Sy was slim ook. Sy het matriek gemaak in die 1920’s. Op daardie stadium is dit ‘n hoë geleerdheid gewees, veral vir ‘n vrou.
Sy het tot op 89 nog op haar eie gebly en nooit vergeet om vir my of my broers te skryf op ons verjaarsdae nie. Mense wat haar geken het in haar laat 80’s, was verwonderd oor hoe helder haar verstand nog is. ‘n Neef van my aan die ander kant van die familie (die kant wat nie verwant is aan haar nie) het haar ontmoet toe sy naby aan 90 was. Sy het bal vir bal krieket met met hom bespreek, en man vir man die meriete van spelers. Hy was verstom.
Sy het haar ook nie sommer laat onder kry nie. My neef, wat op daardie stadium uit was om te skok, het eenkeer ‘n string vloekwoorde oor die telefoon gebruik. Hy het nie gedink dis sy ouma wat die foon opgetel het nie. Sy antwoord hom toe: “Weet jy, Barto? Afrikaans is só ‘n ryk taal, met só baie woorde, dat mens ure lank kan Afrikaans praat sonder om eenkeer te vloek.”
Sy het tot op 89 ook nog ‘n vroue-bybelstudiegroep by haar huis gelei. Die vroue wou net nie hê dat iemand anders dit oorneem nie! Sy het ook stapels koeksisters gebak, die lekkerste koeksisters wat ek nog geproe het. Baie van daardie koeksisters het ten bate van sending verkoop. (Af van die onderwerp af: Heelwat van die interessantste mense wat ek al ooit ontmoet het het ‘n hart vir sending gehad. Passievolle mense is interessante mense. En daar is nie verniet ‘n term soos “missionary zeal” nie.)
As haar hart op 89 gaan staan het sou daar baie mense by haar begrafnis gewees het, mense wat onthou het dat sy merkwaardig was. Maar intussen het sy fisies verswak, en toe doof geraak. Laasgenoemde beteken dat maak nie saak hoe skerp sy nog was nie, sy kon dit moeilik kommunikeer. En toe het haar denke ook begin agteruit gaan. En op die ou end was weinig meer as haar kinders, kleinkinders en hulle wederhelftes daar. Nie oor sy nie besonders was nie. Maar oor te veel mense haar vergeet het.