Monthly Archives: November 2008

Afsonderlike kinderdienste? Ja of nee?

‘n Predikant vra my eenkeer, omdat ek opleiding in jeugwerk het, of ek dink dat gemeentes ‘n aparte kinderdiens moet hou, of glo ek kinders en grootmense hoort saam in die kerk.

Uhm, sê ek toe. Ek dink dis nodig om om eers seker te maak wat bedoel word met “kinders en volwassenes saam in die kerk.” Dalk moet ons onderskei tussen 3 dinge:

[a] is ‘n aparte kinderdiens en aparte volwasse erediens.

[b] is ‘n volwasse erediens waar die kinders in die gemeente ook maar moet insit omdat hulle nie ‘n keuse het nie, maar waar die meerderheid van hulle niks leer nie. (Ek weet ek het tot so st. 5 of 6 orrelpype getel en gedagdroom in die kerk, want ek was in sulke gemeentes.)

[c] is wat die kerk bedoel as hulle van gesinsbediening praat: ‘n Diens waar die predikant sy tema verstaanbaar wil maak vir groot en klein, reg van die begin af daaraan dink dat daar kinder (en tieners) in die kerk is wat ook die erediens moet verstaan, en toepassings gee vir almal. Liedere word gekies dat dit singbaar en relatief eenvoudig om te verstaan is, ens.

Daar is geen twyfel by my dat opsie [a] of [c] ‘n honderd keer beter kans het om die kind te laat word wie God wil hê hy moet wees as opsie [b] nie. (Tussen opsie [a] en [c] kan mens nog gesels oor wat die beste is.) Daar is ook beslis predikante wat sê: “Ons gemeente het nie aparte kinderdienste nie. Hier bedien ons groot en klein saam” terwyl hulle opsie [b] gebruik en nie ‘n oomblik dink aan die kinders in die gemeente nie.

Die kind in die gemeente is minstens net so belangrik as die volwassenne vir God. Die kerk wat sy kleintjies minag -nie belangrik genoeg ag om erns mee te maak nie – staan skuldig voor God.

Hoe leer ‘n predikant die beste om kinders en volwassenes sáám suksesvol te bedien? My vermoede is as volg, maar daar sal uitsonderings op hierdie reël wees: Deur eers te leer om met kinders apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Deur terselfdetyd te leer om met volwassenes apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Dan moet hy daardie kennis saamvoeg om hulle saam te bedien. As ‘n gemeente dan nét in gesamentlike bediening glo, waar sal die predikant met kinders leer werk?

Die samelewing is werklik verdeeld tussen generasies deesdae: Ons driejariges is saam met ander driejariges in dagsorgsentrums. Ons tieners is in klasse saam met ander tieners, en na skool by sport of kulturele groepe van tieners wat nie net in omtrent dieselfde ouderdomsgroep is nie, maar ook dieselfde belangstelling(rugby of drama of wat ookal) het. Ons bejaardes is saam in aftree- oorde, ens. Teen die tyd wat gesinne saam tuis kom is almal dikwels te moeg vir ware samesyn. Die kind en jongmens soek dan sy samesyn (nog meer) by sy portuurgroep. Om daardie rede sal die kerk die samelewing ‘n fantastiese diens bewys as hy dit kan regkry om gesinne één te maak in die geloof deur hulle saam te bedien, en met mekaar oor God te laat praat. Om dieselfde rede is dit werklik moeilik om almal suksesvol so te bedien, en is so ‘n situasie vreemd vir ons jong mense.

Dit was gedagtes, hier is ‘n vraag: Ek het al gehoor van kinders van kerklose of kerklos ouers wat die kerk so geniet dat hulle op die ou end hulle ouers ook oortuig om kerk toe te kom! Dit het ek nog altyd net van gelees in gevalle waar die gemeente ‘n sterk aparte kinderkerk het, Gebeur dit ook in gesinsgerigte gemeentes? Sal ‘n kind wat sonder sy ouers ‘n gesinsgerigte erediens bywoon nie dalk “uit” voel en nie terugkom nie?

Dit wil vir my voorkom of ‘n kind albei nodig het: Deel wees van die gemeente (en dit sluit saam gesels en saam dien ook in, nie net saam luister na ‘n predikant nie), en om op sy eie vlak bedien te word.

‘n Sinvolle gemeentebediening teenoor kinders sal myns insiens aparte en gesamentlike aspekte bevat:

Aparte lering (Sondagskool) wat apart op ‘n kind se vlak, en apart op ‘n tiener se vlak, hom ‘n basiese geloofskennis gee.

Gesamentlike en aparte aanspreek van die kind se hart- sy liefde vir God, en sy wil om God te dien, en lofprysing. (Apart, omdat die Sondagskool nie net oor kopkennis mag gaan nie, en gesamentlik, want die gemeentekinders moet darem weet die grootmense het ook God lief.)

Gesamentlike diens-geleenthede. (‘n Kind kan bv. ewe maklik as ‘n volwassene kollekte opneem, en tieners is ewe in staat as grootmense om ‘n basaartafel te beman, en enige ouderdom lidmaat kan aan ‘n gemeente-konsert deelneem. En hierdie is net enkele werklik eenvoudige voorbeelde.)

My kort antwoord op die vraag heelbo aan hierdie artikel? Dominee/ Pastoor, sinvolle inter-generatiewe bediening is moeilik, maar hoogs aan te beveel. Dalk is die beste manier om dit aan te leer deur kinders sinvol te leer bedien-apart, en tieners sinvol te leer bedien-apart, en graatmense sinvol te leer bedien-apart. Maar moenie dink dat, net oor kinders saam met ouers in die kerk sit, jy met inter-generatiewe bediening besig is nie.

 gesin

Die Baie Belangrike Woernaal Inskrywing

Gister het ek kliphard gewerk en nagevors: Ek skryf ‘n Baie Belangrike Woernaal Inskrywing! Ek blog om ‘n Baie Belangrike Waarheid oor te dra!

 

Vanoggend het ek ‘n leun vertel. Sommer, oor die leuen meer gerieflik as die waarheid was.

 

En toe praat die Gees met my: “Ek kan jou nie vertrou met daardie Baie Belangrike Woernaal Inskrywing nie, Retha.”

 

En ek onthou: ” Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die klein dinge oneerlik is, is ook in die groot dinge oneerlik.” As ek nie oor iets klein by die ongerieflike waarheid kan bly nie, hoe kan ek eerlik oor dinge blog wat vol ongerieflike waarhede is?

 

Jammer, Here. Dit was U wat die visie vir die Baie Belangrike Woernaal Inskrywing vir my gegee het. Dis U wat my nou lei om te stop, want my hart is nie eerlik genoeg nie. Ek sal verder skryf wanneer U my ka vertrou.

Nuwe! Verbeterde! Koppe! Lywe! Harte?

designer-baby‘n Onlangse pos by Emil oor die 23andMe genome scan raak onder andere aan die onderwerp van genetiese engineurswese.

 

Daar is ‘n hele klomp moeilike etiese vrae wat verband hou met die onderwerp, en Emil vra ‘n paar van hulle. Rustig vra ook ‘n belangrike een by daardie draad:

“Are we going to end up like the Spartans? When a baby does not meet the criteria, we destroy it? Sounds cruel, but is it not we reducing ourselves to?”

 

Daar is vanselfsprekend ‘n taamlike afstand tussen

a) ‘n vermoë om gene te ontsyfer, te weet watter geen ‘n siekte-geen is

en

b) ‘n vermoë om gene te manipuleer om van siektes en ongewenste eienskappe (bv. ‘n lae IK of geneigdheid tot depressie) ontslae te raak.

Maar die een sal noodwendig op die lang duur tot die ander lei. Teoretiese kennis sal wetenskaplikes laat vra hoe hulle daardie kennis kan toepas. Om kennis toe te pas is op sigself ‘n goeie idee, maar elke moontlike toepassing van kennis is nie goed nie.

 

 Nou ja, ek is nie so slim soos Emil nie en wil nie weer sê wat hy in elk geval goed gesê het nie. Daarom gaan hierdie pos net op een punt oor genetiese engineurswese fokus:

Is dit wat ons as mense dink dat ons nodig het, werklik wat ons nodig het? As iemand slimmer, gesonder mense wat langer leef ontwerp, maak hy werklik die wêreld ‘n beter plek?

 

‘n Geniale mens wat se werk nooit deur siekte, of gebrek aan energie onderbreek word nie, en dubbel so lank leef as die gemiddelde, kan dalk wonderlike goed regkry. As só iemand byvoorbeeld ‘n kankernavorser sou word, is sy kanse om geneesmiddels te vind seker beter as meeste navorsers s’n. Maar as hy sou kies om ‘n moorddadige diktator te wees, sal die skade wat hy kan doen soveel groter wees.

 

Een van die mees onthoubare boeke wat ek ooit gelees het was Brave New World. In daardie wêreld is almal geneties gemanipuleer sodat daar presies soveel mense as nodig vir elke beroep is. Pyn word byna uitgeskakel, en by die eerste aanvoel van ‘n negatiewe emosie neem die inwoners ‘n soma, ‘n kalmeerdwelm. Nogtans is die Brave New World ‘n lelike wêreld.  Want daar is wel feitlik geen probleme en perfekte gesondheid, maar daar is ook nie menslike warmte of betekenis nie. Mense daar beleef byvoorbeeld nie ongelukkigheid omdat iemand na-aan hulle dood is nie, want hulle is nie na aan enigiemand nie. (Ander onderwerp: Ek het al gedink Brave Nuwe World bied ‘n uitstekende argument teen die vraag: “As God liefde is, hoekom laat hy pyn in die wêreld toe?”)

 

“Nuwe verbeterde” breine en “nuwe verbeterde” lywe, dink ek, is nie heeltemal genoeg om die  wêreld ‘n beter plek te maak nie. “Nuwe, verbeterde” harte is ook nodig.

 

Andrew en alwetendheid-aannames

Gister en eergister het die idioom-makers van eeue terug weer vir my gedemonstreer hoe wys hulle was. (Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie en Jy kan ‘n perd tot by die water lei, maar jy kan hom nie laat drink nie. ) Op Sonkind se “Hoekom ek glo”-draad het ek met ene Andrew gepraat. Dele van die gesprek het so min of meer as volg verloop:

Andrew: God is unlikely to exist.

Retha: These 20+ pieces of evidence lead me in the direction of believing in His existence.

Andrew: There is no evidence. God’s existence is increasingly unlikely as you believers continue to not give evidence.

Retha: But I did give evidence! Did you miss it?

Andrew: What you give is not evidence, because there is no evidence.

Retha wonder: And how do you know there is no evidence?

Andrew: Because nobody ever provided evidence! If you did, it would have been the first evidence ever and millions would have visited this site!

Ai tog. Ek het sopas vir hom bewyse voorsien! En die bewyse het inderdaad al miljoene getrek die afgelope 2000 jaar, dis waarom daar Christene is en was. Dit lok nie miljoene na een spesifieke webblad nie, want die bewyse word nie net op een blog of nou eers verkondig nie. (Selfs ‘n totale leek op die gebied kan aflei die “Om Jesus te volg maak sin” blad is nie nuwe bewyse wat ek uitgedink het nie, want die blad is deurtrek van skakels na ander blaaie.)  Dis verstaanbaar as mense my vertel daardie redes/ bewysstukke is a) onvoldoende; of b) geplant; of c) kan ook tot ander gevolgtrekkings lei.  Maar iemand wat ontken dat hier enige bewysstukke voorgelê is, is tragies verblind.

 

Dit laat my dink aan ‘n stukkie uit CS Lewis se boek “The Magician’s Nephew:”*

In een toneel (een van my gunsteling-tonele uit enige storieboek, en beslis die glorierykste een) is die leeu, Aslan, besig om te sing en uit sy woorde ontstaan Narnia. Daarna kies hy diere wat hy gemaak het en hulle praat met mekaar. Die diere ontdek selfs lag in hierdie mooi nuwe wêreld waarin hulle sopas gemaak is. Eenkant staan ‘n man wie se naam toevallig oom Andrew is:

“Nou moet ons eers ‘n entjie teruggaan en verduidelik hoe die toneel vanuit oom Andrew se standpunt daar uitgesien het. Op hom het dit ‘n gans ander indruk gemaak as op die drywer en die kinders. Want wat mens sien en hoor … hang ook af van watter soort mens jy is.

… Hy het glad nie agtergekom dat Aslan net één paar van elke diersoort uitsoek nie. Al wat hy opgemerk het – of gedag het dat hy opmerk – was ‘n spul wilde diere wat daar ronddwaal. En hy het bly wonder waarom die ander diere dan nie vir die groot Leeu probeer weghol nie.

Toe die groot oomblik aanbreek en die diere begin praat, het hy glad nie gesnap wat aangaan nie – en die rede daarvoor was nogal interessant. Toe die Leeu oor­spronklik begin sing het, destyds al in die stikdonkerte, het hy besef dat die geraas ‘n lied was. En hy het ‘n renons in die lied gekry. Dit het hom dinge laat dink en voel wat hy nie graag wou dink en voel nie. Toe, met die op­koms van die son, toe hy agterkom dat die sanger ‘n Leeu is (“maar net ‘n Leeu”, soos hy gedink het) het hy sy bes gedoen om homself te oortuig dat die dier glad nie sing nie en ook nog nooit gesing het nie – dat dit sommer net ‘n gebrul was, soos van enige leeu in ‘n dieretuin in ons wereld. “Natuurlik het hy nooit regtig gesing nie,” het hy gedink. “Ek moes my dit sommer verbeel het. My senuwees is op hol. Wie op aarde het nou al van ‘n singende leeu gehoor?” En hoe langer en mooier die Leeu bly sing het, hoe naarstiger het oom Andrew homself probeer oortuig dat hy net ‘n gebrul hoor. Die pro­bleem is nou dat as mens probeer om onnoseler te wees as wat jy klaar is, jy dit gewoonlik regkry. Dis wat met oom Andrew gebeur het. Na ‘n rukkie het hy inderdaad niks anders as ‘n brul in AsIan se lied gehoor nie. Weldra sou hy niks anders kon hoor nie, selfs al probeer hy. En toe die Leeu oplaas praat en sê: “Narnia, ontwaak,” het hy geen woorde gehoor nie, net ‘n gegrom. En toe die diere antwoord, het hy net ‘n geblaf en gebrom en gebalk en getjank gehoor. En toe hulle begin lag – nou ja, dit kan julle mos nou vir julleself voorstel! Vir oom Andrew was dit erger as enigiets wat hy nog ooit gehoor het. So ‘n bloedstollende gedruis van honger, verwoede ondiere het hy nog nooit in sy lewensdag teëgekom nie.”

 

Wat leer ek uit hierdie twee Andrews? Wel, as verkondiger van die boodskap dat geloof in die Bybelse God ook verstandelik sin maak, moet ek onthou: Die toppunt van swak logika is om my boodskap te verkondig asof mense suiwer logiese wesens is. Ek kan nie dink enige boodskap  moet net mense se koppe swaai, dan sal hulle dit volg nie. Mense volg nie suiwer hulle logika nie, hulle harte moet ook verander. ‘n Andrew wat wil glo Aslan is net ‘n leeu of Jesus net ‘n mens, sal nie sy logika toelaat om hom anders te oortuig nie.

En as mens? As mens moet ek nie blind wees vir wat ander mense my probeer oortuig nie, al gaan dit reëlreg in teen wat ek dink en glo. Maar dit is moeilik. Maak iemand se standpunt geen sin nie oor my logiese kop so sê? Of sê my kop dit maak g’n sin nie oor ek dit nie wil glo nie? Dit is baie maklik, ook vir ‘n gelowige, om ‘n Andrew te wees. As ek dink dat niemand my iets kan leer nie, word ek ‘n Andrew. As ek die wetenskap sou ignoreer sodra dit nie by my skrif-interpretasie inpas nie, sal ek ‘n Andrew wees. As ek mede-gelowiges wat anders as ek glo oor spreek in tale, of die bepaalbaarheid van wederkomstyd, of wat ookal, bloot sou wou ignoreer (want EK weet mos wat EK weet) , word ek ‘n Andrew. As ek opregte geloofsvrae van mense wat sukkel om te glo beskou in dieselfde lig as wat ek die kommentaar van Andrew op Sonkind se blog beskou, word ek self ‘n Andrew. Wat ek moet leer hier, is om nie te dink ek weet alles nie. Want sodra ek dink ek weet alles, kan ek nie meer na nuwe inligting en insig oor ‘n saak kyk nie.

Of dis hoe ek dit sien.

———

* Ek het ‘n Afrikaanse kopie van die boek en daarom is my aanhaling Afrikaans.

Ek glo, want Jesus is betroubaar

 George Maru het onlangs aan Flippiefanus ‘n uitdaging gestuur: “Maar goed, as ek mag, sal ek graag ‘n uitdaging aan jou (of enige ander Christen) wil rig. Gee my ‘n rede om te glo.”

 

Flippiefanus het hom ‘n indrukwekkende antwoord gegee wat met die presiese kwaliteite van sterre te doen het. Sammi antwoord met ‘n kort, maar kragtige pos oor ongeloof en die Joodse geskiedenis. Sonkind gee ‘n mooi getuienis. Flippiefanus het Boerinballingskap ook gevra vir ‘n antwoord, maar hy het (nog) nie daarby uitgekom nie.

Jesus

En my antwoord? My lang lys antwoorde is hier.

My kort antwoord is: Daar was eenkeer ‘n karakter genaamd Jesus op die aarde. Hy het met sy koms al gedetailleerde professieë waar gemaak.Hy het gesê hy is God en sal dit bewys deur uit die dood op te staan. Daarna was hy dood voor ‘n skare, en talle het hom weer lewendig gesien. En toe ek in gebed hierdie historiese karakter vra om my lewe nuut te maak, het ek van binne af verander, op maniere wat ek myself nie kon verander nie. Hierdie Jesus is God, bely ek.

En die nog korter antwoord: Ek glo, want Jesus is betroubaar.

As jy ‘n gelowige is, waarom glo jy? Antwoord gerus hier, of antwoord op  jou blog en plaas ‘n skakel in die kommentaar hier.