Daar was onlangs op Bosparra, ‘n blog waar ek dikwels rondhang, twee drade (Hier en hier) oor genadedood. Ek is versigtig vir genadedood, want:
Dis maklik om, terwyl jy gesond is, te sê jy soek nie ‘n lewe op masjiene/ ‘n pynlike siekte nie, maar sal jy dieselfde sê as jy in daai posisie is? Selfs onder die aakligste omstandighede kies ‘n baie klein persentasietjie van mense selfmoord. Is dit waar dat iemand wat nie meer kan kommunikeer nie genadedood sou kies? Soos ek vandag voel, sê ek ook ek wil nie byvoorbeeld as ek oud is ‘n laat stadium van seniliteit bereik nie, ek sal eerder wil dood wees. Maar veronderstel dat ek wel eendag Altzheimers het, sal ek nog steeds so voel in die vroeë of middelstadiums daarvan? Of sal ek aan lewe bly vasklou, want dis wat ek nog het? En sal my wil om te lewe dan minderwaardig wees teenoor wat ek oor genadedood gesê het in my jeug?
Kom ons dink aan iemand wat in ‘n motorongeluk beland en bewusteloos op masjiene gekoppel word. Die dokter sê die kanse is skraal dat hy sal bykom, maar dis nie onmoontlik nie. Hy het baie geld om aan erfgename na te laat. Daardie selfde erfgename is sy naasbestaandes en kan besluit oor of sy masjiene moet aan bly. Wat is die kanse dat iemand wat ryk kan erf vroeër of later gaan kies om masjiene sommer gou af te skakel– terwyl die mens nog sou bygekom het andersins?
Ek is bekommerd dat die “reg om te sterf” later “die verantwoordelikheid om te sterf” gaan word. In ‘n samelewing waar genadedood normaal is, sal daar vroeër of later druk uitgeoefen word op verswaktes- druk wat hulle laat glo hulle is ‘n las op hulle geliefdes, Sarie-se-ma-het-dieselfde-siekte-gehad-en-sy-het-gekies-om-te-sterf- tipe druk. Dit sal moreel oneties van die samelewing, dokters of geliefdes wees om sulke druk op ‘n swak en siek mens, wat nog die normale instink het om te wil leef, uit te oefen.
Watter invloed het genadedood op dokters? Veronderstel ‘n dokter help ‘n pasiënt om dood te gaan. Stomp dit hom nie af teenoor die volgende pasiënt met dieselfde probleem, wat kies om te alles in die stryd te werp om te LEWE nie? En ‘n afgestompte dokter is ‘n swakker dokter vir al sy pasiënte- nie net díé wat terminaal siek is nie.
Vir mense wat ten gunste van genadedood is, het ek die volgende vraag: Veronderstel jou man, vrou of kind is ‘n depressielyer. Hy/sy drink ‘n handvol pille om selfmoord te pleeg. Jy kom op hom/haar af. Het jy as ouer of huweliksmaat die reg om hom/haar hospitaal toe te jaag en sy/haar maag te laat uitpomp? As jy werklik glo in mense se reg om die dood te kies, sal jy mos nie hom/haar hospitaal toe vat nie?
Sal ek iemand veroordeel wat pynlik en dodelik siek is, en kies om ‘n handvol pille op een slag te drink en te uit hierdie lewe te gaan? Nee. Sal ek iemand veroordeel wat, met sy geliefde al ‘n geruime tyd op masjiene en menslik gesproke geen kans dat sy weer sal bykom nie, die masjiene afsit? Nee. Maar om genadedood voor te staan los hopeloos te veel deure oop vir misbruik.