Uit hierdie draad:
Wouter: …. Ek dink nie mense sal ophou liefdadigheid doen as hulle ongelowig word nie.
Vrye Denker: Ons sê nie dat ongelowiges niks goed doen nie. Maar julle het geen objektiewe basis vir morele standaarde nie, en dit maak my bietjie skrikkerig.
Wouter: Wat bedoel jy met objektiewe morele standaarde, Vrye Denker?
Vrye denker: Objektiewe morele waardes: morele waardes wat nie afhang van die smaak van die tye nie. Sonder God/’n god kan jy nie ‘n absolute morele stelsel he nie: jy sal bloot doen wat jy goed dink. En wat “goed” beteken verander met elke geslag en elke volk wat jy besoek. So byvoorbeeld vind Hindoes dit goed om weduwee’s saam met hul afgestorwe man te verbrand. Ons dink dis immoreel, maar waarom dink ons so? Net as jy in God glo kan jy ‘n goeie antwoord daarop gee.
Wouter: Ek kan argumenteer dat ek ‘n basis het. Maar eers vrae oor julle s’n: So is die Bybel jou grond vir reg en verkeerd? Watter dele van die Bybel? Hoekom is dit ‘n goeie en/of ‘n slegte ding om ‘n basis te hê? Presies wat is die basis van moraliteit? Is dit wat God gesê het, is dit wat hy gedoen het, is dit wat sy volgelinge gesê of gedoen het, of is dit net wat Jesus gesê en gedoen het? Sal mens soos ‘n lys van goeie en slegte dinge kan maak hieruit?
Retha: “n Basis is nodig, want sonder ‘n basis kan Stalin hom ewe veel ‘n morele mens noem as wat ‘n filantroop homself een kan noem. Die basis is God en Sy wil, nie die Bybel nie, nie wat Christene doen nie. Dis nie in alles ewe maklik om God se wil te ken nie, maar dit beteken nie dat Hy nie ‘n wil het nie.
Wouter, jy sê jy het ‘n basis vir jou moraliteit. Wat is dit?
Wouter: My basis is dat ek kan reflekteer op my gedrag en ek kan sien hoe dit myself en ander beinvloed.
Vrye Denker: Ek vind geen probleem daarmee dat daar moraliteit kan wees apart van God se wil nie, maar soos jy self te kenne gee, is dit gegrond op persoonlike voorkeure en eie interpretasie.
Retha: ‘n Sadistiese en goedhartige mens kan albei reflekteer oor hulle gedrag, en sien hoe dit ander beinvloed. Om te sien en reflekteer maak jou dus nie moreel nie.
Wouter: Ek en die sadis is moreel verskillend. Ek het grond om moreel goed te doen, hy het grond om moreel slegte dinge te doen.
Retha en Vrye Denker: Wat presies bedoel jy met “goed” en “slegte dinge”? Waarop grond jy wat goed is?
(Wouter: My rasionele denke en refleksie is my grond.
Retha/ Vrye Denker: Rasionele refleksie kan nie ‘n grond wees nie, dis net iets wat jy gebruik om die grond waar te neem, wat is jou grond?)
Herhaal rondte tussen hakies, x4
Wouter: My inner witness of inner critic. Daardie critic is ontwikkel tot op ‘n vlak wat diere s’n nie is en kinders s’n nog nie is nie. Hy kan sien dat party dinge nie in my buurman se belang is nie.
Wouter is natuurlik welkom om daardie innerlike gewete-stemmetjie as basis vir sy moraliteit gebruik. Vir al wat ek weet, kan hy dalk ‘n baie meer respektabele mens wees as meeste gelowiges. Maar kan hy daardie stem ‘n basis vir objektiewe moraliteit noem?
Want Wouter se stem sê een ding, die volgende mens se stem iets anders. Sy innerlike stem is dus nie die objektiewe basis waarby almal kan inskakel nie, maar een van die 7 biljoen subjektiewe innerlike stemme op die planeet.
God is ‘n objektiewe basis vir moraliteit. Wouter se innerlike stem en my innerlike stem en jou innerlike stem is 3 aparte en verskillende subjektiewe basisse.
———–
Sien ook hierdie inskrywing.