Monthly Archives: Oktober 2009

Slegs vir kinders!

virhulle

‘n Toegewyde Christen-vrou kom by my aan met ‘n breë glimlag. Sy vertel my: “Die Here vertel my ek is geroep om met stukkende vroue te werk. Ek is nou klaar met kinders gespeel, ek het my Sondagskoolklas aan Annemarie oorgegee.”

En ek is onmiddelik kwaad. Oor sy haar Sondagskoolklas drop? Nee. Die Here kan haar dalk die begin van die vierde kwartaal vir iets anders roep, en as sy selfs iemand anders kry om haar klas oor te neem, hoekom nie? En vir al wat ek weet het die Here Annemarie geroep om by kinderwerk betrokke te raak.
Oor sy met stukkende vroue wil werk? Nee, nooit, wat is daarin om oor kwaad te wees?

Wat my so kwaad maak dat dit al my selfbeheersing gevat het om nie daar te begin berispe voor almal nie (daar is ‘n tyd en plek vir alles) is dat sy impliseer dat kinderwerk net “speel” is, en nie ‘n sinvolle spandeer van tyd nie. Oor sy kinders minag, en nie as belangrik in die koninkryk beskou nie.

Die Bybel sê:

“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang my. … Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurig by my hemelse Vader is.” Matteus 18

Die koninkryk van God het, volgens Matteus 18:3, ‘n bordjie op: Slegs vir kinders (en mense soos hulle). Ons moet verander en soos kinders word om daar in te gaan. (Kinderlike geloof , terloops- net om misverstand te voorkom noem ek dit- beteken nie ‘n geloof wat anti-rede en anti-kennis is nie, of “blinde geloof” nie- dit beteken iets anders.)

Bekeer ouderdomJunior sondagskool/kinderkerk/ kleuterkerk is nie een van die kerk se laagste takies vir mense wat niks beter kan doen nie. Dis belangrike werk met mense wat vir God belangrik is, wat na Sy beeld geskape is. George Barna, kerk-statistikus, het eenkeer ‘n opname onder Christene gemaak oor die ouderdomme waarop hulle tot bekering gekom het. (Grafiek hier regs. 100% verteenwoordig alle bekeerdes, nie alle mense nie.)

Wat mens by ‘n vraag uitbring? Watter persentasie van die kerk se geld, tyd, en beplanning gaan daarin om kinders tussen 4 en 14 te bedien? Kom ons vat, vir ‘n rowwe raaiskoot, 15% ? Wel, as ek in verskeie projekte belê, en ek sien dat 85% van my wins konstant kom uit ‘n plek waar ek gewoonlik 15% van my “geld” belê, sal ek meer daar belê- en minder elders. Die gemiddelde ouderling (en dalk selfs dominee) behoort dit mos te verstaan?

Die beroemde 19de-eeuse prediker Charles Spurgeon het gesê:

A child of 5, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any adult.

Ek wil van hom “verskil”, en saamstem met wat ‘n jeugwerker my eentyd geleer het:

An adult, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any child of 5. – Tania Schultz.

Daar is ‘n klomp voordele aan kinderbekerings. Die een is dat God ‘n groter deel van die bekeerde se lewe kry. (Bv. 60 jaar i.p.v. 30jaar.) ‘n Ander is dat die kerk so lidmate kry wat nog nie verval het in soveel sonde en slegte keuses en seer, en so baie nodig het om te verpleeg en genees en te vernuwe nie.

En die punt is? Die punt, medegelowige, is om oor kinders te dink soos God oor hulle dink. En God reken nie kinders, of werk met hulle, is onbenullig nie.

—————

Naskrif: Vir ‘n Christen wat verder oor hierdie saak wil dink, beveel ek hierdie aanhalings aan.

Is die Afrikanervrydenkersbeweging (AVB) eerlik?

Ons agenda

Waag dit om te dink – oor “hulle” (Deel 2)

Ek let op dat die AVB die inleidende blad van hulle webwerf verander het. (Die aanhalings in my vorige pos is bv. nie meer almal daar nie.) Die eerste verandering is dat dit nou sê: “AVB waag dit om te weet” en nie meer “AVB waag dit om te dink” nie. Maar my probleem is nog steeds dat ek weet hulle praat nie die waarheid nie.

Die aanhalings is weereens van daardie webblad af:

waag dit om te weet

Maak nie sin nie: Daar is niks waaghalsig daaraan om iets te weet nie. Dit kan soms waaghalsig wees om iets te wete te kom, of om op te tree volgens wat jy weet, of dit te verkondig, maar “Waag dit om te weet” is onsinnig.

Ons leuse rakende opvoeding is eenvoudig: Leer ons kinders alles wat ons weet, maar geen van ons vrese nie.

Ja, ons doen dit/? Met die eerste helfte van die sin stem ek saam. En baie van ons (die onderwysers onder ons ook) weet- uit ervaring- dat Jesus van binne af nuut maak as mens jou lewe aan hom oorgee. En dit moet ons vir ons kinders leer, want ons weet dit. Wat die tweede helfte betref: Is ek seker dat die AVB niks van hulle vrese vir kinders wil oordra nie? Party ongelowiges het byvoorbeeld die belaglike vrees dat godsdiens oorlog gaan veroorsaak, of die vrees dat die leer van godsdiens dalk die kind minder rasioneel gaan maak. Maak die AVB seker dat hulle glad nie hulle vrese op hulle kinders oordra nie?

 Ongelukkig omseil baie Afrikaanse (gewoonlik ou model-C) openbare skole en individuele onderwysers die wette rakende godsdienste-onderrig en godsdiensinskerping wat sedert 2003 van krag is.

Kort bewyse: Skole en regsverteenwoordigers ontken dit. Hoe weet ek die AVB praat hier die waarheid, en die regsverteenwoordigers wat in koerante aangehaal word nie?

Die kern van die saak wentel daarom dat skole, veral Afrikaanse skole, steeds voortgaan met die Calvinistiese gebruik van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat ‘n ras-gebaseerde … elitisme bevorder

Onwaar: Soos ek reeds uitgewys het: Calvinisme bevorder nie ‘n ras-gebaseerde elitisme nie. Ek het ook nog nooit beleef dat godsdiens in skole ‘n ras-gebaseerde elitisme bevorder nie. (Ek vermoed dat die AVB hier oneerlik die rassekaart speel om aandag te kry van die regering.)

Julle ook: My vraag is: Deur hulself die Afrikaanse (nie Engels nie, nie Zoeloe nie) Vrye Denkers (bewering dat hulle denke superieur aan ander s’n is) te noem, bevorder hulle nie ‘n soort taal- en denke- gebaseerde elitisme nie? Hierdie saak gaan alkante toe: Almal wat ‘n opinie het reken hulle opinie is reg. Dis wat opinie beteken. As jy reken dat jou opinie (oor geloof of vrye denke of politiek of wat ook al) reg is, maak dit jou (nog) nie ‘n elitis nie. Dit geld ook vir onderwysers wat hulle opinie oor geloof verkondig.

Weens polities-geïnspireerde inmenging groei ons kinders egter steeds op in ‘n omgewing van geloofsapartheid (Geloofsapartheid = “Ons” geloof … is die “regte” een, en blootstelling van kinders aan ander “dwaalleringe” skep ‘n geleentheid vir “Satan” om die kind se siel te verlei. Sulke “heidense” “agendas” lei dan tot ‘n politieke teologie waar geloofsmotiewe verdedig word ter wille van die behoud van een of ander denkbeeldige ideaal.)

Verwarde denke: “Hulle” sê dat kinders nie in ‘n omgewing moet grootword waar ‘n idee oor geloof as die regte een voorgehou word nie. Eerstens wil ek vra: Sal hulle hul standaarde oor godsdiens ook op ander dinge toepas, soos lees of morele waardes of higiene of wiskunde? Mag geen kind geleer word dat vriendelikheid met ander kinders beter is as om hulle te boelie nie; dat die “k” klank anders uitgespreek word as die “t” klank nie, dat gereeld tande borsel beter is as om dit glad nie te doen nie; dat 1+2=3 en nie 7 nie? Hoekom op aarde moet kinders nie op skool geleer word watter idee reg is nie? Wat is die punt van onderwys as jy nie daar mag sê wat reg en verkeerd is nie? Waarom wil hierdie mense godsdiens op skool anders hanteer as enigiets anders? Skool gaan daaroor om sekere idees as reg voor te hou! En dis nie ‘n fout van skool nie, dis ‘n fout van die AVB om te dink skole moet ophou daarmee.

Kort bewyse/ onbenullig selde waar: ” polities-geïnspireerde inmenging”: Hulle moet my wys dat onderwysers wat oor geloof op skool praat polities gemotiveerd is. Want ek kan eerlik sê dat van al die mense wat ek al ooit in my lewe oor christenskap of die Bybel hoor praat het (dis baie mense) was net 2 polities geïnspireer. Dis seker so dat daar iewers in die land enkele onderwysers is wat polities gemotiveer is as hulle oor geloof praat. Maar dis nie iets om oor te veralgemeen nie.

word kennis van die wêreld en ander kulture van hulle weerhou

Non sequitur (Gevolgtrekking wat nie volg op gegewens nie): Om iemand ‘n sekere kennis te leer, beteken nie dat kennis oor ander sake van hom weerhou word nie. Ek sien absoluut geen rede waarom ‘n Christen kennis van die wêreld en ander kulture van kinders sal weerhou nie.

word ‘n ongewensde klimaat van “ons” teen “hulle” in gemeenskappe bevorder

Misleidend: Enigiets wat almal nie doen/ is nie, skep ‘n ons-hulle. “Ons” is meisies, “hulle” is seuns; ons huistaal is Afrikaans, “hulle” s’n is Zoeloe; “ons” is deel van die interskole-atletiekspan, “hulle” nie, ens. Maar ‘n ons/ hulle beteken nie noodwendig dat ons iets téén hulle moet hê nie.

Julle ook: Nota aan die hulle-webblad: As daar een manier is om ‘n ons-teen-hulle houding tussen Christen en nie-Christen te bevorder, is dit deur Christenskap/ geloof “onwetenskaplike wensdenkery” te noem. (Julle inleidingsblad het tot onlangs daardie woorde opgehad.) Ander suksesvolle manier om ons-teen-hulle te bevorder, is deur spesifiek Christene uit te sonder vir aanvalle, (julle webblad noem bv. nie enige probleme met Moslem-skole, of universiteitsprofessors wat ateïsme verkondig nie.); deur te beweer-soos julle maak- dat kinders in die donker gehou en “perdevye gevoer word” deur gelowiges; of deur “evangelisties” en verkramp in een paragraaf te noem. (Dit was ook nog onlangs deel van julle inleiding.)

nog ‘n geslag Afrikaanse kinders word onkundig gehou (en wonder later hoekom ander groepe voorkeur kry in die werksplek).

Misleidend: Die AVB probeer die indruk hier skep dat a) Afrikaanse skole akademies minderwaardig is bo meeste ander skole in die land en b) dat godsdiens die rede vir daardie minderwaardigheid is. Onwaar. Oor die algemeen is die Afrikaanse skole oraloor van die akademies beste staatskole in hulle gebied- en ek glo dis juis te danke aan die sout en lig van toegewyde Christen-onderwysers. Ons almal weet hoekom ander groepe voorkeur kry. Dis nie oor Afrikaanse kinders dom of onkundig of swak werkers is nie.

 

Om op te som: Die AVB se klagtes is misleidend en grootliks onwaar. En hoewel hulle beweer dat hierdie nie ‘n Christen-teen-ongelowig saak is nie, gee hulle webblad my die teenoorgestelde idee. Die blote feit dat George Claassen van Skepties SA die saak eerste aangeroer het, vertel my ook: Selfs waar hulle nou iets sê waarmee Christene kan saamstem, is hierdie groep se uiteindelike agenda nie iets waarmee ek kan saamgaan nie.

Waag dit om te dink – oor “hulle” (Deel 1)

Bysteek het my vriendelik uitgenooi na die webblad “Hulle.” Die webblad gaan oor godsdiens se plek in skole. Dit open met die Woorde “AVB Waag dit om te dink.” Nou ja, ek neem daardie uitdaging aan. Hier gaan ek dit waag om te dink oor AVB se bewerings op bladsy een van die Hulle-webblad. Alle aanhalings wat ek maak sal van daardie bladsy af kom.

Skole, veral Afrikaanse skole, gaan steeds voort met die Calvinistiese gebruike van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat ‘n oordrewe ras- of geloofs-gebaseerde nasionalisme in kinders se koppe inprent en hulle wêreldbegrip verarm.

Verkeerde begrip: Ras-gebaseerde nasionalisme, selfs geloof-gebaseerde nasionalisme, is nie Calvinisties nie. Die skrywer van hierdie stuk moet gaan opkyk wat Calvinisme beteken.

Kort bewyse: Hulle-webblad moet bewys dat (veral) Afrikaanse skole ‘n “geloofs-gebaseerde nasionalisme” in kinders se koppe inprent. Ek glo baie skole leer geloof, maar hy moet bewys dis ‘n vorm van nasionalisme.

Kort bewyse: Hulle-webblad moet bewys -nadat hulle bewys het die “Calvinisme”, en die “geloofs-gebaseerde nasionalisme” (twee verskillende dinge) albei in skole geleer word – dat hierdie dinge wel die kind se wêreldbegrip verarm en nie ‘n ekstra idee is wat die kind se wêreldbegrip verryk nie.

Ander nota: Aha! Ek het gedink dat dit nie gaan oor bv. skole met ‘n Moslemgrondslag nie- hierdie is ‘n manier om Christenskole en Christene te by te kom. Dis nie oor gelykheid, ongeag wie tans bevoordeel word nie, dis spesifiek gemik teen Christene- en dit word al in paragraaf twee erken.

Dit ten spyte van wetgewing (sien Skakels-bladsy) wat voorskryf dat openbare skole op staatsgronde …..alle kinders en hulle gelowe gelykmatig moet respekteer

Kort bewyse: Ek kan nie sien waar dit staan dat skole (onderwysers) alle kinders se gelowe gelykmatig moet respekteer nie?

Verwarde gedagte: Dis ‘n eenvoudige feit dat niemand alle idees oor geloof gelykmatig respekteer nie. Ongeag of jou wêreldbeeld Hindu, Christen, of sekulêr humanisties is, jy het meer respek vir dit wat jy glo as vir dit wat jy onwaar vind. Dis nie net die geval met godsdiens nie- as jy bv. glo sekere politieke beginsels sal die land ‘n beter plek maak, het jy meer respek vir daardie politieke gelowe as vir teenoorgestelde politieke gelowe. Mens kan nie alle standpunte/ gelowe ewe veel respekteer nie. Ek verwag dit van niemand. Ek verwag van myself, en is bly as ander mense ook so maak, om alle mense, ongeag wat hulle glo (oor God/gode, oor politiek of oor wat ookal) met respek te behandel.

Ons het hier te make met ‘n politieke teologie wat vinnig, ook met die oog op opkomende munisipale verkiesings en die franchise-benadering van die opsweep-kerke, vir eie gewin uitgebuit word. Hierdie polities-geïnspireerde inmenging…

Onwaar: Hierdie is nie vir my, wat oor die saak praat, ‘n politieke teologie nie. Ek glo bloot daarin om dit wat mooi is en ‘n bewese positiewe verskil maak– wat ek al in kinderlewens beleef het- met kinders te deel. En die gelowige onderwysers waarmee ek al gepraat het het nie een politieke, nasionalistiese ideale nie, en hulle belewenis van wat nou gedoen word het niks te doen met die komende verkiesing nie.

Onwaar/ grootliks onwaar: Kerke kan nie ‘n franchise-benadering volg nie, want die meerderheid kerklidmate maak geen geldelike gewin uit kerkbetrokkenheid nie. En talle van die mense wat wel hulle salaris by ‘n kerk kry, kan meer maak buite die kerk met dieselfde vlak van opleiding. Dis ook onlogies om op godsdiens in skole te fokus as jy aan eie gewin dink: Kinders gee nie kerkbydraes nie. En mense gaan waarskynlik nie na jou kerk stroom oor jy meer oor die saak sê as hulle pastoor nie….

het tot gevolg dat kinders steeds in ‘n omgewing van religieuse apartheid opgroei,

Byna vansefsprekend, maar teenstrydig met AVB-doelwitte elders: In enige omgewing waar kinders van hulle geloof leer, hetsy kerk of moskee of by ‘n soortgelyk-denkende onderwyser, en waar kinders van ander gelowe dit nie hoef by te woon nie, word ‘n soort “religieuse apartheid” geskep. As ‘n kind sekulêr grootword, terwyl ander kinders om hom ‘n tempel of moskee of kerk bywoon, is hy ewe veel deel van ‘n “religieuse apartheid” van ander kinders. Die enigste manier ,, waaraan ek kan dink, om “religieuse apartheid” te keer, is deur alle kinders te dwing om saam te gaan kerk toe, én moskee toe, én tempel toe. Is dit wat die hulle-webblad se skrywers wil hê? Klaarblyklik nie, want Dirk Koekemoer vertel elders op die webwerf: ” Ek wonder net somtyds hoekom mense dink die AVB is teen godsdiens. Die hele beweging het dan begin omdat ons voel dit is die ouers se voorreg om godsdiens aan hul kinders oor te dra en om seker te maak dat hul kinders nie deur anderster leringe gekonfronteer word terwyl hy/sy nog op graad een sit nie.” Watter een is waar, AVB? Wil julle religieuse apartheid keer, en kinders aan alle gelowe blootstel? Of wil julle juis religieuse apartheid sien, met kinders wat nie aan ander leerstellings blootgestel word nie?

(Word vervolg.)