Monthly Archives: September 2008

Om te probeer verstaan – voor jy praat

Ek lees nou die dag hierdie stukkie:

“…as jy weet sus en so se pa het homself die ewigheid ingeblaas en sy familie net so laat staan het…gaan jy steeds byvoorbeeld heftig debatteer en redeneer met so ‘n iemand dat mense wat selfmoord pleeg selfsugtige dose is….Gaan jy, as jy weet so en so is in ‘n gemengde huwelik, en jy is dalk daarteen gekant, steeds sonder om te blik of te bloos jou opinie daaroor uitspreek??

Gaan jy as jy weet iemand is ‘n alkolis, want …  en jy is gekant teen drankmisbruik, met dieselfde ‘fire’ in ‘n debat daaroor betrokke raak…of gaan jy terug sit want jy wil nie iemand se feelings seermaak nie? Gaan jy, as jy weet iemand is ‘obese’ en so vet soos ‘n vark, nog steeds jokes maak oor vet mense? Gaan jy, as jy sien jou favourite blogger is ‘n swart man/’n moffie/’n ateis, nogsteeds die vrymoedeigheid he om met daai persoon op die net te chat, as al die ander bloggers weet jy is ‘n uitgesproke rassis/homofoob/Christen??….

 ~  Platkuif

En dit sit my toe aan die dink: Dalk, as mens anders sou praat oor iets, net oor jy weet iemand met persoonlike ervaring luister in, moes mens in die eerste plek anders gepraat het. Dalk is dit ‘n baie goeie rede om mense te leer ken.

‘n Ou Wysheid sê: Never judge a man until you walked a mile in his shoes. Ek glo nie ek stel eers ‘n myl in die ander persoon se skoene voor nie. Dalk moet ons ten minste aanneem dat daar iemand soos ons beoordeel voor ons staan. (Op die internet weet jy nooit wie hoor jou nie.) Dalk moet ons almal – en dit is ‘n lessie vir my ook- nie menings uitspreek wat jy nie sal uitspreek as jy die betrokkenes in die oë kyk nie.

Ek moet net oor, byvoorbeeld, gays sê, (hier en hier) waarmee ek gemaklik sal voel dat ‘n gay broer of vriend of kollega of neef of wat ookal dit hoor. Dalk moet mens net oor vet mense/ anderskleuriges/ drinkers/ mense wat anders dink oor godsdiens/ wie ookal  sê wat jy bereid is om te sê as jy ‘n paar sulke mense leer ken en vir hulle leer omgee het.

Daar is ‘n reël uit die gebed St. Francis van Assissi wat sê:

“Grant that I may not so much seek

to be understood

as to understand”

En dis dan my gebed vandag: Dat ek nie (weer) sal praat oor dinge wat ek nie verstaan, of mense sonder om vir hulle om te gee nie. Dat ek sal próbéér verstaan.

God het jou lief: Kruisiging-Kinderles

Daar is ‘n soekenjin-term wat disproporsioneel baie mense by hierdie blog uitbring. Heelwat mense kom hier uit omdat hulle “Sondagskool les” of iets derglik getik het. En julle wat só hier uitkom is seker gefrustreerd, want eintlik was hier tot dusvêr net een pos onder daardie blog-kategorie.

Ek was egter al lank van voorneme om te begin om my lesmateriaal te deel. En toe vra ek myself: Waar begin ek?

En na vanoggend se kerkdiens weet ek: Ek begin nie by die lesse met die interessantste prente by nie. Ek begin nie by die lesse met die meeste aktiwiteite nie. Ek begin nie by liedjies waarvoor ek ekstra versies geskryf het nie. Die beste plek om te begin, is by God se liefde. As jy hierdie kort les by jou Sondagskoolklas of kinderkerk doen, sal jy waarskynlik nog aktiwiteite/ ‘n bybelverse/liedjies/ getuienis/ toepassings op die tema nodig hê omdat hierdie net ‘n kort les is. Maar jy as kinderwerker kan mos God vra wat Hy wil hê deel van jou les moet wees.

Let daarop dat hierdie les op die Sentrale Waarheid Metode geskryf is. Daar is ‘n waarheid (God het jou lief) wat op relevante plekke herhaal word, sodat daardie waarheid (so bid ons) ingang sal kry in die kind se hart en verstand.

Hier is die PDF van die les “God het jou lief” En hier is prente, regs-kliek om groot te sien, en dan die groot weergawe te “save” vir uitdruk.

 


Naskrif: Ek glo nie daar is meer kopiereg op die prente(Jesus voor Pilatus en Jesus aan die kruis) hierby nie. Dit kom uit ‘n Sondagskool-handleiding wat al meer as ‘n dekade gelede uit gebruik gegaan het.

Ander bloggers, ek vra raad

Ek beskryf myself op hierdie blog as iemand met diverse belangstellings. “Party mense sorg dat hulle al meer en meer van al minder leer. Op die ou end weet hulle alles- van niks. Ek  weer, leer al minder en minder oor al meer en meer. Een van die dae weet ek niks oor alles!”

 

Nou ja, daar is twee diverse temas, albei baie anders as dit waaroor my blog meestal gaan, waaroor ek baie materiaal versamel het. Sedert ek 1994 kinderbediening-opleiding gekry het by KEO (Ou naam van Petra Kollege, Witrivier) is ek elke jaar by minstens twee groepe van Sondagskool of Kleuterkerk, Kinderkrans of Goeie Nuus klubs betrokke. Ek het intussen ‘n hele klomp materiaal vir Christen-werk met kinders versamel en uitgewerk. Die ander tema is papierpoppe, waarvan ek heelwat versamel/ ontwerp het. Ek wil graag my lesmateriaal en papierpoppe deel.

 

Nou vra ek julle ander bloggers: As mens werklik diverse temas wil deel, is aparte klein blogs wat selde opgedateer word beter? Of sit mens alles op een blog, en tag/category dit net verskillend? Laasgenoemde irriteer dalk mense wat RSS feed kry wanneer die blog opgedateer word: hulle kry kort-kort ‘n boodskap oor temas waarin hulle nie belang stel nie.

 

Dalk dink een van julle selfs ek moet my papierpoppe apart blog, maar my kinderlesse hier?

God ‘n versinsel van predikante om werk vir hulself te skep?

Daar is party stellings van ateïste wat ek maar net nie kan kleinkry nie. Een van hulle is: “Julle God is ‘n versinsel van predikante om werk te kan hê. God word net verkondig sodat predikante ‘n salaris kan hê.”

Nou as dit waar was, waarom sou die aspirant-prediker nie vir iets anders gaan leer het nie? Predikante is gewoonlik van die laags besoldigde mense vir hulle aantal jare opleiding.

En jou gemiddelde gemeente het meer onbetaalde verkondigers – Sondagskool-onnies, Bybelstudie-groepleiers, ens. – as predikante. Die woord word dus nie net/ hoofsaaklik vir finansiële redes verkondig nie.

Dit wil vir my voorkom dat die beskuldiger wat dit sê, dit glo oor hy dit op ‘n ateïstiese webblad/ in ‘n ateïstiese boek lees. En hy glo dit maar sonder bevraagtekening, want as hy daaroor sou dink, sou hy dadelik sien dis onrealisties.

 

Jy kannie hierdie vers in die Bybel letterlik opneem nie, want jy neem nie daardie een letterlik op nie?

Daar is ‘n argument waarmee gelowiges dikwels gekonfronteer word as hulle sê dat hulle iets doen, want “die Bybel sê so.” Die argument is basies as volg:

“Die Bybel sê dinge oor steniging en onrein kos en offers en ander rituele. Jy neem nie aan wat die Bybel sê oor varkvleis eet/ steniging as straf/ offerhandes/ ens. sê is letterlik van toepassing vandag nie. Waarom neem jy dan Bybelverse oor seksuele gedrag as letterlik van toepassing vandag op?”

 

Hierdie argument het dikwels lang lyste van spesifieke reëls uit Eksodus en Levitikus by waarna ons nie meer luister nie. (Sommiges verdraai selfs hierdie reëls. ‘n Grappie van die spotprent-tekenaar Zapiro praat bv. oor “Moet ek iemand stenig as hy klere van gemengde lap dra?” Intussen is gemengde lap en steniging glad nie deel van dieselfde bepaling nie!) Een groep wat lief is vir die argument, is mense wat nie daarvan hou dat homoseksuele dade sonde genoem word nie. 

 

Die argument klink eenvoudig, maar dit is nie ‘n akkurate argument nie. Die Nuwe Testament sê ‘n paar dinge oor hierdie Eksodus- en Levitikus- verse:

Handeline 10 vertel hoe Petrus geleer het dat die ou reëls oor reinheid en onreinheid nie meer geldig is nie. In Matteus 15:1-20 en Markus 7:1-19 sê Jesus ook dat reinheid oor ander sake gaan. Paulus erken dieselfde ding in Rom. 14:14 se eerste deel.  

Kortom: Die Nuwe Testament (letterlik geïnterpreteer), sê dat heelwat rituele wetgewing in Eksodus, Levitikus en Deuteronomium nie meer tel nie, die tyd daarvoor is verby. Dieselfde Nuwe Testament word dan ook letterlik geïnterpreteer op heelwat ander sake. Hierdie sake sluit opdragte oor regte en verkeerde seksuele gedrag in.

Dis eenvoudig. Wanneer jy as gelowige aan Levitikus herinner word oor jy sekere verse as God se opdragte vir gedrag voorhou, antwoord net dat jy die Nuwe Testament- verse wat sê hierdie rituele geld nie meer nie óók as letterlik van toepassing vandag opneem. Daardie argument neem glad nie konteks in ag nie. En konteks is iets wat ons elkeen moet soek as ons Bybel lees.

Ongelowige Tomas? Dit glo ek nie!

Tomas word myns insiens onregverdig behandel deur gelowiges. Hy word soms net onthou vir sy skeptiese “Ek sal glo as ek my hande in die spykermerke druk” opmerking. Maar Tomas was nie skepties oor iets wat die ander dissipels net aanvaar het nie.

 

Jesus het op ‘n stadium aan die dissipels verskyn en hulle almal sy hande en voete gewys. (Lukas 24:33-43) Selfs toe wou hulle volgens hierdie gedeelte nie glo hy is lewendig nie. Hy moes selfs bewys hy kan eet, dat hy nie ‘n spook is nie.

 

Tomas was nie daardie keer daar nie, (Joh. 20:24) en toe Jesus weer verskyn, wou Tomas óók sien wat die ander gesien het voor hy glo. Jesus wys hom, laat hom kyk en voel. Tomas antwoord: “My Here en my God!” Tomas vra nie dat Jesus moet eet, sodat hy kan sien Jesus is nie ‘n spook nie. Dit wil voorkom dat Tomas miskien selfs effens makliker bewyse aanvaar het as die ander.

 

[Jesus se antwoord oor mense wat glo sonder dat hulle gesien het, praat ook nie van mense wat sonder bewyse moet glo nie. Ons weet meeste wat ons weet deur:

a) mense met gesag te glo (Byvoorbeeld, jy lees die koerant of kyk nuus en hoor van ‘n oproer in ‘n Asiatiese land. Of jy het gehoor by ander dat motorolie belangrik is in jou kar, voor jy nog ‘n kar gehad het om te toets of dit waar is.)

OF

b) afleidings te maak (Byvoorbeeld, jy hoor ‘n geluid soos glas wat breek. Jy stap soontoe en sien wit vloeistof en glasstukke op die vloer. Jy lei af dat ‘n melkbottel daar geval het.)

Dis soms moontlik om waarheid direk waar te neem, ja. Mens kan Asië toe vlieg om te sien of die nuus die waarheid praat oor die oproer. Soms kan jy nie. Jy kan nie die tyd terugdraai om direk te kyk of ‘n melkbottel geval het nie. Maar meestal glo jy dinge op gesag of afleiding, sonder om te sien.  En Jesus sê dan ook mense wat sonder direkte waarneming (sien) glo, is gesëend. Maar dit beteken nie dat hy direkte waarnemers (hulle wat sien) vervloek nie.]

 

Ek belowe om nooit van Tomas te praat as die een wat die meeste getwyfel het nie. Die dissipels het hom nie so ervaar nie. Die Bybel beeld hom nie so uit nie. En as Christene hom só uitbeeld, is ons onbillik teenoor ‘n man wat, nes die ander dissipels, sy lewe gegee het vir Jesus se boodskap.

‘n Eenvoudige boodskap vir ‘n deurmekaar en komplekse mensdom

Hier was onlangs ‘n pos waarin ek vertel het dat die Bybel ons nêrens vertel om te “glo sonder bevraagtekening” nie. Van die antwoorde het daarop neergekom dat geloof eenvoudig is, dat debat oor die saak mense kan verwar.

 

Hulle is natuurlik reg. Geloof is ‘n heel eenvoudige ding. Jesus het kom vertel wie hy is en waarom hy gekom het. Geloof gaan eenvoudig oor: Gaan jy hierdie Jesus vertrou of nie? Ons het almal instinkte wat ons vertel om maar te vertrou, of waarsku om nie te vertrou nie. In die lig van jou mensekennis moet jy jouself afvra: Hoe betroubaar is die Bybel se Jesus?

 

Ja, daar bestaan lang, ingewikkelde boeke oor die betroubaarheid van die Bybel, en navorsers wat jare spandeer het om daardie boeke te skryf. Hulle doen dit oor party mense ekstra bewyse nodig het voor hulle oortuig raak. As jy nie sulke bewyse nodig het nie, is dit piekfyn. As jy dit wel nodig het, is dit daar vir jou.

Daar is indrukwekkende artikels op die Internet om te verdedig dat Jesus geleef het, dat Hy gedoen het wat in die evangelies aan hom toegeskryf is, en dat Hy opgestaan het. Maar as Jesus jou lewe nuutgemaak het, het jy 10 teen 1 nie daardie redenasies self nodig nie.

 

Party mense kan slim redenasies maak oor die versoenbaarheid van die wetenskap en die Bybel. Hulle doen die moeite omdat ander mense beweer die twee is nie versoenbaar nie. Maar as niemand jou nog ooit kon mislei met liegstories soos “wetenskap en godsdiens is onversoenbaar”nie, het jy nie nodig om teruggelei te word van daardie liegstorie af nie.

 

Die evangelie, baie kortliks is:

 

God het jou gemaak na sy beeld.(1) Hy ken jou potensiaal, Hy weet wie en wat jy veronderstel is om te doen en te wees.

Jy het dinge gedoen, gedink, en gesê waarvan God nie hou nie.(2) So het jy die verhouding tussen jou en God versteur.(3) Howel God jou liefhet, is daardie dade nie welkom by hom nie. Maar jy, en die res van die mensdom, se wandade het ook mense se interpersoonlike verhoudings, die mens se  vermoë om sy potensiaal te bereik, en selfs die natuur, versteur. Niks wat jy uit jou eie doen, kan jou geneigdheid tot verkeerde goed regmaak nie.(4)

Jesus het ‘n manier gemaak om hierdie verhouding  te kan regmaak, en jou geneigdheid tot die verkeerde te herstel: Hy is in jou plek gestraf. Hy het die dood oorwin.(5) Hy vra dat jy Hom aanneem en volg. Dit behels o.a. om te erken dat jy sonde  gedoen het.(6) 

As jy kies om Hom aan te neem en te volg, maak God jou van binne af nuut.(7) Hierdie nuutmaak begin nou al, maar in die lewe na die dood sal die gelowiges en die skepping volkome nuutgemaak wees.

Jy kan hierdie eenvoudige boodskap óf aanvaar, óf verwerp. Mense van oraloor die wêreld, alle ouderdomme en vlakke van geleerdheid, getuig hoe hulle hierdie boodskap biddend aangeneem het, en dit die beste besluit is wat hulle ooit gemaak het.   

 

Skakels soos hierdie of hierdie of hierdie sê net dat jy myns insiens nie “intelligensie” of “logika”  moet noem as redes waarom jy dit verwerp nie.

 

Naskrif: Hoeveel lesers van hierdie gedeelte kan raai wat die kleure Goud, Swart, Rooi en Wit in die prentjie hierbo met die tema van die stuk te doen het?

 

(1)   Genesis 1:27

(2)   Romeine 3:23

(3)   Jesaja 59:2

(4)   Efesiërs 2:8-9

(5)   1 Korinthiërs 15:3-4

(6)   1 Johannes 1:9

(7)   2 Korintiërs 5:17

 

Hierdie is kortliks enkele van talle verse wat dieselfde boodskappe gee.

Glo soos ‘n kind? Jy hoef nie!

Daar is heelwat gelowiges wat sê dat hulle sukkel om “soos kinders te glo.” Ek het baie empatie met daardie standpunt. Ek kan self nie glo op die manier wat hulle van praat nie. Maar verwag die Bybel werklik dat mens moet glo sonder bevraagtekening, sonder om bewyse te soek? Ek dink nie so nie. Iemand wat nie omgee of wat hy glo waarheidsgronde het of nie, kan mos net sowel in reïnkarnasie glo, of in ‘n vlieënde spaghetti-monster. Of in enigiets anders.

 Dalk is hier nou iemand wat my wil herinner: Oppas wat jy sê, Retha! Die Bybel sê ons moet verander en soos kinders word!” As jy dit antwoord, is jy reg. Veels geluk dat jy jou Bybel so goed onthou. Matteus 18:2, om meer spesifiek te wees, sê inderdaad so. Maar daardie vers sê nie mens hoef te “glo soos ‘n kind” nie.

Die dissipels het daar gestry oor wie die belangrikste is in die koninkryk. Toe vertel Jesus hulle dat hulle soos kindertjies moet word. Hy voeg nie by: “Want kindertjies glo maklik” nie. Hy voeg by dat wie homself gering ag die belangrikste is. Babatjies stry nie oor wie die duurste bababedjie verdien nie. Kleuters stry nie oor wie die belangrikste by die kleuterskool is nie.

Het jy al gesien hoe ‘n 2 of 3-jarige seerkry, en dadelik in ‘n vertrek vol mense na sy ma hardloop vir hulp? Hy hardloop na haar, niemand anders nie, want ervaring (bewyse) vertel dat sy die een is wat hom in die verlede gehelp het. Selfs kleintjies soek – en gebruikbewyse.

 

Wat sê die Bybel dan oor die saak? Mag jy jou geloof aan bewyse toets of nie?

  • * Jesus het sy bediening begin as iemand wat al klaar bewysskrifte het uit die ou Testament se profete: Daar was onder andere voorspel dat die Messias sal afstam van Sem, Abraham, Isak, Juda, en Dawid. Daar word ook voorspel dat hy in Betlehem gebore sal word, uit die vrou se saad (ander mense kom van ‘n man se saad) en dat hy vooraf gegaan sal word deur ‘n boodskapper.
  • * Deur Jesus se lewe, sterwe en opstanding het hy voortgegaan om nog profesieë waar te maak, en dus nog meer te bewys wie Hy is. Hy bewys dit ook met wonderwerke.
  • * Jesus belowe ook tekens aan die son, maan en sterre voor Sy wederkoms.(Luk. 21:25)
  • * Toe die Fariseërs vra vir ‘n teken, het Jesus wel geantwoord dat ‘n ongelowige en ontaarde geslag ‘n teken vra, en nie een gaan kry nie. (Matt. 16: 4) Maar onder die omstandighede het Hy nie verwag mense moet glo sonder bewyse nie. Jesus het immers al klaar ‘n hele klomp van die Messias-profesieë vervul, profesieë  wat die skrifgeleerdes moes ken. Hy het ook wonderwerke gedoen waarvan die Fariseërs moes geweet het.  Dit lyk of hy daarteen was dat mense net nóg en nóg tekens vra, eerder as om te begin die rigting/ persoon volg wat deur vorige tekens aangedui is.
  • * Jesus bewys sy boodskap van dood oorwin en opstanding- deur op te staan.
  • * Toe Tomas sê hy sal nie glo voor hy sy vingers in die spykermerke gedruk het nie, het Jesus hom Sy hande gewys. (Ek vermoed die verskil tussen Tomas en die Fariseërs was dat die Fariseërs verskoning gesoek het om nie te glo nie, en Jesus het dit geweet. Tomas, het Jesus geweet, sou bereid wees om vir Hom te sterf as hy net verstaan. Buite-Bybelse geskiedenisbronne vertel ons Tomas was later met ‘n spies doodgemaak omdat Hy Jesus bly verkondig het.)

Die volgelinge van Jesus sit hierdie toets-dit-aan-bewyse patroon voort na die hemelvaart: Hulle maak beroep op ooggetuie-bewyse(1 Luk. 1:1-3; Hand. 1:3; 2:22; 26:26, 2 Pet. 1:16; Joh 1:1-3.) Boonop vra Paulus in 1 Tess. 5:20-21 dat ons profesieë moet toets.

Ek beweer nie dat daar voldoende bewyse sal wees vir elke punt in die Bybel nie. Die kleuter wat na haar ma hardloop eerder as na die ander mense in die vertrek, het nie voldoende bewyse dat haar ma wel ‘n salf vir hierdie pyn het nie. Sy het wel bewyse (alles wat Mamma in die verlede vir haar gedoen het) dat haar ma sal wil help en die pyn sal wil wegvat. 

Die evangelie van Jesus kan maar met ‘n oop kop bevraagteken word. (‘n Oop kop beteken hier een wat bereid is om die bewyse te volg, waarheen hulle ook al lei. Net ‘n waarskuwing: Om bewyse te volg as hulle in die evangelie se rigting lei,  is om jou lewe in Jesus se hande oor te gee, wat ook “tot bekering kom” genoem word. Mense soos Frank Morison en CS Lewis was oopkop oor die saak.) 

As jy dus nie kan “glo soos ‘n kind” nie, moenie bekommerd wees nie, die Bybel beveel dit nêrens nie.  Glo dan maar soos ‘n volwassene. En dalk sal jy vind, as God jou Vader word, dat “glo soos ‘n kind” iets anders beteken as wat jy gedink het. En dat dit nie so moeilik is nie.

Afrikaanse leestekens vir Afrikaanse bloggers

deelteken en kappie

Is daar nog mense wat met hulle Afrikaanse leestekens soos die deelteken en die kappie sukkel op rekenaar? Jy het seker all gevind dis moeite om die ALT-kodes te onthou van letters soos die ê in “sê” en die ë in “hoërskool.” Om nie eers te praat van letters wat minder gebruik word nie, soos die ô in môre en die ï in ateïs.

 

 

 

 

Of dalk het jy soos ek ‘n groter probleem – ‘n Skootkomper met ‘n sleutelbord wat nie eers die regterkantste nommer-sleutelbord het, wat gebruik word vir ALT-kodes, nie. Daar is ‘n maklike oplossing vir die probleem in XP.

 

Wat jy eenmalig doen:

1. Kliek op Start

2. Kliek op Control Panel

3. Kliek op Regional and Language Settings

4. Kliek op Language

5. Kliek op Details

6. Kliek op Add

7. Op oopvalvenster kliek op Keyboard layoute/IME

8. In daardie oopvalvenster, kliek op United States International.

9. Kliek op OK

10. Kliek op Apply en OK

11. Restart jou rekenaar.

 

Wat jy van nou af elke keer doen wat jy ‘n leesteken -karakter nodig het:

1)         Druk eers die leesteken se simbool. Dit is:

Shift+6 vir ‘n ^

Shift+’ vir ‘n “

 ‘ (enkel aanhalingsteken) vir ‘n vorentoe-aksent soos bv. op die é

` (die sleutel onder Esc) vir ‘n agtertoe-aksent soos bv. op die è

2)         Jy sal sien dat die karakter nie verskyn wat jy getik het nie. Tik nou sy letter regs van hom. (byvoorbeeld Shift+ ^ ; en dan ‘n e vir ê) Jy sal vind dat die simbool en letter saam verskyn.

3) As jy vir een of ander rede een van die karakters (` ‘ ” of ^ ) wil gebruik sonder ‘n letter reg onder dit, tik die leesteken en dan ‘n spasie.

 

Ah, uiteindelik is my probleem opgelos! Hoop dit help jou ook.