Tag Archives: verteenwoordiging

Werkgewers is ook mense!

 

Die hof het onlangs besluit dat die NG gemeente Moreletapark onbillik teen die musiekdosent Johan Strydom gediskrimineer het toe hulle sy mondelingse kontrak beeindig het. Dit het hulle natuurlik gedoen na hulle uitgevind het hy bly saam met ‘n man.

Prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, het geantwoord dat ’n kerk die vryheid moet hê om gedragsreëls, gegrond op die Bybel, vir sy personeel en lidmate neer te lê. “Hoe kan die kerk Bybelgetrou bly en terselfdertyd die mensgemaakte grondwet van die land kan nakom? Hoe ver kan ’n hof in intern-kerklike sake inmeng?” het Strauss gevra.

En dis vir my die issue! Binnekort sal kerke seker van diskriminasie aangekla word as hy enigsins gedrag-standaarde vir sy werknemers wil opstel.

Hy sal gays en rondslapers en geldvrate en wie ookal moet aanstel, want die grondwet beweer mens moenie diskrimineer nie.

Die kerk moet die reg behou om aan te stel wie by sy beleid inpas. Ek vra nie spesiale regte vir die kerk hier oor hulle anders is nie. (Mens kan. Ek verstaan hoe die kerk anders is.) Ek vra die reg om aan te stel wie jy wil, en wie jy dink vir jou organisasie goed is, vir almal.

·                    Die gym moet die reg hê om eerder skraal as vet mense aan te stel, bloot oor eersgenoemde beter by hulle beeld inpas.

·                    ‘n Portugese sakeman in SA moet die reg hê om voorkeur te gee aan ‘n Portugees om een van sy winkels te bestuur, bloot oor die Portugees beter met die baas kan kommunikeer.

·                    ‘n Klub vir lesbiërs moet die reg hê om te adverteer vir ‘n vrou, eerder as man, om in die kroeg te werk.

·                    Die plaaslike ANC-tak moet die reg hê om ‘n boekhouer wat ANC-gesind is aan te stel, eerder as een wat Vryheidsfront wil stem.

·                    Kerk-denominasies moet op dieselfde redenasie die reg hê om nie gays, of vroue, in sekere poste aan te stel nie as hulle glo dis teen hulle waardes. (As gays of vroue dan voel die gemeente is verkeerd daaroor, moet hulle die gemeente oortuig om anders te dink oor die saak. Hulle moenie die kerk wetlik dwing om teen sy gewete te gaan nie.)*

Die grondwet moet nie die reg hê om vir mense voor te sê wie hulle in hulle organisasie moet aanstel nie. Die vraag is nie of ek of die grondwet dink dat ‘n besigheid/ kerk se besluit reg is nie. Die vraag is watter reg het die regering om in te meng met wie organisasies aanstel? Dis – letterlik- nie hulle besigheid nie.

Die regering beskerm nie hier die reg van individue (mense) teen dooie organisasies nie. Hulle gee een mens (die potensiële werknemer) ‘n eis teen ‘n ander mens of groep mense (die werkgewer.)

______________

* Naskrif: Moenie hieruit aflei hoe ek voel oor gays en oor vroue in die kerk, of dat ek eenders voel daaroor nie. Hierdie pos gaan oor regte wat ek glo elke organisasie se mense moet hê, of ek nou met hulle doelwitte saamstem of nie.

Advertisements

Hier kom die ( verteenwoordigende) Bokke….

 springbokemblem1.jpgDaar is gedurig sprake daarvan dat die land ‘n rugbyspan moet kies wat meer “verteenwoordigend van SA se bevolking” is.

Aangesien dit so ‘n uitstekende idee is, wil ek graag ‘n paar aanbevelings maak van hoe ‘n werklik verteenwoordigende Springbok-vyftiental sal lyk:

 

Suid Afrika het effens meer vroue as mans. Daar sal dus 8 vroue en 7 mans in ‘n verteenwoordigende span moet wees.

 

As ons dit verteenwoordigend van ons etniese groepe wil maak, sal ons mense van al 11 landstale, en minstens een Zimbabwiër wat oor die grens gevlug het in die span moet hê.

 

En moenie van ons land se gestremdes vergeet nie: Ons eis dat mense wat blind is/ in ‘n rolstoel is in die toekoms vir die Bokke uitdraf/ uitgestoot word in rolstoele.

 

Watter persentasie van ons mense het al ooit rugby gespeel? As jy al 48 miljoen van ons land se mense – elke ouderdomsgroep, albei geslagte en alle bevolkingsgroepe intel, dan het seker nie eers 15% al aan ‘n rugbywedstryd deelgeneem nie. Ek dring aan op ‘n verteenwoordigende span, en dit beteken minstens 13 spelers wat nog nooit aan ‘n rugbywedstryd deelgeneem het nie.

 

Die ouderdomsdiskriminasie is nog duideliker: Net mooi al die Bokke is in hulle twintigs of vroeë dertigs! Dit is werklik nie verteenwoordigend van die landsbevolking nie. Ons land het mense van ander ouderdomme ook! Duidelik moet die span volgende keer ‘n baba, kinders, tieners, middeljariges en ‘n senior burger ook insluit.

 

Baie van SA se potensiële werkersmag is werkloos. Ek beveel dus aan dat 6 uit 15 Springbokke in die vervolg op die veld rondstaan en nie saamspeel nie. Dit sal inderdaad ons land se bevolking-samestelling goed verteenwoordig.

 

Baie Suid-Afrikaners doen hulle werk minder as heelhartig. Ek vra ‘n Springbokspan wat dit ook verteenwoordig: Ons soek halfhartige rugbyspelers.

 

Onfiksheid en oorgewig is algemeen in hierdie land. Om hierdie mense ook te verteenwoordig, soek ons dat minstens sewe van die spanlede nie wedstrydfiks is nie. Ons soek ook 4 oorgewig Springbokke.

 

‘n Alternatiwe benadering:

 

Miskien kan ons van die veronderstelling uitgaan dat ‘n Springbokspan net een ding hoef te verteenwoordig: Die heel beste rugbyspelers wat Suid- Afrika op ‘n gegewe dag kan uitstoot.

 

Miskien kan ons nog verder gaan en redeneer dat ons wel ‘n verteenwoordigende Bok-span nodig het. Maar op ‘n teenoorgestelde manier. Ons Bokke is al omtrent ‘n eeu bekend as onder die wêreld se beste (soms die heel beste) op hulle eie gebied: Rugby. Hulle doen dit met entoesiasme. Hulle doen dit met ervaring. Hulle doen dit met vaardigheid. Kom ons maak dít verteenwoordigend van ons land.

 

Maak Suid Afrika verteenwoordigend van dit waarvoor die Springbokke nog altyd gestaan het: Die mees vaardige mense op hulle gebied denkbaar; wat met entoesiasme hulle beste gee en ons almal trots maak.

 

(Naskrif: Hierdie stuk is laat verlede jaar al geskryf; maar nou eers gepos.)