Tag Archives: waardes

Van prys en waarde

Eendag, lank gelede, het ‘n dief in ‘n juwelierswinkel ingebreek. Die juwele was goed beveilig in geslote uitstalkaste met alarmstelsels, maar die pryse was buite-op die kaste. Hy het toe al die pryse omgeruil met die doel om bedrog te pleeg: Peperduur diamant-en-platinum hangertjies het die pryse van kostuumjuwele gekry, en goedkoop plastiek-oorbelle die pryse van duur ringe. Die volgende dag maak die winkel soos gewoonlik sy deure oop. Maar die snaaksste ding was dat niemand dit agtergekom het nie! Die klante het ingekom en hulle neuse opgetrek vir goeie werkmanskap in goud en edelstene, maar soms jare lank afbetaal aan namaaksels. (‘n Storie)

 

 

“Hollywood is a strange place. They give you $10 000 for a kiss and 50 cents for your soul.” – glo gesê deur Marilyn Monroe

 

 

Kougom wat Britney Spears na bewering gekou het is op ‘n stadium op die Internet verkoop. Dis moeilik om agter die ware syfer te kom, maar dit het volgens gerugte $270; $350, of $5 200 gehaal. “The meaning of life”  was ook ‘n tyd gelede op e-bay verkoop- vir $3,26.

 

 

 

Dis nie net Hollywood nie, Marilyn. Die hele wêreld is ‘n snaakse plek.

Kan iemand ‘n goeie mens wees sonder God?

Jou eerste reaksie as jy hierdie opskrif lees is dalk: “Retha Faurie, jou vermetele, bevooroordeelde [voeg selfstandige naamwoord in]! Daar is ongelowiges wat net sulke goeie – en selfs beter – lewens leef as gelowiges!

Met daardie laaste sin stry ek nie. Maar wag. Die vraag is nie of ‘n ongelowige ‘n goeie mens kan wees nie. Die antwoord op daardie vraag spreek vanself. Die vraag is: Kan enigiemand – gelowig of ongelowig – ‘n goeie mens wees in ‘n heelal waar geen gesag hoër as die mens bestaan nie?

Kom ons dink bietjie wat “goed” beteken, sodat ons “goeie” mense kan uitken. Jy behoort saam te stem dat mense goeie en slegte eienskappe het. ‘n Man wil byvoorbeeld in sy hart aan sy vrou getrou wees, maar sien terselfdertyd versoekings raak. Iemand anders se gewete pla haar as sy ‘n leuen vertel, want sy wil eerlik wees.

Jy kan seker sê hierdie is twee goed binne-in jou. Aan die een kant is daar die wil om reg te doen, om getrou of eerlik of wat ook al te wees. Aan die ander kant is daar die wil om verkeerd te doen, om ontrou of oneerlik of wat ookal te wees.

Maar dit lyk my daar is ook ‘n derde ding. Daar is iets binne-in ons mense wat ons vertel die een keuse is reg en die ander een verkeerd. Iets vertel ons aan watter een van sy twee instinkte ons behoort in te gee. Hierdie ding – wat ons vertel wat ons behoort te doen- kan nie een van die 2 instinkte wees nie, ewe min as wat die padreël “hou lings”die linkerkant van die pad is.

 Maar waar kom hierdie derde ding – hierdie konsep dat party dinge reg en ander verkeerd is- vandaan? Wat bedoel jy met reg en verkeerd, goed en sleg? Bedoel jy net: “Die meeste mense vind vriendelikheid goed en moord sleg.” Of bedoel jy dat party dinge goed of sleg is, ongeag wat mense dink?

 Hier is ‘n voorbeeld: Byna almal sal saamstem dat die Nazi-regime se dade afskuwelik sleg was. Maar veronderstel die Nazi’s het die oorlog gewen, en ontslae geraak van almal wat dink hulle dade was sleg. As almal gedink het hulle was reg, sou hulle dade dan reg gewees het?

 As jy antwoord dat dit in daardie geval reg sou wees, wat beteken “goed”en “sleg”dan? Dan is “goed” en “sleg” maar net ‘n saak van mense se smaak. Dan sou die stelling “Dis verkeerd om kleuters te mishandel” in dieselfde klas geval het as “olywe smaak nie lekker nie.” Dan sou ‘n ander samelewing welkom wees om kleuters te mishandel, soos olywe eet, as hulle daarvan hou. As goed en sleg afhanklik is van wat mense reken goed of sleg is, wie kan dan een persoon se dade goed en ‘n ander een se dade sleg noem?

 En as niemand se mening oor goed en sleg meer gewig dra as die volgende persoon s’n nie, word die stelling: “So-en-so is ‘n goeie mens” eintlik betekenisloos. Dan is moed niks beter as ingee aan jou vrese nie, omgee niks beter as haat nie, eerlikheid niks beter as skelmstreke beplan nie. Want daar is mense wat vrees, haat of skelmstreke kies. En hulle waardes is in daardie geval ewe geldig.

 As jy antwoord dat party dinge reg of verkeerd is, ongeag wat mense daaroor sê, dan kry goed en sleg eers werklik betekenis. Maar hoekom is hierdie dinge dan reg/ verkeerd as dit nie is oor mense so sê nie? Wel, dit moet dan verkeerd wees oor een of ander hoër wet as die mens so sê.

 Evolusioniste bespiegel dat ons idees van reg en verkeerd kom van wat vir ons spesie se evolusie voordelig was. Maar dit verklaar nie hoekom ons aanneming, of sorg vir weeskinders, as ‘n goeie ding beskou nie. (Aanneming is evolusionêr sleg. Dit help ander gene as joune om te oorleef.) Dit  verklaar ook nie hoekom ons verkragting as sleg beskou nie. (Verkragting is evolusionêr goed. Dit help jou gene om te oorleef.)

 En as evolusie die hoër wet is, beteken dit ook die wet kan verander. Ons mag dalk net “evolve” tot op die punt waar dit moreel reg is om byvoorbeeld kleuters te mishandel. Nee wat, dis myns insiens sinloos om na evolusie te kyk vir ‘n hoër wet.

 Ons weet dat wette ‘n wetmaker het. As goed en sleg iets meer beteken as persoonlike smaak, is dit oor iets of iemand groter as ons self daardie idee van goed en sleg in ons harte gesit het. In daardie geval bly hierdie iets of iemand se standaard reg, of jy nou saamstem met die hoër gesag oor wat reg/ verkeerd is, of nie.

Om te erken dat sekere dade reg of verkeerd is, is om te erken: “Daar is Iets of Iemand hoër as die mens. Daardie Iets of Iemand kan my dade as goed of sleg klassifiseer. Omdat daardie Iets of Iemand bestaan, kan iemand ‘n beter of slegter mens wees.”

 

 Kan ‘n mens, (hetsy gelowig of ongelowig,) ‘n goeie mens wees sonder die bestaan van ‘n hoër gesag? Ek sou dink dis onmoontlik. Want sonder daardie Hoër Gesag verloor goed en sleg hulle betekenis. Deur betekenis te heg aan die woorde “goed”en “kwaad”, erken jy klaar dat ‘n hoër gesag as die mens die reëls maak.

Oppas vir Nathan Bond!

‘n Deel van my wil nie hierdie pos maak nie. Ek gee publisiteit aan iemand vir wie ek nie publisiteit wil gee nie. Maar ‘n paar poste wat ek oor die Afrikaanse blogosfeer opgetel het, onder andere deur Gormendizer en Frank Botha, wys vir my dat Nathan Bond, en besprekings oor sy opinie, weer besig is om aandag te trek op die Afrikaanse Internet.

Gesien in die lig dat ek openlik in God glo, en Nathan (regte naam Drewan Baird) openlik teen godgelowigheid is, kan jy maklik reken dat ek net daaroor teen Bond is. Maar dit is nie waar nie. George Claassen, nog ‘n ongelowige wat eintlik Nathan se opinie oor geloof steun, waarsku byvoorbeeld ook op sy blog teen Drewan Baird.

Op die forum Kletskerk was Nathan die deelnemer met die meeste poste, tot hy begin geld insamel het by Kletskerk-ongelowiges vir ‘n boek wat hy oor (teen) “kinders en godsdiens” wou uitgee. (Hier is ‘n intelligenter en meer wetenskaplik nagevorste opinie oor die saak as hy en sy held Dawkins s’n.) Hy raak toe weg met hulle geld. Hier is die storie. Die mense daar beweer ook dat hy ‘n paar jaar terug in die hof was op aanklagte van bedrog van oor ‘n miljoen Rand. (Ek het nie toegang tot die koerant-argiewe nie.)

Hy het ook op ‘n Kletskerk-byeenkoms ‘n vrou ontmoet wat by wie hy, getroud met iemand anders, ingetrek het. Nadat hy haar uit haar spaargeld verkul het, het die verhouding doodgeloop. Hier is daardie storie, uit haar oogpunt.

Nathan Bond is gevul met haat. Hy het al, nadat ek gepraat het oor gelowiges wat gesterf het vir hulle geloof, gesê: “Eintlik wens ek dat meer Christene vir hulle geloof sterf.” (Terloops, volgens groepe soos the Christian World Encyclopedia en Voice of the Martyrs was daar verlede jaar alleen 160 000 Christene doodgemaak vir hulle geloof. En Nathan wens dat dit meer is???) Hierdie aaklige, haatgevulde karakter en sy bewonderaars het jare gelede Kletskerk verander van ‘n geloofsforum na ‘n plek waar mens skaars toegelaat word om te noem dat jy ‘n gelowige is. Ek is weg by Kletskerk toe stellings soos “Godgelowiges is goed as jy breindood kanonvoer nodig het” niemand daar meer twee keer laat opkyk het nie. Ek wou nie dat sulke haatgevulde mense my beïnvloed nie.

‘n Vername probleem met sy benadering is die volgende: Hy beweer hy is teen godsdiens (Ek is, terloops- ook teen godsdiens- ek verkies ‘n verhouding met Jesus) grootliks oor godsdiens irrassioneel is. Hy self, en persone soos Richard Dawkins wat hy graag aanhaal, is geensins voorbeelde van rasionaliteit nie, maar van bitterheid, haat, woede en soortgelyke emosies. Hy is teen godsdiens oor godsdiens glo doodslag veroorsaak, maar dan moet hy eerder teen iets soos ateïstiese kommunisme wees- wat nog meer doodslag veroorsaak. En teen wetenskap en tegnologie, want wetenskap en tegnologie het ons alles van buskruit tot die atoombom gegee. (Verstaan my mooi, ek spreek my nie hier uit teen wetenskap en tegnologie nie. Ek sê Nathan Bontpraat is nie konsekwent nie.)

Ek het hom op Kletskerk al – toe ek nog daar rondgehang het jare terug – “Nathan Bontpraat” genoem vir sy vermoë om te mislei. Op die Afrikaanse Lighuis- forums het iemand ook al genoem hy bly op dieselfde dorp as Drewan, en Drewan is bekend as ‘n “sakeman” wie se geldmaak-plannetjies ook nie geglo kan word nie.

Gelowig of ongelowig, oppas vir Nathan. Dit wat hy doen, sê en is bring -volgens alle getuienis wat ek het – nie waarheid of wins, skoonheid of geluk nie.

——————

Ns: Ek praat hier ook oor Nathan. Hier betreur ek wat gebeur het op ‘n Internet-forum waarvan ek deel was op ‘n stadium.

 

Oor backward masking, generasie-verskille en opofferings

As jy in die ’80’s/ vroeë ’90’s ‘n tiener was, sal jy dalk die konsep van backward masking onthou.

Indien nie, dan verduidelik ek gou: Daardie tyd het onderwysers en ander mense tieners probeer wysmaak dat rock-musiek ‘n kommunistiese/ sataniese komplot is, en dat heelwat rock-musiek se woorde doelbewus so geskryf is dat nare boodskappe gekry word as mens die plaat agteruit speel. Nou hoekom sit hulle nare agteruit-boodskappe op die plate? Want, só lui die teorie, die boodskappe wat jy agteruit hoor kom by jou onderbewussyn in en het ‘n invloed op hoe jy dink.

Nou ja, ek wil my nie uitspreek oor hoeveel van ‘n invloed (indien enige) agteruit-boodskappe op mens onderbewussyn het nie. Wat ek wel weet, is dat wat jy op die gewone manier hoor- die boodskap wat vorentoe speel op plate/ kasette/ CD’s (Onthou jy nog plate? Sulke ronde swart viniel goeters?) jou bewussyn én onderbewussyn beïnvloed.

Nou ja, in die laat ’80’s het ek tieners geken wat bereid was om hulle plate te verbrand oor hulle hoor die goed het agteruit boodskappe op. Ek het altyd gedink hulle is beter as ek- ek het toe sopas my tienerjare ingegaan, was op daardie stadium nie ‘n Christen nie en ek sou nie so ‘n opoffering maak vir so ‘n rede nie. Maar talle tieners het gesê dat wat nie goed is vir hulle gedagtes nie, raak hulle van ontslae.

Daar is, en was nog altyd, talle musiek wat mens nie hoef agteruit te speel vir ‘n verkeerde boodskap nie. Om so vinnig twee voorbeelde te noem van boodskappe wat my dwars in die krop steek: “I wanna be loved by you, just you/ I couldn’t aspire to anything higher…” – ‘n Vrou kan hoër aspirasies hê as om ‘n man te kry. Regtig. Sy kan. “You and me, baby, ain’t nothing but mammals….” – Vanselfsprekend is ons meer as net soogdiere! Die blote feit dat ek eksepsie kan vat as mense dink ek is niks meer as ‘n soogdier nie, wys dat ek anders as ander soogdierspesies is. Ons is weinig minder as hemelse wesens (Psalm 8:5)!

Ek het daardie tyd gehoor van jongmense wat besittings opoffer op die suspisie dat dit moontlik nie goed is vir hulle gedagtelewe voor God nie. Ek hoor dit nie nou meer nie. Daar is talle goed in flieks, boeke en musiek wat duidelik mens gedagtes besoedel. Maar waar mense nog ‘n generasie gelede gewillig was om op te offer wat dálk besoedelend kan wees, offer mense nie eers meer op wat béslís besoedelend is nie. Mense bid byvoorbeeld en lees Bybel, maar bly saam buite die huwelik, en besoedel hulself. Op ‘n manier het die boodskap van ‘n lewe wat nie ‘n muur tussen jou en God maak nie verlore gegaan. Of mense redeneer dat enige volwasse individu die reg het om pornografie te kyk. Maar die meer pornografie oral maak dat meer kinders negatief beïnvloed word deur pornografie. Dit is bekend (nie net ‘n suspisie nie) dat die toename in pornografie wel party lede van die samelewing (kinders) skaad, maar ons bly in ‘n samelewing waar meeste mense niks (ook nie ‘n “reg” om pornografie te kyk) sal opoffer vir ander nie.

Wat is die ergste? ‘n Generasie wat glo wat hulle vertel word, en dan opofferings maak wat onnodig is? Of een wat nie glo dat enigiets werd is om iets voor op te offer nie? Want daar is nog dinge wat werd is om voor op te offer. En die dinge wat werd is om voor op te offer, is nie dinge nie.

Huisgenoot-betroubaarheid: Sleg genoeg om die tydskrif te boikot?

Huisgenoot het glo laasweek ‘n storie op die voorblad gehad van ‘n SA model wat vertel van sy verhouding sedert laasjaar met tennisspeelster Justine Henin. Maar eintlik het sy hom, luidens ander berigte, al die trekpas gegee binne ‘n week nadat hy die eerste keer vir haar gaan kuier het. En Justine het ‘n paar maande gelede in ‘n ander onderhoud ontken dat sy in ‘n verhouding betrokke is. Maar dit lyk al lankal of Huilgenoot nie mooi van hulle feite seker maak nie.

So ‘n maand of twee, drie terug blaai ek êrens weg van my huis deur ‘n 2005-Huisgenoot. (Daar was niks anders om te doen nie.) Daar is ‘n artikel in waarin Jan Blohm sê hy raak nie aan dwelms nie -hy het ‘n vriendin daardie paadjie sien loop en hy sal nie. Daardie selfde week wat ek die ou boek lees, vertel iemand anders my, het die nuwe Huisgenoot glo van Jan Blohm se jarelange stryd met dwelms vertel! Mens kan seker Huisgenoot vergewe vir daardie een. Hulle het seker Jan ‘n paar jaar terug geglo toe hy sy dwelmgebruik ontken het. En nou weet hulle seker beter as daardie tyd, en Jan weet van beter as om sy probleme te ontken.

 

Ek lees ook op ‘n internet-webblad dat Huilgenoot verlede week ‘n onderhoud met Elize Human (Sheldean se ma) gehad het. Nou ja, díé vrou het al vantevore in Rapport erken o.a. dat haar kind baie dae nie kos gehad het om te eet nie. Sy sê nou haar kind het aldag geëet. Miskien kan ons positiewer wees oor die Huisgenoot-artikel. Dalk kan ons dink Huisgenoot het vorige negatiewe stories in die media, wat ‘n wanindruk geskep het, reggestel. Maar nee, ons kan nie. As Huilgenoot Rapport verkeerd wou bewys het, sou hulle verwys het na die stellings wat hulle korrigeer. Huisgenoot het waarskynlik net nie omgegee of die kind genoeg geëet het, al dan nie. Huisgenoot betaal die ma(Elize Human is oor die R100 000 betaal vir haar storie, sê ‘n bron my), Huisgenoot kry ‘n scoop, mense koop Huisgenote en Huisgenoot maak ‘n wins, waarom gepla wees of die lesers iets akkuraat lees?

 

21 Februarie het Huisgenoot ‘n artikel ingehad waarin Robbie Klay vir Jurie Els van kindermolestering beskuldig. Die volgende week rugsteun hulle dit met ‘n artikel waarin andere in die vermaaklikheidswêreld omstandigheidsgetuienis gee. Die week daarna het hulle ‘n artikel in waarin Jurie vir Robbie ‘n seksbehepte leuenaar noem. In verband met hierdie teenoorgestelde artikels kan ‘n mens 1 van 3 dinge aanneem: 1) Huisgenoot glo Robbie 2) Huisgenoot glo Jurie 3) Huisgenoot het geen idee watter storie waar is nie, maar publiseer albei vir sensasie.

As hulle Robbie glo, het hulle die volgende gedoen: Eers met ‘n simpatieke oor geluister en gemaak of hulle omgee, en toe ter wille van sensasie ‘n lasterlike storie geplaas oor die karakters van Robbie en sy ma. Wie van ons sal ‘n kindermolesteerder help om in die openbaar sy slagoffer se naam swart te smeer?

As hulle Jurie glo, het hulle die volgende gedoen: Willens en wetens vir sensasie ‘n man wat hulle as onskuldig beskou, se naam so sleg gemaak dat die publiek hom wil seermaak, winkels nie sy CDs wil aanhou nie, en die nuus “Hestrie verwag ‘n seun” die skindertonge laat klap. Wie van ons sal so gewetenloos lieg?

As Huisgenoot nie ‘n mening het oor watter een van die twee se verhaal waar is nie, het hulle nog steeds geweet dat hulle karaktermoord op een van die twee uitvoer met lasterlike leuens.(Ek het ‘n idee watter een van die twee belieg was, maar dis nie relevant hier nie.) Huisgenoot het na my mening minstens een van die twee vir sensasie misbruik. Omdat ek tot die gevolgtrekking gekom het dat Huisgenoot ewe maklik onsin as waarheid publiseer, het ek van daar af besluit om Huisgenoot te boikot.

 

Intussen het ek weer een Huisgenoot gekoop. Daardie week se voorblad het 2 artikels opgehad wat my laat koop het. Die een is oor Dana Snyman en Frank Opperman, wat ‘n positiewe boodskap probeer uitgee met hulle nuwe Pottie Potgieter- toneelstuk. Die ander was oor René Burger, waarin sy sê sy is ‘n oorwinnaar, nie ‘n slagoffer of selfs ‘n oorlewende nie. (Dis die gees, René!) Daardie René Burger-berig eindig met die woorde: “René is deur haar regsverteenwoordiger aangeraai om geen besonderhede oor die aanval met die pers te bespreek nie, omdat dit die polisie-ondersoek kan belemmer.” Die week daarna skree die Huisgenoot-voorblad dat hulle ‘n eksklusiewe onderhoud met René het met die besonderhede! Lieg Huisgenoot met die woorde oor haar regsverteenwoordiger se raad? Of skep hulle ‘n vals indruk op die volgende voorblad, waarin die inhoud van die artikel nie is wat op die voorblad beloof is nie? Of het haar regsadviseur haar wel daardie raad gegee, maar Huisgenoot se mense het haar nogtans -heel oneties van hulle, want lyk nie wetlik in René se belang nie- oortuig om hulle ‘n sensasie-storie te gee?

 

Hoe dit ook al sy, Huisgedood gee klaarblyklik glad nie om vir waarheid, hulle lesers se breine, of die belange van die mense oor wie hulle skryf nie. Daarom verstaan ek die grappie van die ou wat sy Huisgenote onder sy ou Scopes wegsteek as die dominee kom kuier.

 

Nooi al jou huweliksgaste vir die egskeiding?

skeikoek.jpgElders op die net vertel iemand nou die dag: “Wat ek nie kan verstaan nie die dag as jy trou moet béídé partye trou beloof………….die dag as jy wil skei is slegs één party nodig, die ander het selde indien ooit regtig ‘n sê in die saak.”

Dit bring die mense toe by ‘n bespreking uit: ‘n Paartjie beloof gewoonlik trou voor ‘n dominee/pastoor, en al hulle familie en vriende. Dalk moet mens almal wat vir die troue daar was vir die egskeiding nooi. Dan verduidelik die een wat wil skei waarom hy/sy nie meer sy/haar beloftes wil hou nie. (Hy of sy moet bly verduidelik tot die meerderheid gaste glo ‘n egskeiding is die regte ding. “Die huwelik was ‘n fout” is nie goed genoeg nie. ) Op die ou end het die mens wat nou wil skei tog ons almal wat by die troue was belieg met sy/ haar huweliksbeloftes, nie waar nie?

Het hulle die reg om nou te maak of dit nie ons saak is nie? En as mens trougeskenke moet gee by ‘n troue, moet die paartjie nie dan skei-geskenke uitdeel vir die familie en vriende by ‘n egskeiding nie?

As ‘n derde party by die egskeiding betrokke is, moet díé dalk die onthaalkoste dra?

Miskien, net miskien, sal dit mense twee keer laat dink oor die egskeiding-idee…

Wat dink julle?

Prioriteite, mense!

Drie dinge wat onlangs in koerante verskyn het het my aan die dink gesit. Die een gaan oor (wit) studente wat glo op vleis gepiepie en dit aan (swart) werkers voorgesit het sonder dat die werkers weet daar is op gepiepie. Hulle maak toe rassistiese aanmerkings daarby op die video.

Die tweede handel oor ‘n bekende sanger wat na bewering ‘n seun jare lank gemolesteer het, vandat die seun 10 was.

Die derde gaan oor vyf polisiemanne wat na bewering ‘n meisie, wat 12 was toe dit begin het, oor byna 2 jaar gereeld verkrag het. Een van hulle het dit selfs weer kom doen net na sy ‘n klag by ander polisielede gaan lê het oor die saak.

Objektief beskou, is laasgenoemde seker die lelikste van die 3 verhale, en eersgenoemde die minste erg. (Die derde verhaal is vir my erger as die tweede omdat dit 5 misbruikers en verkragting insluit, terwyl die tweede geval oor een misbruiker gaan en nie sodomie insluit nie.)

Watter een maak landswyd en internasionaal opspraak? Die eerste een, oor dit rasse-konnotasies het.

Watter een maak landswyd opspraak? Die tweede een, oor dit ‘n (plaaslik) bekende sanger insluit.

Watter een het niemand feitlik raakgesien nie? Die derde een, want die mense betrokke is seker dieselfde ras en geen beroemdes is betrokke nie.

In die eerste voorval is ek seker die betrokkenes sal ten minste die straf kry wat hulle toekom, indien nie ‘n erger straf nie. In die ander twee gevalle is ek nie so seker nie.

As die omstandigheidsgetuies wat lank vermoedens gehad het in die hof vertel wat hulle gesien het, is daar baie getuienis teen die oom in die tweede verhaal. Maar aan die ander kant kan die oom uitstekende regsverteenwoordiging bekostig.

In die saak van die verkragte meisie weet ek regtig nie of daar geregtigheid gaan wees nie. En doen die land dan nie eers meer ‘n sielkundige profiel op iemand voor hulle hom in die polisie aanstel nie?

Die owerhede sal sorg dat die arme mense wat onwetend miskien piepie gedrink het berading kry. Die sanger se slagoffer sal seker maar self moet sorg dat hy berading kry. Wat die meisie wat deur die polisiemanne verkrag is betref, gaan iemand sorg dat sy berading kry? Enigiemand?

Kom ons raak vir ‘n slag die kwaadste oor wat die meeste saak maak. En swart-teen-swart of wit-teen-wit misdade is ‘n niks kleiner skande as wit-teen-swart misdade nie.