Die ateïs George Claassen is onlangs genooi om die (omstrede) teologie fakulteit van die UP te open. Volgens Hennie Mouton in “Juig”:
…die tragiese is, dat George Claassen nie net evolusie gepropageer het nie — hy het geloof in God en God self blatant aangeval. Hy het by implikasie beweer dat moderne wetenskaplikes, onder andere Charles Darwin, groter gesag as die Heilige Gees het. Sy redenasie was eenvoudig — die evolusionistiese wetenskap het die Bybel verkeerd bewys, Christene glo dat die Heilige Gees die Bybel geïnspireer het, en daarom weet moderne wetenskaplikes meer as die Heilige Gees en het dus hoër gesag. Dit is nou ingeval die Heilige Gees bestaan – wat Claassen in elk geval nie glo nie.
Ek weet nie wat Claassen vertel het om “die evolusionistiese wetenskap het die Bybel verkeerd bewys” te regverdig nie. Sulke “bewyse” skiet gewoonlik sleg tekort, en klink net oortuigend as jy nie daaroor nadink nie. Rosalind Franklin het byvoorbeeld al hier vertel:
die sterkste bewys [vir evolusie, teen skepping] die menslike genoomprojek wys aan ons dat die mens nie uniek “geskape” is nie, maar gene besit wat sover as 500 miljoen jaar gelede ook in ander organismes gevind is. Ons deel selfs gene met visse en honde en talle ander organismes.
Komponente wat hergebruik word is natuurlik geen argument teen ontwerp nie. Ontwerpers hergebruik dikwels komponente. ‘n Argitek gebruik nie net gereeld sement, bakstene en vensterglas in byna alles wat hy doen nie, hy hergebruik ook goed soos die standaardhoogte van plafonne, die standaardgrootte vir deurkosyne, en 90-grade-hoeke. ‘n Programmeerder van rekenaarspeletjies gebruik stukke rekenaarkode oor en oor. (In my opinie het mense wat reken dat sekere wetenskapfeite onversoenbaar met sekere Bybelfeite is, gewoonlik ‘n wanbegrip van óf die Bybel of die wetenskap, maar dis net persoonlike ervaring.)
Maar kom ons veronderstel, argument’s onthalwe, Claassen se aanname is reg, dat hy onbetwisbaar bewys het dat Genesis onversoenbaar met wetenskap is.
Selfs dan is die aangehaalde argument nie waar nie. ‘n Veronderstelling wat Claassen daar gemaak het, sonder om dit te noem, was: “Die Heilige Gees se doel met die Bybel was om ons alles wat Hy weet te vertel oor die natuur en niks wat Hy weet uit te laat nie.” Want as die Gees ‘n ander doel gehad het, en minder as alles wat Hy weet in die Bybel laat neerskryf het, is die aanname verkeerd dat die Gees minder weet/ minder gesag het as moderne wetenskaplikes.
Weereens hou ongelowiges se argumente teen God nie water nie.
————————————–
Naskrif:
-
Sien Claassen se kommentaar -en my antwoord daarop – vir hoe Claassen nie sy “die Bybel is ‘n onbetroubare boek” wil of kan staaf nie.(Uit sy vraag, dink ek dat Claasen dalk onbewus is dat Jesus ‘n werklike historiese karakter is wat deur sekulêre geskiedkundiges erken word.) Sien “Ek sien foute in die Bybel, wat nou?” vir waarom, selfs as daar foute in die Bybel sou wees, dit nie die einde van Christenskap moet wees nie.
-
Ander kommentaar oor Claassen-stellings hier (veral die naskrif) en hier.