As ek vir tieners sou Sondagskoollesse geskryf het, wat sou ek hulle vertel het oor seksualiteit? Deel 1

Hierdie gedagtes pen ek neer ter wille van jeugleiers/Sondagskool-onderwysers wat dalk ook oor die saak dink, of iets wil byvoeg by wat hulle aan die jongmense oordra. Dalk gee iets hieronder jou idees. Dalk kan jy iets byvoeg in die kommentaar wat vir mense beter idees kan gee. Dalk kan jy vertel waarom sekere idees hieronder nie goed is nie.

1) Ek sou nie ‘n dag opsy gesit het vir ‘n les spesifiek oor seks en wat die Bybel daaroor vertel nie.

Seksualiteit is nie ‘n aparte saak wat niks met iets anders te doen het nie.

Dis dalk beter om seksuele toepassings, nes enige ander toepassings, te maak waar seksualiteit by die hooftema van jou les aansluit: As die tiener sy medemens moet liefhê soos homself (dis heel moontlik ‘n tema in een van jou lesse), wat vertel dit van die soort dade in pornografie, waar net een party se behoeftes sentraal staan? As hul waarde in Christus gevind word, watter invloed het dit op hoeveel goedkeuring sy by seuns soek, of op wat hy sal doen om soos sy vriende te wees?

Toepassings oor seksualiteit kan wees onder die toepassings wat gemaak word oor byvoorbeeld:

> Lewe in Christus
> Genade, ‘n Jesus wat nuutmaak en tweede kanse gee
> ‘n God wat omgee vir ons pyn, wat genesing bring
> God eerste stel/ geen afgode
> Prioriteite
> Medemens liefhê soos jouself
> Identiteit in Christus/ selfbeeld
> Dade het gevolge, maak die regte keuses

Sulke toepassings kan gemaak word verskeie kere per jaar as een toepassing op ‘n slag in lesse wat nie net oor seksuele gedrag handel nie, oor al die jare van tiener-Sondagskool (tiener-kategese, of wat jy ook al jou gemeente se jeugbediening noem). Party van die toepassings kan dalk al gemaak word in die lesse vir Gr. 4-6, nie eers in die tienerlesse nie.

2) Dit sou nie net ‘n lys jy-mag-nie’s wees nie.

God het goeie redes vir sy wette – praat oor daardie redes. (Ek sien dat in baie materiaal oor kuisheid die klem op die toekomstige trouman, en in geval van party Amerikaanse konserwatiewe godsdienstiges selfs die pa, val as redes vir kuisheid by ‘n meisie – die Bybel praat egter van God en jou eie liggaam as hoofredes, vir albei geslagte. Sien bv. 1 Kor. 6:18-20, en die hele gedeelte waarvan hierdie die laaste verse is.)

3) Ek sou pornografie aanspreek.

Selfone en rekenaars maak dit makliker as ooit om pornografie in die hande te kry, en vandag se pornografie is nie fotos van kaal vroue met sterretjies op strategiese plekke nie. Dit beeld buiten die seksdade ook heel dikwels geweld, ontvoering en seks sonder die ander party se toestemming uit. “Sy wil aanvanklik nie, maar hy gaan voort (verkragting) en op die ou end geniet sy dit” is die tema van heelwat pornografie en erotiese verhale. Hier is meer inligting oor hoe dit die kop, hart en wêreld beïnvloed.

Toe ek jonk was het ek gedog pornografie is verkeerd oor dit gewoonlik buite-huwelikse seks uitbeeld. Maar nou dink ek anders: Dis verkeerd oor mense – die beeld van God en die kroon van die skepping – as voorwerpe vir gebruik uitgebeeld word. Pornografie gaan oor selfsug, en maak mens minder in staat om intimiteit op alle vlakke te hanteer. Pornografie het ‘n baie slegte invloed op hoe kinders en tieners oor seks dink. Ons moet dit verstaan en dink hoe ons die teenoorgestelde boodskappe kan uitdra.

Media sou ook op ‘n ander manier in toepassings ter sprake kon kom: Die seksuele prent of boodskap wat jy nou uitstuur, bly bestaan op iemand se selfoon of rekenaar en jy het geen idee aan hoeveel mense dit kan aangestuur word nie.

4) Ek sou baie plek maak vir genade in my woorde

In Jesus dien ons die God van tweede kanse, die nuut-makende skepper, nie die God wat ons vir altyd verwerp oor ‘n verkeerde keuse nie. Baie vroue vertel dat hulle, in fundamentalistiese kerke, gehoor het hoe meisies wat al seks gehad het (insluitende molestering teen hulle) soos gekoude kougom of ‘n glas water waarin verskeie mense gespoeg het was – niemand sal hulle wil hê nie. Dit is nou wel hoe party mense dink, maar dis nie die gesindheid van Christus nie, en ook nie hoe gelowiges – in nabootsing van Hom – moet wees nie.

5) Ek sou seks laat aansluit het by beeld van God wees, by selfwaarde, en naaste liefhê soos self.

Hierdie punt spreek hopelik vanself.

Vervolg (Deel 2) hier >>

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s