

      Ouers kla ook oor dissipline-lose skole en skole wat op alles behalwe akedemie konsentreer. Ervare onderwysers verlaat (spring uit) die beroep oor hulle nie meer kans sien vir wat deesdae by skole gebeur nie. Dit wil vir my voorkom of daar plek is vir ‘n nuwe soort privaatskool in Suid Afrika. Nie ‘n rykmanskind-skool met die beste en duurste geboue, toerusting, ens. nie. Hoër- en laerskole wat bedryf word op dieselfde grondslag as meeste kleuterskole: ‘n ‘n Plek wat bestuur wor deur ‘n onderwyser(es), in watter huis of gebou kamers in klaskamers omskep kan word, wat volgens daardie onderwyser(es) se diskresie soveel kinders toelaat as wat hulle kan hanteer, onderrig en veilig hou. As ouers bitter ontevrede is met skole, en onderwysers so ongelukkig dat hulle skole verlaat, waarom word sulke skole nie begin nie? Die ouers sal sê hulle begin dit nie, want ouers is nie so ongelukkig dat hulle ‘n ander soort skoolstelsel sal oorweeg nie. (Ouers, dis ‘n feit: Jou kinders gaan alreeds skool in ‘n ander soort skoolstelsel as waarin jy ‘n generasie gelede was.) Die “water” van onderwys word stadigaan warmer, en ouers besef dit nie.

      Ons almal in die land kla oor misdaad. Daar is selfs iemand wat reken as ons saamstaan kan ons meer aan misdaad doen as om te kla! Hier is ‘n webblad waar hy sy idee verduidelik.

Daar kom ‘n tyd om nie meer net te verdra wat gebeur nie. Daar kom ‘n tyd om nie net te kla oor wat gebeur nie. Daar is ‘n tyd om saam te werk en oplossings vir probleme te soek. Liewe leser, hier is bietjie huiswerk vir jou (en my- ek gaan dit ook doen): Dink aan die dinge waaroor jy onlangs gekla het. Vra jouself wat jy kan doen om dit te verander. En lig dan jou alie van jou rekenaarstoel af – en gaan doen dit.