Monthly Archives: Augustus 2017

Die eerste rugbyspan is nie die enigste mense wat saak maak nie

Die 2 prominentste hoërskole in Welkom (Welkom is ‘n stad, nie ‘n dorpie nie, en het ‘n hele paar hoërskole) hou elke jaar ‘n derby waar hulle hokkiespanne, netbalspanne en rugbyspanne teen mekaar meeding. Meeste jare, in onlangse tye, wen Gouties die meeste netbalwedstryde, die meeste hokkiewedstryde, en die meeste rugbywedstryde. En jaar na jaar berig plaaslike koerante: “Gimmies verpletter Gouties” of: “Gim vermorsel Goudveld“.
Selfs as jy nie van Welkom is nie kan jy seker raai watter Gim-span gereeld wen. Dis nie ‘n derde span of ‘n o. 15- span nie, hulle tel nie vir koerantskrywers nie. Dis nie ‘n span meisies – van watter sport ookal – nie, hulle tel ook nie. Dis nie ‘n seuns-hokkiespan nie, hulle tel ewe min.

Om te tel in hierdie wêreld, moet jy
a) manlik
b) in die eerste span, en
c) in die mees macho sport wees.
Ek dink ons moet ons houding oor wat saakmaak verander. Almal se insette, almal se prestasies tel. Dit sluit die 3de netbalspan en o. 15 hokkiespan in. Dit sluit die verloorspanne in wat hulle beste gegee het. Dit sluit toeskouers in wat met respek en waardigheid hulle span of kind kom ondersteun het. Dit sluit die kind in ‘n minder prominente skool in wat ook sy beste in sport gee, maar wat nie so ‘n goeie span rondom hom het nie.

As ons almal se sukses raaksien, sal ons verander hoe ons oor wenners praat.

_____________

Naskrif: Artikel die dag na die derby geskryf, om praktiese redes nou eers gepubliseer.