Monthly Archives: Julie 2013

Jesus en die klippe

436232_jesus-the-stone-mason49_epsicuaitwlfo42x7yedw6mpvtncurxrbvj6lwuht2ya6mzmafma_610x374Op my onlangse toer het ek in Israel gehoor Josef (Maria se man, nie die Ou Testament se dromer wat onderkoning in Egipte was nie) was waarskynlik nie ‘n timmerman nie. Matt. 13:55 sê hy was een, maar daardie woord kan glo eerder “ambagsman” vertaal word. Die algemene ambag in Nasaret daardie tyd was glo stone-masonry, en Josef was waarskynlik ‘n stone mason. (Wat sou dit in Afrikaans wees? Ek sien twee betekenisse: Messelaar en steenwerker. ‘n Messelaar werk waarskynlik in watter dorp daar ookal gebou word, en skuif dan aan na waar hulle elders bou. ‘n Steenwerker wat goed uit klip vorm is eerder ‘n ambagsman met ‘n werkwinkel.)
As Josef ‘n steenwerker was, sou Jesus van jongs af self dit leer doen het. Jesus word die “die timmerman (Ambagsman? Steenwerker?), die seun van Maria”, genoem in Markus 6:3.
Nou wonder ek: Veronderstel Jesus het met klippe gewerk. Sou dit nie dalk gelei het tot ‘n klompie woordspeling-grappies tussen hom en sy goeie vriend Petrus (rots) nie? Het Jesus dalk verwys daarna dat hy ‘n steenwerker was toe hy vertel dat hy die kerk “op hierdie rots” wil bou? (Mat. 16:18)
En Jesus se ander opmerkings oor klippe en stene, was dit dalk ook woordspelings, of praat aan die hand van sy eie ervaring? Soos toe Hy vertel het dat Hy die klip was wat deur die bouers afgekeur is, maar die hoeksteen geword het? (Matt. 21:42; Mar. 12:10; Luk 20:17; Hand. 4:11); of toe Hy vertel het dat mens jou huis op die rots moet bou. (Matt. 7:24-25; Luk. 6:48)
Het Jesus, wat figuurlik harte van klip bewerk, dalk letterlik klip bewerk, en kan ek die simboliek van harte bewerk daarin lees?