Is die NG kerk in ‘n treurige toestand?


Opdatering: Ek het intussen geleer dat Glo die Bybel nie die dolerendes se webblad is nie. GdB treur egter wel oor die NG Kerk se standpunt – of gebrek daaraan – oor die saak wat sentraal staan in hierdie artikel. Die hoofpunte van die artikel staan dus onveranderd.
—————

Tot eergister toe het ek nie die woord doleer geken nie. As ek moes geraai het, sou ek dink dit beteken iets soos opdollie – om oordadige rokke aan te trek en baie grimering op te sit. Dit was dus vir my nogal boeiend toe ek hoor verskeie NG dominees doleer. (Noudat ek verstaan waaroor hulle doleer, is my eerste gedagte oor hierdie manlike dominees nogal ironies.)

Dit was interesant genoeg dat ek die regte betekenis van die woord opgesoek het. Toe leer ek doleerders is iets anders: Hulle treur oor die kerk (na hulle mening) die regte pad verlaat het:

“‘n Dolerende gemeente is dus ‘n treurende gemeente wat treur oor ‘n kerk wat die pad van die Woord byster geraak het. Dolerende gemeentes skei nie (onmiddelik) af nie, maar laat die kerkverband duidelik weet en besef dat hulle treurend sal bly totdat daar bekering by die kerk kom en ‘n terugkeer na die Woord plaasvind”, is hoe Tafelberg Gemeente dit bewoord.

Wanneer het die NG kerk (glo) die pad verlaat? Waaroor treur hulle? Het die kerk die pad verlaat toe hy oor kleinigheidjies van die Doppers en Hervormers afgeskei het? (Joh. 17:21) Of toe hy denominasies soos die NG Sendingkerk gestig het eerder as om almal saam in die kerk te verwelkom? (Gal 3:28) Het hy die pad verlaat toe hy in die NP regering se sak was? (Joh. 18:36, Mark 12:17) Het hy die pad verlaat toe hy uit die regering se sak uitgeklim het?*

Is hulle hartseer dat in ‘n land waar byna 80% van die bevolking hulself Christene noem, die moord- en verkragtingsyfers so hoog is?

Pla die yslike gaping tussen ryk en arm in die land hulle? God het immers land regverdig tussen Sy volk uitgedeel (Num 26:53) en was besorg oor armes. (Deut 15:7-8, Spreuke 14:31, 19:17, 21:13, 22:16, Eseg 16:49-50, Luk 4:18, 6:20-21 en 24 en 31, 18:22 Hand 4:34-35, Jak 1:27)

Treur hulle oor die krimpende lidmaattal, oor hoe min kinders in die kategese is, oor hoeveel kinders die kerk verlaat na belydenisaflegging? God roep ons om dissipels te maak (Mat 28:19-20) – pla dit hulle dat die kerklidmate dan daal en nie styg nie?

Nee! Hulle treur, kragtens die webblad GloDieBybel, oor wat die NG Kerk oor homoseksualiteit, die duiwel, skrifgesag en Jesus se maagdelike geboorte sê. Oor party onderwerpe gee hulle lyste van Bybelverse, maar oor ander gee hulle hul eie menings ook. As GloDieBybel byvoorbeeld oor mans en vrouens se beweerde “rolle” praat, gee hulle tans agt artikels wat nie net Bybelverse is nie, en dan ‘n artikel van hul eie, en dan eers Bybelverse. (Hulle reken mans moet baas wees en vroue klaas, en hulle glo dit sterk genoeg om nie bloot by die Bybel te bly nie, maar hulle eie menings by te sit. Ek het al op hulle eerste skakel – ‘n artikel wat in Afrikaans in JUIG en Engels in JOY was – gereageer, en daardie artikel “reageer” op my brief aan JUIG/JOY.)

Maar dis duidelik dat die punt waarby hulle begin en waarna hulle oor en oor terugkeer oor selfde geslag verhoudings (SGV) gaan. Voor ons oor hulle treurende (treurige?) toestand praat, moet ek iets bely. Die oomblik toe ek die naam Glo die Bybel lees, het my rughare regop gespring.

Dis belangrik om die Bybel te glo. Dis ook belangrik om hom in konteks te lees, want dan is wat jy glo inderdaad wat die skrywers – en die Gees wat hulle inspireer – bedoel het. Maar ek het al te doen gehad met mense wat sê: “Ek glo die Bybel!”/ “Jy moet die Bybel glo!” / “Die Bybel sê jy moet só maak!” Meeste van diesulkes verstaan nie dat ander mense ook Bybel lees, en dan die inhoud probeer in konteks verstaan – en opeindig om die Bybel anders te verstaan as hulle nie. Hulle glo eintlik dat hulle die enigste Bybel-glo-ers is, en dat almal wat anders dink dan uiteraard geen respek vir die Bybel het nie.

Daarom, toe ek die naam Glo Die Bybel sien, het ek begin dink aan iets waaroor ek treur: Die verdeeldheid en mure waarmee gelowiges hulle broers en susters weghou van hulself af. Aan die verskonings, soos “hy glo nie die Bybel nie”, wat ons keer om medegelowiges (mede-glo-ers) as broers en susters te sien.

Maar weg van my tranedal af, terug na hulle s’n. Die 2019 besluit oor SGV van die NG kerk kom basies hierop neer (alle versierende taal oor verantwoordelike skrif-vertolking en versoening as ons verskillend dink uitgelaat):


6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se: 6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, 6.2 toegang tot die sakramente, 6.3 integriteit van verhoudings, en 6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem 6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se: 7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, 7.2 toegang tot die sakramente, 7.3 integriteit van verhoudings, en 7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

2019 besluit oor SGV van die NG kerk

Dit kom neer daarop dat, kragtens die besluit, iemand wat gay aantrekking beleef ook geroep kan wees, en ook so skoon kan lewe voor die Here as enige ander gelowige. As party gelowiges reken dat skoon lewe selibaatheid vir ‘n gay persoon beteken, en ander reken dit beteken bloot getrouheid aan een maat, word die regte antwoord nie hier uitgespel nie. Dus kan mense wat selfdegeslag-aantrekking beleef (gay seksuele oriëntasie het) hiervolgens ook die geskikte persoon vir ‘n spesifieke kerkrol wees. Die besluit vra immers dat die persoon se belydenis, roeping, spiritualiteit, getuienis van leer en lewe, integriteit van verhoudings, en teologiese vorming in ag geneem word.
Sovêr ek kan sien, is die enigste soort mens wat probleme met hierdie bewoording kan hê, is iemand wat reken dat ‘n man of vrou wat gay aantrekking beleef glad nie in enige kerk-amp mag dien nie, en só ‘n teologiese student mag nie gelegitimeer word nie – ongeag toewyding aan God, ongeag roeping of kennis, selfs as die persoon selibaat bly, ongeag die integriteit van hoe hulle met hulle medemens omgaan. En dit kan tog nie! Om te reken dat sulke versoekings – selfs as jy nie daaraan toegee nie – mens heeltemal onvanpas vir enige kerkrol maak, is glad nie in pas met hoe God in Sy genade met mense werk nie.

8. Die Algemene Sinode erken dat daar: 8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie, 8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig.

2019 besluit oor SGV van die NG kerk

Enige gemeente is dus vry om hulle God, die Bybel, en hulle gewete te volg waar díé hulle lei. Is dit so erg om predikante en gemeentes te laat besluit hoe hulle God en die Bybel verstaan oor ‘n saak, veral as verskillende gelowiges nie ‘n paar Bybelgedeeltes daaroor dieselfde verstaan nie?

En nee, die doleerders het nie alle wysheid oor die saak nie. Weens verskeie redes glo ek die treurendes is nie bloot besig om die skrif te volg nie. Maar daardie dinge is rede vir ‘n volgende inskrywing.



———————————-

Verwysing:

* Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis kan dit verkeerd wees om nie invloed in die regering te soek nie:

“DIE BURGERLIKE OWERHEID

… [God het] die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig… Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19; 17:16; 2 Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan. 2:21-22; (5:8); Jes. 49:23; 2 Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk 22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand. 4:17-19; Hand. 2, 5; Hos. 5:11; Jer. 27:5; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2. “

Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 36

As die “hulle” wat afgodery en vals godsdiens moet uitroei die burgerlike owerheid is, dan reken hierdie geloofsbelydenis ons moet invloed in die regering hê.


Lewer kommentaar