Monthly Archives: Maart 2008

Nooi al jou huweliksgaste vir die egskeiding?

skeikoek.jpgElders op die net vertel iemand nou die dag: “Wat ek nie kan verstaan nie die dag as jy trou moet béídé partye trou beloof………….die dag as jy wil skei is slegs één party nodig, die ander het selde indien ooit regtig ‘n sê in die saak.”

Dit bring die mense toe by ‘n bespreking uit: ‘n Paartjie beloof gewoonlik trou voor ‘n dominee/pastoor, en al hulle familie en vriende. Dalk moet mens almal wat vir die troue daar was vir die egskeiding nooi. Dan verduidelik die een wat wil skei waarom hy/sy nie meer sy/haar beloftes wil hou nie. (Hy of sy moet bly verduidelik tot die meerderheid gaste glo ‘n egskeiding is die regte ding. “Die huwelik was ‘n fout” is nie goed genoeg nie. ) Op die ou end het die mens wat nou wil skei tog ons almal wat by die troue was belieg met sy/ haar huweliksbeloftes, nie waar nie?

Het hulle die reg om nou te maak of dit nie ons saak is nie? En as mens trougeskenke moet gee by ‘n troue, moet die paartjie nie dan skei-geskenke uitdeel vir die familie en vriende by ‘n egskeiding nie?

As ‘n derde party by die egskeiding betrokke is, moet díé dalk die onthaalkoste dra?

Miskien, net miskien, sal dit mense twee keer laat dink oor die egskeiding-idee…

Wat dink julle?

Prioriteite, mense!

Drie dinge wat onlangs in koerante verskyn het het my aan die dink gesit. Die een gaan oor (wit) studente wat glo op vleis gepiepie en dit aan (swart) werkers voorgesit het sonder dat die werkers weet daar is op gepiepie. Hulle maak toe rassistiese aanmerkings daarby op die video.

Die tweede handel oor ‘n bekende sanger wat na bewering ‘n seun jare lank gemolesteer het, vandat die seun 10 was.

Die derde gaan oor vyf polisiemanne wat na bewering ‘n meisie, wat 12 was toe dit begin het, oor byna 2 jaar gereeld verkrag het. Een van hulle het dit selfs weer kom doen net na sy ‘n klag by ander polisielede gaan lê het oor die saak.

Objektief beskou, is laasgenoemde seker die lelikste van die 3 verhale, en eersgenoemde die minste erg. (Die derde verhaal is vir my erger as die tweede omdat dit 5 misbruikers en verkragting insluit, terwyl die tweede geval oor een misbruiker gaan en nie sodomie insluit nie.)

Watter een maak landswyd en internasionaal opspraak? Die eerste een, oor dit rasse-konnotasies het.

Watter een maak landswyd opspraak? Die tweede een, oor dit ‘n (plaaslik) bekende sanger insluit.

Watter een het niemand feitlik raakgesien nie? Die derde een, want die mense betrokke is seker dieselfde ras en geen beroemdes is betrokke nie.

In die eerste voorval is ek seker die betrokkenes sal ten minste die straf kry wat hulle toekom, indien nie ‘n erger straf nie. In die ander twee gevalle is ek nie so seker nie.

As die omstandigheidsgetuies wat lank vermoedens gehad het in die hof vertel wat hulle gesien het, is daar baie getuienis teen die oom in die tweede verhaal. Maar aan die ander kant kan die oom uitstekende regsverteenwoordiging bekostig.

In die saak van die verkragte meisie weet ek regtig nie of daar geregtigheid gaan wees nie. En doen die land dan nie eers meer ‘n sielkundige profiel op iemand voor hulle hom in die polisie aanstel nie?

Die owerhede sal sorg dat die arme mense wat onwetend miskien piepie gedrink het berading kry. Die sanger se slagoffer sal seker maar self moet sorg dat hy berading kry. Wat die meisie wat deur die polisiemanne verkrag is betref, gaan iemand sorg dat sy berading kry? Enigiemand?

Kom ons raak vir ‘n slag die kwaadste oor wat die meeste saak maak. En swart-teen-swart of wit-teen-wit misdade is ‘n niks kleiner skande as wit-teen-swart misdade nie.

 

ACT!

Hierdie advertensie kom uit ‘n kalender van die Suid Afrikaanse Polisiediens.

 eyes2.jpg

As jy my meer onlangse blog-poste lees, sal jy kan sien waar ek hierdie sentimente beaam het.

Ons: “Here, wanneer was U ‘n slagoffer van misdaad en het ons nie gehelp nie?”

God: “Toe julle nie julle medemens, wat ‘n slagoffer van misdaad was, gehelp het nie.” – parafrasering van Matteus 25:44-45

Kleuterliedjie – oor onselfsugtigheid

Ek moes onlangs ‘n kleuterkerk-les aanbied waarin kinders geleer word om te deel en nie selfsugtig te wees met hulle goed nie. (Kleuters is van nature selfsugtig: “Dis myne!”)

Hier is woorde oor mededeelsaamheid op die wysie van “Lees jou Bybel, bid elke dag.” Dalk is daar ‘n kleuterkerk-leidster of kleuterskooljuffrou wat dit kan gebruik iewers.

Die oorspronklike liedjie:

Lees jou Bybel,

bid elke dag x3

Lees jou Bybel,

bid elke dag

en jy sal groei, groei, groei x3

Lees jou Bybel,

bid elke dag

en jy sal groei, groei, groei

Los jou Bybel,

vergeet om te bid x3

Los jou Bybel,

vergeet om te bid

en jy sal kwyn, kwyn, kwyn x3

Los jou Bybel,

vergeet om te bid

en jy sal kwyn, kwyn, kwyn

Ekstra woorde:

Vat alles en

deel met niemand x3

Vat alles en

deel met niemand

en dan’s jy self-sug-tig x3

Vat alles en

deel met niemand

en dan’s jy self-sug-tig

Deel jou goed,

wees lus om te gee x3

Deel jou goed,

wees lus om te gee

en dan’s jy lief-de-vol x3

Deel jou goed,

wees lus om te gee

en dan’s jy lief-de-vol

Bewegings

(1) Laat kinders grypbewegings maak vir “vat alles”

(2) Laat kinders hulle arms styf teen hulle borste vashou asof hulle ‘n speelding het wat hulle nie wil deel nie, vir “deel met niemand”

(3) Maak uitdeelbewegings met arms vir “deel jou goed, wees lus om te gee”

(4) Laat kinders mekaar sydelings druk vir “en dan’s jy liefdevol”