Monthly Archives: Junie 2009

Waarom díé beperking?

Radiokansel het glo ‘n lisensie gekry om vanuit Gauteng uit te saai, maar nie vir ‘n Kaapse sender nie. Die rede hiervoor is glo dat “net die SAUK landswyd mag uitsaai.”

Wat vir ‘n reël is dit? Dit is ‘n beperking op spraak- en- mediavryheid in Suid-Afrika vir geen duidelike rede nie. Waarom mag Radiokansel net met mense in een gebied praat? Dink net wat die oproer sal wees as ‘n koerant of tydskrif verbied sou word om landwyd te versprei, met die boodskap “net die regering mag ‘n gedrukte opinie landswyd versprei.” Waarom geld ander reëls vir ‘n radiostasie?

En dis in ieder geval nie waar dat nét die SAUK landwyd mag uitsaai nie. M-Net en E.TV saai ook landswyd uit. Die regering het geen reg om ‘n wet te maak dat slegs hulle mondstuk landwyd mag uitsaai nie. Om presies te wees, hierdie is die soort ding wat spraakvryheid-voorstanders moet laat rooi sien. Baie meer as wanneer politici die media vir rassiste uitkryt, of Steve Hofmeyr tee in ‘n redaktrise se gesig gooi. (Laasgenoemde twee was al genoem in ‘n Tim du Plessis -artikel oor spraak- en mediavryheidvryheid.)

Gesondheid van ongelowige samelewings- en ongelowige statistiek

Hierdie blogger het so ‘n klein Engelse blog wat nie gereeld gebruik word nie. Omtrent net as ek die moeite doen om met gepubliseerde statistiek te stry. Vandag was weer een van daardie dae.

Ongelowiges in God op hierdie blog het al vir my gesê dat ongelowige samelewings die gesondste is. Sulke ongelowiges het ongesond sterk geglo in ‘n stel syfers van ene Phil Zuckerman, wat ek hier bevraagteken. (Kortom, hy het abnormaal hoë syfers vir die aantal ongelowiges in Skandinawië se oënskynlik gesonde samelewings, en abnormaal lae syfers vir ongelowige lande soos China, Kuba en Noord-Korea. En dis nie sy enigste probleem nie.)

My Afrikaanse lesers is welkom om daar te gaan lees en hier (of daar) kommentaar te lewer. (Op daardie blog, omdat ek nie so gereeld by hom uitkom as hierdie een nie, word die kommentaar gelees voor plasing. Julle mag dus verkies om hier te praat eerder as om te wag.)

Is “We demand” dalk die probleem?

Party slimmes vertel ons armoede is die rede vir misdaadvlakke in Suid Afrika. Dis seker nie 100% onwaar nie. Maar heelwat lande is armer as Suid Afrika, met laer misdaadvlakke. En hoe verklaar armoede korrupte parlementslede? Hoe verklaar armoede verkragting? En is armoede werklik die rede vir die moordsyfer?

Miskien is armoede nie die regte probleem nie. Miskien is die probleem eerder dat mense armer is as wat hulle dink hulle moet wees? In 1994 is die massas huise, elektrisiteit, yskaste en stowe belowe- en vir die meeste van die armes het dit nie gerealiseer nie. Dis nie dat Suid Afrika nou armer is as toe die misdaadsyfers laer was nie. Mense se verwagtings is wel anders. Hulle begeer hulle naaste se “bees” (gebruiksimplimente- yskaste en stowe) en “donkie” (ryding- Mercedes) en alles wat aan hulle “naaste” behoort meer.

Omdat mense glo hulle het die reg op die “rykes” se goed, stem hulle vir ‘n party wat uitgebreide welsynspakkette beloof. (Suid Afrika het 2,5 welsyntoelae-ontvangers vir elke 1 belastingbetaler.)* Omdat mense glo hulle het die reg op die “rykes” se goed, steel en roof hulle en kaap hulle motors.

Miskien is die oplossing in die eenvoud van die tien gebooie opgesluit: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie of enigiets wat aan jou naaste behoort nie.” Werk vir jou eie huis en jou eie “donkie.” Maak vir jouself ‘n vrou (of man, as jy vroulik is) die hof wat nog nie iemand anders s’n is nie..

As ek glo mense moet werk eerder as om te vra of te gryp, vergeet ek dan die gelowige se plig het om te gee? Is ek onsimpatiek? Nee, die Christen mag nie sy hart verhard teenoor sy medemens nie. Maar verse oor hulp aan weduwees en weeskinders (mense wat te oud of jonk is om te werk) kan byvoorbeeld nie netso van toepassing gemaak word op elke arme in enige kultuur nie.

Dis boonop so dat God nie mense indeel in ‘n ryk klas wat moet gee en ‘n arm klas wat net hoef te vat nie. Die gelowige moet deel, al het hy net twee kledingstukke. My droom is dat sowel misdadigers as welsyn-ontvangers, gewers (van hulle talente en gewilligheid- vir werkgewers of klante), in plaas van net vatters sal word.

————

* Volgens verskeie bronne is daar 5,3 miljoen belastingbetalers en 13,3 miljoen ontvangers van staatshulp in Suid Afrika. Hierdie toedrag van sake gaan na verwagting vererger. Selfs buitelanders, as hulle wettiglik die land binnegekom het, mag welsynstoelaes vanaf die regering kry. (Lees “belastingbetaler” waar “regering” staan.)