Monthly Archives: Februarie 2008

‘n Tyd om te praat: Robbie Klay, molestering, stilswye en kriminele nalatigheid(2)

‘n Tyd om te praat: Robbie Klay, molestering, stilswye en kriminele nalatigheid(2)

Laasweek het ek geskryf dat mense wat kindermolestering vermoed, en nie ‘n vinger verroer om dit stop te sit nie, krimineel nalatig is. Dit het ek gesê na aanleiding van iemand wat duidelik rede gehad het om te vermoed Robbie Klay word misbruik. Hierdie week se Huisgenoot het ‘n nog meer direkte stelling in, deur “‘n bekende” wat saam met oom Jurie gewerk het: “.. baie mense het vermoed die oom molesteer Robbie. Ek het geweet Robbie Klay is ‘n seuntjie wat met wie hy lol. Almal het geweet, maar het stilgebly. Niemand kon iets bewys nie.”

Ek besef mens kan nie ‘n saak aan die groot klok hang op sulke suspisies nie, maar mens kon ‘n vertroulike gesprek met sy ma gehad het. As almal geweet het, moes almal nie stil gebly het nie. Ek wens mens kon almal wat stil gebly het ook voor die hof daag. Waar was almal toe Robbie as seuntjie hulp nodig gehad het?

Maar dis verlede tyd. Die saak wat belangrik is, is nóú. Het jy wat nou hier lees, enige rede om te vermoed ‘n kind wat jy ken word gemolesteer? En wat gaan jy daaraan doen?

 

‘n Tyd om te praat: Robbie Klay, molestering, stilswye en kriminele nalatigheid

Die jong sanger Robbie Klay het onlangs gesê dat iemand hom jare lank seksueel misbruik het sedert hy tien was. Party mense vra hoe hy dit kon toelaat om aan te hou gebeur tot hy 17 was, en dat ‘n outjie van 16 of 17 mos genoeg weet om te protesteer en nee te sê. Maar molesteerders maak juis werk daarvan om met kinders se koppe te smokkel. Hulle moet, om weg te kom daarmee en om die kinders te “programmeer” om stil te bly. ‘n Seun van 16 of 17 wat nooit gemolesteer is nie kan seker vinnig ontslae raak van iemand wat hom wil begin molesteer. Maar ‘n kind wat van kleins af stilbly oor misbruik, en geleer is om stil te bly daaroor, se kop is (doelbewus- deur die vuilgoed wat hom/ haar misbruik) so opgemors dat hy/sy nie helder kan dink oor die probleem nie.

Maar ek wil tog iemand blameer vir stilswye: Geen prys vir die “gesiene lid van die vermaakgemeenskap”, wat duidelik gesien het hoe ‘n twaalfjarige Robbie Klay oor en oor vasgedruk word en die “oom” sy mond teen Robbie se nek druk nie. Die misbruiker het nog duidelik vir die “prominente lid van die vermaakbedryf”, vertel hoe “lief” hy vir die kind is. Kon daardie persoon nie dadelik vir Robbie se ma/ die polisie gesê het wat hy gesien het nie? Ek meen, iewers moes dit tog waarskuwingsklokkies in ‘n volwasse toeskouer se kop laat lui het? Dit is krimineel nalatig om anderpad te kyk as jy  rede het om kindermolestering te vermoed.

En as hierdie persoon so iets waargeneem het to Robbie 12 was, het ander mense dit nie ook gesien nie? Hy kon dan seker ook ander kere voor mense begin vroetel het? Dalk het iemand al iets soortgelyk gesien gebeur toe Robbie 10 of 11 was. As ander dit ook gesien het, het daardie persone ook gekies om weg te kyk en niks te doen om die seuntjie te help nie. G’n wonder dat gemolesteerde kinders soms die idee kry dat dit wat gebeur maar “normaal” is nie- mense wat sien hoe daar met hulle gevroetel word doen dan niks!

(Hoewel meeste van die media net die naam van die molesteerder impliseer, sien ek dat Rapport se webblad wel die naam noem. Meeste koerante en tydskrifte sê: “Ons mag nie sê wie die beweerde molesteerder is nie. Jurie Els se interdik keer ons om die molesteerder se naam te noem.” Hierdie Rapport-berig sê: ” Jurie Els [het] geslaag met ’n hofaansoek wat Huisgenoot/You verbied het om te publiseer dat hy (Els) die “oom” is van wie Klay in ’n koerantonderhoud gepraat het. En die Rapport-berig het die 16de op hulle webblad verskyn, terwyl die Huisgenoot met die name-doodgetrek-berig eers die 18de op straat was. )

Terug na die onderwerp van stilbly wanneer jy moet praat: Wat meer is, iemand noem selfs nou in ‘n blog-kommentaar dat Els “onder ‘n wolk” weg is by die laaste skool waar hy klas gegee het. ( Hy was eers ‘n onderwyser.) As hulle daarmee bedoel dat daar rede was om hom van molestering te verdink, waarom het niemand van daardie skool probeer om dit onder sy ma se aandag te bring toe die media noem dat Jurie Els hierdie seuntjie van 10 “onder sy vlerk neem” nie?

Iemand, iewers het sekerlik redes gesien om suspisieus te wees. Iemand, iewers het sy of haar kop weggedraai. Die resultaat was ‘n outjie wie se kop so opgemors was dat hy al 16 en pa was, maar nog steeds nie geweet het hoe om ontslae te raak van die lastige oom nie.As daardie “gesiene lid van die vermaakgemeenskap” dadelik alarm gemaak het, kon die molestering na twee jaar opgehou het, eerder as na sewe. Laat dit vir ons ‘n les wees om nie ons koppe weg te draai nie. Ons wat grootmense is, moet ons oê oophou. Ons moet sê as iets nie pluis lyk nie. Kinders kan nie alleen hierdie stryd wen sonder grootmense se hulp nie.

“And if you stand by watching without even trying to help them, then you’re guilty too.”- Uit die liedjie “Look what they do to my children”